Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           April 2022

Gebruik Afrikaans oral – van kuns tot kuberruim!

 

deur dr Conrad Steenkamp,

Uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad

 

Sekere belangegroepe mik daarop om dit vir Afrikaanssprekendes oor die algemeen so moeilik moontlik te maak om hulle taal te gebruik en uit te leef. Afrikaans op skoolvlak en universiteite is onder geweldige druk, ’n beskrywing wat ook vir ander sektore geld. 

 

Tog floreer die Afrikaanse kunste. Dit is omdat Afrikaans nog steeds beskik oor ’n sterk finansiële basis in die vorm van beleggingsfondse, enkele superryk weldoeners, en ’n middelklas wat steeds bereid is om geld in hulle eie taal en kultuur te belê. Dit is goed so en baie belangrik, maar moet asseblief nie dink die kunste alleen verseker die lewenskragtigheid van Afrikaans nie.

 

Alle tale se oorlewing en groei hang af van hulle oordrag tussen die generasies en voortgesette gebruik in verskeie domeine. Dit steur dus dat baie Afrikaanse ouers - van alle rasse en agtergronde – dink hulle bemagtig hulle kinders ekonomies deur hulle eentalig Engels groot te maak. Hulle begryp nie die eenvoudige logika dat ’n meertalige kind meer werksgeleenthede het nie – ook internasionaal. Hulle verstaan nie hoe negatief die verlies van die erfenistaal hulle kinders sielkundig raak nie.

 

Afrikaanse jeugdiges skakel egter dikwels self oor na Engels. Hulle voel aangetrokke tot die ‘cool’ en ‘quirky’ kultuur wat hulle deur Engels beleef en die toegang wat dit hulle tot die ganse Angelsaksiese wêreld bied. Hulle lei onder die negatiewe stereotipes wat aan Afrikaans en sy sprekers gekoppel word en voel dikwels verleë oor die taal. Dikwels, glo my vry, vertel ouers en selfs onderwysers vir kinders Afrikaans is besig om uit te sterf en dat dit sinneloos is om die taal te leer. 

 

Afrikaans kan meeding!

 

Die onderliggende probleem is ten minste gedeeltelik kontekstueel. Die alomteenwoordigheid van Engels in die samelewing en populêre media bevestig die dominansie en status daarvan. Ons leef in ’n Engelse see wat toenemend die leefruimtes van Afrikaans oorstroom en dan die taal in sy eie terreine marginaliseer. Die taal dring deur ons selfone, rekenaars en TVs in ons huise en families in en ons ontvang dienste en inligting deur Engels wat ons moeilik elders gaan kry.

 

Ek stel dié kwessies doelbewus kras, met die wete dat – dank die Vader! – nie alle Afrikaanssprekendes op hoopverloor se vlakte staan nie. Nietemin bly die verlies aan taalkulturele selfvertroue ’n faktor waaraan ons ernstig aandag moet gee.

 

Ons gaan veral anders oor taal moet begin dink en besef elkeen van ons gaan moeite moet doen om ons moedertaal te handhaaf. Weens verminderde gebruik van Afrikaans in ons omgewing, gaan ons moet aanhou om die taal te leer – byvoorbeeld deur toepassings soos Beter Afrikaans.

 

Ons gaan die moeite moet doen om anders met kinders en jongmense oor taal en Afrikaans te praat. Die tradisionele aanslag, al die ou metodes waaraan ons as jongmense gewoond was, deug dalk om ’n segment van die jeug se betrokkenheid by Afrikaans te verseker. Maar die moderne jeug is ’n andersdenkende spul wat in ’n nuwe grenslose kubernetiese wêreld leef. Ons gaan by daardie wêreld moet aansluiting vind om Afrikaans meer aantreklik en interessant vir hulle te maak.

 

Afrikaans se toekoms hang af van hoe sterk ons die taal in kuberruimte kan vestig. Dit is byvoorbeeld maklik om rekenaars heeltemal Afrikaans te maak – en dit sluit Microsoft se bedryfstelsel en die Office-toepassings in. Laai sommer die American International-sleutelbord vir Afrikaans af om die Afrikaanse leestekens sonder moeite te kan tik. Laai ook Microsoft se Afrikaanse speltoetser WSpel verniet af of koop nog beter Afrikaanse Skryfgoed.

 

Met ’n bietjie moeite soos dié skep ’n mens ’n nuwe ruimte vir Afrikaans in die eie huis of werksomgewing. Die kuberruimte is nie Engels nie, maar fundamenteel meertalig, en ’n uiters belangrike deel van Afrikaans se pad vorentoe!

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: