Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Oktober 2023

Die De Klerk Stigting se verslagkaart oor Kulturele, Geloof, en Taalregte - 2023

 

Onder volg die bestuursopsomming van die verslag wat die FW De Klerk Stigting verlede week met die oog op Erfenisdag vrygestel het. Die volle verslag kan gelees word by die volgende skakel https://fwdeklerk.org/wp-content/uploads/2023/09/CRLRC2023.pdf Die bestuursopsomming is vir AB Nuusbrief doeleindes vertaal na Afrikaans.

 

Die Grondwetlike Onderhandelinge

Die akkommodering van diversiteit was een van die sentrale temas tydens die grondwetlike onderhandelinge wat gelei het tot die aanvaarding van die grondwette van 1993 en 1996. Om hierdie rede het die Grondwet sterk waarborge vir al Suid-Afrika se kultuur- en taalgemeenskappe ingesluit.

 

Taalregte is as so belangrik beskou dat dit apart van die Handves van Regte as een van die grondliggende bepalings van die Grondwet hanteer is. Die Grondwet het ook die reg erken van mense om hul kulture uit te leef en, bowenal, die reg op onderwys in hul voorkeurtaal in openbare onderwysinstellings.

 

As gevolg van die kritieke rol wat positiewe intergemeenskapsverhoudinge in Suid-Afrika se toekomstige vrede, stabiliteit en langtermyn-sukses sal speel, het die FW de Klerk Stigting besluit om ʼn jaarlikse 'verslagkaart' oor kultuur-, godsdiens- en taalregte (KGT-regte) te publiseer.

 

Die doel van hierdie studie, in die vorm van ʼn telkaart, sal wees om te bepaal tot watter mate ons daarin slaag om die regte van ons kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe in ooreenstemming met die 15 voorwaardes in die Grondwet te verseker en te bevorder.

 

Verslagkaart oor Kulturele, Godsdienstige en Taalregte 2023

Die verslagkaart het die volgende vyf groot bedreigings vir Taal-, Geloofs en Kultuurregte geïdentifiseer:

 

  1. Die implementering van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (BELA) is 'n ernstige bedreiging vir die reg op onderwys in die taal van keuse, veral vir Afrikaanssprekendes.
  2. Die versuim van die Regering en sleutel-staatsinstellings om die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale te implementeer, is 'n eksistensiële bedreiging vir die ideaal dat Suid-Afrika 12 amptelike tale het en vir die suggestie dat alle amptelike tale gelyke status moet geniet en ewehandig behandel moet word.
  3. Die versuim om die status van inheemse tale te verhoog en die gebruik daarvan te bevorder, bedreig die langtermyn lewensvatbaarheid van hierdie tale en ook die reg van sprekers van hierdie tale op onderwys in hul taal van keuse en om deur die Regering in tale wat hulle die beste verstaan, bedien te word.
  4. Die regte op godsdiensvryheid en die reg om kulturele, godsdiens-, taal- en burgerlike samelewingsorganisasies te vorm, aan te sluit en te handhaaf, kan ernstig aangetas word deur die Voorkoming en Bekamping van Haatmisdade en Haatspraakwetsontwerp (Prevention and Combating of Hate Crimes and Hate Speech Bill); die Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensie (the General Intelligence Laws Amendment Bill) ; die Wysigingswetsontwerp op Algemene Wette vir die Bekamping van Geldwassery en die Finansiering van Terrorisme (General Laws Anti-Money Laundering and Combating Terrorism Financing Amendment Act)  ; en die Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Konstitusionele Demokrasie Teen Terrorisme en Verwante Aktiwiteite (the Protection of Constitutional Democracy Against Terrorism and Related Activities Amendment Act). Dit is as gevolg van die impak wat hierdie wette en wette op vryheid van uitdrukking kan hê en omdat dit die weg kan baan vir ingrypende staatsinmenging in en beheer oor die wettige  aktiwiteite van godsdiens-, kultuur- en burgerlike samelewingsorganisasies.
  5. Die reg tot taalgebruik en deelname aan die kulturele lewe van keuse, veral van Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, word bedreig deur die impak van hofuitsprake en politieke sieninge wat voorstel dat tale en kulture die draers van historiese skuld kan wees.

 

GRADERING VIR 2023

Die Stigting het grade toegeken aan elk van die grondwetlike voorwaardes wat handel met Taal, kultuur en geloofsregte. Dit wissel vanaf A vir uitstekende nakoming van die reg; B vir beter as voldoende nakoming van die reg; C vir regte wat rede tot kommer begin wek; D vir regte wat ernstig bedreig word; en E waar die regte glad nie meer nagekom word nie. Ons sal ook aandui of die genieting van Taal, Kultuur en geloofsregte besig is om te verbeter of te verswak deur die toekenning van ʼn + vir verbeterings, ʼn - vir agteruitgang en ʼn = ter aanduiding van geen verandering in die genieting en nakoming van die reg nie.

 

Artikel 6 (1) – Amptelike tale: D-GRADERING =

Engels is toenemend die enkele de facto amptelike taal van Suid-Afrika – hoofsaaklik as gevolg van die regering se versuim om die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale (UOLA) af te dwing. Die Konstitusionele Hof het Engels as sy enigste bedryfstaal aanvaar ten spyte van die duidelike bepalings van Artikel 6 (4) van die Grondwet. Die aanvaarding van Suid-Afrikaanse Gebaretaal as Suid-Afrika se 12de amptelike taal moet egter as ʼn beduidende sukses gereken word.

 

Artikel 6 (2) – Ontwikkeling van inheemse tale: D-GRADERING +

Min is in die praktyk gedoen om die status van Suid-Afrika se inheemse tale en die gebruik daarvan te bevorder. Die meer toegewyde implementering van die Inkrementele Bekendstelling van Afrikatalebeleid (IIAL) is egter ʼn welkome aanduiding daarvan dat die regering die belangrikheid van moedertaalonderrig na die grondslagfase begin aanvaar.

 

ArtikelS 6 (3) en 6 (4) – Gebruik en regulering van amptelike tale in die regering:  D-GRADERING =

Daar is min tot geen pogings deur staatsinstellings om amptelike tale te gebruik ooreenkomstig 2012 se Wet op die Gebruik van Amptelike Tale (UOLA) nie, hoofsaaklik omdat die implementering van UOLA nie behoorlik gemonitor of afgedwing word nie. Vir alle praktiese doeleindes is Engels besig om die Suid-Afrikaanse regering se enigste amptelike taal te word.

 

Artikel 6 (4) – Gelykheid van aansien vir amptelike tale:  D-GRADERING =

Die versuim van die regering om aan die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale UOLA te voldoen of dit af te dwing of om inheemse tale voldoende te ontwikkel, dui daarop dat amptelike tale nie “gelykheid van aansien” geniet nie en dat hulle, en die mense wat die tale praat, nie regverdig behandel word nie. Een van Suid-Afrika se amptelike tale, Afrikaans, het negatiewe kommentaar in die howe ontlok omdat dit kwansuis die taal van apartheid en van onderdrukking is.

 

Artikel 6 (5) – Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad: D-GRADERING +

Alhoewel Pansat die afgelope paar jaar probeer het om sy mandaat uit te voer om hom vir die ontwikkeling van alle amptelike tale te beywer en respek te kweek vir alle tale wat in Suid-Afrika gebruik word, blyk dit duidelik uit sy jaarverslae dat hy nie daarin geslaag het om hierdie belangrike doelwitte te bevorder nie, hoofsaaklik as gevolg van ʼn gebrek aan hulpbronne en regeringsteun.

 

Artikel 15 (1) – Vryheid van godsdiens, oortuiging en uitdrukking:  A-GRADERING –

Suid-Afrikaners geniet vryheid van godsdiens en gewete. Godsdiensvryheid word in die Grondwet gewaarborg en deur die Regering toegelaat. Kommer word egter geopper oor die impak wat die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak en die Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensiewette op godsdiensvryheid kan hê.

 

Artikel 15 (2) – Godsdiensbeoefening in staats- of staatsondersteunde instellings: A-GRADERING =

Die reg op godsdiensbeoefening in staats- of staatsondersteunde instellings word deur die howe nagekom en gehandhaaf op grond daarvan dat godsdiens by skole beoefen mag word, maar nie deur skole nie.

 

Artikel 29 (2) – Onderwys in die amptelike taal van eie keuse:  D-GRADERING –

 Die 9,6% Suid-Afrikaners uit Engelssprekende huishoudings het geen probleem om toegang tot onderwys in hul voorkeurtaal op skool- en universiteitsvlak te kry nie. Die meeste swart Suid-Afrikaners kies Engels as hul onderrigtaal op skool en universiteit – ten spyte van die pedagogiese voordele van moedertaalonderrig. Die reg van Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners op onderwys in hul voorkeurtaal, op universiteitsvlak, is egter so te sê uitgewis, terwyl hul reg op onderwys in Afrikaans op skoolvlak toenemend bedreig word – veral deur die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (BELA).

 

Artikel 29 (3) – Die reg om onafhanklike onderwysinstellings tot stand te bring: B-GRADERING –

Hierdie reg word algemeen aanvaar, onderhewig aan die voorwaardes gelys in Artikel 29(3). Daar is ʼn groeiende aantal privaatskole wat vir die godsdiens-, taal- en kultuurvoorkeure van Suid-Afrika se onderskeie gemeenskappe voorsiening maak.

 

Artikel 30 en 31 – Die reg om die taal van eie keuse te gebruik: B-GRADERING =

Hierdie reg word oor die algemeen geniet. Suid-Afrikaners kan hul voorkeurtale vrylik gebruik. Die reg om die taal van eie keuse te gebruik, is egter beperk vir nie-Engelssprekendes as gevolg van die groeiende voorkoms van die eksklusiewe gebruik van Engels deur regeringsinstellings, die howe en die handel. Die ervaring van studente aan die Universiteit van Stellenbosch in 2021 en 2023 wat tydens die oriënteringsproses verbied is om Afrikaans te praat, selfs in private gesprekke, was ʼn flagrante skending van hierdie reg.

 

Artikel 30 en 31 – Die reg om aan die kulturele lewe van eie keuse deel te neem:  C-GRADERING –

Hierdie reg is onder druk vir wit Engelssprekende en Afrikaanssprekende minderhede weens die groeiende voorkoms van kritiese rasseteorie en die siening dat hul kulture onlosmaaklik aan onderdrukking tydens kolonialisme en apartheid verbind is. Dit het gelei tot die mening wat in Stad Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit vs AfriForum uitgespreek is dat “enige beroep deur wit Suid-Afrikaners, veral wit Afrikanermense, op ʼn kulturele tradisie wat in die geskiedenis gegrond is, geen erkenning in die Grondwet vind nie, want daardie geskiedenis is onvermydelik in onderdrukking gewortel”.

 

Artikel 185 – Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe: D-GRADERING =

Alhoewel die KGT Kommissie bedrywig is op ʼn aantal terreine wat verband hou met kulturele, godsdienstige en taalkwessies, is hy nog nooit deur bedreigde minderhede as hul kampvegter beskou nie – eerder as net nog ʼn eksponent van die meerderheid se standpunte en programme.

 

Artikel 235 – Selfbeskikking: C-GRADERING =

Die reg op selfbeskikking is nog nooit werklik getoets nie. Die Orania-gemeenskap word geduld maar is marginaal en kwesbaar vir aanklagte van onaanvaarbare rassediskriminasie. Die Kaapse onafhanklikheidsbeweging laat toenemend hul stem hoor, maar geniet nie die steun van enige beduidende politieke party in die provinsie nie. Die DA Provinsiale Regering verwerp die idee van sesessie, maar poog aktief om meer magte vir homself binne die raamwerk van die Grondwet te verseker.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: