Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          April 2023

Die ANC en minderhede - tyd vir nuwe inisiatiewe

Deur Jan Bosman 

Hoofsekretaris

 

Die ANC bou lugkastele as mediaberigte geglo moet word dat die regerende party nou skielik toenadering soek tot minderheidsgroeperinge. ʼn Jaar voor die 2024 verkiesing is die Wit, Bruin en Indiër kiesers nou as belangrik genoeg geag. Die syfer van tot 20% wit kiesers is genoem waarop die ANC sy oog het.

 

Minderhede is nie stemvee nie. Bowenal is die vervreemding tussen die ANC en minderhede in Suid-Afrika te groot om eensklaps weg te wens en te glo dat minderheidsgroeperinge nou vir ʼn party sal stem wat in die jare tussen verkiesings alles doen om minderhede se regte te verskraal, verdag te maak of te ignoreer en dan so opportunisties ooglopend nou minderhede se belange op die hart wil dra.

 

Stukkie vir stukkie is minderhede se regte oor die laaste 29-jaar tot niet gemaak en is die meeste minderhede wat as redelike Suid-Afrikaners saam skouer aan die wiel gesit het om die nuwe en demokratiese Suid-Afrika tot stand te bring, ook ontnugter deur ʼn land wat oorheers word deur staatskaping, onbeholpe en onbevoegde kaderontplooiing, vergrype, magsmisbruik, toenemende korrupsie en gebrekkige dienslewering.

 

Minderhede word gestuit deur onverantwoordelike en ondeurdagte optredes en beleidsraamwerke, ʼn regering wat nalaat om te voldoen aan die Nasionale Ontwikkelingsplan, grandiose selfverryking en ongebreidelde korrupsie en magswellus.

 

Maar die mees siniese voorstel is die gedagte wat nou deur mnr Ramaphosa geopper is in die kommer oor minderhede om moontlik ʼn “kantoor wat uitsluitlik op nie-rassigheid sal fokus” tot stand te bring.

 

Die nuutgevonde toenadering tot minderhede sou dalk anders beoordeel kon word as mnr Ramaphosa enigsins gereageer het op die Afrikanerbond se voorstel wat aan hom op 13 Mei 2019 gestuur is. In die skrywe het die Afrikanerbond die President versoek “om ernstige oorweging te skenk aan die instelling van ’n spesiale skakelmeganisme vir minderhede en Suid-Afrikaanse taal-, kultuur- en godsdiensgemeenskappe om die kwellings en spesifieke behoeftes van hierdie groepe in die verskillende staatsdepartemente, provinsies en grondwetlike instellings te bevorder, te evalueer en te monitor. In hierdie verband het ons een of meer van die volgende aan die hand gedoen:

  • ’n Permanente ministerie van Suid-Afrikaanse minderhede of /gemeenskappe
  • ’n Ombudsman vir Suid-Afrikaanse minderhede/gemeenskappe
  • ’n Spesiale kantoor vir Suid-Afrikaanse minderhede/gemeenskappe in die Presidensie 

 

Daar is talle internasionale voorbeelde van spesiale meganismes, in Europa en ook die Ministerie van Minderheidsake in Indië, waaruit Suid-Afrika beste praktyke kan oorneem.

 

Suid-Afrika het egter die politieke wil nodig om internasionaal erkende minderheidsregte in Suid-Afrika te ondersteun. Daarom kan daar nie net van minderhede verwag word om deurlopend ʼn stryd te voer vir die regte van minderhede of gemeenskappe nie, maar is dit veral nodig dat die verpligtinge van die staat en regering teenoor minderhede en kultuurgemeenskappe uiteengesit word. So ʼn skakelmeganisme sou ʼn belangrike eerste stap gewees het.

 

Moontlik het ons al te veel ervaring in die verlede van die skielike toenadering tot minderhede en veral Afrikaners deur die ANC voor verkiesings waarin belangrike werkswinkels en ontmoetings gehou word, ondernemings gegee word en dan na die verkiesing en ten spyte van vele opvolg versoeke nooit weer enige terugvoer nie. Die ANC het na ons mening reeds alle brûe verbrand wat verhoudinge met minderhede aanbetref.

 

As president behoort u ‘n akkoord met minderhede aan te gaan waarin die regering homself onherroeplik verbind tot die handhawing van minderhede se regte en voorregte volgens die Grondwet.

 

Behandel ons ook soos volwasse eersterangse burgers van Suid-Afrika en ons onderneem om ons volle samewerking te gee om Suid-Afrika opnuut weer ‘n eerstewêreld land te maak.

 

Dit is ‘n geringe maar baie belangrike voorwaarde!  (Bostaande is deel van ʼn verklaring wat op 29 Maart uitgereik is)

 

Is die tyd nie reg vir ʼn Suid-Afrikaanse Handves van minderhede nie?

 

Ons moet ook aanvaar dat Suid-Afrikaanse minderhede nie maklik iets gaan regkry met 'n onwillige en selfs vyandige regering nie. Ons moet egter die grondwerk lê vir aansluiting en samewerking en druk vanaf die internasionale gemeenskap. Die bogenoemde voorstelle van die Afrikanerbond in 2019 oor 'n minderheidsmeganisme val nie uit die lug uit nie. Dit is gebaseer op internasionale beste praktyke.

 

Op 23 Maart 2023 het die Spesiale Gesant oor Minderheidskwessies (Special Rapporteur on Minority Issues) by die VN Se Menseregte Raad in Geneve 'n PROPOSAL FOR A DRAFT GLOBAL CONVENTION ON THE RIGHTS OF MINORITIES ingedien. In die CONVENTION dokument is die inleidingsparagraaf van belang. "This is intended to serve as a document for reflection and possible mobilisation in light of the acknowledgment by the Secretary General at the UN General Assembly high-level event of 21 September 2022, that it is “past time we live up to the commitments made in… 1992… and that every Member State to take concrete steps to protect minorities and their identity.” Daar word dus besondere verpligtinge aan lidstate opgelê en is ons voorstelle oor skakelmeganismes ook in die dokument opgesluit.

 

ʼn Voorstel wat Prof Deon Geldenhuys in die 2011 AB Besprekingsdokument oor minderhede gemaak het (Volg die skakel na die dokument) is om plaaslik te agiteer vir internasionaal erkende minderheidsregte in Suid-Afrika, moontlik in die vorm van ʼn handves van minderheidsregte as ʼn byvoeging tot die grondwet. So ʼn handves behoort geskoei te wees op internasionale konvensies en deklarasies oor minderheidsregte en enersyds die regte van minderhede bevat en andersyds die pligte van die staat teenoor minderhede uitspel. Die voorstel impliseer dat so ʼn handves tot wysigings aan die grondwet en ander wette, beleide en owerheidspraktyke sal lei.

 

Is die tyd nie nou reg vir ʼn aktiewe inisiatief oor ʼn Handves van Suid-Afrikaanse minderhede – spesifieke vir die taal en kultuurgemeenskappe nie? Die godsdiensgemeenskappe het reeds die leiding geneem want op Donderdag 21 Oktober 2010 is 'n SA Handves vir Godsdiensregte en -vryhede deur ʼn groot aantal instansies en leiers uit verskillende geloofsgemeenskappe onderteken. Met die Handves het geloofsgemeenskappe godsdiensregte en –vryhede wat internasionaal erken word in ‘n Suid-Afrikaanse konteks geplaas.  

 

Veral van belang vanuit die besprekingsdokument van Prof Geldenhuys is dat die grondwet (i) die plurale aard van die Suid-Afrikaanse samelewing, spesifiek (maar nie eksklusief nie) in terme van taal-, godsdiens- en kultuurgemeenskappe erken; (ii) ken aan lede van hierdie drie soorte groepe bepaalde regte toe sonder om ander Suid-Afrikaners daardeur te benadeel; (iii) skep instellings om die belange van taal-, godsdiens- en kultuurgemeenskappe te bevorder, weer sonder benadeling van ander burgers; (iv) gee gekwalifiseerde erkenning aan die selfbeskikkingsreg van enige groep met ʼn gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis; en (v) bepaal dat Suid-Afrikaners hul regte uitoefen in die konteks van ʼn demokratiese en oop samelewing.

 

Die Suid-Afrikaanse Grondwet saamgelees met die DRAFT GLOBAL CONVENTION ON THE RIGHTS OF MINORITIES dokument kan as raamwerk dien vir ʼn gesprek oor ʼn Handves van SA minderhede want daar is sterk standpunte teen diskriminasie op vele terreine wat taal, geloof en ekonomie insluit. Daar is eweneens sterk standpunte oor onderwys en onderwysinstellings. 

 

Ons regering gaan sukkel om te voldoen aan die verpligtinge wat ʼn  DRAFT GLOBAL CONVENTION ON THE RIGHTS OF MINORITIES op lidstate sal plaas, maar dit gee ruim geleentheid vir Suid-Afrikaanse minderhede om hande te neem oor gemeenskaplike kwessies.

 

Lede en afdelings word genooi om die kwessie oor Suid-Afrikaanse minderhede te bespreek aan die hand van die vraag of die tyd nie nou reg is vir ʼn aktiewe inisiatief oor ʼn Handves van Suid-Afrikaanse minderhede – spesifiek vir die diverse taal en kultuurgemeenskappe van Suid-Afrika nie? 

 

·       Die standpunt is op 3 April in die KykNet Program In Gesprek Met Lourensa Eckard deur die AB Hoofsekretaris Jan Bosman in 'n regstreekse ateljeegesprek verder toegelig.   

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: