Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 15 April 2020
Terug na e-Afrikaner

Die Koronavirus diskrimineer nie 
- Ons reaksie daarop moet ook nie diskrimineer nie


Deur Jan Bosman 
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 

Ten tyde van die skryf van hierdie artikel het die Koronavirus meer as die helfte van die wêreld se bevolking op een of ander manier tot hulle huise beperk, vele lande is ingeperk. In die drastiese verspreiding van die Covid-19-virus is daar nie gediskrimineer nie. Dit het toegeslaan op mense van alle rasse, gelowe, kulture, tale en geslagte, ryk en arm en van alle kontinente. Ons reaksie daarop moet ook nie diskrimineer nie – of so het ons gedink. 

By die aanvanklike afkondiging van die staat van inperking op 23 Maart 2020 sê President Ramaphosa: “Daarom moet ons elke hulpbron en alle energie inspan om die ekonomiese impak van hierdie epidemie te beveg. Daarom moet ons maatreëls in plek stel om die ekonomiese impak te verminder.” 

Net ʼn bietjie later in die toespraak sê hy: “Ek wil dit duidelik stel dat ons van alle Suid-Afrikaners verwag om in belang van die Suid-Afrikaanse nasie op te tree en nie in hul eie selfsugtige belange nie.” 

Hy sluit dan kragtig af: “In die dae, weke en maande wat voorlê, sal ons vasberadenheid, ons vindingrykheid en ons eenheid as 'n nasie getoets word soos nog nooit tevore nie. Ek doen 'n beroep op ons almal, elkeen van ons, om ons deel te doen.”  

In sy aanvanklike hantering het President Ramaphosa getoon dat hy wel oor die nodige leierskap en staatsmanvaardigheid beskik om Suid-Afrika deur die krisis te lei. Dit was ook die oorwegende reaksie van die meeste kommentators en politieke partye. Dit was die tipe leierskap wat ons reeds met die aanvang van sy termyn wou sien, maar wat ons kan nou vir die eerste keer ervaar, sonder die druk en houvas van die ANC en Luthuli-huis.  

Ons sou egter verwag het dat die regering se aanvanklike reaksie op die Koronovirus en die dodelike verspreiding daarvan regoor die wêreld, bo eng ideologiese grense sou strek. Ons sou ook verwag het dat die ANC-regering sy ekonomiese beleidsraamwerke dringend sou hersien, veral na Moody’s se afgradering van staatskuld tot rommelstatus op 27 Maart 2020. Ongelukkig het die ANC-regering besluit om voort te gaan met die toepassing van Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en om demografiese verteenwoordiging nougeset toe te pas. 

Die eerste aanduiding dat die voorwaardes van Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) sou geld, het nekhare laat regop staan en het ʼn ander dimensie verkry toe Khumbudzo Ntshavheni, Minister van Kleinsakeontwikkeling, sê alle kleinsakeondernemings sal wel vir hulp oorweeg word, maar hulle moet “demografies verteenwoordigend” wees. Dit was haar reaksie nadat die Departement in ʼn eerste konsep laat blyk het dat SEB-reëls toegepas sou word op aansoeke.  

Die kleinlike toepassing is gevolg met bepalings vir finansiële hulp vir die toerismebedryf met Minister Mmamoloko Kubayi-Ngubane, Minister van Toerisme, wat gesê het die bystand vir klein, mikro- en mediumgrootte ondernemings (KMMO’s) sal gegee word in ooreenstemming met haar Departement se beleid oor Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en ekonomiese transformasie. Dit is gevolg deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye wat slegs swart, bruin en Indiërboere aanmoedig om vir finansiële hulp by dié Departement aansoek te doen.

Ongelukkig het die Minister van Landbou, Thoko Didiza, ook nie op haar laat wag nie en op 6 April 2020 het sy R1,2 miljard van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike ontwikkeling aan kleinboere beskikbaar gestel om voedselsekerheid te verseker. Ongelukkig word kommersiële boere nie in die proses bygestaan nie en dit is hulle wat voedselsekerheid en werksekerheid moet verskaf. 

Die geldigheid en die grondwetlikheid van die regering se rasse-onderskeid in die toekenning van hulppakkette vir finansiële verligting tydens die Covid-19-pandemie moet nog getoets word. Daarmee is politieke partye en burgerlike instellings reeds besig. 

Al waarop dit dui is dat Swart Ekonomiese Bemagtiging so geïnstitusionaliseer is, dat dit die enigste maatstaf is in ʼn krisis, selfs al is dit die Koronapandemie. Die enigste gevolgtrekking wat ons kan maak is dat die Koronavirus nie grense ken en nie diskrimineer nie – maar die ANC-regering se reaksie hierop diskrimineer wel. 

Dit wil ook telkens voorkom asof president Ramaphosa een ding sê maar sy kornuite in die kabinet vertolk dit telkens anders. Hy sê vir die nasie: “Want ons is ’n verenigde nasie en ons sal beslis seëvier,” maar sy ministers kan nie wag om dieselfde nasie te verdeel nie. Dieselfde ministers verkies om die beloofde samewerking op ʼn rassebasis te definieer en toe te pas. Ongelukkig vertel die aandrang van sy ministers op ras in die toekenning van hulp, 'n verhaal van intellektuele en ideologiese bankrotskap.  

Met die toepassing van ʼn enge rasse-ideologie staan die ANC nie alleen in 2020 nie. Internasionale noodlenigsorganisasies het al verskeie kere in hulle verslae die wêreld daarop attent gemaak dat, in tye van nood en krisis (of dit die tsunami in die Indiese Oseaan, die aardbewings in Suid-Asië, die orkaan Katrina of soveel ander rampe wat ontelbare voorbeelde opgelewer het), hoe diskriminasie voortduur. Dit was nog voor die uitbreek van die Koronavirus.

Die Internasionale Federasie vir die Rooikruis en Rooi-halfmaan-verenigings lewer jaarliks verslae oor rampe regoor die wêreld, maar het in 2007 gefokus op diskriminasie tydens rampe. Hulle sê onder meer: “Rampe diskrimineer nie. Dit raak minderhede en meerderhede, bevoegde persone en persone met gestremdhede, jonk en oud, mans en vroue ... rampe veroorsaak nie diskriminasie nie: dit vererger dit, en diskriminasie in 'n noodsituasie kan lewensgevaarlik wees.” 

Wat noodleniging aanbetref, sê hulle: “Nie-diskriminasie op grond van nasionaliteit, ras, godsdienstige of politieke oortuigings of enige ander verskil is 'n kerndeel van die Geneefse konvensie en word uitgedruk in verskillende wetgewings oor menseregte.” Skynbaar stel die ANC, die Suid-Afrikaanse regering vry hiervan.  

Die VN se Hoë Kommissaris vir Menseregte sê op hulle webblad oor menseregte in humanitêre krisisse: “Humanitêre krisisse – insluitende mensgemaakte konflikte, natuurrampe en pandemies – lei tot 'n verergering van die verbreking van menseregte. Boonop kan verslegtende menseregte-situasies krisisse veroorsaak en die humanitêre behoeftes van die geaffekteerde bevolking verhoog.” Hulle gevolgtrekking is dat “Ons moet probeer om die kwesbaarste dele van die bevolking in te sluit met humanitêre beskerming en hulp, en diskriminasie en verpolitisering van die verspreiding van hulp te verminder.” Dit doen die ANC egter nie, maar gaan voort met die toepassing van ʼn beleid van uitsluiting op grond van ras. 

Bogenoemde verwys na tye van nood. In ʼn normale samelewing verwys die VN se Internasionale Konvensie vir die uitskakeling van alle vorme van rassediskriminasie (CERD), na rassediskriminasie as “any distinction, exclusion, restriction or preference based on race, colour, descent, or national or ethnic origin which has the purpose or effect of nullifying or impairing the recognition, enjoyment or exercise, on an equal footing, of human rights and fundamental freedoms in the political, economic, social, cultural or any other field of public life”. 

Dit alles was nog voor die Koronavirus. ʼn Artikel in die mediese tydskrif Lancet op 1 April 2020 verwys na diskriminasie en rassisme in die bestryding van die Koronavirus. “Dade van diskriminasie vind binne sosiale, politieke en historiese kontekste plaas. Politieke leiers het die COVID-19-krisis verkeerd aangewend om rassediskriminasie te versterk, byvoorbeeld deur die grensbeleid te verdubbel en openbare gesondheidsbeperkings met antimigrante-retoriek te verwar. Huidige noodmaatreëls moet noukeurig oorweeg word vir gevolge op die langer termyn. Beleide wat nodig is om bevolkings te beheer (bv. beperking van beweging of toesig) kan verkeerd toegepas word, en gemarginaliseerde groepe word tradisioneel geteiken.” Verderaan in die artikel staan: “Gesondheidsbeskerming berus nie net op 'n goed funksionerende gesondheidstelsel met uitgebreide dekking nie, maar ook op sosiale insluiting, geregtigheid en solidariteit. In die afwesigheid van hierdie faktore word die ongelykhede vergroot en die diskriminasie duur voort, en bly so vir lank daarna. Verdeling en angstigheid teenoor andere, sal tot slegter uitkomste vir almal lei.” 

Deur Swart Ekonomiese Bemagtiging en demografiese verteenwoordiging gaan die ANC al vir dekades voort met ʼn ideologie wat die kundigheid en ervaring waaroor baie Suid-Afrikaners, ook Afrikaners beskik, uitsluit. Veral jonger generasies wit, bruin en Indiërkundiges word gestuit om deel van die ekonomiese toekoms van Suid-Afrika te wees omdat hulle voortdurend teruggehou word deur regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, demografiese verteenwoordiging en die toepassing van kwotas.

Swart Ekonomiese Bemagtiging het deur sy toepassing een van die instrumente geword van ʼn politieke elite se selfverryking, grootskaalse korrupsie en staatskaping. Ten spyte van talle feite wat dit staaf, volhard die ANC hardkoppig met die beleid ook in ʼn tyd van grootskaalse ekonomiese en humanitêre rampspoed. Die aanslag op die uitwissing van die Koronavirus sou die ideale geleentheid gewees het vir die visionêre leierskap in die regering om afstand doen van die diskriminerende maatreëls en alle Suid-Afrikaners ongehinderd toe te laat wat gereed staan om te help. 

Die optrede van kleinlike politieke funksionarisse sal egter voortgaan om ʼn stelsel in stand te hou wat slegs voordeel bied aan trogvretende kaders. Dit is jammer, want ons moet die land en sy mense in hierdie tyd behulpsaam wees. Nou is die tyd om van ideologie afstand te doen en die land eerste te stel. 

Op Donderdagaand, 9 April 2020 aan die vooraand van die Paasnaweek, spreek die President die nasie weer toe en verleng die tydperk van die staat van inperking en sê dan: “Terwyl ons uit hierdie krisis opstaan, sal ons land 'n fundamentele rekonstruksie moet ondergaan. Om dit reg te kry moet ons al ons sterk punte gebruik: ons oorvloedige natuurlike hulpbronne, ons gevorderde infrastruktuur, ons gevestigde finansiële markte, ons bewese vermoëns in inligting- en kommunikasietegnologie, en die diepte van die talent onder ons mense. Ons sal gebruik moet maak van ons bewese innoveringsvermoëns en kreatiwiteit, ons vermoë om in 'n krisis bymekaar te kom, en ons toewyding aan mekaar en ons gemeenskaplike toekoms.” 

Die noodlottige effek van die Koronavirus op die land en sy mense en ook die ekonomie, vereis buitengewone leierskap en buitengewone optrede. Dit vereis dat die President sal optree in landsbelang en die magte wat die grondwet aan hom verleen. Dit vereis dat die President homself losmaak van die eng ideologiese beperkinge van sy party en die kleinlike eiebelang van diegene in Luthuli-huis. In hierdie krisis smag Suid-Afrika na leierskap met integriteit. 


Die bekende Suid-Afrikaanse politieke kommentator, skrywer en joernalis, Justice Malala, skryf in die Financial Mail op 14 April 2020 in ʼn artikel met die opskrif: How numbskulls in the ANC sabotage Covid response soos volg: “Die koronavirus het besighede, swart en wit, vernietig. Dit vernietig werk, swart en wit. Ons moet dringend die indiensneming behou by klein ondernemings wat in swart sowel as in wit besit is. Dit is nie die tyd om dringende en noodsaaklike befondsing per ras beskikbaar te maak nie. Ons het nie ʼn genie nodig om ons te vertel hoe skouspelagtig dit sal misluk nie.”

Suid-Afrika het nodig dat daar wedersydse vertroue moet wees, respek vir mekaar se standpunte en bowenal ʼn wil om mekaar tegemoet te kom en te probeer vind tussen die probleme en uitdagings van die tyd, veral nou. Dit verg dat mnr Ramaphosa die talente, kundigheid, ervaring en vaardighede van alle Suid-Afrikaners, wit en swart, sal erken, respekteer en bevorder. Dit verg nou dat die President finaal wegbreek van die ANC se knellende en beperkende houvas op die ekonomie en verouderde ras-ideologie. 

Deel met ander belangstellendes

Share by: