Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Augustus 2023

Japanse Restourasie ʼn beter voorbeeld as Russiese Rewolusie

Deur Flip Buys

Voorsitter van die Solidariteitsbeweging


Op 8 Julie 1853 het Japanners geskok gestaan en toekyk hoe vier vreemde swart staalskepe met borrelende rookwolke in die hawe van Tokio ingestoom kom. Feodale Japan het nie selfaangedrewe staalskepe geken nie. Die Japanners moes boonop verskrik toekyk hoe die skepe minagtend deur die Japanse flottielje wat hulle moes voorkeer, breek. Die verwaande Amerikaanse bevelvoerder, kommodoor Matthew Perry, het in weerwil van sy president se opdrag sy skeepskanonne op hulle gerig en gedreig dat hy die stad sou platskiet as Japannese hawens nie vir Amerikaanse handel oopgestel word nie.

 

Hierdie kragdadige vertoon van kanonneerbootdiplomasie het die vernederde Japanners laat besef dat hulle dringend sou moes moderniseer as hulle nie ook die slagoffer van Westerse aggressie wou word soos die Chinese tydens die Opium-oorloë nie. Die eerste stap was om die militêre bewind af te skaf en om die keiser se gesag te herstel in wat as die “Meiji-restourasie” van 1868 bekend geword het. “Meiji” beteken “verligte bewind”, en die doel was om die nuutste Westerse ontwikkelings met Japanse waardes te kombineer om die land se modernisering te bespoedig.

 

Die Japanners se leuse was “Westerse wetenskap, Japanse kultuur”. Hulle het Westerse wetenskap en tegnologie oorgeneem, maar hul eie taal en kultuur behou. Die Japanners se suksesresep was nie om te vra: “Wie het dit aan ons gedoen en wat moet ons nou aan hulle doen?” nie, maar eerder: “Wat het ons verkeerd gedoen en wat moet ons nou reg doen?” Die grootste simboliese verskil tussen die Russiese Rewolusie en die Japanse Restourasie was dat waar die tsaar en sy gesin tereggestel is, die Japanse keiser in ere herstel is. Die Japanners wou nie alles wat bestaan het vernietig nie. Hulle het op die beste uit die Weste gebou om hul agterstand in te haal, en dit dan verder verbeter en die Weste op baie gebiede verbygesteek.

 

ʼn Markekonomie en ʼn nasionale skoolstelsel is ingestel, Westerse kundigheid is aangestel, moderne infrastruktuur is gebou, terwyl Japanners na Westerse state gestuur is om daar te gaan leer en te studeer. Die eertydse Westerse vyande het onmisbare vennote vir vinnige ontwikkeling geword.


Skeppende vernuwing

Die Japanners het uit hul kultuur en tradisie geput, maar dit skeppend vernuwe met Westerse kennis en kundigheid, eerder as om weens begryplike redes anti-Westers te wees. Daar is doelbewus teen rewolusie besluit, en die opkoms van Japan het baie gladder en vreedsamer verloop as die Franse en Russiese Rewolusies, en die uitkoms was beter. Die strategie was om op die ou orde voort te bou en dit stelselmatig te vernuwe in plaas daarvan om dit te vernietig en die land verder te laat agteruitgaan. Produksie is verhoog en die ekonomie is vinnig uitgebrei in plaas daarvan om dit bloot in al kleiner dele te herverdeel. Die privaat sektor was die dryfkrag van ontwikkeling, hoewel die staat ʼn belangrike ondersteunende rol gespeel het.

 

Die boustene van Japan se sukses was doeltreffende regering, ʼn sterk werksetiek, selfdissipline, gesonde gesinne, goeie onderwys en ʼn diepe verantwoordelikheidsin. Die Japanse restourasie was ʼn wonderwerk – vanaf ʼn feodale stelsel na ʼn moderne nywerheidsland binne 30 jaar! Dit was die eerste nie-Westerse land wat suksesvol moderniseer het. Die vuurdoop vir sy vlak van ontwikkeling was twee suksesvolle blitsoorloë – teen China in 1894 en teen die Russe in 1904. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, was Japan een van die Grootmoondhede, en met die vredesonderhandelinge van Versailles was Japan een van die groot vyf magte saam met die VSA, Brittanje, Frankryk en Italië. Die Japanse restourasie was suksesvoller as die Russiese Rewolusie en ander rewolusies, en het gelei tot ʼn lewenstandaard wat baie hoër was as dié van kommunistiese Rusland en een wat naby aan dié van die VSA was.

 

Dit is nie net die Japanners wat suksesvol was nie. China het die afgelope dekades sowat 750 miljoen mense uit die uiterse armoede opgehef deur ekonomiese groei wat baie meer op restourasie as rewolusie gegrond was.


Lesse vir SA

Die vraag is of en wat Suid-Afrika van die suksesvolle Japanse Restourasie kan leer. Die ANC se regmatige strewe ná 1994 was om swart mense op te hef ná jare van apartheid en kolonialisme. Die vraag is watter strategie hulle moes volg – Japan se restourasie of die Russiese Rewolusie?

 

Rewolusie beteken die omverwerping van die ou orde en die vervanging daarvan met ʼn nuwe bedeling. Die Russiese Rewolusie was in die meeste opsigte die teenoorgestelde van die Japanse Restourasie. In die rewolusie is die ou orde omvergewerp, die Tsaar en sy familie tereggestel, die ekonomie genasionaliseer en ʼn diktatorskap ingestel. Radikale doelwitte verg immers radikale metodes. Lenin se nasiebouproses wou, in die woorde van die beroemde fisioloog Ivan Pavlov, die “mensdom standaardiseer”. Lenin wou alles gelykmaak: “Die hele samelewing sal ʼn enkele kantoor en ʼn enkele fabriek word met gelykheid in die werkplek en gelyke betaling.”

 

Die groot rewolusionêre eksperiment het egter misluk. Ná 70 jaar het die stelsel onder die gewig van armoede en verdrukking verbrokkel. Die eerste postkommunistiese president van Rusland, Boris Jeltsin, het ʼn polities onkorrekte stelling gemaak toe hy gesê het: “Ons land was ongelukkig. Daar was besluit om hierdie Marxistiese eksperiment op ons uit te voer ...  in plaas van in ʼn land iewers in Afrika. Ons het op die ou end bewys dat daar geen plek vir hierdie idee is nie. Dit het ons net van die pad gedwing wat die wêreld se beskaafde lande gevolg het.”

 

Dit het die Russe lank geneem om van die gevolge van kommunisme te herstel en hul land weer te laat werk. Ten spyte van al die historiese bewyse dat rewolusies misluk, is daar by partye wat vinnige en radikale transformasie wil teweegbring, soms steeds heimwee na die Rooi Rewolusie. Die ANC het byvoorbeeld op 8 Januarie 2017 verklaar: “Ons herdenk 100 jaar sedert die groot sosialistiese rewolusie van Oktober 1917, toe Russiese werkers hulself van die outokratiese, tsaristiese heerskappy bevry het en die eerste sosialistiese werkerstaat tot stand gebring het.” 

 

Radikale transformasie

Suid-Afrika se geskiedenis, die ANC se ideologiese wortels, en die groot armoede, werkloosheid en ongelykheid in die land het saamgewerk dat die regering ʼn beleid van radikale transformasie as antwoord op die uitdagings ná 1994 aanvaar het.

 

Ten spyte van sekere suksesse wat die regering behaal het, is die uitkoms van die transformasieprojek ná 30 jaar nie gunstig nie. Die pynlikste tekens van die knellende krisis is onder meer:

  • Suid-Afrika het die hoogste werkloosheidsyfer ter wêreld (IMF-data);
  • Sowat 50% van die bevolking is op welsyn aangewese;
  • Opnames toon meer as 50% gegradueerdes wil emigreer;
  • Die land se sakelui sien staatsverval as die grootste risiko (WEF-data)
  • Die verval van die staat wat oor ʼn wye front voorkom.

Hoewel daar verskil kan word oor die aard, omvang, oorsake en oplossings vir die nasionale krisis, is een saak duidelik: Ons kan nie soos altyd bly aangaan nie. Méér van dieselfde is nie ʼn oplossing nie, en dit gaan slegs die krisis verder verdiep. Nuwe denke, nuwe antwoorde en nuwe oplossings word geverg. ʼn Beleid word gemeet aan sy uitkomste, nie aan sy bedoelings nie. Die harde werklikheid wys dat die staatsideologie van radikale transformasie nie daarin geslaag het om radikale positiewe verandering teweeg te bring nie. Dit het eerder deel van probleem eerder as van die oplossing geword.

 

‘Radikale’ restourasie

Die vraag is of die tyd nie eerder aangebreek het vir “radikale” restourasie nie. Die aard van ʼn nuwe model vir restourasie sal nog uitgewerk moet word, maar dit sal aan die volgende vereistes moet voldoen om prakties en polities te slaag:

  • Dit sal gerig moet wees op opbou in plaas van op afbreek;
  • Dit sal insluitend moet wees, ongeag ras;
  • Dit moet die krisisse van staatsverval, armoede en werkloosheid aanpak;
  • Die staat sal meer “huishoudster” as “broodwinner” moet wees;
  • Die privaat sektor sal ʼn leidende rol moet speel;
  • Ekonomiese groei moet as die grootste gelykmaker nagejaag word;
  • Die burgerlike sektor moet betrek word; en
  • Dit moet voorsiening maak vir ʼn maatskaplike verdrag (“social compact”) wat almal insluit en wat van “vyande” eerder vennote maak.

 

ʼn Sleutelvereiste vir suksesvolle restourasie wat ʼn werklike radikale omwenteling teweeg kan bring, is dat ras as sentrale beleidsbepaler uitfaseer sal moet word. Indien die Instituut vir Rasseverhoudinge se Index of Race Law (RaceLaw.co.za) naastenby reg is, het die regering al 116 rassewette ná 1994 gemaak. Hierdie wette het nie daarin geslaag om die gevolge van die vorige rassebedeling reg te stel nie. ʼn Rassebedeling, wat die bedoelings daarvan ook al mag wees, is nie versoenbaar met ʼn grondwetlike demokrasie, ʼn werkende staat en ʼn groeiende ekonomie nie. Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) is net 4,6% van alle mense onder die ouderdom van 18 wit. Die bykans 96% jong swart mense sal nie daarby baat as hierdie klein groepie benadeel moet word nie.

 

Die belangrike vraag in verband met “regstellende” diskriminasie is nie: “Is dit geregverdig nie?” maar “Werk dit?’” Die armes verloor nou op twee maniere. Eerstens ontvang hulle openbare dienste wat swakker is as wat hulle andersins sou kry. Tweedens, vertraag rassewette ekonomiese groei en maak dit so moeiliker vir werkloses om werk te kry.”

 

Dit help nie om ‘n sekere groep te blameer vir wat gebeur het voor hulle gebore is, terwyl die ANC nie verantwoordelikheid aanvaar vir wat hulle vandag aanvang nie. Suid-Afrika benodig al sy mensehulpbronne om suksesvolle restourasie te bewerkstellig. 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: