Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Kersfees Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Desember 2023

Moet nie dat die kaders die gees van Kersfees ook steel nie

 

Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond

 

Lojale Suid-Afrikanerskap verg ʼn kritiese ingesteldheid en nie blinde gedienstigheid nie

 

Volgens berigte in die media het President Cyril Ramaphosa vroeër die maand in Durban gesê dat Suid-Afrikaners “boodskappers” moet wees en die ANC-regering se goeie storie vertel in plaas daarvan om die land te “sleg te praat” sy woord soos aangehaal was “badmouth”.

 

Volgens Ramaphosa word die model vir hierdie vorm van patriotisme in China toegepas. Weer die media se Engelse aanhaling “Almal moet 'n boodskapper wees. Ons moet soos China wees. In China is byna almal 'n boodskapper - elke Chinees is 'n boodskapper vir hul land, hulle praat nooit oor hul eie land nie. Moet nooit jou land slegpraat nie,” het hy gesê.

 

Dalk het die president die kat aan die stert beet oor China. ‘n Voormalige Hoë Kommissaris van die Verenigde Nasies vir Menseregte het haar verslag oor Xinjiang ʼn streek in China vrygestel en tot die gevolgtrekking gekom dat die misbruik in die streek “misdade teen die mensdom kan uitmaak”. Die Human Rights Watch skryf dat onderdrukking al meer voorkom in China. Die HRW verwys dan ook onder andere na die Covid tydperk waar daar in sommige gevalle doringdraad, metaalstawe en groot versperrings gebruik is deur amptenare om te verhoed dat mense hul huise verlaat.

 

Amnestie Internasionaal is dalk meer krities oor China en sê die Chinese regering het voortgegaan om kritiek op sy beleid en optrede en bespreking van onderwerpe wat as sensitief beskou word te smoor deur toenemend deurdringende aanlyn sensuur. Kritici van die regering, menseregte aktiviste, pro-demokrasie-aktiviste en godsdienstige leiers as onder diegene wat aan arbitrêre arrestasie en aanhouding onderwerp is, volgens Amnestie Internasionaal. Sistematiese onderdrukking van etniese minderhede in Xinjiang en Tibet gaan voort. Joernaliste, uitsaaiers en boekuitgewers was onder diegene wat ingevolge die Nasionale Veiligheidswetgewing en ander onderdrukkende wetgewing vervolg en gevange gehou is, terwyl burgerlike organisasies in Hongkong en in die buiteland kriminele aanklagte of teistering vir wettige aktiwiteite in die gesig gestaar het.

 

Dit is dalk ʼn onheilspellende verwysing van pres. Ramaphosa na China want Chinese word nie toegelaat om oor hulle land te praat nie, en beslis nie krities te wees nie. Is dit Suid-Afrika se voorland as dit die president se versugting is?

 

As ons pres. Ramaphosa dan korrek verstaan moet ons dalk die kragkrisis goedpraat deur eerder te verwys na dat Suid-Afrika so gelukkig is dat ons slegs Fase 6 beurtkrag het en nie Fase8 nie. Suid-Afrikaners is ook gelukkig dat ons slegs 68 moorde ʼn dag het en nie meer nie. Ons kon die eerste plek beklee het as die land met die meeste moorde, maar gelukkig is Jamaika ons een voor. Suid-Afrika is dus tweede. Dit is inderdaad goeie nuus.

 

Dan is Suid-Afrika nie op die top 20 land van 137 lande in die wêreld wat gelukkigheid aanbetref op die World Happiness Index nie. Ons is ook nie in die twintig slegste lande nie. Ons is darem in die 85e plek en voor ons op die indeks is die burgers van Algerië (81) Viëtnam (65) en die Russiese Federasie (70e) Dit is seker goeie nuus dat die Russe gelukkiger is as ons.   

 

ʼn Paar jaar gelede het die teoloog, wyle dr Nico Smit onder andere geskryf: “Ons het geen keuse nie as om lojale Suid-Afrikaners te word en te vergeet van ons minderheidsregte, ons taal en kultuur, ons aansprake op die beëindiging van regstellende aksie en die herinstelling van die doodstraf.”

 

Dit is min of meer die strekking van Ramaphosa se verwagting. Vergeet die geneigdheid tot kritiek en strewe eerder daarna om lojale kaders van die ANC en napraters van regeringsbeleid te wees.

 

Ons wil glo die meerderheid Afrikaners en Suid-Afrikaners lojaal is aan Suid-Afrika. Lojaliteit aan Suid-Afrika en lojaliteit aan die ANC en regeringsbeleid is wêrelde van mekaar geskei.

 

Daar kan nie sprake wees van dislojaliteit aan Suid-Afrika as die regerende party gekritiseer word oor swak dienslewering nie. Net so kan daar nie sprake wees van dislojaliteit aan Suid-Afrika as Suid-Afrikaners bepaalde grondwetlike regte opeis nie.

 

Dalk moet daar anders na die saak gekyk word. Miskien is iemand wat wel ‘n lojale Suid-Afrikaner is wel ‘n persoon wat in ‘n suksesvolle en veilige Suid-Afrika kan woon en werk. ‘n Lojale Suid-Afrikaner is iemand wat sy of haar kundigheid aanwend tot voordeel van Suid-Afrika en die geleentheid kan kry om dit te doen en nie as gevolg van regstellende aksie ontneem word daarvan nie. ‘n Lojale Suid-Afrikaner is iemand wat onderrig in sy taal ontvang en in sy taal kan skryf en praat oor die land en sy mense en nie sy taalregte ontneem word nie, ‘n lojale Suid-Afrikaner is iemand wat konstruktief krities wil meehelp om dienslewering te bewerkstellig. ʼn Lojale Suid-Afrikaner is iemand wat inspring en slaggate regmaak en waterpompe herstel in gebroke munisipaliteite.

 

Kritiek op die regering en op regeringsbeleid is gesonde beginsels van enige demokrasie en het niks met dislojaliteit te make nie. As daar na swart en wit kommentators geluister word is die regering die probleem. Slegte nuus is nie gewone Suid-Afrikaners se maaksel nie. Ondeurdagte beleidsraamwerke en die verknogtheid aan uitgediende ideologieë wat deur onbevoegde en oorbetaalde kaders uitgevoer moet word, is die teëlaarde vir slegte nuus.

 

Slegte nuus het sy oorsprong in staatskaping en ongebreidelde korrupsie. Slegte nuus floreer as staatsentiteite nie die mas opkom nie. Slegte nuus word gegenereer deur politici wat slegs na hulle eie selfsug en belang kyk. Dit is inderdaad slegte nuus as die prioriteit die beskerming van die einste politici is en gewone Suid-Afrikaners vermoor en beroof word en aan eie genade oorgelaat word. 

 

Goeie nuus is as ons vir een keer in die donker om ons ʼn wêreldbeker kan wen en dat dit ons verenig. Ons ervaring is dat die meeste Afrikaners met oorgawe en entoesiasme lojaal is aan Suid-Afrika. Pres. Ramaphosa se skeefgetrekte definisie van lojaliteit is egter misplaas en mag nie verwar word met gedienstigheid nie. 

 

Mark Twain het immers gesê: “Wees altyd lojaal aan jou land, wees egter lojaal aan die regering wanneer dit verdien word.” Moet daarom nie verwag dat Suid-Afrikaners boodskappers van die ANC se goeie nuus storie moet wees nie, want daar is eenvoudig nie goeie nuus nie.

 

Moet nie dat die kaders die gees van Kersfees ook steel nie

 

Dit is nou ʼn tyd waarin mense so stadigaan begin voorberei vir ʼn welverdiende rus en vakansie en waarin ons ook in die gees van die naderende Kerstyd ʼn meer positiewe gemoed moet hê.

 

Dit is egter nie meer so eenvoudig nie. Mens is sinies oor die trant van boodskappe en rassehaat op X (Twitter). Pas het die Nasionale Raad van Provinsies die wetsontwerp aangeneem oor die Nasionale Gesondheidsversekering, ons is Fase 4 van beurkrag en weet nie of dit erger of beter gaan raak nie. Ons hoor van sluipmoorde op politici in Natal en besigheidsmense in Johannseburg. Lewenskoste is hoër terwyl ons hoor ons moet die belt intrek. Dan hoor ons feitelik daagliks van die rojale lewe van politici en staatsamptenare. Om ʼn wedstryd van die rugbywêreldbeker by te woon, bly vir die meeste van ons net ʼn droom, maar vir ʼn amptenaar wat ons minister van Polisie op ʼn geborgde besoek vergesel het na die eindstryd, is vinnig amper ʼn halfmiljoen Rand betaal.

 

Enkele dae terug staan ek en wag geduldig op die N1 by die William Nicol Afrit in Sandton (Volgens die aanwysings op die snelweg is dit nog die naam) maar deesdae is dit Winnie Mandela afrit. Dit is beurtkrag en almal wag geduldig hulle beurt af om oor die kruising te kom by die afrit want die verkeersligte werk nie. Van agter kom daar sirenes en blou ligte. Dit is die presidensiële kavalkade van nagenoeg 8 luukse motors en net soveel motorfietse wat deur die verkeer vleg en mense afdruk, want President Ramaphosa moet by ʼn afspraak kom. Hy ervaar dus nie die gevolge van beurtkrag soos ons nie.

 

Midde in swak dienslewering, ʼn falende staat, toenemende misdaad, beurtkrag op die hoogste en langste vlakke nog en korrupsie waarvan die omvang nie meer wenkbroue laat lig nie, spreek adjunk President Paul Mashatile die Nasionale Raad van provinsies op Dinsdag 5 Desember 2023 toe en sê dat hy onomwonde die feit kan stel dat Suid-Afrika onder ʼn ANC administrasie veel beter daaraan toe is as 29 jaar gelede – met ander woorde voor 1994. Ons mag dalk nou ʼn brose vorm van demokrasie hê, anders as voor 1994 maar die adjunk president voer die verkeerde argument. As dit nie vir die ANC, regering met al die gebreke en mislukkings was nie, was Suid-Afrika vandag op ʼn veel beter plek. As dit nie vir uitgediende beleidsopsies was nie was daar meer en groter investering en werkskepping. Ons sien vandag die teendeel. Groot maatskappye wat moedeloos opgee en nog meer werksverliese is op hande. 

 

Daar is wel ligpunte -  Mavuso Msimang van die ANC veterane kondig sy bedanking na 60 jaar uit die ANC aan en ons kan gerus kennis neem van sy dwarsklappe na die ANC: Hy sê onder meer “Soos ANC-leiers in die openbaar eienaarskap neem van obseen ryk herehuise en ander besittings en dit verkondig, hulle kinders word na die beste skole in die land gestuur, terwyl daar nog steeds baie Suid-Afrikaners is wie se kinders nog steeds blootgestel word aan die risiko om in putlatrines in swak toegeruste openbare skole te val en ʼn gruwelike en ʼn vernederende dood te sterf. Daar is kinders in landelike gebiede wat klasse mis wanneer strome en riviere in vloed is omdat daar nie brûe is nie.”

 

Dan maak Msimang die belangrike punt: “Jy hoef nie te diep te delf om te ontdek dat die meeste van die land se mislukkings gekoppel word aan korrupsie iewers in die stelsel, 'n tender wat nooit toegeken moes word nie, 'n werk wat aan 'n beter gekwalifiseerde meer verdienstelike en minder faksie-gebonde persoon moes gegaan het, Dit gebeur op die wagbeurt van die ANC-regering.” Dit is ʼn ernstige aanklag teen die ANC leierskap en die ANC regering. 

 

Vroeër verlede week woon ek ʼn vergadering by van ʼn klompie organisasies wat beplanning doen rondom verkiesing 2024. ʼn Swart man wat ʼn nie-regeringsorganisasie verteenwoordig staan aan die einde op en maak opmerkings met die volgende strekking. Dit is goed dat wit mans weer betrokke is. In die laaste dekades was dit volgens sy waarneming al meer die geval dat wit mans teruggetrek en onttrek het uit die openbare diskoers. Wanneer hulle wel betrokke was is hulle deur politici geskel as rassiste en is die albatros van apartheid om hulle gehang. In stede daarvan om in argument te tree, het wit mans dus eerder onttrek uit die diskoers en so is die ruimte geskep vir korrupsie en staatskaping. Sy versoek is neem deel aan die openbare diskoers en wees betrokke.

 

Dit is dalk ons boodskap vir Kerstyd en 2024. Suid-Afrika kan veel beter wees as sy volle potensiaal aangegryp en ingespan word. Ons teenwoordigheid in die land is belangrik. Ons deelname en betrokkenheid word verlang deur mede Suid-Afrikaners. Al is ons selfs soms moedeloos en negatief moet ons weet dat die gety gaan draai.

 

In die woorde van die teoloog, wyle ds Attie Beetge.  “Daarom kan jy vandag moed skep. God het gekom in die krip van jou hart en huis. Hy maak daarvan ’n paleis sodat Hy deur sy Gees altyd in jou sal wees. So ’n Kersfees wil ons vir jou toewens:

’N KERSFEES MET NUWE HOOP!”

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: