Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Maart 2023

Die probleem, die minister en nog 'n pleister

* Perspektiewe op die skuiwe in die kabinet (6 Maart 2023)

 

Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris

 

Hoog in sy skik kondig die president onlangs aan dat ons ʼn nuwe Minister van Elektrisiteit gaan kry. Daar word nie gesê hoe en wat die minister gaan doen binne ʼn reeds logge kabinet met nog meer verkwisting nie. Die pleister word op die sweer geplak want die eintlike verrotting waaroor geswyg word is in Eskom, infrastruktuur, dienslewering, kaders en korrupsie. Deur eenvoudig ʼn minister aan te stel word die probleem en die oorsaak van die sweer egter nie aangespreek nie.

 

Die ANC-regering het oor jare die kuns vervolmaak om die probleem uit te lig met simboliese handelinge sonder om met sigbare uitvoering die probleem daadwerklik aan te spreek. Die verrotting en verval duur voort. Die pleister wat ter wille van oëverblindery opgeplak word is, die simboliese aanspreek van die probleem.

 

Die slaggat sindroom is ʼn meer praktiese voorbeeld van hoe daar te werk gegaan word. Ons platteland en stede wat met trots ʼn verhaal kon vertel van ʼn vorige bedeling se harde werk, vooruitgang en trots, vertel vandag ʼn ander tragiese storie. Die verhaal van verval.

 

‘n Verskynsel wat deesdae al hoe meer voorkom is die waarskuwingsborde wat padverbruikers waarsku oor slaggate in die pad. Die borde wat in werklikheid die uitsondering behoort te wees, word deesdae die norm. Die ironie is dat die waarskuwingsborde self bepaalde koste in terme van vervaardiging en oprigting inhou. Die borde moet egter die gevaar uitwys en vervang eerder die herstel van die toenemende slaggate in ons paaie. Dit is asof munisipaliteite en instansies wat gemoeid is met padherstelwerk dit makliker ag om eerder die waarskuwingsborde op te rig, as om die probleem van slaggate op te los en aan te spreek. Dit verg harder werk maar in die Suid-Afrikaanse samelewing is dit die mees praktiese demonstrasie van die onvermoë en soms onwilligheid om die probleem aan te spreek. Die kaders se antwoord om ʼn uitdaging is dus eerder om liewers die waarskuwingsborde op te sit en motoriste te maan om versigtig te wees, as om die slaggate eenvoudig en behoorlik reg te maak.

 

Die President het die slaggat sindroom gebruik om die energiekrisis aan te spreek. In stede daarvan om die oorsake uit te roei en met daadwerklike planne die energiekrisis die hoof te bied word die probleem verskuif na ʼn nuwe ministerie wat uit die deurmekaarspul met portefeuljes en lynfunksies en politieke faksiegevegte moet sin maak uit alles. Die krisis is veroorsaak deur ʼn magdom ander probleme waaronder onbevoegdheid en onvermoë van kaders. Skynbaar gaan nog meer kaders aangestel word en wys die bestaande planne nie uit hoe die politiek ontplooides tot orde geroep gaan word en verantwoordelik gehou gaan word nie. Die aanstelling van die minister is maar net nog ʼn pleister op ʼn sweer en die belastingbetaler moet hoes.

 

Die slaggat sindroom is ook vir dekades teenwoordig in die ewige naamsveranderinge van dorpe en strate. Dit is asof die denke in die regerende party is dat die probleem gaan verdwyn as die naam verander word. Baie plattelandse dorpe wat die ekonomiese krag was van hulle omgewing het oor die jare van name verander, maar is vandag slegs ʼn vervalle skadu van eens trotse vooruitstrewende dorpe. Die probleme is meer, maar die pleisters word geplak.

 

Beurtkrag, korrupsie, staatskaping, onbevoegdheid, slaggate, lekkende waterpype en magsmisbruik deur ʼn ramptoestand het al so deel van ons vuisvoos lewe geraak dat ons jubel en juig as ons iewers ʼn sprankie hoop van beloftes van dienslewering kry. In die geval net nog ʼn minister, net nog ʼn pleister wat ʼn al hoe groter wordende sweer moet toeplak.

 

Bostaande artikel is vir nuuskommentaar gebruik deur Pretoria FM op 20 Februarie 2023

https://www.pretoriafm.co.za/die-probleem-sweer-die-minister-nog-n-pleister/

 __________________________________________________________________________________

 

In aansluiting by die artikel volg die kommentaar van die Afrikanerbond op 7 Maart 2023

 

DIE KABINETSKOMMELING VAN 6 MAART 2023

 

RAMAPHOSA KON NIE DIE RUBIKON OORSTEEK NIE EN HET NIE ANTWOORDE OP SA SE KNELLENDE PROBLEME NIE

-       Nuutste kabinet is die hersirkulering van swak bestuur “recycling of bad management”

 

Die Afrikanerbond het met teleurstelling verneem van die kabinetskuiwe wat President Ramaphosa aangekondig het.

 

Daar was redelike verwagtinge geskep – en vir ʼn tweede keer kon ʼn staatshoof nie die Rubikon in die verwagte oomblik oorsteek nie.

 

In die laaste paar jaar struikel Suid-Afrika van die een krisis na die ander, Covid-19 en absurde maatreëls, verwoestende onluste in Julie 2021, die brand by die parlement, die Finansiële Aksie Taakmag (Financial Action Task Force) wat Suid-Afrika op die gevreesde internasionale gryslys geplaas het, die ineenstorting van Suid-Afrika se staatsondersteunde entiteite, ʼn ongekende energiekrisis, werkloosheid, hoë en brutale misdaadvlakke  en soveel meer. Elkeen van die probleme is in ʼn departement met ʼn politieke uitvoerende hoof. Dieselfde politieke leiers is nog steeds in hulle ampte terwyl andere herlei word na ander departemente.

 

In geheel beskou is dit slegs meer van dieselfde. In sy staatsrede in Februarie 2018 het President Ramaphosa onderneem om die groot kabinet te sny. Op die ou einde kon hy nie, en is hy oppad na die dieselfde lomp en groot kabinetstruktuur van sy voorganger.       

 

Op die stadium sou mens gehoop het dat President Ramaphosa sterk en kreatiewe leierskap sou inbring om Suid-Afrika voor te berei vir die potensiaal van onluste in die kruitvat wat aan die opbou is met wisselvallige ekonomiese, politieke en maatskaplike omstandighede. Kenners en buitelandse moondhede waarsku reeds teen die potensiaal van grootskaalse onluste en onstabiliteit terwyl andere praat van die moontlikheid van ‘n burgeroorlog. Niks in die nuwe kabinet dui daarop dat die president na die waarskuwings luister of dit dalk net ernstig opneem nie.

 

Wat wel duidelik is uit die kabinetskommeling, is dat die ANC-geleide alliansie met die SAKP en Cosatu ten alle koste behoue moes bly en dat landbelang aan die agterspeen moes suig. Terwyl die president die geleentheid deur sy vingers laat glip het om Suid-Afrikaners tevrede te hou en onsekerheid aan te spreek, is hy voorgesê deur die politieke eiebelang van die ANC. Terwyl die geleentheid daar was om deur ʼn versoeningsgebaar ook minderheidsbelange aan te spreek is dit nie gedoen nie. Veel eerder is die ideologiese belange aangespreek soos verwoord in die ANC se 2023 slagspreuk “Decisive Action to Advance the People’s Interest and Renew Our Movement”. Die ANC se hernuwing word gedoen ten koste van die landsbelang en die portfeuljes in die kabinet wat smag na leierskap.

 

Dit het nou duidelik geword dat, net soos sy voorganger, kan die land Ramaphosa en die ANC ook nie veel langer bekostig nie. Daar is te veel ongemak met sy Phala-Phala knoeiery en deur sy gebrekkige leierskap vervreem hy homself al meer en meer van Suid-Afrikaners. Duidelik het Ramaphosa nie antwoorde vir die knellende probleme wat Suid-Afrika teister nie. Alhoewel die kabinet duidelik saamgestel is om leiding te gee in die aanloop tot die 2024 verkiesing is ʼn vervroegde verkiesing moontlik die antwoord.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: