Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Augustus 2023

Die ideologiese bedompigheid van ras

'n Afrikanerbond standpunt


Resolusie - Teenstand teen die Wysigingswet op Diensbillikheid

 'n Werkswinkel oor die Wysingswet op Gelyke Indiensneming aangebied en gefasiliteer deur die Solidariteitbeweging het op 6 Junie 2023 in Centurion plaasgevind :

 

Organisasies, waaronder Solidariteit, Neasa, Saai, TLU SA, die Afrikanerbond, SAOU, Samrem, Fedsas, die Vryemarkstigting, die Kaapse Forum, Sakeliga, verskeie sakekamers, die ACDP, DA en VF+, asook verskeie meningsvormers was teenwoordig.

 

Tydens die werkswinkel is 'n resolusie aanvaar en onderteken deur deelnemende organisasies en individue. Die resolusie om die wetgewing teen te staan soos deur die Afrikanerbond en verskeie ander organisasies en individue onderteken op 6 Junie 2023 lui soos volg:

 

Ons, die ondergetekendes, teken hiermee saam met tientalle ander organisasies en miljoene ander protes aan teen die nuwe raswet en -regulasies van die regering.

 

Ons verteenwoordig sakelui, politieke partye, vakbonde, landbou-organisasies, onderwysorganisasies en talle ander burgerlike organisasies. 

 

Ons sal, elk volgens sy eie manier, protes teen die wet aanteken. 

 

Ons verwerp ʼn stelsel van maatskaplike manipulasie (social engineering) wat mag aan die minister van arbeid en indiensneming gee om die Suid-Afrikaanse samelewing op grond van ras te manipuleer. 

 

Ons doen ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse regering om onderwys en opleiding reg te ruk om sodoende ʼn gesonde, vaardige arbeidsmark daar te stel.

 

Die riglyne van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) oor spesiale maatreëls vir regstelling en die VN se Internasionale Konvensie oor die Uitskakeling van Rassediskriminasie (ICERD) bepaal onder meer dat spesiale maatreëls tydelik moet wees, nie slegs op ras gefokus kan wees nie, op mense se sosio-ekonomiese posisie moet fokus en klem moet lê op opleiding en ontwikkeling.

 

Ons doen ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse regering om by die riglyne van die IAO en ICERD te hou.  Ons doen ook ʼn beroep op internasionale forums om druk op die regering uit te oefen om binne internasionale norme te bly.

 

Ons protes is nie bloot teen ʼn wet en sy regulasies nie, want dit gaan hier ook oor die ekonomie wat moet groei en werk skep tot voordeel van almal.

 

Die Afrikanerbond is by die geleentheid verteenwoordig deur Louis du Plessis, ondervoorsitter, Andries Domburg, lid van die dagbestuur en Jacques Swanepoel van Limpopo.

 

Die Afrikanerbond lewer kommentaar:

 Kommentaar op die Wysingswet op Gelyke Indiensneming moes voor 11 Junie 2023 ingedien word: In die dekbrief tot die kommentaar het die Afrikanerbond die volgende standpunt gelewer:

 

Die Afrikanerbond het kennis geneem van die publikasie van die konsepregulasies tot die Wet Op Gelyke Indiensneming wat op 11 Mei 2023 gepubliseer is.

 

Hierdie is uiters belangrike wetgewing wat saam met die konsepregulasies ʼn enorme impak vir die werksplek gaan inhou. Daarom wil ons nou reeds versoek dat die regulasies wat die wetgewing moet interpreteer, teruggetrek moet word.

 

Waar die Suid-Afrikaanse Grondwet se aanhef dit duidelik stel “dat Suid-Afrika aan almal wat daarin woon behoort, verenig in ons verskeidenheid” is die wetgewing en die konseprugulasies daarop gemik om die diverse verskeidenheid van Suid-Afrika op rasgronde te verdeel. Die aangehegte kommentaar van die Afrikanerbond fokus dus op die sektorale teikens en die diskriminasie deur kwotas in die werksplek. 

 

Die ANC as regerende party steun meer op die Freedom Charter as die Suid-Afrikaanse Grondwet en in die verband wys ons graag op die volgende teenstrydighede met die wetgewing en die konsepregulasies teenoor die Freedom Charter:

  • “that South Africa belongs to all who live in it, black and white
  • that our country will never be prosperous or free until all our people live in brotherhood, enjoying equal rights and opportunities;
  • The rights of the people shall be the same, regardless of race, colour or sex;
  • All people shall have equal rights to trade where they choose, to manufacture and to enter all trades, crafts and professions.
  • All laws which discriminate on grounds of race, colour or belief shall be repealed.”

Die voorskrifte van die ideaal van gelykheid word deur die wetgewing en konsepregulasies ongedaan gemaak en trouens bring groter ongelykheid. Dit is verbasend dat die ANC nie hierdie ironie insien nie.


Hoe die wetgewing en konsepregulasies voorts versoen kan word met die ANC se eie beleidsdokument moet bevraagteken word:

Affirmative Action and the New Constitution (1994)

“We do not, however, want to become a nation of groups all walking around with calculators doing head counts and demanding special programmes for this group or that.”

Volgens alle aanduidings is dit presies wat die konsepregulasies ten doel het en word rasteikens opgestel wat eenvoudig nie haalbaar is nie, minderhede in die land nog verder gaan vervreem en in ons oordeel bots met die letter en gees van die Suid-Afrikaanse Grondwet.

 

Die werksplek word deur rasteikens niks anders as ‘n syferspel nie. Dit is ‘n ernstige aanklag teen die ANC-regering dat daar ter wille van politieke oorlewing, dertig jaar na demokrasie, al meer op raswetgewing staat gemaak word.

 

Ons kan nie anders as om te vra of die ANC enigsins die ekonomiese implikasies verreken het van die wetgewing en regulasies nie? Waar Suid-Afrika tans onder ernstige ekonomiese druk is, is nog meer werkloosheid deur rigiede rasvoorskrifte nie die oplossing nie. Dit is duidelik dat die implikasies van beide die wetgewing en die regulasies nie deeglik oordink is nie. Die wetgewing en regulasies moet eerder onttrek word en nuut opgestel word in oorleg met die ekonomiese rolspelers wat ʼn positiewe bydrae wil lewer tot die groei van Suid-Afrika.

 

Laastens is die Afrikanerbond van mening dat ‘n meer regverdige werksplek verdeling gebaseer op meriete en prestasie ʼn voorvereiste is vir ekonomiese groei wat die koek sal vergroot en dat die ideaal van ‘n meer verteenwoordigende werksmag op die basis behaal kan word. Hierin wil die Afrikanerbond ‘n meer betrokke en dus aktiewe beplanningsrol speel aangesien ons dit reeds met groot sukses in die verlede vermag het. Ons weet hoe!

 

Volledige kommentaar: 

Lees die volledige kommentaar van die Afrikanerbond in Afrikaans en Engels by onderstaande skakel: 

https://online.fliphtml5.com/hwiua/sqvo/

 

Solidariteit se skikking met die regering

Solidariteit het op 28 Junie 2023 ʼn historiese skikking met die regering onderteken wat bevestig dat hul rigiede toepassing van maatreëls vir regstellende aksie teen internasionale norme indruis. Dus moet ander faktore as ras voortaan oorweeg word in die toepassing van regstellingsmaatreëls.

 

“Dit is ʼn historiese ooreenkoms tussen die partye teenwoordig, oor ʼn onderwerp waaroor min mense gedink het ʼn ooreenkoms moontlik sal wees,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê.

 

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Flip Buys, hoof van die Solidariteit Beweging, het die skikking saam met Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, en Boitumelo Moloi, adjunkminister van arbeid en indiensneming, onderteken

 

 “Die ooreenkoms vloei voort uit ʼn klag wat Solidariteit by die Internasionale Arbeidsorganisasie ingedien het ingevolge Konvensie 111 van die IAO wat amptelik deur die Suid-Afrikaanse regering bekragtig is wat internasionale standaarde daarstel waaraan Solidariteit meen die regering nie voldoen nie,” verduidelik Buys.

 

Konvensie 111 van die IAO hanteer die toepassing van regstellendeaksiemaatreëls in die arbeidsomgewing. Dié maatreëls moet volgens die konvensie egter genuanseerd, billik en buigsaam wees deurdat dit verskillende ander faktore ook in regstellingsaksies oorweeg

 

Wat beteken dit prakties? Die belangrikste punte van buigsaamheid in die ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering as uitkoms van die IAO-proses en die getekende skikking is:

  1. Daar mag geen diensbeëindiging van enige aard as gevolg van rasprogramme wees nie.
  2. Rasprogramme moet tydelik wees en spesifiek op regstelling gefokus wees.
  3. Rasprogramme moet buigsaam wees, en ras is slegs een van vele faktore wat in ag geneem kan word met voorbereiding, inwerkingstelling en voldoening.
  4. Daar mag geen absolute plafonne vir indiensneming of bevordering vir enige groep wees nie

 

Hierdie punte van buigsaamheid gaan as deel van die 2023-diensbillikheidsregulasies in die Staatskoerant gepubliseer en ʼn bevel van die hof gemaak word wat beteken dat dit volledige afdwingingsmag sal geniet. So sal werkgewers verplig wees om dit toe te pas. Dié skikking bring ʼn einde aan ras wat as enigste maatstaf toegepas word met indiensneming of bevordering. Dit bring egter nie ʼn einde aan alle rasprogramme in Suid-Afrika nie, maar is eerder net ʼn ontknoping van die betrokke IAO-geskil.

 

(Die bostaande teks is uittreksels vanuit die Maroela Media berig oor die skikking. – Sien skakel) https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/video-regering-skik-met-solidariteit-in-historiese-geleentheid/?fbclid=IwAR060GVAAjt8bZlJGht7Zmdseqr-gK1L960Ohw-kLWFxM9toPlfsgnI4PCc

 

Skrywe aan Solidariteit

Onderstaande skrywe van gelukwensing deur Dries Wiese, Voorsitter van die Afrikanerbond is op 14 Julie 2023 aan Solidariteit gestuur:  

 

Namens die Afrikanerbond se Nasionale Raad en ons lede, wil ons Solidariteit en dan by name vir Flip Buys en Dirk Hermann gelukwens met die historiese ooreenkoms met die Suid-Afrikaanse regering einde Junie. Ons hoop dat die ooreenkoms ʼn begin is van die proses om ras uit die kriteria te verwyder in die toepassing van regstellingsmaatreëls.

 

Julle het die leiding geneem in die stryd teen ras en regstelling. Namens ons lede wie se kinders en kleinkinders ook benadeel is, dra ons graag ons dank en waardering oor. Die Afrikanerbond was bevoorreg om Solidariteit se werkswinkel oor die Wysigingswet op Diensbillikheid op 6 Junie 2023 by te woon en saam met ander organisasies die resolusie te teken. Dit was ʼn rigtinggewende gesprek wat ons in staat gestel het om ook die Afrikanerbond se formele kommentaar voor 11 Junie 2023 in te dien.

 

Suid-Afrika is vasgevang binne ʼn ideologiese bedompigheid waarvan ras ʼn kern uitmaak. Ons glo dat die proses waarin julle die leiding tot bedinging geneem het, sal lei tot ʼn billike en regverdige stelsel.

Wees daarom verseker van ons steun in die verband.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: