Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Junie 2023

Waar staan die Afrikaanse Federalisme-diskoers vandag?

Deur Carel Boshoff


 Die artikel is op 4 Mei 2023 by Die Vryheidstigting se webwerf geplaas. Met die vergunning van Carel Boshoff plaas ons graag die volledige artikel.

 

In die soeke na ‘n nuwe idioom om konserwatiewe Afrikaners se vryheidstrewe te verwoord, word deesdae al meer na federalisme verwys. Die Vryheidstigting en sy voorgangers is die tendens uiters goedgesind en ons bemoei ons al letterlik dekades lank daarmee. Daarom is dit vir ons nie net belangrik dát daar oor federalisme gesê word nie, maar ook wát daar oor federalisme gesê word.

 

Dit help naamlik nie om net ‘n nuwe vlag aan ‘n ou skip te hang nie; by wyse van oordrywing kan mens sê die nuwe vlag noodsaak ‘n nuwe skip. Oordrywing, want ons werk onder andere met ou en gevestigde denkbeelde wat net in ‘n nuwe lig gestel moet word, maar die omwenteling van die afgelope dertig jaar vereis ook meer as net ‘n bolangse aanpassing van ons denke. Daarom is dit belangrik om ook die gemengde ontvangs wat die wending na federalisme onder sommige van ons mense geniet, onder oë te neem. Ten minste twee redes kan daarvoor aangevoer word.

 

Aan die een kant was dit in die verlede ons opponente wat hulle van dié idioom bedien het en aan die ander kant is nie almal wat dit nou wil gebruik ewe goed daarin onderlê nie. Maar altwee die kwessies verwys na gapings wat oorbrug kan word – as dit moet. Die Vryheidstigting is van oordeel dat dit moet, en hieronder word aangevoer waarom, asook hoe dit benader kan word.

 

1.  Waarom moet ons federalisme toe-eien?

Verskeie minder en meer gewigtige redes kan aangevoer word waarom konserwatiewe Afrikaners hulle vandag in die idioom van federalisme moet uitdruk.

 

‘n Gematigde alternatief

Federalisme word wêreldwyd in veelvolkige state as ‘n gematigde en aanvaarbare benadering beskou vir minderhede wat enersyds nie in die dominante meerderheid wil opgaan nie, maar andersyds ook nie die staatsorde wil bedreig en by voorbaat oorweldigende teenstand wil opwek nie. Wêreldwyd staan state in die reël bymekaar en erken mekaar se gebiedsintegriteit en reg om binnelandse vraagstukke sonder inmenging te hanteer. Vir een staat om by ‘n afskeidingsbeweging in ‘n ander staat betrokke te raak, kan ernstige gevolge hê en dit word, waar moontlik, vermy. Federalisme as ‘n binnestaatlike reëling wat vir minderhede se regte en belange ruimte skep, geniet daarom meestal ‘n gunstiger ontvangs as alternatiewe wat die verkleining of verbrokkeling van bestaande state tot gevolg kan hê.

 

Die volgende stap

Vir bevolkings en streke wat hulle in ‘n sentralistiese orde bevind, is groter federale bevoegdhede dikwels ‘n bereikbare volgende mylpaal. Selfs volke en streke wat onafhanklikheid sou verkies, beskik dikwels nie oor die instrumente en strukture wat dit vereis nie en moet deur ‘n proses gaan om hulle bevolking te omlyn, hulle gebied af te baken en ‘n publieke orde – wetgewende, uitvoerende en regsprekende owerhede – te vestig. Maar selfs as hulle oor dié drie dinge beskik (bevolking, gebied, owerheid), en hulle geniet nie die erkenning van ander state nie, is hulle nog nie werklik onafhanklik nie. Daarom maak dit dikwels sin om eers federale erkenning te verkry, al word dit net as ‘n volgende stap op weg na ‘n verdere doel beskou.

 

Praktiese politiek

In soverre politiek “die kuns van die moontlike” is, is dit dikwels wys om opponente nie voor ‘n keuse van “alles of niks” te plaas nie. Alles wat ‘n onafhanklike volk of streek verlang, is meestal reeds in ‘n federale eenheid teenwoordig, al is dit nog nie op die vlak wat die betrokke volk of streek sou verkies nie. Daarom is federale erkenning meestal ‘n stap in die regte rigting wat net deur eenhede wat reeds daaroor beskik, gering geskat kan word – eintlik as vanselfsprekend aanvaar word. Eenhede wat nog hulle voete moet vind, kan dit as ‘n geleentheid aangryp.

 

Dit is ‘n denkwyse

Die woord “federalisme” beskryf meer as ‘n model of ‘n struktuur, nl. een of ander spesifieke federasie; dit beskryf ‘n denkwyse. In soverre dié denkwyse by desentralisering eerder as sentralisering van mag, by verskeidenheid eerder as eenvormigheid van bevolking, by erkenning eerder as miskenning van verskille, by ‘n meervoud eerder as enkelvoud van gebied, ens. aansluiting vind, bied dit vir minderheidsbevolkings meer eerder as minder ruimte om te gedy. Dit skep ook die ruimte waarbinne rolspelers oor billike tegemoetkoming en die balansering van belange kan dink sonder om dit aan die maatstaf van wen-of-verloor te meet.

 

Huisves verskeidenheid

Federalisme en federasies huisves ‘n verskeidenheid van belange, strewes en vrese – of dit meer kultureel, geografies, histories, of andersins, ingeklee is. Dit bied ‘n geestelike en/of fisiese ruimte vir verskillende eenhede wat nie altyd heeltemal tevrede daarmee is nie, maar darem meestal ook nie ontevrede nie. Vir Afrikaners bied dit moontlikhede wat die huidige Suid-Afrikaanse staatsideologie van transformasionisme nie bied nie, en konserwatiewe Afrikaners sal vandag, anders as wat hulle in die verlede gedink het, eerder daarby baat as skade ly.

 

2.  Waarom staan ons mense dikwels skepties jeens federalisme?

Teen die agtergrond van alles wat hierbo gesê is, kan gevra word waarom mense dan voorbehoude oor ons beroep op federalisme sou hê. Soos met die meeste moeilike vrae, is die antwoord hierop ook in die geskiedenis te vinde. Selfs al neem mense kennis van historiese veranderings, trek hulle dit nie altyd op elke toepaslike terrein deur nie – veral nie as die ongewensde veranderings was nie. In hierdie geval is die agtergrond soos volg:

 

Konserwatiewe Afrikaners het in Suid-Afrika oor dekades heen baie waarde aan politieke onafhanklikheid geheg. Dit het egter vanweë bevolkingsgetalle op ‘n stelsel van politieke skeiding tussen wit en swart Suid-Afrikaners berus, iets wat met Uniewording in 1910 as uitgangspunt aanvaar is. Die stelsel het egter, hoe langer, hoe meer – en veral na die Tweede Wêreldoorlog – onder druk gekom, en verskillende oplossings vir die probleem is aangebied. Die Nasionale Party (NP) wat sedert 1948 met konserwatiewe Afrikanersteun aan bewind was, het aanvanklik die segregasiebeleid verskerp, maar mettertyd in die rigting van tuislandontwikkeling en aparte politieke stelsels tot op die hoogste vlak, beweeg. Die beleid sou op die kort termyn opofferings verg, maar op die lang termyn Afrikaners se politieke onafhanklikheid verskans, en hoewel die beleid en leierskap van die NP groot steun geniet het, was die las wat Afsonderlike Ontwikkeling op blanke Suid-Afrikaners sou plaas, ‘n groot uitdaging. Die gevolg was dat die beleid met meer ywer aangehang en verkondig, as uitgevoer is, veral ekonomies gesproke.

 

Intussen het die liberale opposisie, wat die oorwig Engelse steun geniet het, ook blanke oorheersing in die vooruitsig gestel, maar nie in afsonderlike stelsels nie. Die vooruitsig was dat swart aspirasies in ‘n “rassefederasie” met gekwalifiseerde stemreg gehuisves sou word. Terwyl dit duidelik op die kort termyn minder drastiese eise sou stel, het dit geen permanente vooruitsig op aparte en volledige vryheid vir elke groep gebied nie. Die NP moes hierdie alternatief met alles tot sy beskikking beveg, want elke prysgawe in die rigting van politieke integrasie, sou die groot doel wat slegs teen hoë koste bereik kon word, in gevaar stel. Gevolglik is daar ‘n skerp lyn tussen ‘n federasie, wat almal in een stelsel wou huisves en niks minder as die dun ent van die wig sou wees nie, en onafhanklike tuislande, getrek. Die tuislande sou soewerein-onafhanklik wees en kon dan konfederatief skakel, maar ‘n federasie sou op niks minder as ‘n glybaan na swart meerderheidsregering neerkom nie. Histories gesproke, is aangevoer, swaai die magskaal in federasies meestal na die sentrum eerder as na die dele.

 

Sonder om hier die vraag waarom Suid-Afrika uiteindelik wel onder ‘n swart meerderheidsregering staan, te probeer beantwoord, staan dit soos ‘n paal bo water dat jou strategieë nie dieselfde kan bly, of jy aan bewind is en of jy magteloos is nie. Selfs al is dit verstaanbaar dat die federasie-denke van die tweede helfte van die vorige eeu as bedreiging vir ‘n beter alternatief beskou is en dienooreenkomstig behandel is, hoef mens net vir ‘n oomblik daaroor na te dink om te besef dat die tuislandbeleid ook sterk federalistiese trekke getoon het. Hoewel die woordeskat van federalisme dus destyds afgewys is, is die denkbeelde (met bepaalde voorbehoude) tog aangehang en kan dit nie te moeilik wees om te aanvaar nie dat konserwatiewe Afrikaners onder die huidige omstandighede hulle saak aan die hand van federalisme die beste kan bevorder.

 

Daarby moet egter gevoeg word dat, om dit stomp te stel, ‘n Suid-Afrikaanse federasie onder die huidige omstandighede waarskynlik nie veel beter aan Afrikaners se behoeftes sal voldoen nie. Daarvoor lê die redes net soveel by Afrikaners self as by die res van Suid-Afrika. Federalisme bied dus geen towerformule vir ons huidige stelselgebreke nie, maar dit open wel die moontlikheid vir denkwyses en vir ‘n kultuur wat vir ons selfstandigheid bevorderlik sal wees.

 

3.  Kan ons ‘n eie stempel op die federalisme-denke afdruk?

Die vraag is dus óf en tot water mate ons vanuit ‘n ongunstige politieke posisie ons eie inhoud aan ‘n gevestigde politieke teorie soos federalisme kan gee. Die antwoord is weer eens nie eenduidig nie: ons kan nie, en ons kan. Natuurlik is die politieke diskoers hieroor te groot om deur een klein rolspeler langs nuwe weë gelei te kan word, maar juis dit bied die voordeel dat mens met behulp daarvan ‘n groter gehoor kan bereik en beter verstaan kan word. Aan die ander kant hang politieke teorieë nie losweg in die lug nie, en gemeenskappe wat die op konkrete maniere nastreef of toepas, help om konkrete inhoud daaraan te gee. Politieke teorieë kan nie anders nie as om heel spesifieke maniere toegepas te word, wat beteken dat dit altyd met bepaalde voorbehoude en voorkeure tegemoet gegaan word.

 

As en in soverre Afrikaners dus daarin slaag om die idioom van federalisme toe te eien en te benut, sal dit na ons mening met die volgende voorkeure en voorbehoude gepaard moet gaan:

  • Afrikaners sal ‘n eiesoortige en samehangende denkbeeld moet vorm wat nie op die blote herhaling van clichés, of op ‘n gewaande kompromie tussen die pole van sentralisering en balkanisering neerkom nie.
  • “Federalisme” is nie net ‘n deftige woord vir minderheidsregte of desentralisering van bevoegdehede nie, dit is ‘n onderwerp en ‘n studieveld waarop ons ons moet inwerk om ons na behore daarvan te kan bedien.
  • ‘n Federale orde is, staatkundig of andersins, ‘n vrywillige verband tussen selfstandige eenhede wat op grond van ooreengekome afsprake en reëls handel ten aansien van sake waarop besluit word, terwyl alle ander handeling en sake steeds by die selfstandige eenhede berus. Dat nie alle “federasies” aan hierdie beskrywing voldoen nie, doen nie af aan die geldigheid daarvan nie, maar eerder aan die federale aard van sulke federasies. Federalisme is ‘n versamelterm en neem uiteindelik soveel vorms aan as wat daar werkende federasies is.
  • Die doel van ‘n federale orde is om aan die gedeelde belang en samehangende optrede van selfstandige eenhede uitdrukking te gee sonder om hulle selfstandigheid in die proses op te hef; ideaal gesproke kan dit hulle selfstandigheid eerder bevorder.
  • Die grondslag van ‘n federale orde kan saamgevat word in die begrippe erkenning, subsidiariteit en kontrole. Erkenning word gekenmerk deur die feit dat dit gegee moet word om verwag te kan word en verwag moet word om gegee te kan word; subsidiariteit gee uitdrukking aan die opwenteling van bevoegdhede deur selfstandige eenhede na ‘n federale verband, en staan teenoor die gedagte dat ‘n federasie deur die afwenteling van bevoegdhede vanaf ‘n sentrale na deelnemende entiteite plaasvind; kontrole bestaan daarin dat federale ooreenkomste nagekom moet word en dat dit deur die federale gesag nagegaan en desnoods afgedwing kan word.
  • Die kultuur binne ‘n federale orde is pragmaties en onderhandelend; waar probleme ontstaan, word oplossings op deelnemende en meelewende wyse gesoek aangesien ‘n dooiepunt op die ontbinding van die federale verband kan uitloop.
  • Die struktuur van ‘n federale orde kom neer op die beliggaming van gedeelde soewereiniteit en staan teenoor die moderne gedagte dat soewereiniteit één, ondeelbaar en in die (eenheid-)staat gesetel is. Dit kan uiteraard ‘n verskeidenheid van vorme aanneem, maar federalisme kan nie met onverdeelde soewereiniteit versoen word sonder om die beskrywing “federaal” na regte te verbeur nie.
  • Aan die hand van die voorgaande kan aangevoer word dat die maatstaf vir ware federalisme die vraag is of ‘n deelnemende eenheid ordelik, vreedsaam en vrywillig van die betrokke federasie kan onttrek; indien nie, het die samehang van federalisties oorgegaan na sentralisties, ongeag die naam waaronder dit bekend staan.
  • Die teenoorgestelde van ‘n federale orde, is ‘n sentralistiese orde; waar die federale orde by wyse van selfstandige deelname funksioneer, funksioneer die sentralistiese orde by wyse van sentrale beheer, wat die deelnemende entiteit se selfstandigheid ophef.

 

‘n Deeglike gesprek oor federalisme onder Afrikaners en in Suid-Afrika sal op ‘n diepgaande wyse met die bostaande gedagtes – en meer – moet handel en daarop verbeter. Indien dit nie gedoen word nie, sal die federalismegesprek soos die “geur van die week” agtergelaat en deur ‘n nuwe besprekingspunt verplaas word sonder om enige blywende gevolg te hê.

 

Carel Boshoff beklee die Afrikaanse privaat hoëronderwysinstelling, Akademia, se NP van Wyk Louw-ereleerstoel vir kultuurkritiek en dien as ondervoorsitter van die FAK. Hy was voorheen president van die Orania Beweging, voorsitter van die Orania Verteenwoordigende Raad en woon sedert 1997 in Orania


Lees die artikel aanlyn by die Vryheidstigting se webwerf.

https://vryheidstigting.org/2023/05/04/waar-staan-die-afrikaanse-federalisme-diskoers-vandag/

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: