Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 18 Januarie 2022
Terug na e-Afrikaner

Afrikaans sal voortbestaan en presteer ten spyte van Nzimande


Die onderstaande verklaring is op 21 Desember 2021 uitgereik deur die Afrikanerbond 

Die Afrikanerbond is nie verbaas dat Minister Blade Nzimande se taalbeleidraamwerk vir tersiêre instellings eersdaags onveranderd in werking gaan tree nie en dat Afrikaans, Khoi, San en Nama uitgesluit is as inheemse tale nie.  

Nzimande se minagtende houding oor Afrikaans is in September reeds gedemonstreer met sy stelling dat Afrikaans “uit 'n wit regse agenda gered moet word.” Soortgelyke opmerkings is in 2014 deur Nzimande gemaak oor Afrikaans by NWU en is terme soos volkstaat en apartheid enklaves ook kwistig ingespan deur die minister. Dit het reeds sy onderliggende en dieperliggende afkeur van enigiets wat Afrikaans is gedemonstreer en moes ons weet dat taaldiversiteit ongelukkig deur sy ideologiese bril geëvalueer sou word. Dit het inderdaad so gebeur. 

Taaldiversiteit is skynbaar ook nie iets wat deur Minister en sy Departement van Hoër Onderwys toegepas word nie, want die webwerf van die departement is slegs in Engels. Taalkaping deur Engelse herkolonialisering het dus al lankal in die departement posgevat eerder as om skeppend en kreatief oplossings vir Afrikaans en ander inheemse tale te vind.  

Deur te bluf, te mislei en ideologies eng om te gaan met die taalbeleidraamwerk vir tersiêre instellings het Minister Nzimande getoon dat hy en sy departement eenvoudig nie vertrou kan word met taalregte nie en dat hulle eerder die land se ryke diversiteit sal laat verengels en sodoende ook uit te sluit, as om iets konstruktief by te dra tot die beskerming en bevordering van inheemse tale, Afrikaans ingesluit. Die toenemende verengelsing van ons universiteite is nie goeie nuus vir enige van Suid-Afrika se inheemse tale nie. Dieselfde lot as Afrikaans, Khoi, San en Nama wag op die ander tale. 

Die Afrikanerbond glo dat wedersydse respek vir die taalregte van ons land se mense ‘n hoeksteen is van gesonde samelewing. Die realiteit is dat die Grondwet bepaalde taalreëlings bevat wat tot dusver nie na behore nagekom is nie. Die neiging tot sover was om ‘n meertalige Suid-Afrika te dwing na ‘n Engels-eentalige Suid-Afrika. Dit word nou in die beleidsraamwerk verdere momentum gegee.  

Die uitdaging vir die Afrikaanse taalgemeenskap is om te weet dat die aanslag op Afrikaans sal voortgaan in elke sfeer van die samelewing en in opvoeding en dat die taalgemeenskap en al sy sprekers oor grense heen kreatief en skeppend moet omgaan met die taal. Afrikaans sal voortbestaan en presteer ten spyte van taalimperialiste soos Nzimande.     

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: