Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Junie 2023

Afrikaans word 100 op 8 Mei 2025

 

Op 10 Mei 2023 het die Nasionale Raad van die Afrikanerbond eenparig die manifes van die Afrikaans 100 veldtog aanvaar. Ons doen hiermee ‘n beroep op ons lede, afdelings en strukture om die veldtog te ondersteun en betrokke te raak by geleenthede ter viering van Afrikaans as amptelike taal.

 

 Afrikaans word 100 – kom vier dit saam met ons!

Op 8 Mei 2025 sal dit presies 100 jaar wees sedert Afrikaans ʼn amptelike taal van Suid-Afrika geword het. Afrikaanse organisasies, instansies, maatskappye, skole en enigiemand anders wat Afrikaans as inheemse taal koester, word genooi om by Afrikaans 100-feesvieringe betrokke te raak deur hul eie inisiatiewe van stapel te stuur om dié groot geleentheid te vier. Die feesjaar moet ʼn positiewe, opbouende ervaring wees vir alle lede van die Afrikaanse gemeenskap, asook enige ander Suid-Afrikaners wat met hierdie feesvieringe te doen kry.

 

Die feesjaar sluit op 8 Mei 2025 af met ʼn groot gesamentlike feesgeleentheid wat by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl gehou word.

 

Die 100 jaar-vieringe bied die Afrikaanse gemeenskap die geleentheid om die fokus te plaas op die gedeelde ontstaansgeskiedenis van Afrikaans en erkenning te gee aan die ontwikkeling van Afrikaans as moedertaal en spreektaal.

 

“Vir enige taal om honderd jaar oud te word as amptelike taal is ʼn belangrike mylpaal,” sê dr. Theuns Eloff, voorsitter van die Afrikaans 100-oorsigkomitee. “Ons het vroeg begin om ʼn oorsigkomitee saam te stel om ʼn raamwerk te skep waarbinne alle organisasies, klein en groot, in die volgende twee jaar en verál die laaste ses maande voor 8 Mei 2025 Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike taal in Suid-Afrika kan vier.

 

“Ek dink die feit dat Afrikaans sy amptelike taalstatus oorleef het te midde van al die politieke verandering is op sigself iets om te vier. Daarmee saam het Afrikaans in die afgelope 100 jaar ontsaglik baie mylpale bereik. Al daardie mylpale moet gevier word,” sê Eloff.

 

Die oorsigkomitee sal ʼn koördinerende rol speel in die aanbied van ʼn nasionale Afrikaans 100-veldtog. Voorts is werkskomitees vir verskillende sektore saamgestel uit ʼn wye en verteenwoordigende groep Afrikaanse organisasies. Dié werkskomitees sal, onder leiding van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), verantwoordelik wees daarvoor om talle feeste en geleenthede op alle vlakke van die samelewing deur die land te hou, tot met die groot feesgeleentheid op 8 Mei 2025. 

 

Waarom word 2025 spesifiek as Afrikaans se 100ste verjaardag beskou?

“Dit is belangrik dat die klem val op 100 jaar van Afrikaans se amptelike status,” verduidelik Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument. “Die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans dateer terug na 1595. Dikwels word hierna verwys as die eerste periode in die geskiedenis van Afrikaans. Dit is egter 8 Mei 1925 wat onthou en herdenk sal word as een van die monumentele mylpale in die geskiedenis van dié relatiewe jong Afrika-taal. Die Wet op Amptelike Tale van Suid-Afrika, Wet 8 van 1925, is op dié datum in die destydse parlement aanvaar. Ingevolge dié besluit is Afrikaans, naas Engels, as amptelike taal van Suid-Afrika erken.”

 

Die Afrikaans 100-oorsigkomitee verwelkom die ander Suid-Afrikaanse inheemse tale se status as amptelike tale sedert 1996, en ook gebaretaal sedert 2023. Afrikaans 100-feesvieringe word gereël in ‘n gees van samewerking met ander inheemse taalgemeenskappe.

 

“Wat Afrikaans in die afgelope 100 jaar bereik het, kan beskou word as ʼn norm vir ander inheemse tale van wat bereik kán word indien ʼn taal die nodige aandag en hulpbronne tot sy beskikking het,” sê Jonas.

 

Wie kan deelneem aan Afrikaans 100?

Enige gemeenskap, organisasie, skool, maatskappy, instansie of individu wat die doelwitte van die Afrikaans 100-inisiatief deel, word genooi om deel van die feesvieringe te wees deur hul eie projekte van stapel te stuur. Die doelwitte van die Afrikaans 100-inisiatief is vervat in ‘n manifes wat in hierdie mediapakkie beskikbaar is. Organisasies wat deel wil vorm van die Afrikaans 100-inisiatief, word genooi om die manifes te onderteken en te stuur na info@afrikaans100.org. By ontvangs van die getekende manifes sal die oorsigkomitee die amptelike Afrikaans 100-handelsmerk aan sulke instansies verskaf, wat dit dan op hul eie kommunikasie, bemarking en ander inisiatiewe kan gebruik om aan te dui dat hulle deel is van die groter Afrikaans 100-inisiatief.

 

Die oorsigkomitee

Die oorsigkomitee bestaan uit die volgende lede, in alfabetiese volgorde: Astrid de Vos (Dagbreek Trust), dr Theuns Eloff (Trust vir Afrikaanse Onderwys) (voorsitter), Dianne Ferrus (skrywer en digter), Werner Human (Solidariteit Beweging), Michael Jonas (Afrikaanse Taalmuseum en -monument) (ondervoorsitter), Susan Lombaard (Maroela Media), Karen Meiring (Nuuseum), Sinki Mlambo (NWU), Hendrik Theys (UWK), Merlyn van der Rheede (Afrikaanse Taalraad), Heindrich Wyngaard (Kaapse Forum). Die Afrikaanse Taalraad met Ria Olivier en Conrad Steenkamp tree as sekretariaat op.

 

                                                                           MANIFES VAN DIE AFRIKAANS 100-VELDTOG

Op 8 Mei 2025 vier Afrikaans haar honderdjarige bestaan as amptelike taal. ‘n Wye en verteenwoordigende groep Afrikaanse organisasies, onder leiding van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), wil graag ‘n veldtog van stapel stuur om dit te vier. Daar sal ‘n gekoördineerde poging wees om talle feeste op alle vlakke van die samelewing deur die hele land te hou, met ‘n nasionale geleentheid op 8 Mei 2025 by die ATM in die Paarl.

 

Hierdie manifes verteenwoordig die raamwerk waarbinne die feesveldtog gehou gaan word. Indien enige gemeenskap, organisasie of persoon daarmee saamstem, dit teken en terug epos, sal só ‘n organisasie die amptelike logo van die Afrikaans 100 veldtog kan gebruik, onder andere om plaaslik fondse te werf.

  1. Ons vier met dankbaarheid en vreugde die bestaan van Afrikaans as amptelike landstaal oor die afgelope 100 jaar.
  2. Ons doen dit as ‘n groep mense wat almal lief is vir Afrikaans en belangstel in die Afrikaanse leefwêreld: Afrikaanse organisasies en instellings, skole, die media, asook tweede- en derdetaalsprekers van Afrikaans.
  3. Ons erken die feit dat Afrikaans ‘n diverse taal is met ‘n diverse herkoms en dat dit deur mense van alle rasse, etniese- en kultuurgroepe gepraat en gebruik word. Ons beskou dit ook as ‘n inklusiewe en vriendelike taal en daarom sal ons dit verwelkom as die feesveldtog deur soveel as moontlik mense, gemeenskappe en organisasies ondersteun en gevier sal word.
  4. Ons is daarvan oortuig dat Afrikaans toekomsgerig is en bly groei; daarom vier ons Afrikaans se konstruktiewe bydraes tot die Suid-Afrikaanse gemeenskap, en moedig ons gesprek aan sonder om in politiek te verval.
  5. Deur hierdie feesveldtog wil ons ‘n gekoördineerde poging aanwend om die mylpaal van een honderd jaar met positiewe sentimente te vier en die waarde van Afrikaans in die Suid-Afrikaanse gemeenskap ten toon te stel.
  6. Tydens hierdie feesveldtog sal ons graag wil sien dat Afrikaans se bydraes op talle gebiede gevier word, soos die kunste, literatuur, drama, poësie, onderwys, musiek (lig en klassiek), akademiese navorsing en woordeboeke (om maar ‘n paar te noem). Daarom nooi ons alle organisasies om hieraan deel te neem.
  7. Almal wat belangstel om hierdie groot mylpaal van Afrikaans te vier, kry toegang tot ‘n eenvormige, positiewe feesveldtog en -identiteit in die vorm van ‘n logo wat saam met die instansie se eie korporatiewe identiteit gebruik kan word.

 

Ons DIE AFRIKANERBOND stem met hierdie manifes saam en onderneem om in hierdie gees deel te neem aan die feesveldtog vir Afrikaans 100. (Soos aanvaar en geteken op 10 Mei 2023)

 

Stuur gerus aktiwiteite wat beplan word om die veldtog Afrikaans 100 te ondersteun na kommentaar@abond.co.za Ons sal van tyd tot tyd berigte in die verband in die nuusbrief publiseer.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: