Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 24 Mei  2021
Terug na e-Afrikaner

Slagofferskap is nie in die Afrikaner se DNS nie


Deur Jan Bosman 
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 

Beeld het onlangs twee insiggewende rubrieke gedra wat verdere introspeksie verg. Met verwysing na die viering van die onlangse Vryheidsdag skryf Willie Spies in sy rubriek. “Die Afrikaner is reeds 27 jaar die gevangene van die ideologie van transformasie. Vryheid was nie vryheid vir almal nie, maar wel gevangenskap vir sekeres.” 

In reaksie hierop skryf Retha Fick (Inhoudsredakteur van Netwerk24) op 18 Mei 2021 “Ons reik uit, ons bou op, ons bemagtig. Ons is die soort mense wat van ’n woesteny ’n tuiste maak, ook vir ons mede-Suid-Afrikaners. Die Afrikaner staan voor ’n klomp uitdagings. Dit kan ons nie ontken nie. Maar ons is hier om te bly. Ons mag dalk van ons vryheid beroof wees, maar ons sal onsself nie aan slagofferskap oorgee nie.” 

Dis twee kernbelangrike rubrieke met groot waarhede in beide die rubrieke. Dit is die keuses waarvoor Afrikaners in 2021 te staan kom en wat in beide rubrieke goed belig word. Ten spyte van die ideologiese gevange omgewing waarin die Afrikaner homself al meer geïsoleerd voel, woel en werskaf die Afrikaners en breek hy die kettings waarmee hy telkens geboei word. Ons sien die oprigting van eie universiteite en vaardigheidsopleiding, die suksesse van entrepreneurs wat nie meer skaam is om die identiteit van Afrikaners aan te hang nie, ons sien die deurbrake wat Afrikaners maak op wetenskaplike en tegnologiewe gebiede en waar hande vuil gemaak word om dienslewering vir almal te lewer. Ons sien die suksessie van die kunste en hoe Afrikaners telkens ʼn verskil maak in hulle omgewings. 

Afrikaners is nie mense wat hulself in die verlede aan slagofferskap oorgegee het nie, en hulle sal dit ook nie nou doen nie. Afrikaners het ten spyte van koloniale gevangenemening na die Tweede Vryheidsoorlog homself in ʼn paar dekades uit armoede presteer en het ʼn reuse bydrae gelewer om van Suid-Afrika ʼn presterende land te maak. Dit is dieselfde DNS wat nou na vore kom en waarin Afrikaners ʼn merkwaardige bydrae lewer. 

Wat wel waar is, is dat Afrikaners tans geteikende vervreemding ervaar. As ons Suid-Afrikaners wil wees, word daar vir ons gesê ons is gronddiewe, kolonialiste van 'n spesiale soort, rassiste, deel van wit monopoliekapitaal of selfs indringers soos wat die president onlangs na ons verwys het. Ons taal word in skole en universiteite op ʼn geteikende wyse onder ons uitgetrek. Dit maak nie van Afrikaners slagoffers nie. Slagofferskap sou impliseer dat ons ons lot gelate aanvaar, ander vir ons omstandighede blameer en dan ook verwag dat ander vir ons dit wat ons verloor moet teruggee, herstel of deur toeëiening vereis. Slagofferskap kan later ook ewigdurend wees (in Engels “perpetual victimhood”) en op so ʼn wyse kan ʼn beskawing of volk homself tot niet maak. 

“Ons was eens slagoffers. Helaas, het ons die slagofferskap geïnternaliseer en dit deel van ons psige gemaak. Op die een of ander manier het ons oorleef. Maar selfs as oorlewendes bly ons aanbid by die altaar van ewigdurende slagofferskap. Selfbejammering is nie mooi nie. Slagofferskap laat ons lelik lyk”. Dit was die wyse woorde wat ons almal ter harte moet neem van die skrywer en digter Zakes Mda toe hy op 23 Mei 2012 ʼn eredoktersgraad van die Universiteit van Kaapstad ontvang het. 

In ʼn onlangse besprekingsdokument vir die Afrikanerbond skryf Prof Pierre du Toit van die Universiteit van Stellenbosch “...as die nuwe begunstigdes nie net slagofferskap as rasionaal het nie, maar ook ʼn aanspraak op toeëiening (“entitlement”), dan kan die doel ook selfs onwettige dade heilig.” Kyk hoe gereeld word die raskaart gespeel en word apartheid die skuld gegee vir vandag se tekortkominge en gebreke. 

Afrikaners is beslis nie slagoffers nie en hang ook nie die etiket van ewigdurende slagofferskap om ons nek nie. Afrikaners vaar nie die strate in om te beskadig en te brand as dinge nie goed gaan vir ons nie. Afrikaners blameer ook nie heeltyd andere vir ons eie tekortkominge nie. Ons mag dalk nie oor alles saamstem nie, inteendeel, maar as iets gebroke is dan soek ons die oplossings in ons geskiedenis, deur ons wye ervaring, en met kundigheid en entrepreneuriese ingesteldheid wend ons dit aan, meestal ook tot voordeel van almal.    

Afrikaners is eerder brugbouers. Ons sal oplossings soek vir ons vele probleme en uitdagings, tussen wit en swart, tussen kulture, tussen minderhede en tussen ryk en arm. In ons ervaring is Afrikaners diegene wat die leiding neem om die Suid-Afrika te bou waarin ons almal graag sal wil woon en werk. 

Slagofferskap loop hand aan hand met blaamverplasing en word foute gesoek en ander word blameer vir eie tekortkominge. Slagoffers soek die maklike uitweg en sal veel eerder in selfbejammering verval en die harde werk van ander vir hulself toeëien en dit doen deur die toepassing van ideologiese beperkinge soos regstellende aksie en kwotas, transformasie en swart ekonomiese bemagtiging. Brugbouers erken dat meriete, prestasie en talent voorspoed en welvaart vir Suid-Afrika sal beteken.

In sy dagstuk in Beeld skryf Prof Stephan Joubert op 9 Maart 2021 ”ʼn Slagoffer-mentaliteit is dodelik. Mense wat hieraan ly, blameer gedurig ander mense vir hul omstandighede. Sulke blaamspeletjies verhinder hulle om gesond te leef” en sê dan heel tereg “Een van die beste keuses wat ons kan uitoefen, is om aanspreeklikheid te aanvaar vir ons gedagtes, emosies en leefkeuses.” Dit is ʼn les vir ons almal in Suid-Afrika. Ons kan so gefokus wees op slagofferskap dat ons aanspreeklikheid vermy en sodoende al dieper in ʼn put van selfbejammering verval – ʼn put waaruit ons nie maklik gaan kom nie. 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: