Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Kersfees Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Desember 2023

Oordenking: Doen mee, maar onthou...

 

Deur ds. Johan Botes

Emeritus-leraar

Prins Albert

 

Kersfees is vir die Christelike samelewing ‘n belangrike deel van die jaarlikse kerksiklus. Alles bou op tot die punt waar families of sommer net vriende, saam kom, saam eet en saam geniet.

 

Miskien het my gebruik van die woorde ‘Christelike samelewing’ u ook opgeval. Want is dit dan nie waar nie, as die begrip Christelik aan iets gekoppel word, is dit nog lank nie te sê dat die sentrale figuur van Kersfees, Jesus, wel nog die sentrale plek inneem nie. 

 

Is dit nie juis die probleem ook in ons tyd nie? Tussen blink papierbehangsels en snuisterytjies en ‘n kersvader met ‘n wolbaard in ons snikhete klimaat deur, ontstaan die vraag of ons nog reg ingestel is op die werklike betekenis van Kersfees.

 

Jesus is immers die man van die kruis. Hy is die Christus wat deur die dieptes van helse smarte heen vir ons ‘n nuwe lewe oopgebreek het. Daarvan getuig die latere leë graf en die uitroep van die vrou met die waterkruik (Joh 4): “Kom kyk … Is Hy nie miskien die Christus nie?” Wat ‘n kersfees-oomblik! En die rede vir haar uitroep? Hy weet dan alles van my af!, laat sy blyk.

 

Die Deense wysgeer-filosoof-teoloog Soren Kierkegaard het in sy felle stryd teen die verburgerliking van Jesus en sy nalatenskap, daarop gewys dat daar altyd die gevaar is dat die naam Jesus nog by mense bekend mag wees, maar dat hulle Hóm eintlik nie werklik ken nie. Dat hulle nog meedoen aan ‘n soort kulturele kersfeesvrolikheid, ja, maar lank nie meer doen soos hy geleer het nie, lank nie meer onthou waarom dit gaan nie!

 

Juis daarom sê die apostel Paulus in die Woord van God, “Herinner die mense…” (Titus 3:1). Waaraan? Allereers hoe ‘n lewe en gemeenskap lyk wat deur verwording in chaos gedompel word. Gesag word afgetakel, gehoorsaamheid op verskillende vlakke verdwyn, mense byt en verskeur mekaar, letterlik en figuurlik. Kwaadwilligheid en jaloesie is aan die orde van die dag. Die daaglikse lewe word gevul met ‘n seksualisme, en in ons tyd sien ons al hoe meer gedryf deur ‘n verkapte vorm van liefde. In ‘n soort opsomming sê Paulus: “… ons was haatlik en het mekaar gehaat.” (Titus 3:3)

 

En toe? Toe word dit KERSFEES, herinner Paulus hulle. Toe verskyn die goedheid van God ons Verlosser en sy onblusbare liefde vir hierdie deurmekaar wêreld. Hy wis die ou dinge uit. Hy verlos ons. Ook vir my en jou. Soos ook vir die sogenaamde verlore seun (Luk 15). Van veraf sien sy pa hierdie verloopte kind toe hy koers kry terug huis toe. Sy pa kry hom innig jammer. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom, soen hom. En toe die terugkerende seun nog wou jammer sê en oor sy sonde wil praat en bely, begin sy pa al met feesviering, want sy kind is terug. “Vroeër” is verby, die ou dinge is verby. Dis Kersfees! Christusfees!

 

So is God. Nie wat ons doen of sê nie. Hy spreek ons vry, “voor ek kon kies, kon vra/het u seun my vloek gedra” (Liedboek 190:2). Soos die son se opkom nie afhanklik is van ons invloed nie, so maak God ons vry, onafhanklik van ons. Die ware, die primêre betekenis van Kersfees, is opgesluit in dit wat deur die Heilige Gees in die hart van ‘n enkeling gebeur.

 

Ek vertrou dat u oor hierdie sogenaamde Groot Dae, soos vorige geslagte dikwels gepraat het, ruimskoots sal meedoen en mekaar se teenwoordigheid sal geniet.

 

Maar…, te midde van gemoedelikheid, vergeet tog nie vir ‘n oomblik nie, dat Jesus na die wêreld gekom het, God se seun, nie om so ‘n bietjie variasie aan ons samelewing te gee nie, maar om die harte van mense persoonlik en radikaal te verander en te vernuwe. Só te verander dat die hele lewe en gemeenskap rondom ons deur sy kinders na God se beeld hervorm kan word. En ons selfs in ons geknelde land, “ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël” (DJ Opperman, Gebed om die gebeente).

 

Ek herinner julle, liewe vriende van die Afrikanerbond, 

doen dan mee in hierdie dae, maar onthou ook...!

 

Geseënde Kersfees! 

 

Ds Johan Botes

Emeritus-leraar

Prins Albert 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: