Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          April 2023

Demokrasie werk wel - 

 -  Die stelsel is nie te blameer nie, dit is die ANC wat ʼn slegte naam aan demokrasie gee

Deur Barney Mthombothi*


 (Die artikel wat oorspronklik op 5 Maart 2023 in Engels gepubliseer is in die Sunday Times, word met die vergunning van die outeur Barney Mthombothi en met toestemming van die Sunday Times geplaas. Die artikel is deur die Afrikanerbond vertaal.)  

 

Die tragedie van ons dilemma – afgesien van die diefstal, boewery, hebsug en algemene wetteloosheid – is dat ons ʼn gulde geleentheid mis om te wys hoe demokrasie, wanneer dit behoorlik toegepas word, veronderstel is om te werk ten einde in die behoeftes van die samelewing te voorsien.

 

Geen stelsel is perfek nie, maar daar moes teen hierdie tyd ʼn merkbare verbetering in mense se lewens en die algemene toestand van die land gewees het. In plaas daarvan is daar jammerlike mislukking oral waar jy kyk. En talle mense begin die demokrasie vir hul ellende blameer, terwyl hulle met heimwee aan die verlede terugdink. Van die wal in die sloot, dink hulle oënskynlik.

 

Daar heers ʼn gees van volslae radeloosheid in die land soos nog nooit tevore nie. ʼn Mens moet terugkeer na die hoogtepunt van die onrus in die 1980's - die noodtoestand, wat aanhoudings, marteling en moorde veroorloof het - om ʼn soortgelyke tipe desperaatheid te vind. Maar destyds het hoop ons staande gehou. Daar was hoop dat dinge ten goede sou verander, dat opofferings nie tevergeefs was nie en dat daar ʼn beter samelewing net om die draai gewag het.


Ja, dat daar eendag ʼn demokrasie sou wees. En dat ons leiers, wat op water geloop het, ons na die land van melk en heuning sou neem. Maar ná byna drie dekades van demokrasie is mense nie meer so seker nie. Wat hulle sien en ervaar is heeltemal anders as dit wat aan hulle belowe is. Hulle Salige paradys (nirvana) het in ʼn lugspieëling verander. “Is dit waarvoor ons geveg het?” het ʼn konstante refrein geword.

 

Dit wat in ons land as demokrasie beskou word, het veroorsaak dat sommige mense hul rug daarop wil draai of alternatiewe wil soek. Vir sommige begin selfs diktatorskap aanloklik lyk, wat kan verklaar waarom ʼn moorddadige besetene soos Wladimir Poetin so ʼn trekpleister is.

 

Daar is selfs ʼn hunkering na die verlede en om die kroon te span, word demokrasie op ongunstige wyse met apartheid vergelyk. Met ander woorde, party mense sal eerder weer die tirannie van apartheid verduur as om in ons grondwetlike paradys te wees. So ʼn vergelyking is onverstaanbaar en aanstootlik, selfs ondermynend. Dit is soos om lig met duisternis te vergelyk, al is ons tans in konstante duisternis gehul.

 

Die kort antwoord is: dit hang af van waar jy nou sit in vergelyking met waar jy in die verlede gesit het; of waar jy in die verlede gehoop het om nou te sit. Dit is nie swart en wit nie, by wyse van spreke. Daar is baie skakerings van grys.

 

Apartheid se ondergang het grootliks ras uit die vergelyking gehaal deurdat dit nie meer deel is van die wetlike infrastruktuur of sentraal daartoe staan nie. Maar almal van ons ervaar ons splinternuwe demokrasie nie dieselfde nie. Nie heeltemal Animal Farm nie, maar party mense is meer gelyk as ander. Apartheid was ongetwyfeld aaklig, grotesk, onmenslik, en as ʼn samelewing strek die ondergang daarvan tot almal se voordeel.

 

Maar diegene wat onder die nuwe bedeling bevoordeel is, is in die minderheid; die oorgrote meerderheid krepeer steeds. As jy ʼn goeie pos, ʼn groot huis, ʼn deftige kar en kinders in privaatskole het, kan jy seer sekerlik nie kla nie. Sommige gaan selfs met vakansie in die buiteland en kom spog tuis met inkopiesakke van Macy's of Harrods. Sommige kan hul goeie geluk nie glo nie. Die stelsel was vir hulle ʼn godsgawe.

 

Maar as jy oor plasse riool moet spring om by jou plakkershut uit te kom, jy kry nie werk nie, en die kliniek se medisynerakke is leeg, is dit kwalik vir jou amusant as iemand vir jou sê, ontspan net, jy is beter daaraan toe as wat jy onder apartheid was.

 

Die perd van apartheid-was-erger is nou holrug gery. Kom ons saal hom af. Mense wil nie ʼn demokrasie bloot ter versiering hê nie ... beste grondwet in die wêreld, en so aan. Hulle wil hê dit moet vir hulle werk, hulle wil ʼn verbetering in hul lewens sien.

 

Op ʼn manier het die stelsel ʼn nuwe vorm van apartheid geskep: diegene wat fabelagtig goed vaar, en diegene wat aan die kortste ent trek. En dit is dikwels diegene wat diep geskep het wat nie van die vergelyking hou nie, en ewe selfvoldaan ander mense se persoonlike ervarings afmaak. Als is piekfyn, ou maat, sê hulle graag. Maar vryheid het aan elkeen die reg gegee om ondermynend te dink, en om uitdrukking aan hul gedagtes te gee. Buitendien, vir die meerderheid jongmense is apartheid iets waaroor hulle in geskiedenisboeke lees. Hulle het geen ondervinding daarvan nie. Al wat hulle wil hê, is dat dinge moet werk.

 

Dit voel asof die vlae van kragonderbrekings selfs die spreekwoordelike lig aan die einde van die tonnel geblus het. Maar die feit dat mense selfs net daaraan kan dink dat ʼn onderdrukkende stelsel teruggebring moet word - amper soos ʼn eertydse slaaf wat na die plantasiedae smag - is ʼn verskriklike aanklag teen die onvergeeflike manier waarop die ANC die land wanbestuur. Die morsigheid, korrupsie, onbeteuelde verwoesting en wetteloosheid in die naam van politieke strydvoering laat mense twee keer dink.

 

Wat ʼn skok was dit nie toe die geldeenheid ná PW Botha se Rubicon-toespraak tot R3 teenoor die dollar gedaal het nie. Ons raak-raak nou aan R20/$. Ons is strykdeur op die afdraande pad, nou nie heeltemal waarvoor ons ons kruisies getrek het nie.

 

Selfs Jacob Zuma, so skelm en korrup soos hy was, word deur sommige as ʼn beter leier bejeën - ten minste kon hy besluite neem - as die jellievis wat nou die teuels vashou. Mense se perspektiewe is geneig om met die verloop van tyd te verander sodat hulle meer vergewensgesind raak.

 

Die ANC het demokrasie op ʼn manier in oneer gebring. Hulle het ʼn slegte naam daaraan gegee. Dit het tot gevolg gehad dat ons samelewing, wat nie demokrasie geken het nie, geen idee het hoe dit voel of smaak wanneer dit behoorlik toegepas word nie. Want vir baie was ellende hul enigste opbrengs uit die stelsel.

 

Maar die stelsel is nie te blameer nie, en dit is dus nie nodig om dit te verander of na die verlede te smag nie. Dit is die kwaaddoeners en bedrieërs wat aan bewind is wat uitgeskop moet word. En dit is uiteindelik die kiesers wat daaroor moet besluit.

 

 Barney Mthombothi, 'n rubriekskrywer vir die Sunday Times, is 'n voormalige redakteur van die Financial Mail en die Kwazulu-Natal-gebaseerde Sunday Tribune, en het vroeër ook aan die hoof van SABC News gestaan. Hy word wyd gerespekteer as 'n politieke kommentator.

 

Lees die oorspronklike artikel aanlyn:

https://www.timeslive.co.za/sunday-times/opinion-and-analysis/opinion/2023-03-05-democracy-does-work-just-not-under-a-shambles-like-the-anc/ 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: