Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Junie 2021

Aan die vooraand van Republiekwording - 31 Mei 1961

- Die AB se strewe na Republiekwording


Op 31 Mei 2021, is dit sestig (60) jaar sedert die Republiek van Suid-Afrika tot stand gekom het.

 

Die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond het n.a.v. die opdrag van die Bondsraad van 1953 besluit om groter momentum aan sy ondersteuning van die republikeinse gedagte te gee en dit die tema van die daaropvolgende jaar se kongres in Bloemfontein te maak. Die sprekers wat by die Bondsraad in September 1954 opgetree het, was A.J.H. van der Walt oor die riglyne wat die geskiedenis t.o.v. die republikeinse strewe gebied het, P.J. Meyer oor die prinsipiële grondslag van die republikeinse strewe en die Transvaalse leier van die NP, J.G. Strijdom, oor praktiese aspekte van die strewe. Die Bondsraad het besluit dat die Afrikaner-Broederbond dit as sy onmiddellike taak gesien het om die republikeinse ideaal te propageer en uit te bou.

 

Die UR is gevra om die organisasie diensbaar te stel in die totstandbrenging en vestiging van die republiek. Ten slotte is magtiging verleen dat 'n bedrag van £5000 uit die AB se Reserwefonds ter bevordering van die republikeinse strewe aangewend kon word. Afdelings het ongeveer £3055 uit hulle eie fondse en £6145 aan plaaslike insamelings tot die UR-bydrae van £5000 toegevoeg.

 

Volgens die FAK webwerf het “Verwoerd op 20 Januarie 1960 aangekondig dat die kiesers in ʼn referendum sou stem oor die vraag of Suid-Afrika ʼn republiek sou word.

 

Die referendum het op 5 Oktober 1960 plaasgevind met ʼn naelskraapse oorwinning vir die republikeine. Die referendumvraag was:

Is u ten gunste van 'n Republiek vir die Unie?

Are you in favour of a Republic for the Union?

 

Vir die republiek het 850 458 (52,29%) positiewe stemme getrek en teen die republiek 775 878 (47,71%) en daar was 7 904 bedorwe stembriewe.

 

Die Republiek van Suid-Afrika is dus met ʼn skrale meerderheid van 74 580 stemme tot stand gebring.

 

Die AB se Bondsraad, wat op 24 en 25 November 1960 in Bloemfontein plaasgevind het, het die klem op republiekwording laat val. In die gees van oorwinning en bruisende entoesiasme na die referendum van 5 Oktober 1960 is die Bondsraad van die Afrikaner-Broederbond 24 en 25 November 1960 in Bloemfontein gehou en toegespreek deur die voorsitter en rektor van die Universiteit van Stellenbosch, Prof. HB Thom.

 

 Die taak en plek van die AB in die Republiek

 

Onder volg uittreksels uit die toespraak van Prof. HB Thom. wat die gees en strewe en uitdagings van die Afrikaner-Broederbond vir die republiek saamvat.

 

------------------------------------------------------------------------------

Laat ek maar dadelik by die referendum aanknoop. Toe ons in die referendum geseëvier het, het die UR die behoefte daaraan gevoel om die Eerste Minister van harte met die uitslag geluk te wens. Ons wil nou weer aan hom sê dat ons dit waardeer dat hy bereid was om die groot verantwoordelikheid te aanvaar en 'n beslissing van die volk van Suid-Afrika te vra. Ek dink ons besef nie altyd watter vaste oortuiging en beslistheid hierdie stap van hom geëis het nie, veral waar die uitkoms geen sekerheid was nie.

 

Nadat ons UR- lede hom persoonlik gelukgewens het, het ons ook aan hom geskryf. Van hom het ons daarna 'n brief ontvang,. Hy sê:

 

"Baie dankie vir u vriendelike brief van 28 Oktober 1960, waarin u namens u Raad my gelukwens met die uitslag van die Volkstemming. Ek sal bly wees as u my waardering oordra vir die vriendelike wyse waarop my persoonlike aandeel aangeprys word. Ek voel natuurlik self dat my aandeel waardeloos sou gewees het as dit nie vir die steun was wat van alle dele van ons Volkslewe gekom het nie. Binne-in die Kabinet en die Party was daar steeds eenparigheid en samewerking, maar net so is dit ervaar van buite die Party, soos u organisasie maar al te goed weet. Naas die seën van Bo is ons dus aan almal dank verskuldig en wil ek graag in die besonder aan u Raad en almal wat hy verteenwoordig, my opregte waardering toebring vir sy steun in die baie vorms waarin dit aan ons gegee is.”

Iets meer as twee jaar gelede was ons hier in Bloemfontein vir 'n Bondsraad byeen. By daardie geleentheid het ons, ons Broer Eerste Minister saam met ons gehad, en het ek hom welkom geheet en aan die Bondsraad voorgestel. Nadat ek 'n hele paar dinge genoem het, waarvoor ons dank aan hom verskuldig is, het ek aan hom gesê dat ons van hom vra dat hy ons in die Republiek sal inlei. Hy het geantwoord en op weloorwoë wyse sy standpunt gestel. Hy het gesê dat hy die gevoelens van die vriende ten seerste waardeer, dog dat hy hom geroepe voel om terselfdertyd te waarsku dat ons nie tevrede moet wees om met 'n Republiek uit te roep nie, maar dat ons ook in staat moet wees om die Republiek te handhaaf. 

 

Soms kry 'n mens die gevoel, as jy aan die een of ander belangrike geskiedkundige gebeurtenis dink, dat jy graag daar aanwesig wil gewees het, al was dit net vir 'n kort, vlietende oomblik. U het seker al die begeerte ondervind dat u graag vir 'n tydjie in die dae van die Groot Trek wou geleef het, om bv. net te sien hoe die Voortrekkers die Grootrivier deur worstel en na die Noorde koers neem. U het seker ook al daardie mense van die Groot Trek beny, omdat dit vir u gevoel het of hulle bevoorreg was om self aan 'n groot historiese gebeure deel te hê. 

 

U en ek, ons almal wat hier is, het ten tyde van die referendum ook 'n groot gebeure gadegeslaan, wat in ons geskiedenis ongetwyfeld nog een van die uitstaande hoogtepunte gaan wees. Ons het 'n magtige gebeurtenis van naby gadegeslaan; en ons het persoonlik daaraan deelgeneem. Ons besef die betekenis daarvan nie genoegsaam nie. Maar diegene wat na ons sal kom, oor vyftig of honderd jaar, hulle sal die perspektief hê en hulle sal die betekenis verstaan. Hulle sal sê dat ons bevoorreg was om die referendum van naby te sien en persoonlik daaraan deel te neem. Hulle sal ons, die mense van vandag, as die geroepenis van die Geskiedenis beskou, die geroepenes om die uitspraak ten gunste van die Republiek te gee. En hulle sal dan miskien ook voel dat hulle net vir 'n oomblik in Oktober 1960 wou geleef het om die groot gebeure van naby te sien. In hierdie lig moet ons die referendum sien; ons moet die juiste perspektief hê, en ons moet die betekenis besef.

 

Hier is ons nou as AB-lede in die Bondsraad, die hoogste liggaam van die AB; bymekaar om gedagtes te wissel oor die taak en plek van die AB in daardie Republiek wanneer die Republiek werklikheid geword het. Wat gaan ons doen? Hoe gaan ons optree as die Republiek ingevoer is? Of gaan ons miskien dink: Nou is die Republiek daar, nou is daar vir ons nie meer 'n taak nie? Gaan ons miskien, in die uur van ons seëpraal, gevang word deur die groot gevaar van die seëpraal, naamlik oorgerustheid, selftevredenheid? Die geskiedenis het al baie volke gesien wat deur hulle seëpraal swak en pap geword het. Sal dit met ons miskien ook so wees? Laat ons 'n bietjie stilsit en ernstig besin.

 

Baie Afrikaners is vandag al te seer gevang deur 'n krisisdenke, en hulle soek oplossings in krisisstappe. En dit terwyl 'n tyd soos hierdie juis nie die tyd vir krisisdenke en krisisstappe is nie. Met betrekking tot hierdie krisisdenke het iemand nou die dag treffend gesê: "Ons is besig om vendusie van ons beginsels, en sommige van ons het blykbaar nie eers meer inhoupryse nie!" 

.

 Ons het reg om van die Regering te verskil, en niemand wil ons daardie reg ontsê nie. Maar laat ons oppas hoe ons dit doen. Die openbare pers is myns insiens geensins die plek daarvoor nie. Ons moet doen wat die UR al verskeie kere gedoen het. As ons van ons Broers in die Regering verskil, dan moet ons reguit na hulle gaan en ons mening ruiterlik aan hulle gee. Ons moet die inligting aan hulle gee waaroor ons beskik. Hulle sal miskien met ons saamstem, maar miskien ook nie. Hulle sal hulle oorwegings vir ons stel, en ons miskien van die verdienstes van hulle standpunt oortuig. 

 

Ek wil ten slotte kortliks u aandag vestig op die groot fases wat daar in die geskiedenis van die AB was. Dit sal ons help om die belangrikheid van die nuwe tyd ook beter in perspektief te sien.

 

Toe die AB in die jare 1918-1919 gestig is, was die doel om 'n organisasie te hê wat vir die Afrikaner op strategiese plekke tot beskerming kon dien. Dus het hulle 'n organisasie gestig wat die Afrikaner moes beskerm. 

Daarna het die tweede fase gekom: Die AB het sterker geword, en in belang van die Afrikaner het hy strydvaardiglik na buitentoe begin optree. Hy het nog probeer beskerm, maar die klem het nou op optrede en stryd geval.  

Vervolgens breek die derde fase aan: dit was die tyd toe die klem op konsolidasie geval het. Die Afrikanerdom het deur 'n sameloop van verskillende omstandighede verdeeld en versnipperd geraak, en die AB het hom met hart en siel daarvoor beywer om gelykgesinde Afrikaners na mekaar toe te bring. Dit was 'n moeilike taak, maar die hele AB, het 'n belangrike bydrae tot die konsolidasie van die Afrikanerdom gelewer.

 

Nou, op die vooraand van die Republiek, gaan ons myns insiens die vierde fase in. Die AB sal veral die wagter op ons mure moet wees; hy sal moet waak oor ons beginsels en hy sal ons mense se geeskrag moet voed. Dit het baie nodig geword, veral nou in hierdie tyd wanneer ons die geestelike grondslae lê waarop die Republiek gebou sal word. Dit sal die taak van die AB wees om te help om die Afrikaner toe te rus vir die groot uitdaging wat voorlê. Die AB sal sy bydrae moet lewer sodat, deur die uitdaging, die beste in die Afrikaner uitgebring word.

 

Ons kan die toekoms met hoop en optimisme ingaan. Ek sê dit omdat ek oortuig is dat die Afrikaner, ten spyte van sy moeilikhede en probleme, die uitdaging met moed en stille vertroue sal aanvaar. Die Afrikaner – net soos sy voorouers in hierdie land – is in ons bodem gewortel en hy sal nêrens elders kan lewe nie. Ek glo ook dat die Afrikaner reeds koers en karakter genoeg het om sy stryd in die toekoms te stry. .

 

Ek sluit af met 'n verwysing na ons onslape Broer dr DF Malan. Ek wil vir u noem een van die laaste ondervindings wat ek in sy aanwesigheid gehad het. Hy was reeds baie siek. Ek het weer na Môrewag gegaan om te verneem hoe dit gaan. Ek ontmoet mev Malan, wat my meedeel dat dit nie so goed gaan nie. Ek wou maar weer loop, maar sy nooi my binne met die woorde: "Hy sal jou graag wil sien." Ek het huiwerig en beklemd binnegegaan. In die siekekamer het ek voor dr Malan se bed gaan sit. Ek het nie gepraat nie en hy het ook nie gepraat nie. Naderhand begin hy verneem, langsaam, met daardie swaar, diep stem wat ons so goed geken het, na sekere dinge daarbuite. Toe skiet die gedagte my te binne: Hier sit ek voor sy bed; hy is ernstig siek; miskien is dit die laaste geleentheid wat ek kry om so met hom te praat en regstreeks van homself sy mening te kry. Ek brand om hom 'n vraag te vra wat my al lankal op die hart lê. Maar sal ek hom nou die vraag vra?

 

Toe waag ek dit. Maar ek is ontroerd en stel dit maar lomp: "Dr, hier is u nou teruggetrek in die rus en vrede van Môrewag. As u nou terug kyk oor al u veeleisende werk van ruim veertig jaar in die openbare lewe, wat, sou u sê was u grootste bydrae en verdienste vir die vooruitgang van Suid-Afrika gewees?" Hy bly 'n tyd lank stil. Toe sê hy skielik met 'n sterk stem, sodat ek voel asof dit deur my gaan: "Wat praat jy dan nou van 'n verdienste?  Ek het nie 'n verdienste nie, en jy ook nie." Ek het die berisping sterk aangevoel, maar dit was asof dit my in die stilte aangespoor het om vol te hou. Ek laat dus volg: "Doktor, ek is baie jammer, ek het dit nie só bedoel nie. Maar laat ek nou anders vra: As u terug kyk oor u veertig jaar in die openbare lewe, wat is die vernaamste diens wat u kon lewer?" Hy het weer 'n tydjie gewag, en toe sê hy kalm en rustig: "Die vernaamste diens wat ek kon lewer, was dat ek my mense kon bymekaar bring; die Here het my dit gegun."

 

As ons dink aan die toekoms, dan is dit  die gees wat ons moet besiel. As ons dink aan die Republiek, wat ons hoop om binnekort in te gaan, dan is dit die gees waarin ons dit moet ingaan. Wat ons ook al doen, ons doen om te dien; en as ons die diens gelewer het, moet ons dit beskou as 'n guns van die Here. Ons dien die Afrikanerdom. Maar meer: ons dien die hele nuwe Suid-Afrika, wat in sy Republiek sal omvat Afrikaanssprekendes, Engelssprekendes en nie-blankes. Suid-Afrika behoort aan al drie hierdie groepe. Ons woon almal hier en ons is hier om hier te bly. Dit is ons wat die verantwoordelikheid van leierskap sal moet dra, nie net vir onsself nie maar ook vir die ander.

 

HB Thom - 24 November 1960

 __________________________________________________________

 ‘n Lid se belewenis

 

31 Mei 2021   Hier is ‘n datum met besondere betekenis. 60 jaar gelede op 31 Mei 1961 het Suid-Afrika ‘n onafhanklike selfstandige republiek geword !!

 

Dit het die nag van 30 Mei 1961 begin reën en ten spyte van die reën die oggend van 31 Mei 1961 het duisende mense met sonop na Kerkplein gestroom om teenwoordig te wees wanneer ons eerste Staatspresident die volk sal toespreek.

 

Ons, ek en my meisie (nog steeds my vrou Elize) en Willie de Beer het teen sewe uur darem ‘n staanplekkie gekry op die hoek van Kerkstraat en Kerkplein in die reën. Ons het die oggend in die reën staan en wag dat die eerste Staatspresident van die RSA ingehuldig word in die Bosmanstraat NG Kerk, net om die hoek vanaf Kerkplein. Die hele Kerkplein was stampvol mense, van 0 tot 100 jaar. Ongeveer ‘n halfuur voordat mnr CR Swart die verhoog voor die Paleis van Justisie moes opklim om sy eerste boodskap aan die Republiek van Suid-Afrika oor te dra, het die wolke vinnig weggetrek en die son skyn helder op Kerkplein! Die nuwe Staatspresident het droogvoets sonder ‘n sambreel op die verhoog opgeklim en onder ‘n wolklose hemel sy eerste boodskap gelewer.

 

Dit lyk vir my dit gaan nie môre (31 Mei 2021) in Pretoria reën nie.

 

Groete,

 

Dries du Toit

Pretoria

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: