Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          April 2023

Die Afrikaner-Broederbond se rol in die onderhandelde skikking


Deur die politieke skikking van die 1990s sou die Afrikaner nie net politieke en ekonomiese mag afstaan nie, maar is kommer uitgespreek dat die Afrikaner ook sy kulturele identiteit kan verloor

 

Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond

 

Die volledige geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond, deur prof. Ernst Stals wat in 2021 bekendgestel is, bied ʼn deeglike en gesaghebbende geskiedenis sedert 1918 tot 1994. In die hoofstuk oor die staatkundige veranderinge van die 1990s word verwys na ʼn gesprek tussen die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond en President FW De Klerk op 3 September 1990 waartydens De Klerk aan die AB leierskap gesê het dat die AB se leierskap hulle by die kultuurtaak moet bepaal en die regeertaak vir die NP moet oorlaat.

 

Hierdie opmerking ontsluit ʼn stuk geskiedenis van die staatkundige gesprek wat dui op ʼn krapperigheid in die dekadelange simbiotiese verhouding tussen die Nasionale Party en die Afrikaner-Broederbond. Dit het die basis van verdere navorsing geword.*

 

Agtergrond – Die NP val vas met die Rubikon toespraak:

Toe dit blyk dat die Nasionale Party-regering in 1985 stagneer met hervormings het die Afrikaner-Broederbond leiding geneem om Afrikanerdenke te begin beïnvloed. Sodoende is ʼn omgewing geskep binne Afrikanergeledere waarbinne die aard en omvang van hervormings, momentum kon kry.

 

Die noodsaak aan veranderinge moet gesien word aan die totale Suid-Afrikaanse omgewing van die 1980s. Verskeie faktore moet oorweeg word waaronder internasionale sanksies wat ʼn enorme ekonomiese impak gehad het. Inteendeel dit het ʼn internasionale krisis van vertroue in Suid-Afrika se finansies veroorsaak. Internasionale isolasie op sport, kultuur en akademiese gebied, swart-op-swart geweld met nagenoeg 426 halsnoermoorde, terreur met 5 707 politieke dodelike gevalle,  waar staatsinstellings eers geteiken was, het burgerlike teikens toegeneem, die onregeerbaarheid van swart gebiede en dan veral wit Afrikanerdenke wat begin swaai het, weg van afsonderlike ontwikkeling en apartheid.  ʼn Ongewilde grensoorlog met onnodige lewensverliese moet ook verreken word.   

 

Die teleurstelling oor gebrekkige vordering met staatkundige hervormings, veral na die Rubikon toespraak in Augustus 1985 het ernstige internasionale gevolge vir Suid-Afrika ingehou. Suid-Afrika het, deur sy lenings en skuld op daardie stadium, groot blootstelling op internasionale markte gehad. Na die Rubikon-toespraak het die Rand merkbaar verswak, kapitaal is wettig en onwettig uit die land onttrek, finansiële markte moes sluit, en die Suid-Afrikaanse regering moes gevolglik ʼn eensydige moratorium plaas op die terugbetaling van buitelandse skuld. Alhoewel terugbetalings later hervat is, is Suid-Afrika deur die internasionale gemeenskap geïsoleer op ekonomiese sowel as diplomatieke gebied.

 

Apartheid is gevolglik bevraagteken vanuit die volgende perspektiewe:

  • Die internasionale druk wat deur sanksies en isolasie teweeggebring is.
  • Die ekonomiese onvolhoubaarheid van apartheid.
  • Die demografie en verstedeliking van die swart bevolking wat die teenoorgestelde effek gehad het as wat met die tuislandbeleid beoog is. 
  • Die ANC se toenemend internasionale invloed en ondersteuning en die morele hoë grond wat hulle daardeur beklee het.
  • Binnelandse opstande en toenemende onstabiliteit om die land onregeerbaar te maak.
  • Al meer druk vanuit wit en Afrikanergeledere, waaronder die Afrikaner-Broederbond en ander Afrikaner intellektuele.
  • 'n Gevoel onder al meer Afrikaanssprekendes dat sekere seksies van die bevolking enersyds onmenswaardig behandel word en andersyds toegelaat moet word om meer aktief aan die regeringsproses deel te neem.

 

Die AB betree die staatkundige terrein

Al hierdie bostaande faktore is in voorleggings en besprekingsdokumente deur die Afrikaner-Broederbond in die tydvak oorweeg. Staatkundige hervormings was gevolglik onafwendbaar, maar waar dit gelyke regte aan Suid-Afrikaners sou bied, moes die Afrikaner se voortbestaan in ʼn nuwe stelsel ook verseker word.

 

Dit was in die tydsgewrig wat een van die belangrikste, beleidsdokumente van die Afrikaner-Broederbond die lig gesien het. Die dokument, Basiese Staatkundige Voorwaardes vir die Voortbestaan van die Afrikaner, wat teen November 1986 aan afdelings gestuur is, het ongetwyfeld ʼn skeiding in denke oor die staatkundige rigting verteenwoordig. Hiermee het die Afrikaner-Broederbond die Rubikon oorgesteek.

 

In breë trekke het die Basiese Staatkundige Voorwaardes vir die Voortbestaan van die Afrikaner in die besonder vereistes gestel vir die voortbestaan van die Afrikaner, maar ook uitgangspunte vir ʼn moontlike staatkundige bedeling waarin dit bereik kan word. Kortliks kom die dokument op die volgende neer:

  • Die eerste gedeelte (Afdeling 2) voorsien breë doelstellings binne ʼn mensregtekultuur. Die bostaande basiese regte word verder toegelig met die vereiste dat: “kultuurgebonde moedertaalonderrig in eie skole met ʼn Christelike karakter vir die Afrikaner ʼn voorwaarde vir sinvolle voortbestaan is”.
  • Afdeling 3 word onder die opskrif Spesifieke Staatkundige Voorwaardes behandel en bevat oorsigtelik die volgende:
  • Dat die verskeidenheid van groepe en gemeenskappe binne die grense van die RSA moet erken word.
  • Uitsluiting van swart deelname in staatkundige prosesse word beskou as ʼn bedreiging vir wit (blanke) voortbestaan en kan nie met die behoud van die status quo afgeweer word nie.
  • Daar moes voorsiening wees vir deelname op alle vlakke van besluitneming.
  • Afdeling 4 verwys na verskillende modelle waarbinne bogenoemde bereik kan word, soos desentralisasie van mag of besluitneming, streeks- of stateregerings, of segmentele of eie sake.
  • Dit het nietemin ook bepaalde stelsels uitgesluit, soos die status quo of groepsoorheersing, verskanste meerderheidsdominasie, sosialistiese of militêre diktature, of geografiese skeiding of raspartisie.   
  • Die dokument is ook opgevolg met ander dokumente waaronder die Konsepriglyne vir die Staatkundige gesprek en is ondersoeke na moontlike staatkundige modelle gedoen. Vir die paar jaar en in die afwesigheid van vordering deur die Nasionale Party kon die AB die nodige leiding neem op staatkundige vlak. 

 

Die 2 Februarie 1990 aankondigings en versnelde momentum

Toe mnr. FW De Klerk in 1989 president van Suid-Afrika geword het, het Suid-Afrika reeds R30 miljard verloor in kapitaal wat die land verlaat het. Dit kom neer op sowat R2 miljard per jaar. Indirek en direk is bereken dat die toepassing van apartheid die land sowat R65 miljard gekos het. 

 

As deel van ʼn pakket van staatkundige hervormings kondig pres. FW De Klerk op 2 Februarie 1990 ‘n aantal stappe aan om alle hindernisse vir onderhandelinge uit die weg te ruim.

 

Dit is duidelik uit notules van die Afrikaner-Broederbond se Uitvoerende Raad dat die aankondigings van 2 Februarie 1990 deur pres. FW De Klerk die Afrikaner-Broederbond onverhoeds betrap het. In aantekeninge vir ‘n gesprek met die Uitvoerende Raad en pres. De Klerk en andere wat op 10 Februarie 1990 sou plaasvind, is die volgende onderwerp aangeteken “Die oorweging van minderheidsregte, groepsregte en verwante sake ten opsigte van toekomstige staatkundige ontwikkeling.”

 

Uit die voorafgaande blyk dit duidelik dat die AB reeds direk na pres. De Klerk se aankondigings van 2 Februarie 1990, bepaalde voorbehoude gehad het. Van besondere belang was die wyse waarop Afrikaner-identiteit en -belange in die nuwe bedeling geakkommodeer sou word. Dit is opvallend dat die AB ook reeds besorg was oor die samestelling van die afvaardigings by die onderhandelinge. Die AB het reeds waarskynlik die vooruitsig en veronderstelling gehad dat hy as die NP se dinkskrum sou deelneem aan die staatkundige proses vorentoe. Dit het ongelukkig nie gerealiseer nie.

 

In verskeie gesprekke hierna is die kommer met die NP leierskap gedeel en het dit waarskynlik gelei tot pres. FW De Klerk se opmerking dat die AB hom eerder met die kultuurtaak moet bemoei.

 

Die vertrouensbreuk tussen die NP en die AB

Sake is op die spits gedryf met die aankondiging van die referendum van 17 Maart 1992. In ʼn notule van ʼn buitengewone vergadering van die Uitvoerende Raad van die AB op 25 Februarie 1992 is besin oor die referendum. Dit blyk ook dat die AB nie neutraal kon staan teenoor die referendum nie. Die siening is gebaseer op die realiteit dat die AB ʼn proses van ʼn onderhandelde skikking sedert 1986 begin bepleit het en daarvoor voorbrand gemaak het. Tydens die gesprek is daar nietemin bedenkinge uitgespreek oor hoe die proses in die regering sedertdien verloop het en hoe onderhandelinge gevoer sou word.  

 

Die verhouding tussen die AB en die NP word opgesom deur Prof Pieter de Lange, toe AB voorsitter: in die verwysing na: ”die vertrouensbreuk tussen regering en kieser, die regerende party en die organisasie”(Die Afrikaner-Broederbond)   Daar was dus op die tydstip reeds geweldige spanning tussen die Nasionale Party en die Afrikaner-Broederbond. Die AB het wel met ʼn kwalifiserende voorwaarde ʼn Ja –Stem by sy lede aanbeveel, maar is dit gedoen op die veronderstelling dat nog ʼn wit referendum gehou sou word om die finale grondwet goed te keur.

 

Die 17 Maart 1992 referendum was ʼn oorweldigende sukses en triomf vir pres. De Klerk en die Nasionale Party. Tydens ʼn Bondsraad (Nasionale kongres) later die jaar in 1992 is die standpunt gehuldig dat die Afrikaner nie net politieke en ekonomiese mag gaan afstaan nie, maar ook sy kulturele identiteit kan verloor. Dit moes tot elke prys verhoed word.

 

Evaluerende perspektiewe

Met die bostaande agtergrond en vanuit die amptelike dokumentasie van die Afrikaner-Broederbond is dit moontlik om die volgende evaluerende perspektiewe oor die tydperk te maak:

  • Die 2 Februarie 1990-aankondigings tot hervorming deur pres. FW De Klerk was onafwendbaar. Indien pres. De Klerk vooraf belangegroepe soos die Afrikaner-Broederbond en regeringsinstellings geraadpleeg het, kon die momentum wat gevolg het moontlik sinvol bestuur word binne ʼn strategiese raamwerk.
  • Pres. De Klerk kon vir ʼn wyle die morele hoë grond betree met die aankondigings. Vanweë die afwesigheid van ʼn onderhandelingsmeesterplan kon die momentum wat daarop gevolg het, nie gestuit word nie.
  • Die Afrikaner-Broederbond, wat sedert 1985 staatkundige voorstelle help ontwikkel het om bestaansvoorwaardes vir die Afrikaner te verseker, was nie deel van onderhandelinge nie.
  • Die AB was gevolglik aangewese op die Nasionale Party om Afrikanerbelange te behartig. Die Afrikanerbelange is duidelik gedefinieer in die Basiese Staatkundige Voorwaardes vir die Voortbestaan van die Afrikaner van 1986. Hierin was duidelike veronderstellings wat egter later in die onderhandelinge verlore geraak het.  
  • Die Afrikaner-Broederbond het deurgaans sy kommer teenoor die Nasionale Party uitgespreek oor Afrikanerbelange wat binne ʼn duidelike omskrywing van groepsregte in ʼn grondwet gestalte en beskerming moes kry.
  • Met die 17 Maart 1992-referendum het die Afrikaner-Broederbond die Ja-stem by implikasie bevorder, maar dit was op grond van die veronderstelling van ʼn opvolg referendum om die finale voorstelle vir die grondwet by die wit bevolking te toets. Die tweede referendum het nooit plaasgevind nie.
  • Die bevestiging van ʼn vertrouensbreuk tussen die NP en die AB in ʼn geslote vergadering van die Afrikaner-Broederbond se Uitvoerende Raad is van besondere belang. Hierdie vertrouensbreuk het waarskynlik plaasgevind in die aanloop tot onderhandelinge en die marginalisering van die AB.
  • In die finale instansie was die skikking ʼn elite-skikking tussen politieke partye. Aangesien die skikking en bedeling wat daarop gevolg het alle lewensfere sou raak, kon dit nie bloot ʼn politieke skikking wees, soos dit uiteindelik was nie.

 

Deur die voorafgaande blyk dit duidelik dat die Afrikaner-Broederbond nie ʼn rolspeler in die skikking was nie en gevolglik nie verantwoordelik gehou kan word vir die finale uitkoms van die skikking nie.

  • Die staatkundige voorstelle van die Afrikaner-Broederbond in 1986 was nie as strooihalms uit die lug gegryp, of op idealisme gebaseer nie, maar was die gevolg van ʼn deeglike besinning oor die hoogs vloeibare en onvolhoubare polities-staatkundige omgewing.
  • Die marginalisering en uitsluiting van die AB as rolspeler in latere beleidsprosesse en onderhandelinge het gevolglik nadelige gevolge gehad vir Afrikanerbelange.
  • Die AB het ʼn duur prys betaal vir sy noue verhouding met die NP. Die AB het in die bitterheid van Afrikanerpolitiek ten minste twee direkte skeurings van soortgelyke aard as die NP-skeurings beleef.

 

In 1986 het die Basiese Staatkundige Voorwaardes vir die Voortbestaan van die Afrikaner die volgende drie voorwaardes gestel:

  • Dat Afrikaners se skeppingskrag aangewend word om onderhandelde strukture tot stand te bring en indien dit nie gebeur nie: “is dit onvermydelik dat strukture op hom afgedwing sal word waarin hy geen medeseggenskap sal hê nie.”
  • Dat: “verteenwoordigers van verskeie magsgroeperinge aan die opstel van ʼn nuwe grondwet deelneem.”
  • Laastens: “die aanvaarbaarheid van so ʼn nuwe bestel vir die meerderheid van die landsburgers, en uiteraard ook vir die meerderheid van Afrikaners, is een van die belangrikste voorwaardes vir sy voortbestaan.”

 

Met die wetenskap van terugskoue oor die afloop van die onderhandelingsproses is die bedoeling nie om vandag ʼn oordeel uit te spreek nie.  Dit is moontlik om in 2023 elkeen van die drie voorwaardes te evalueer binne die realiteite wat Afrikaners nou ervaar. Die aanvaarbaarheid van die nuwe bestel kan nie meer verander word nie,   maar die vraag bly of die grondwetlike bedeling wat onderhandel is, vandag voldoen aan die basiese staatkundige voorwaardes vir die voortbestaan van die Afrikaner? Die politieke mag is afgestaan en deur diskriminerende wetgewing word die ekonomiese mag ook ingeperk. Die groot uitdaging gaan wees om nie ook ons kulturele identiteit te verloor nie.

 

  • Die navorsing deur Jan Bosman is gedoen vir ʼn Magister in Politieke Wetenskappe aan die Noordwes Universiteit wat in Februarie 2023 aanvaar is. Die Tema van die Verhandeling is : Die Afrikaner-Broederbond en die totstandkoming van ʼn onderhandelde skikking. ʼn Stelsel-analities en politiek-strategiese perspektief.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: