Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Augustus 2023

Die bloulig magsvertoon van politici

Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond


In die tydperk voor en na 1994 was ek vir ʼn paar jaar betrokke by mediaskakeling en veldtogbestuur by die Nasionale Party. In die werksaamhede van ons amptenare in die tyd het ons daagliks geskakel met verskeie ministers en ook die staatshoof, mnr FW De Klerk. Na 1994 het hy in die nuwe bedeling adjunkpresident geword en in die hoedanigheid het ek ook gereeld met hom skakeling gehad. Die beskerming van die senior politici was altyd minimaal en was daar nooit konvooie van motors van ministers nie. In president De Klerk se geval was dit soms twee, soms drie motors, afhangende van die tipe afspraak. Nooit was daar egter die geval dat blouligte die norm was nie. Hoogstens met uitsondering het ek beleef dat blou ligte gebruik was. In die geval was die fokus altyd op effektiewe beveiliging en nooit op vertoon nie. Die verskil in die tyd was dat wanneer die president of minister op reis was, het hulle nie uitgestaan nie. Motors waarin hulle of beveiliging gereis het, was nie gemerkte voertuie nie en het soos gewone voertuie gelyk. In die geval van die president was die enigste uitsondering dat sy motor versterk en koeëlbestand was, maar was dit nie opsigtelik nie.

 

Beveiliging is nie die prioriteit by die huidige generasie bewindhebbers en politici nie.  Dit het eerder ʼn elite statussimbool geword. Dit het gevolglik ʼn gereelde instelling geword dat burgemeesters en raadslede ook nou spog met “beveiliging” of lyfwagte en ander vorme van sekuriteit. Dit gebeur gereeld terwyl mens nou tussen Johannesburg en Pretoria op die N1 ry dat lang kavalkades, tot 10 swart motors op ʼn slag en met flitsende blou ligte rondgejaag word. Ander kere is dit enkele luukse motors met ʼn belangrike insittende.  Die lang kavalkades het ʼn reputasie begin kry dat hulle motoriste van die pad af druk en teen ongemagtigde en ongewone snelhede hulle belangrike passasiers by die volgende afspraak moet kry. Dit is meer vir vertoon as die werklike veiligheid van hulle passasiers.

 

Dit was daarom interessant om die sosiale media dop te hou na die besoek van President Ramaphosa en sy vredesending uitstappie middel Junie na Oekraïne en Rusland.  Die president het verlore aansien probeer red deur bemiddeling in Oekraïne en Rusland. Dit terwyl daar ander prioriteite in Afrika en in sy eie land is. Mens staan skepties oor die vredesending se motiewe. Die tyd sal leer of daar enige positiewe uitkomste was.

 

Die besoek en die onbeholpe veiligheidslogistiek het by die meeste Suid-Afrikaners nie goed afgegaan nie. Daar was nog minder simpatie in Suid-Afrika vir die oordadige beskermingsgevolg in ʼn SAL vlug met joernaliste en meer as 100 addisionele veiligheidspersoneel en kratte wapens wat saamgevlieg het. Die behandeling in Pole moes die ANC en senior politici drasties teruggebring het aarde toe. Dit is duidelik dat Europa en die Weste nie beïndruk is met Afrika-leiers wat met groot en luukse vertoon hulle status ten toon stel nie. Dit terwyl Afrika leiers telkens armoede pleit.

 

Dit is een ding om in Suid-Afrika met bloulig brigades en kavalkades en ondersteuningspersoneel rond te jaag. Dit is ook net in Suid-Afrika waar politici van die president tot die munisipale raadslid van ʼn obskure dorpie 24 uur ʼn dag beskerming ontvang. In sommige gevalle is dit ook nou senior amptenare wat opsigtelik beveilig moet word. Ons pleit armoede terwyl R2 Miljard in 2022 spandeer is aan BBP polisieskerming. Die BBP’s sluit in die president, 28 ministers en 34 adjunk-ministers, parlementêre speaker en voorsitter en nege premiers, nege provinsiale speakers en adjunkte sowel as 87 LUR’Re in. Dit sluit munisipale begrotings vir beveiliging vir raadslede en burgemeesters uit. Verlede jaar is bereken dat dit sowat R8 miljoen per individuele BBP aan beskerming kos, met 209 BBP’s wat beskerming ontvang. Dit terwyl gewone Suid-Afrikaners elke dag self vir hulle eie veiligheid verantwoordelik is.

 

Wanneer daar so lukraak met belastinggelde omgegaan word en daar bittermin aanspreeklikheid en verantwoordelikheid is dan is dit maklik om met ʼn rooi gesig ander te beskuldig. Dit beleef ons gereeld in Suid-Afrika. Pole se owerhede  het egter nie ʼn oog geknip toe hulle beskuldig is van rassisme deur Ramaphosa se hoof van die BBP beskermingspan, ene genl. Maj Wally Rhoode, nadat die onbeholpe Suid-Afrikaners betrap is nie. Inteendeel Pole het vasgestaan en Suid-Afrika is uitgevang in sy eie onvermoë en gebrekkige beplanning en koördinasie.

 

Die koste van R15 miljoen plus, vir die gehuurde SAL vlug en soveel elite beskemingslede dui op die matelose arrogansie en grootheidswaan van die presidensiële beveiligingspan. Die hoë spoed en roekelose bestuur in Suid-Afrika plaas hulle skynbaar in ʼn ander kategorie as ander wetsgehoorsame motoriste. Skynbaar het hulle gedink dat hulle ook ander lande se wetgewing kan systap. Dit is daarom een ding om Suid-Afrikaanse wetgewing en regulasies te omseil vir politieke gedienstigheid. Dit is ʼn ander ding om dieselfde gedrag in ʼn vreemde land te gaan doen. Pole het nie geval vir die arrogansie nie en Suid-Afrika sit met eier op sy gesig.

 

Sedert die besoek aan Pole en die verleentheid deur die BBP beskermingsdienste het ʼn ander insident plaasgevind waarin 8 van Adjunk-President Paul Mashatile se beskermingseenheid tans op borgtog uit is nadat hulle passasiers en ʼn bestuurder van ʼn ander motor langs die pad op die N1-hoofweg afgetrek het en aangerand het. Die video oor die insident is wyd op sosiale media gesirkuleer. Dit het die normale boeliegedrag van die bloulig kavalkades in die openbare domein geplaas.   

 

BBP beskerming strek soms verder as politici

  • Volgens mediaberigte was daar aanduidings dat die Gupta familie tydens die 2010 sokkerwêreldbeker tydens 5 geleenthede polisiebeskerming ontvang het.
  • Tydens die aanloop tot die ANC se verkiesingskonferensie by Nasrec in 2017 het dit ook geblyk dat Nkosazana Dlamini-Zuma, wat toe nie 'n lid van die kabinet was nie, BBP-beskerming geniet.
  • Terwyl hy ander opsweep, blyk dit dat Julius Malema ook die enigste opposisieleier is wat polisiebeskerming geniet. Dit was in 2021 in ʼn parlementêre vraag bevestig.

 

As daar wel een les te leer was in die hele oefening is dit dalk nodig dat Suid-Afrikaners die voorbeeld van Pole se onverbiddelike houding ter harte neem om ons eie politici se arrogansie oor hulle BBP status vir eens en vir altyd tot orde te roep. Die verdere insident en aanranding moet ons ʼn paar keer laat dink.

 

Dalk het die tyd aangebreek vir die publiek  om standpunt in te neem en die regering te dwing om   ʼn einde te maak aan die onnodige bloulig kavalkades en konvooie swart motors vir politici. Dit is oordadige, onnodige en onbekostigbare magsvertoon.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: