Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 6 Oktober 2020
Terug na e-Afrikaner

Die Suid-Afrikaanse staat (2020) enkele toekomsperspektiewe


Deur Prof Andre Duvenhage 
Noordwes Universiteit

(Soos gepubliseer in die AB Nuusbrief - Oktober 2020) 

Daar is tans ʼn groot debat oor die stand van die Suid Afrikaanse staat tydens 2020 en veral wat verwag kan word in die post-covid scenario. In sommige kringe word die staat gesien as falend of op pad na ʼn mislukte staat (Schussler; Roodt en Heystek) terwyl Dr Roelof Botha, Roelf Meyer en andere ʼn baie optimistiese standpunt hieroor het. Die kernvraag wat hier beantwoord moet word, is: Wat is die stand van die Suid Afrikaanse staat 2020? En hiermee saam: Wat is die kernfunksies van die staat en wat word bedoel met die konsep van ʼn “mislukte staat “? 

Max Weber het die staat beskryf as “......a human community that successfully claims the monopolly of the legitimate use of physical force within a territory” en het ʼn vaste geografiese territorium, ʼn permanente owerheid (administrasie en bestuurstrukture wat gekoördineerd funksioneer); bindende en afdwingbare besluite kan neem; en die instelling wat oor soewereine staatsmag (die swaardmag) beskik. ʼn Staat is normatief gesproke veronderstel om ʼn openbare regsorde in algemene belang te moet handhaaf en moet dus in belang van al sy burgers optree. 

Op ʼn minimalistiese vlak is ʼn staat verantwoordelik vir die handhawing van wet en orde en moet hy handel in die belang van die sekuriteit en veiligheid van al sy burgers. Hierdie taak kan egter uitgebrei word om letterlik die welvaart van sy burgers op alle terreine te handhaaf met inbegrip van onderwys, gesondheid, huisvestings ens. Laasgenoemde word veral in sosialistiese bedelings en by welvaartstate (lees veral dié in Skandinawië) aangetref. Onder die invloed van sosialistiese en ander sosiaal-demokratiese denkwyses of ideologieë poog Suid Afrika (de jure-gesproke en in ʼn grondwetlike sin) om alles vir almal te probeer wees. 

Verswakkende state word geassosieer met verswakkende beheer of kontrole ten opsigte van die staatsterritorium (grensbeheer); swak toesig en bestuur van nasionale hulpbronne; onvermoë tot belastingheffing en invordering;; beperkte vermoëns of selfs ʼn onvermoë om infrastruktuur in stand te hou en uit te bou; onvermoëns ten opsigte van dienslewering; en gebrekkige regerings- en regeerkundige praktyke. Drie tipes van verswakking kan geïdentifiseer word te wete Sagte State impliseer sagte grense en die voorkoms van korrupsie. Swak state akkommodeer die eienskappe van Sagte state plus ook die onvermoë om behoorlik beheer oor die territorium uit te oefen, sosiale verhoudinge te reguleer en menslike en natuurlike hulpbronne in ʼn ontwikkelingsgerigte sin in belang van die hele gemeenskap aan te wend. Mislukte state veronderstel al bogenoemde maar impliseer addisioneel ook ʼn verlies aan beheer oor die staatsterritorium met dikwels meer as een politieke instellings wat poog om beheer oor die territorium of dele daarvan uit te oefen. Ten opsigte van laasgenoemde bestaan praktyke van afskeidingsbewegings, vigilantisme, krygsheerisme ens. Die vraag is nou naamlik: Waar staan Suid Afrika in hierdie verband? 

Reeds voor die COVID-19 episode was Suid Afrika polities gesproke by ʼn kantelpunt. Verskeie faktore het hierop gedui en word onderskeidend en opsommend in drie kategorieë verdeel:
Polities: Op ʼn uitgebreide skaal ervaar Suid Afrika vorme van staatkundige en institusionele verval. Enkele breë lyne word hier getrek. Volgens die Global Peace Index (2018) word Suid Afrika in veiligheidsterme 127ste uit 163 state geplaas en lê ons in die kategorie van Liberië, Venezuela en Afghanistan. Konserwatief gesproke is daar meer as 2 miljoen onwettige immigrante (waarskynlik omtrent 4 miljoen) reeds binne Suid Afrika met die grense tussen Suid Afrika enersyds en state soos Zimbabwe, Lesotho, Mosambiek en Swaziland andersyds wat of baie swak of selfs glad nie beheer en bestuur word nie. Volgens ʼn verslag van die Nasionale Vervolgingsgesag (in aansluiting by bogenoemde) is Suid Afrika omtrent net 2% suksesvol in die vervolging van gevaarlike misdade. [Tans is daar bykans 9000 private veiligheidsinstellings wat werk gee vir omtrent 500 000 mense, terwyl die amptelike polisiemag net sowat 150 000 lede het.
Tussen 80% en 90% van plaaslike regerings is tans disfunksioneel of gedeeltelik disfunksioneel en disfunksionaliteite is ook ernstig op provinsiale vlak (Weskaap is dalk ʼn uitsondering) asook Nasionale Departemente. Die meeste semi-staatsinstellings is bankrot en/of kan nie behoorlik dienste lewer nie terwyl infrastruktuur soos paaie, brûe, damme ens is erg verwaarloos en dringende opgradering word benodig. Endemiese korrupsie (soms ook na verwys as staatskaping) het die land enigiets tussen R500 miljard en R1,5 duisend miljard gekos. Ten spyte van beloftes tot die teendeel het endemiese korrupsie ook COVID-gelde as teiken gehad en het dit weer eens die vlak van endemiese korrupsie binne die Suid Afrikaanse samelewing beklemtoon.

Ekonomies: Suid Afrika benodig ʼn groeikoers van bykans 4% voordat daar werklik werkskepping kan plaasvind. Die afgelope aantal jare het ons slegs beperkte tot selfs negatiewe groei ervaar. Dit het te make met groot uitdagings in die mynbou-bedryf, die vervaardigingsektor, die Eskom-krisis, oorregulering van die ekonomie, ʼn kleinerwordende belastingsbasis, en swak infrastruktuur asook die verlammende droogte van die afgelope sowat ʼn dekade. 

Op die vlak van staatsfinansies is korrupsie en tenderbedrog endemies en is Suid Afrika se staatskuld besig om drasties te eskaleer tot die mate dat ʼn lening vanaf die IMF noodsaaklik geword het, maar as polities ongewens gesien word in populistiese politieke kringe. 

Myns insiens is die grootste ekonomiese probleem polities van aard en hou dit verband met populistiese besluitnemings, duur mega-projekte soos die Nasionale Gesondheidsversekering, groeiende nie-bekostigbare salarisverhogings asook uitgebreide sosiale toelae waarin meer as 17 miljoen mense deel. Dit is dus nie verbasend dat talle ekonome en finanskenners waaronder Magnus Heystek, Dawie Roodt en Mike Schussler ernstige kommer het oor Suid Afrika se finansiële en ekonomiese toekoms. Met die addisionele implikasies van COVID-2019 het Schussler onlangs in ʼn artikel getiteld Staat op snelweg van mislukking [Beeld 21 September 2020) die volgende voorspellings en perspektiewe gemeld:
• Die BBP per capita vergelyk nou met die van die jare 70 en 80;
• Dit gaan die ekonomie ten minste 5 jaar neem om weer te herstel na die reeds slegte scenario van pre-COVID-2019;
• ʼn Enorme verkleining van die staatsdiens is op hande en vermindering in salarisse hang hiermee saam;
• Die verkoping en/of sluiting van semi-staatsondernemings; 
• Minder geld vir onderwys, groter klasse en in vyf jaar se tyd sal daar net 10 universiteite oor wees (In 10 jaar dalk net 5 universiteite);
• ʼn Verkleinde staatsadministrasie met net 15 ministers en ʼn president.
Bogenoemde is verreikend indien dit slegs 50% waar is en voorspel ʼn donker ekonomiese en finansiële scenario, baie anders as dit wat deur onder meer Roelof Botha in die vooruitsig gestel is.

Sosiaal: Politieke stabiliteit en ekonomiese groei (of dan die gebrek daaraan) word dikwels onder meer bepaal deur die sosiale omstandighede in die groter samelewing. In ons samelewing is daar tekens van groeiende konflik en geweld om SA een van die mees gevaarlike samelewings ter wêreld te maak. Hiervan getuig eskalerende diensleweringsproteste, taxi-geweld, vigilantisme, geslagsgeweld en vele meer. Met sowat 55% van die bevolking wat in armoede lewe, mediese en gesondheidsorg in krisis en sowat 80% van die skole disfunksioneel, het ons inderdaad met ʼn ernstige krisis te make. Eskalerende rassekonflik as gevolg van onder meer diskriminerende wetgewings en praktyke en die waarskynlike wysiging van Artikel 25 van die grondwet voorspel inderdaad ʼn moeilike tyd op ons in die volgende jare. Met werkloosheid wat tot 50% kan toeneem en ʼn negatiewe groeikoers want tans op dubbelsyfers bereken word, is hier inderdaad donker dae wat voorlê. Daar kan geen twyfel wees dat die Suid Afrikaanse staatkundige bestel tans in die slegste toestand sedert 1994 is nie. 

Suid Afrika is ongetwyfeld ʼn verswakkende staat wat definitief reeds ʼn “swak staat” is maar ook op pad is na ʼn “mislukte staat” indien daar nie drasties ingegryp word nie. Hierdie is nie ʼn pessimistiese perspektief nie, maar bloot realisties in terme van die feitelike stand van die Suid Afrikaanse staat. Daar bestaan by my min twyfel dat die huidige grondwet en staatkundige bestel nie in yster gegiet is nie en dat ons waarskynlik die eerste tree begin gee in die vorming en totstandkoming van ʼn nuwe bedeling. 

Deel met ander belangstellendes

Share by: