Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 19 Mei 2020
Terug na e-Afrikaner

Covid-19 * Tussen die duiwel en die diep blou see


Deur Jan Bosman 
Hoofsekretaris 

Dr Anton Prinsloo skryf in Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom dat die spreekwoord “Tussen die duiwel en diep blou see” beteken “Tussen twee groot gevare.” Dit is letterlik die situasie in die sewende week van die staat van inperking. 

Ten tyde van die skrywe van die artikel op 19 Mei 2020 is daar reeds meer as 4,8 miljoen Covid-19 infeksies regoor die wêreld en meer as 318 000 is reeds oorlede in 188 lande. Dit is die een groot gevaar. Die virus versprei met mening oor die wêreld heen en in Suid-Afrika is dit nie anders nie. Ten tyde van die skrywe was die bevestigde gevalle reeds 16 433 infeksies met 286 sterftes.

Dit is die een wesenlike gevaar. Die ander gevaar is die regering en sy hantering van die pandemie. President Ramaphosa kondig op 15 Maart aan dat die korona-uitbraak as 'n nasionale ramp verklaar word in terme van die Wet op Rampbestuur. Sedertdien is al die aksies van die regering gemagtig onder die Wet op Rampbestuur (Wet 57 van 2002) Die wet magtig ʼn Interministeriële Komitee maar vir een of ander rede is die militêr klinkende “Nasionale Bevelsraad” aan die stuur van sake. Dit is dalk geen wonder dat Minister van Maatskaplike Ontwikkeling Lindiwe Zulu met semi-militêre uniform en Suid-Afrikaans/Kubaans vlae op haar baret haar dekrete op nasionale nuuskonferensies afkondig nie. 

Die groter bron van kommer is dat die Wet op Rampbestuur so amper roekeloos ingespan word vir ʼn klomp regulasies en optredes wat moontlik andersins nie toegelaat sou word nie. Dit val verder vreemd op dat die regering dan wegskram van ʼn noodtoestand ingevolge Art 37 van die Grondwet. Die rasionaal mag wees dat ʼn noodtoestand te beperkend is omdat dit slegs vir 21 dae toegepas kan word en dan slegs met ʼn wet van die parlement en kan ook slegs deur die parlement verleng word. Dit sou dus oorsig deur die parlement behels, iets wat die regering graag wil vermy.   

Die ramptoestand is ingevolge Art 27(5) van die Wet op Rampbestuur tot ʼn tydperk van 3 maande geldig en kan maandeliks verleng word deur die betrokke minister. Dit moet enige persoon se nekhare laat regop staan. Toe die pandemie ons in Maart vanjaar tref, was dit asof die regering hierdie wet herontdek het, en die geleentheid gesien het om die balanserende meganismes wat in artikel 37 van die Grondwet ingebou is, te omseil. Die aanduidings is tans daar dat hulle intussen begin besef het dat dit kortpaaie bied vir die vinniger implementering van die ANC se weergawe van sosialisme en gesentraliseerde maatskaplike manipulering ("social engineering") volgens hulle ideologie van die NDR.

Dit bring natuurlik die regulasies soos ʼn aandklokmaatreël en inperking van beweging en ander stappe soos die ontplooiing van die weermag in gedrang. 

Op 21 April 2020 skryf Prof André Duvenhage van die NWU in die e-Afrikaner (Virtuele nuusbrief van die Afrikanerbond) “So graag as wat ek wil glo dat gesonde rede sal seëvier en dat goeie ekonomiese en finansiële besluite geneem sal word, is dit my oortuiging dat die “Afrika-logika” veel eerder hier as riglyn gebruik sal word. Hopelik kan Cyril Ramaphosa en die hervormers my verkeerd bewys, maar daar is min wat ek op sterk gronde in hierdie verband tot die teendeel kan aanvoer. Trouens, die sake soos versnelde grondhervorming en die gebruik van pensioenfondse was reeds op die agenda selfs voor Korona, is nou meer noodsaaklik as toe, en die vensterperiode in terme van die Korona-episode sal met alle hande aangegryp word om “ omstrede sake” deur te voer.” 

Op 11 Mei 2020 word Emeritusprofessor Pieter Labuschagne, ’n regs- en politieke kenner van Unisa, in Netwerk24 aangehaal - Hy waarsku op sy beurt "Suid-Afrika skep ’n gevaarlike situasie om die regering toe te laat om aan homself “ultraongrondwetlike magte” toe te eien.

Die regering se Covid-19-bevelsraad het nou so ’n “superstatus” gekry dat hy homself as verhewe bo deursigtigheid en verantwoordbaarheid ag. Labuschagne se kommentaar volg nadat Khusela Diko, woordvoerder van die presidensie, Saterdagaand op Twitter die nasionale bevelsraad se bestaan verdedig het.

Labuschagne stem nie saam nie. “Sentraal tot die probleem is art. 92 (2) van die Grondwet wat ondubbelsinnig bepaal dat lede van die kabinet (ministers) kollektief en ook individueel verantwoordbaar is aan die parlement (lees: die burgers van die land) vir die uitvoering van hul magte.

“Die ministers het nou (met die pandemie) nie net alleen hul magte aan ’n bevelsraad afgewentel nie, maar laat toe dat die raad namens hulle magte uitoefen. Die raad het nou superstatus verkry, verhewe bo deursigtigheid en verantwoordbaarheid,” sê Labuschagne.

“Hulle weier om die notules beskikbaar te maak van die besluite wat hulle neem, wat op die grondwetlike reg tot deursigtigheid trap. Die opposisiepartye en landsburgers is duidelik in die proses vervreem.” (Netwerk24) 

Kortliks bevestig die 1996 Suid-Afrikaanse grondwet dat Suid-Afrika een soewereine demokratiese staat is, gebaseer op die volgende waardes:
• menswaardigheid; 
• die bereiking van gelykheid; 
• die bevordering van menseregte en -vryhede; 
• nie-rassisme en nie-seksisme; 
• die oppergesag van die Grondwet en die heerskappy van die reg; 
• ʼn veelpartystelsel van demokratiese regering; (om verantwoordpligtigheid, ʼn responsiewe ingesteldheid en openheid te verseker) 
Daar is al vir geruime jare agterdog oor die ANC / regering en alliansievennote se verbintenis tot die grondwet. Vir jare al word verskeie sake gestoomroller wat die verbintenis afgewater het met die vorige president, Jacob Zuma wat telkens op rekord was dat die grondwet eintlik ʼn lastigheid is en dat die ANC eerste gestel word en dus verhewe is bo die grondwet.    

Dit bring ons terug na die ANC se verbintenis tot die Nasionale Demokratiese revolusie. Die president se hernude verbintenis tot Radikale Ekonomiese Transformasie en die magte wat nou ingevolge Rampbestuur Wetgewing vir hulself opgeëis word sonder inagneming van die SA grondwet se magte laat ernstige rooi ligte flikker. Het Covid-19 dan die geleentheid geskep vir ʼn bloedlose paleisrevolusie om die NDR te volbring?   

Die Afrikanerbond het reeds in 2008 ‘n volledige studie laat doen oor die NDR en die implikasies wat dit vir ons inhou. Dit word al hoe meer duidelik dat die NDR die enigste raamwerk is wat regeringsbeleid rig en tot uitvoering bring. Al hoe meer word alle Suid-Afrikaners blootgestel aan die drakoniese gevolge van ‘n ideologie wat slegs die ANC-elite dien.  

In die resente geskiedenis in die toepassing van die NDR word die effek van die sentralisering van mag in Luthuli Huis al hoe meer ‘n realiteit met: 
• ANC lojaliste wat in bestuursposisies aangestel word waarvoor hulle nie opgelei is nie en bepaald nie die kundigheid of ervaring het nie; 
• Kaders wat deur herontplooiing, (wat net ‘n ander woord is vir die hersirkulering van swak bestuur) ons staatsdiens en semi-staatsinstellings lamlê;  
• Swart ekonomiese bemagtiging wat selfs in krisistyd soos die hantering van Covid-19 aan die kern van ramphulp staan 
• Staatskaping en korrupsie wat volgens verskeie kundiges reeds tussen R500 miljard en R1 500 000 triljoen se koste vir die land beloop het. Reeds word ernstige vrae gevra oor die toekenning van tenders in die bestryding van Covid-19. 
• Die ineenstorting van feitelik alle Staatsondersteunde entiteite.  
• ʼn Stoomroller proses om die grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.   

Dr Anthea Jeffery skryf in die Institituut vir Rasseverhoudinge se omvattende verslag “Keeping liberty alive – Through Covid-19 en beyond” wat verlede week uitgereik is soos volg “Dit is 'n resep vir steeds groter staatsinmenging en -beheer. In kombinasie met 'n klomp ander faktore oor baie jare, dui dit daarop dat die regerende ANC / SAKP-alliansie vasbeslote is om die Covid- 19-krisis te gebruik om voort te gaan met die Sowjet-geïnspireerde nasionale demokratiese rewolusie (NDR) waartoe dit sedert die 1960's verbind is. Uiteindelik sal die pandemie oor wees en die ramptoestand moet beëindig word - indien nodig deur die howe en die Grondwet te gebruik om die fundamentele regte van alle Suid-Afrikaners te bevestig. Daar is egter reeds groot skade aan die ekonomie aangerig, terwyl nog meer skade voorlê. Die kernvraag - beide nou en as die pandemie tot ʼn einde gekom het - is hoe die ANC die Covid-19-krisis gebruik om sy toekomstige beleidskursus te bepaal? Die keuse is om die vernietigende ideologie te laat vaar om die ekonomie te help versterk. Of dit kan die krisis gebruik om die ideologie te versterk en verbete vorentoe te beweeg met sy nasionale demokratiese rewolusie (NDR).” 

Die Afrikanerbond bevind hom tans saam met ander redelike en gematigde Suid-Afrikaners in ʼn groep wat deurgaans ernstig bekommerd is oor die rigting waarin Suid-Afrika beweeg veral in die hantering van Covid-19. Wat nou nodig is, ook in die toepassing van beleid in die hantering van Covid-19 is dat die ANC-regering die beginsels, bepalings en waardes van die grondwet moet aanvaar en implementeer. Dit sal politieke wil en dinamiese staatsmanskap verg. Volgehoue toewyding aan die uitgediende ideologie van die NDR veral in die krisistyd staan in direkte konflik met die grondwet. Die beginsels, waardes en grondliggende bepalings van die grondwet stel die riglyne vir elke regering, ook die ANC, veral nou in die hantering van ʼn ongekende krisis. Dit verg egter ook dat die ANC die grondwet noulettend en stiptelik moet nakom.  

Deur die ANC se toepassing van kollektiewe verantwoordelikheid (soos onlangs deur die president verwoord tydens die tydperk van inperking en die hantering van Covid-19 en geen individuele aanspreeklikheid nie), is Suid-Afrika ongelukkig ook op ‘n rampspoedige pad geplaas. As die kollektief verantwoordelikheid aanvaar het, kan geen individu aanspreeklik gehou word nie. Ons het gevolglik ’n regering wat bitter mank gaan aan demokratiese aanspreeklikheid. 

Die gedagterigting sluit aan by ʼn artikel van prof. Erwin Schwella wat in September 2019 in die Afrikanerbond se nuusbrief gepubliseer is –. “Die skep en instandhouding van ʼn gematigde middelgrond is noodsaaklik om redelike mense oor die wye Suid-Afrikaanse spektrum te verbind en te konsolideer vir die moeilike bereikbare ideale van vrede, voorspoed en vryheid in die konteks van die Suid-Afrikaanse grondwetlike demokrasie. En die grondwetlike demokrasie bly steeds, sonder enige twyfel, die beste opsie vir Suid-Afrika en Suid-Afrikaners.”  

Die gevaar in 2020 is dat redelike Suid-Afrikaners wat saam skouer aan die wiel gesit het om die nuwe en demokratiese Suid-Afrika tot stand te bring ook ontnugter raak met die dwingende regulasies tydens die staat van inperking, die toepassing van demokrasie van die laaste paar jaar wat oorheers word deur vergrype, magsmisbruik, toenemende korrupsie en gebrekkige dienslewering en nou vererger word deur ʼn regering wat alles in die stryd moet werp om die Koronavirus te bestry en tydelik ons regte opskort. Hiertoe het die stille meerderheid tydelik ingestem. Vir hoe lank en teen watter koste is egter die groot onsekerheid. Hieroor moet daar vinnig uitsluitsel kom en moet die regte weer teruggeneem word. ʼn Regering wat die regte van sy burgers inperk is die grootste enkele gevaar vir die vryheid van alle Suid-Afrikaners en dit wat deur ‘n onderhandelde skikking bereik is.  

Daar is ʼn wesenlike gevaar dat die regering in die vergrype om die Wet op Rampbestuur selfs bo die grondwet te plaas die smaak gekry het vir regering deur dekreet. Dit val presies in by die ANC se onderliggende ideologie. Die ANC regering wil ons weer aan die neus lei deur sy verknogtheid aan sy ideologie en stel die blinde navolging daarvan, soos ons die ANC deur die jare ervaar het, bo die grondwet en die mense van Suid-Afrika. 

Thomas Jefferson het gesê – “As die mense hulle regering vrees is daar tirannie - as die regering die mense vrees is daar vryheid.”  

Dat die regering tans voortstrompel en die vreemdste besluite denkbaar neem sou dalk nie vergesog gewees het in ‘n gewone demokrasie nie. Daarvan het ons reeds baie jare se ervaring. Dat dit egter die norm in ‘n krisistyd is, moet ‘n ieder en ‘n elk geweldig bekommerd maak. Behoorlike kommunikasie is die regering se grootste probleem. Vir dae aaneen word die onderwysdepartement se kommunikasie oor skole uitgestel. Skole, leerlinge en ouers is vir weke in die duister. Wanneer daar datums gegee word, word dit deur amptenare of ander politici verder verwar. Hierdie regering se hantering van Covid-19 word ongelukkig gekenmerk deur besluiteloosheid, gebrekkige kommunikasie en wisselvallige leierskap wat enorme verwarring veroorsaak en gevolglik ook baie ruimte skep vir fopnuus. Daar word gepraat van wye konsultasie maar ons weet nie met wie word almal gekonsulteer nie.    

Die president het gelukkig na 15 dae se afwesigheid midde in ʼn krisis toe wel met die land gepraat. Hy het verwarring probeer opklaar maar bygedra tot verwarring. Hy het leiding probeer gee midde in die onsekerheid wat sy eie regering geskep het. Die uiteinde van alles - ons is tussen die duiwel en die diep blou see - Covid-19 en die ANC. Die volgorde mag volgens individuele voorkeure wissel. 

Die regering sou waarskynlik minder verwarring veroorsaak het en groter doeltreffendheid aan die dag gelê het met die samestelling van ʼn Nasionale Rampbestuur Adviesforum. Volgens dieselfde rampbestuur wet waarin die bevelsraad sy beslag gekry het moet die minister volgens Artikel 5 van dieselfde wet van ʼn Nasionale Rampbestuur Adviesforum gevestig het. Benewens senior regeringslui kon die minister dan ook volgens die wet georganiseerde besigheid, georganiseerde landbou, die versekeringsbedryf, georganiseerde landbou, kerke en maatskaplike organisasies en vele ander betrek het. Dit sou dan die besluite rondom inperking en die vlak van inperking moontlik baie anders verloop het. 

Die goeie wil en ondersteuning wat die president en die regering sedert die staat van inperking gekry het is besig om soos mis voor die son te verdwyn. Ons moet r ook weet dat in ʼn land soos Suid-Afrika en sy geskiedenis die misbruik van mag maklik kan gebeur. Ons bly ʼn regstaat en die maatreëls om Covid-19 te bestry kan hoogstens tydelik wees en met die inskiklikheid en deelname van ʼn meerderheid van die bevolking. Dit is wanneer regte lukraak of willens en wetens ondermyn word dat die ware demokratiese doelwitte dan ondergeskik staan en bedreig word. In hierdie opsig staan Suid-Afrika sterk met sy pilare van demokrasie wat insluit ‘n vrye media, ʼn sterk burgerlike samelewing, onafhanklike howe en vrye verkiesings. Ons almal moet die waghondrol vervul, veral in ʼn onsekere tyd soos nou.     

Deel met ander belangstellendes

Share by: