Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Mei 2022

Die ANC in sy huidige vorm kan binne 7 jaar uit die prentjie verdwyn

Deur dr Theuns Eloff

 

Die meeste kommentators stem saam dat die ANC in 2029 waarskynlik swakker by die nasionale stembus sal vaar, met ‘n moontlikheid van minder as 40% van die stemme. Dr Theuns Eloff het in Netwerk24 drie scenario’s vir die toekoms in Suid-Afrika geskets. Met die vergunning van Dr Eloff en met erkenning aan Netwerk24 plaas ons graag die volle artikel.

 

Volgens berigte het die DA se wantrouemosie in die kabinet en die bespreking daarvan in die Nasionale Vergadering in ernstiger luim en met meer nadenke plaasgevind as wat gewoonlik die geval met sulke mosies is. Dit was asof al die partye besef het dat met die aanklag teen die kabinet van pres. Cyril Ramaphosa, die ANC se eie voortbestaan bevraagteken word.

 

En daar was doodse stilte toe dr. Corné Mulder, veteraan-LP van die VF Plus, gesê het dat hy die ANC in 1994 na die parlement sien kom het, en dat hy hulle in die volgende paar jaar sal sien gaan.

 

Ramaphosa se getuienis voor die Menseregtekommissie oor die Julie-onluste verlede jaar het hierdie gevolgtrekking onderstreep

 

Om die Suid-Afrikaanse politiek langer as drie maande vooruit te probeer voorspel, is ‘n gevaarlike onderneming, waar ‘n mens maklik en baie gou verkeerd bewys kan word. Tog is daar etlike sake op mediumtermyn (twee jaar) waaroor daar redelike eenstemmigheid onder onafhanklike kommentators is. Hierdie kwessies kan dien as vertrekpunte vir die drie moontlike scenario’s wat volg.

 

Hiéroor is daar eenstemmigheid

 

Die eerste hiervan is dat die ANC sigself nie kan hervorm nie en onafwendbaar op die afdraande pad is: finansieel, organisatories, wat betref beleid en in terme van eenheid. Trouens, dié party is nog meer verdeeld (met sy faksies en selfs misdadige sindikate) as sedert sy ontstaan in 1912.

 

Die tweede saak waaroor daar eenstemmigheid is, is dat Ramaphosa ná die ANC se verkiesingskonferensie in Desember 2022, steeds die party en daarom ook Suid-Afrika se president sal bly. Waaroor daar egter minder sekerheid is, is hoeveel lede van die sogenaamde Radikale Ekonomiese Transformasie (RET)-faksie daar in die ANC se sogenaamde topses sal wees.

 

Dié party se provinsiale verkiesings sal dit in die volgende paar maande duideliker maak. Die derde saak is dat die ANC in die 2024- nasionale en provinsiale verkiesing minder as 50% van die nasionale steun gaan kry, en gevaar loop om ten minste Gauteng te verloor.

 

Die vierde saak waaroor daar eenstemmigheid is, is dat die gematigde opposisiepartye (uitgesluit die EFF en moontlik die Patriotiese Alliansie) nie meer as 50% van die nasionale stemme in 2024 sal kry nie.

 

‘n Vyfde kwessie (waaroor dalk nie soveel eenstemmigheid bestaan nie) is dat ‘n Ramaphosa-geleide ANC nie in 2024 in koalisie met die EFF sal gaan nie.

 

In die sesde geval is dit gemene saak dat die Suid-Afrikaanse ekonomie al meer in die moeras wegsink en dat radikale stappe dringend nodig is. In die sewende plek erken die meeste kommentators dat die land ten minste ‘n mislukkende (of deels mislukte) staat is, en dat omtrent alles wat die staat namens belastingbetalers behoort te doen ten minste gebrekkig is en ten beste nie bestaan nie.

 

Laastens is daar eenstemmigheid dat die ANC in 2029 waarskynlik swakker by die nasionale stembus sal vaar, met ‘n moontlikheid van minder as 40% van die stemme.

 

Teen hierdie agtergrond kan die volgende drie moontlike scenario’s geskets word, met ‘n persentasiepunt wat toegeken word aan die kanse dat elkeen ‘n werklikheid kan word.

 

Die eerste scenario - 55%

Die eerste scenario is dat die ANC in 2024 tussen 45% en 48% van die nasionale stemme op hom verenig. Hy bly aan bewind deur ‘n koalisie met ‘n paar klein vennote of selfs onafhanklike kandidate aan te gaan (mits die wetgewing daarvoor betyds deurgevoer kan word). Die ANC behou Gauteng ook deur ‘n koalisie. Dit bring ‘n mate van politieke stabiliteit, maar die land ly steeds onder ‘n swak, onbevoegde en besluitlose regering en die ekonomie wankel verder.

 

Voortgesette faksiegevegte in die ANC kniehalter of vertraag enige hervormings deur Ramaphosa. Daarom slaag die stryd om korrupsie uit te roei ook nie volledig nie. Die ANC maak om dié rede nie genoeg vordering om in 2029 nie onder 40% te val nie. Die opposisiepartye word sterker, en beplan sterk veldtogte vir die plaaslike verkiesings in 2026.

 

Geen opposisiepartye oorheers egter nie, alhoewel die DA die grootste bly, met ActionSA, die IVP, die VF Plus en ‘n nuwe party van die voormalige DA-leier Mmusi Maimane wat saam tussen 15% en 20% van die stemme trek.

 

In hierdie scenario val die ANC onder 40% in 2029 en ‘n koalisie van opposisiepartye neem die regering oor.

 

Ek meen dat hierdie scenario ‘n 55%-kans het om ‘n werklikheid te word.

 

Die tweede scenario- 30%

Die ANC kry in hierdie scenario in 2024 net minder as 45% van die nasionale stemme en kan nie deur ‘n koalisie met kleiner partye aan bewind bly nie. Omdat Ramaphosa nie kans sien vir ‘n EFF-koalisie nie, gaan die party in ‘n “groot koalisie” met die meeste gematigde en grondwet-gebaseerde opposisiepartye: die DA, ActionSA, die VF Plus, die IVP en die Maimane-party.

 

As die ANC hierna in een stuk bly, sal die koalisie meer as 70% van die stemme kry -  wat die moontlikheid inhou dat sommige van die “kleineres” uitgesny word. Die voorsitter van die DA, Helen Zille, het so ‘n koalisie in ‘n onlangse aanbieding as die beste opsie vir Suid-Afrika beskryf, ook omdat sy Ramaphosa as ‘n “konstitusionalis in sy wese” beskou.

 

Die RET-faksie in die ANC, wat soveel as 40% van die party kan uitmaak, en dus 20% van die ANC se nasionale steun het, sal egter nie so ‘n alliansie aanvaar nie, en die kanse is uitstekend dat dié groep voor of net ná die 2024 verkiesing sal wegbreek en saam met die EFF (en moontlik die PA) kan begin werk.

 

Dit sal veroorsaak dat die ANC se oorblywende 25% van die nasionale steun, die DA se 22% nasionale steun en die kleiner partye se 15% steun ‘n meer eweredige en gebalanseerde koalisie kan meebring, met in totaal meer as 60% nasionale steun. Dit is selfs moontlik dat die koalisie ‘n nuwe sambreel-naam kan kry om dit vir kiesers herkenbaar te maak - maar dit veronderstel natuurlik dat koalisie-gesprekke voor die 2024-verkiesing moet begin - miskien ná ‘n groot geveg tussen die Ramaphosa-groep en die RET-faksie.

 

In hierdie scenario sal politieke stabiliteit ‘n rukkie neem om te vestig, maar sodra dit gedoen is, sal ekonomiese hervormings, die geveg teen korrupsie en die regruk van die staatsdiens onverpoosd aandag kan kry. As gevolg van hierdie stappe maak die koalisie goeie vordering en wen dit -  moontlik onder ‘n nuwe naam en as nuwe party - die 2029 verkiesing met meer as 55% van die nasionale steun.

 

Dié steun is minder as die koalisie-steun in 2024 omdat sommige koalisievennote nie bereid is om hulle partye in die nuwe groter party te laat opgaan nie.

 

Ek meen dat hierdie scenario op hierdie tydstip ‘n 30% kans het om ‘n werklikheid te word.

 

Die derde scenario 15%

 Die derde scenario is ‘n variasie op die eerste. Daarvolgens bly Ramaphosa in 2022 die president van die ANC en die land, maar drie of vier lede van die ANC se topses kom uit die RET-faksie. Die party kry in 2024 tussen 45% en 48% van die nasionale stemme en gaan in ‘n koalisie met kleiner partye en onafhanklikes om net-net aan bewind te bly.

 

Die sterk teenwoordigheid van die RET-faksie in die topses maak die lewe vir Ramaphosa baie moeilik en geen hervormings is moontlik nie. Hy word trouens intern gedwing om net soveel RET-ministers as ministers wat lojaal aan hom en die Grondwet is aan te stel.

 

Dit veroorsaak dat Ramaphosa by 2027 se verkiesingskonferensie deur ‘n RET-kandidaat vervang word. ‘n RET-gesinde ANC-president word tot die verkiesing in 2029 ook president van die land.

 

Onder hierdie omstandighede val die ekonomie en die land verder uit mekaar, dienslewering kom tot ‘n volkome stilstand, diensleweringsbetogings neem verder toe en korrupsie gaan voort. Beleggingsvertroue val tot op grondvlak en byna alle groot multinasionale-maatskappye verlaat die land.

 

Die faksiegevegte in die ANC neem toe en baie hoëprofiel-konstitusionaliste bedank uit die party. Die opposisiepartye konsolideer en versterk onder hierdie (vir hulle) gunstige omstandighede en ‘n koalisie van die gematigde opposisiepartye vorm in 2029 ‘n alliansie om die ANC uit die kussings te lig.

 

Hulle slaag daarin om, met die hulp en steun van die konstitusionaliste wat uit die ANC weggebreek het, meer as 55% van die nasionale steun te kry.

 

Hierdie scenario het myns insiens ‘n 15%-kans om ‘n werklikheid te word.

 

Die goeie én die slegte nuus

 Wat beteken dit alles vir die burgerlike samelewing en gewone mense?

 

Daar is tans in sekere kringe gesprekke oor die vorming van ‘n “nuwe United Democratic Front” (UDF) en/of die vestiging van ‘n groep van “wyses” om morele rigting aan die land te gee en druk op die ANC uit te oefen om die “regte dinge” te doen.

 

As dit sou gebeur, kan dit die scenario’s hierbo positief beïnvloed, veral om te keer dat scenario drie ‘n werklikheid word. Of dit gebeur of nie, burgerlike samelewingsorganisasies sal nog harder moet werk om die regering en regeringsinstansies verantwoordbaar te hou.

 

Die sakesektor (insluitende die landbougemeenskap) kan in scenario’s 1 en 2 bemoediging vind, aangesien dit die omstandighede vir ekonomiese herstel bied, al is dit eers ná 2024 se verkiesing. Dit kan hulle dalk hoop en perspektief op beleggingsbesluite

 

Wat minderhede en spesifiek die Afrikaanssprekende gemeenskap betref, gaan enige partypolitieke verandering nie noodwendig ‘n verandering aan hul bekommernisse oor taal, kultuur en onderwys bring nie. ‘n Groot koalisie gaan nie noodwendig dadelik ‘n einde aan die vervreemding van minderhede bring nie, en die ANC se rasse-transformasie sal ook nie onmiddellik gestaak word nie. Die beste waarop gehoop kan word, is ‘n uitfasering daarvan of ‘n soort sonsondergang-klousule daaroor.

 

Wat wel belangrik is om die onafwendbare partypolitieke veranderinge te rugsteun, is meer uitreik-aksies en samewerking tussen minderhede en die res van die land se (swart) meerderheid. Daar is gelukkig talle voorbeelde van sulke inisiatiewe -  dit bly belangrik en nodig.

 

Die goeie nuus is dat die makro-partypolitieke veranderinge onafwendbaar is, en dat die ANC in sy huidige vorm binne sewe jaar uit die prentjie sal verdwyn. Die slegte nuus is dat dit nie onmiddellik gaan gebeur nie, en dat daar baie probleme, uitdagings en moeilikheid tussen nou en 2029 lê,

 

Hiervoor het alle Suid-Afrikaners perspektief, hoop en energie nodig.

 

Lees die artikel aanlyn by Netwerk24 

https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/aktueel/theuns-eloff-anc-soos-nou-kan-binne-7-j-uit-prentjie-verdwyn-20220404

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: