Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Februarie 2023

Apartheid kan nie blameer word vir die huidige kragkrisis nie


Ons plaas graag die artikel in nagedagtenis aan prof Christo Viljoen wat op 8 Januarie 2023 oorlede is. Prof. Viljoen, ’n afgetrede professionele ingenieur en ’n voormalige lid van die Elektrisiteitsraad (tans Eskom-raad) en die Elektrisiteitsbeheerraad (tans Nersa) het soos volg geskryf in die AB Nuusbrief.

 

Prof Viljoen word in Die Burger van 15 Januarie 2015, agt jaar gelede soos volg aangehaal: “Eskom se beskikbare opwekvermoë is 42 GW. Met ’n reserwe van 15% vir voorkomende roetine-instandhouding behoort Eskom deurlopend ’n maksimum van 35,7 GW te kan opwek. Op 5 Desember verlede jaar was egter net 24 GW beskikbaar (ná die instorting van die steenkoolsilo by Majuba-kragstasie), terwyl die aanvraag 28 GW was; 4 GW se las moes afgesny word. Gemiddeld is tans net 32 van die nominale 42 GW beskikbaar, oftewel 76%.

 

Wanneer Eskom se opwekkapasiteit vergroot word met die voltooiing van die kragstasies Medupi (4,764 GW) en Kusile (4,8 GW), sal die situasie uiteraard verbeter. Die laaste Kusile-eenheid sal na verwagting eers in 2017 elektrisiteit kan lewer. Die totale risiko kan verminder word as die voorsiening van elektrisiteit (teen laer as opwekkoste) aan Billiton se aluminium smelterye Alusaf (Richardsbaai) en Mozal (Mosambiek) herbeding kan word. Eskom se ou kragstasies moet intussen vervang word, soos die Ath­lone-kragstasie, wat in 2003 ná 42 jaar gesluit is.” (Die Burger 21 Januarie 2015)

 

Met die huidige debakel rondom Eskom skryf Prof Viljoen verder in die AB Nuusbrief in Februarie 2015:

Die vraag is eintlik of Eskom werklik 'n noodherstelplan opgestel het om elektrisiteit na 'n kragonderbreking te herstel. Selfs in eerstewêreldlande neem dit verskeie dae om dit te doen en Eskom se voorspelling dat die land na 'n algehele kragonderbreking vir tot 2 weke sonder elektrisiteit kan wees, is optimisties gegewe die grootte van die netwerk (ongeveer 87 kragopwekkers wat een vir een in die netwerk teruggeplaas moet word nadat elke bykomende kragopwekker gesinchroniseer is en die grootte van die kliëntegebied geleidelik van dié van 'n klein dorpie vergroot is totdat dit uiteindelik die hele land dek) en die brose toestand van die netwerk – dit is nou benewens die bewese onvermoë om enigiets te bestuur.

 

'n Ingenieurskollega het onlangs Eskom se huidige situasie vergelyk met dié van 'n busmaatskappy wat 'n busdiens probeer lewer met busse waarvan sommige ouer as 50 jaar is. Hulle is onbetroubaar en wanneer hulle breek, is onderdele nie geredelik beskikbaar nie. Hulle is bowendien onekonomies (baie hoë brandstofverbruik per kilometer) en hulle besoedel die atmosfeer. (Twee van Eskom se steenkoolkragsentrales is meer as 50 jaar oud en vier is meer as 40+ jaar oud; hulle moet so gou moontlik vervang word. Koeberg het net ongeveer 10 jaar gebruikslewe oor.)

 

Vir sover dit pres, Zuma se bewerings betref (wat nou reeds drie maal sedert Desember 2014 herhaal is, selfs by Davos) dat Eskom nooit ontwerp is om krag aan al die mense in die land te verskaf nie en dat die huidige dilemma 'n nalatenskap van apartheid is - dit is onsin. Apartheid kan vir baie dinge blameer word, maar nie vir die huidige elektrisiteitstekort nie.

  1. Aan die einde van die apartheidsera in 1994 was Eskom se opwekvermoë 37,6 GW. Indien daardie opwekvermoë behou is en vandag beskikbaar was, sou ons nie die huidige kragonderbrekings gehad het nie. (Byvoorbeeld: op 5 Desember 2014, toe die huidige sarsie beurtkrag ingestel is, kon Eskom net 24 GW opwek, terwyl die aanvraag 28 GW was. Met 37,6 GW wat van die “apartheidsregering” geërf is, is dit werklik ondenkbaar dat net 24 GW vandag opgewek kan word. Eskom het nou reeds op 'n gemiddelde dag 37% van die opwekvermoë verloor – meer as een derde is doodeenvoudig nie beskikbaar nie.
  2. Gedurende die ANC-bewind is die Eskomnetwerk wat in 1994 geërf is, uitgebrei deur die oprigting van Majuba (4,1 GW) en een kragopwekker (0,6 GW) by Camden te voeg, wat aan Eskom die huidige opwekvermoë van 42 GW gee. Sowel Majuba as die Camden stasies is voor 1994 op kontrak uitgegee, met ander woorde die ANC-regime self het gedurende die 21 jaar wat hy aan bewind is niks nuut opgerig nie. Indien die huidige vermoë van 42 GW beskikbaar was, sou ons nie beurtkrag nodig gehad het nie omdat die spitsaanvraag in die somer net ongeveer 32 GW is. Eskom kon egter vroeg in Desember 2014 slegs 24 GW lewer, wat 57% van die vermoë is, d.w.s. 'n verlies van 42%. (Internasionaal word ’n maksimum van 15% aanvaar as reserwe vir voorkomende en geskeduleerde instandhouding.) Die hemele behoed ons as die aanvraag gedurende die komende wintermaande tot ongeveer 40 GW toeneem as die verbruik die hoogte inskiet.
  3. Reeds in 1998 het die Witskrif op Energie 'n elektrisiteitstekort teen 2007 voorspel. Eskom se eie ingenieurs het bereken dat die netwerk teen 1,2 GW per jaar (die ekwivalent van een nuwe Koeberg-kernkragsentrale elke 18 maande, of een nuwe Kriel-grootte steenkoolkragsentrale elke 3 jaar) uitgebrei sal moet word. Die ANC-kabinet (met Penuell Maduna as minister van minerale en energie) se reaksie was Eskom deur 'n moratorium te verhoed om nuwe kragsentrales te bou (in die vergeefse hoop dat die privaat sektor dit sal doen, wat toe nooit gebeur het nie); die moratorium is eers ses jaar later opgehef. Gedurende hierdie sesjaartydperk was daar geen langtermynbeplanning nie en die meeste van Eskom se beplanningsingenieurs het bedank en geëmigreer.
  4. Zuma beweer dat die uitbreiding van elektrisiteit na mense wat nie voor 1994 aangesluit was nie die oorsaak van die huidige beurtkrag is. Dit is onsin. Toegegee, 4,5 miljoen huishoudings is sedertdien by die netwerk gevoeg en die persentasie huise met elektrisiteit het van 44% in 1994 tot die huidige 85% toegeneem. Huishoudelike verbruikers gebruik 'n betreklik klein hoeveelheid elektrisiteit en die nuwe aansluitings het die totale vraag na elektrisiteit met net 5% laat styg. Sedert 1994 tot nou is Eskom se opwekvermoë met 11% vergroot (sien punt 2 hierbo), meer as genoeg vir die bykomende huishoudings wat aangesluit is. Nuwe aansluitings kan nie as 'n verskoning vir die huidige kragonderbrekings voorgehou word nie.
  5. Daar is eers in 2005 besluit om die Medupi- en ook Kusile-kragstasies te bou. Medupi moes volgens beplanning in 2012 begin elektrisiteit lewer maar is nog nie aangesluit nie. Kusile sal na raming in 2017 voltooi word. Eskom se huidige bestuur is totaal nie in staat tot langtermynbeplanning en kontrakbestuur nie.
  6. Die elektrisiteitsdeskundige Chris Yelland het bereken dat Eskom 3 GW elektrisiteit verloor as gevolg van “nie-tegniese verliese”, 'n ander naam vir elektrisiteitsdiefstal (onwettige verbindings) en nie-betaling deur gebruikers. Dit is gelykstaande aan een kragsentrale soos Kriel. City Power (Johannesburg) ondervind 32% “nie-tegniese verliese”, en in Soweto beloop hierdie verliese 80%. As Eskom hierdie probleem kan oplos, sal 3 GW bykomende vermoë beskikbaar wees en sou fase 4-beurtkrag nie voorgekom het nie.
  7. Eskom verskaf steeds elektrisiteit teen minder as opwekkoste aan die aluminiumsmelters van Alusaf (Richardsbaai) en Mozal (Maputo). Die res van die verbruikers moet meer hiervoor betaal. Die kontrakte behoort heronderhandel te word sodat Billiton minstens opwekkoste betaal, of albei smelters kan gesluit word - by Mozal sal slegs 800 poste verloor word.

 

Die ANC-regering moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir die huidige onsekere situasie met betrekking tot elektrisiteit in Suid-Afrika. Die verlede kan nie die skuld vir die situasie kry nie; 21 jaar van wanbestuur deur die ANC-regime en sy kaders het die gemors veroorsaak. Daar is 'n wesenlike moontlikheid van 'n nasionale kragonderbreking wat weke sal duur. Kragtekorte sal nog jare duur. Eskom is beskryf as die grootste bedreiging vir die Suid-Afrikaanse ekonomie die afgelope eeu. Ons staar 'n nasionale ramp in die gesig en dit is te danke aan die huidige ANC-regime! Die verlede kan nie blameer word vir die onberekenbare skade aan die Suid-Afrikaanse ekonomie en, nog belangriker, vir die enorme verliese aan geld en werk nie. Hiervoor kan slegs die ANC blameer word. v

 

Aan die einde van 2022 is berig dat Suid-Afrika oor ‘n opwekkingsvermoë van 44 GW beskik maar dat die behoefte slegs 29 GW is.  Eskom se 11 Januarie 2023 verklaring oor Fase 6 beurtkrag het aangedui dat onderhoud gedoen word by kragopwekkingseenhede wat 5,7 GW lewer en wat uit sirkulasie is terwyl ‘n verdere 18,04 GW as gevolg van onklaar eenhede nie gelewer kan word nie. Dit laat dus bittermin ruimte vir enige reserwes.


Ter nagedagtenis aan Prof Christo Viljoen

     Tydens die Bondsraad op 15 September 2022 ken die Afrikanerbond aan prof Christo Viljoen ʼn oorkonde in absentia toe vir sy reuse bydrae op akademiese en kulturele gebied in die bevordering van Afrikaanse onderwys en opleiding in ingenieurswese en die besondere bydrae tot die uitsaaiwese. Ons eer sy nagedagtenis.   

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: