Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Februarie 2023

Eskom - Die ANC se aandadigheid aan die huidige krisis


Deur Jan Bosman

Hoofsekeratris van die Afrikanerbond 

 

Voete is gesleep met die Nasionale Ontwikkelingsplan sedert 2012. Dit is growwe nalatigheid en pligsversuim 

-     Inisiatiewe soos AfriForum se voorstelle moet ondersteun word

 

Dit is opvallend hoe die ANC-regering die laaste weke probeer om alle blaam op Eskom te plaas vir die huidige elektrisiteitskrisis. Dit terwyl ons nou weer ongekende toepassings van tot fase 6 aanbetref. Die skrale troos is dat Suid-Afrika nou om die beurt fase 4 en 5 moet beleef. Beurtkrag is egter ʼn eufemisme vir die huidige en werklike kragkrisis. 

 

Terwyl President Ramaphosa in Davos moes wees om nuwe investering na ʼn beleggingsonvriendelike Suid-Afrika te lok, moes hy opnuut weer die besoek kanselleer en aandag gee aan die krisis tuis. Die onwillekeurige vraag is egter of die elektrisiteitskrisis die werklike rede was en of die ANC se interne faksiegevegte nie dalk maar die onderliggende rede is nie. Inderhaas en midde in Fase 6 moes die President die Nasionale Energie Krisis Komitee, die raad van Eskom en opposisieleiers ontmoet om aandag te gee aan die krisis.

 

Dit is egter nie ʼn nuwe krisis nie, dit het nie oornag ontstaan nie en die ANC regering moet direk verantwoordelik en aanspreeklik gehou word. Op die minste is die ANC regering deur sy kabinetsministers individueel en kollektief aanspreeklik aan pligsversuim. 

 

Die laaste twee jaar se voortslepende elektrisiteitskrisis kon voorkom word as die ANC-regering sedert 2012 sy eie Nasionale Ontwikkelingsplan 2030 nagekom het en uitgevoer het. Ironies genoeg was mnr Cyril Ramaphosa ondervoorsitter van die Nasionale Ontwikkelingskommissie wat in 2012 sy plan aan die regering voorgelê het. Niks wat vandag gebeur kan dus as ʼn skok vir die president of senior lede van die kabinet kom nie.

 

In sy oorsig sê die Nasionale Ontwikkelingsplan op p45 (Uit Engels vertaal) “Die elektrisiteitskrisis van 2008 en ander onlangse ontwikkelings het institusionele swakhede blootgelê wat verband hou met maatskappye in staatsbeheer wat vir netwerkinfrastruktuur verantwoordelik is. Om sulke probleme te voorkom vereis duidelike institusionele reëlings, deursigtige aandeelhouersooreenkomste, duidelike lyne van aanspreeklikheid en gesonde finansiële modelle om volhoubaarheid te verseker. Ons maak aanbevelings in elk van hierdie gebiede.”

 

Die kern van die energiebeplanning soos in 2012 uitgewys in die Nasionale Ontwikkelingsplan  in die hoofstuk THE ENERGY SECTOR: EMPOWERING SOUTH AFRICA word dan besonder duidelik omskryf op p168: 

“Suid-Afrika sal sowat 29 000 Megawatt (MW) in nuwe krag ontwikkeling tussen 2012 en 2030 moet voorsien om aan die aanvraag te voldoen. 'n Verdere 10 900MW se ou krag kapasiteit sal uit diens gestel word. As gevolg hiervan, moet meer as 40 000 MW se nuwe kragkapasiteit gebou word. Eskom se uitbreidingsprogram sal 10 000 MW se nuwe opwekkingskapasiteit byvoeg by die bestaande stelsel. Daar is egter nog 'n duidelike gaping tussen toekomstige behoeftes en toegewyde infrastruktuurbeleggings.”

 

Die regering was dus reeds in 2012 en in sy eie ontwikkelingsplan baie duidelik ingelig dat 2200MW per jaar nodig is om die 2030 teiken van 40 000 MW te bereik. Hierdie is dus nie sake wat oornag in 6 na 12 maande opgelos gaan word soos wat sommige onbeholpe lede in regering voorgee nie. 

 

Ironies genoeg is die taak gestel in die Nasionale Ontwikkelingsplan dat die Departement van Energie 21 500MW hernubare energie kapasiteit tot die stelsel moes voeg teen 2030. Dit is Minister Gwede Mantashe se departement en het hy tot op hede nog nie 1 MW tot die stelsel bygedra nie. Sy enigste oplossing in Julie 2022 was om Eskom 2.0 op te rig. 

 

As die regering dan reeds in 2012 geweet het daar is reuse kragtekorte en dat 40 000 MW kragkapasiteit tot die stelsel gevoeg moes word, waar moet die fout gesoek word? Die voortdurende eksperimentering met ʼn uitgediende tipe van sosialisme waarin al meer regering en regeringsvoorskrifte voorkom, lê aan die kern. Daarom is die ideologie die teëlaarde vir faksiegevegte, kader-ontplooiing, korrupte amptenare, onbevoegdheid en laastens die onvermoë om uitvoering te gee aan grandiose planne. Die ANC was nog altyd gefokus daarop om skuld te verplaas en neem selde indien ooit enige verantwoordelikheid. Daarom word min aandag gegee aan uitvoering.

 

Die 2012 Nasionale Ontwikkelingsplan-2030 staan uit as ʼn baken en demonstrasie van die ANC se totale onvermoë om te kan regeer en te kan uitvoer. Die mislukkings van hele departemente, staatsondersteunde entiteite en verbrokkelende infrastruktuur en munisipaliteite onder administrasie is deel van die ANC-regering se spoor van verwoesting. Dit is omdat elementêre uitvoering en instandhouding afwesig is in die ANC se regeerfunksie. Die afgelope amper drie dekades getuig hiervan.     

 

Waarin is die oplossings vir die toekoms in belang van die land en sy mense geleë. 

  • ʼn Koalisieregering wat die saak met die nodige erns en pligsbesef sal hanteer;
  • ʼn Regering wat staatsondersteunde entiteite met spesifieke verwysing na Eskom en kragopwekking grootliks sal privatiseer;
  • Minder regeringsinmenging, voorskrifte en regulering;
  • ʼn Volkome einde aan kader ontplooiing, regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging. Die term transformasie moet slegs gebruik word om te verwys na die transformasie van Eskom van ʼn sukkelende en gebroke onderneming na een van uitnemendheid en prestasie; 
  • Belastingtoegewings aan individue en die sakesektor wat druk van die elektrisiteit netwerke afhaal deur eie opwekking hetsy deur son of wind; 
  • Almal voor die voet gelyk behandel as dienste verbruikers en dat almal daarvoor betaal; 
  • Ontginning van entrepreneuriese vaardighede om oplossings te help ontwikkel; 
  • Werkskeppingsprojekte wat kraginfrastruktuur insluit in vennootskap tussen staat en die privaatsektor; 
  • Kundige leierskap in die kabinet en SOE’s wat ervaring en vaardigheid bring en nie patronaatnetwerke nie;
  • Enige opsetlike skade aan infrastruktuur en diefstal van materiaal en infrastruktuur en poging tot staatskaping moet as ekonomiese sabotasie vervolg word.   

 

In die lig van bogenoemde moet AfriForum se voorgestelde oprigting van ʼn kragmaatskappy ten einde private kernkrag te ontwikkel deur middel van modulêre korrelbedreaktors, oorweeg en waar moontlik ondersteun word. 

 

Suid-Afrika het nou politieke wil en dryfkrag nodig om dringend oplossingsgerig te kyk na die elektrisiteitskrisis. Vir te lank is dit oorgelaat aan die ANC en sy patronaatskappe tot selfverryking. Die krisis het onder ʼn ANC regering ontstaan en gevolglik kan die ANC nie die oplossing bied nie. Ekonomiese groei en gevolglike werkskepping was die slagoffer van ʼn regering wat nie die wil of vermoë geopenbaar het om ʼn verskil te kan maak nie. 


Die voorgestelde afkondiging van ʼn ramptoestand soortgelyk aan die Covid situasie moet met uiterste skeptisisme bejeën word. Die ANC het die ramp oor dekades self geskep en noodmaatreëls binne ʼn ramptoestand gaan nie die dilemma oornag laat verdwyn nie. Eenvoudig gestel die president en die ANC kan nie met ʼn ramptoestand en die magte daaraan verbonde vertrou word nie. Die antwoord moet gevind word binne ordelike bestuur en beplanning. 

 

 https://www.gov.za/issues/national-development-plan-2030 (Skakel na NOP dokumente)

 


Bo is enkele voorstelle gemaak waarin moontlike oplossings vir die toekoms in belang van die land en sy mense geleë is. Lede en Afdelings word genooi om die saak te bespreek en verdere voorstelle te stuur na kommentaar@abond.co.za  *

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: