Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Junie 2021

Leierskap: Oor ou ooms en hul hoede


Die 60ste herdenking van Suid-Afrika se Republiekwording (1961-2021) word gepas deur die Erfenisstigting gevier met ‘n uitstalling van skilderye en borsbeelde van presidente en premiers wat voor 1994 in die Uniegebou was. Die Presidente en Premiers-uitstalling kan in die komende maande besigtig word by die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument. Tydens die opening van die uitstalling oor Afrikaner-leiers op 31 Mei 2021 is die volgende treffende boodskap gelewer wat ons graag in die AB Nuusbrief plaas. 

 

Deur Prof. Danie Goosen

Voorsitter van die FAK

 

Jare gelede het ek myself as ‘n jong kannetjie verstom oor ‘n pragtige gewoonte wat destyds nog deur ‘ou ooms’ beoefen was. Ongelukkig is dit ‘n gewoonte wat met die jare saam met die ou ooms in die agtergrond verdwyn het. Vandag is dit nog net ‘n vae herinnering.

 

Na watter gewoonte verwys ek? Wanneer ou ooms destyds in die openbaar verskyn het, het hulle dikwels nie net ‘n volle pak klere aangehad nie, maar ook ‘n hoed op die kop. Met pak klere en hoed het hulle gesorg dat hul verskyning in die openbare lewe met die nodige beskaafdheid en respek vir andere geskied.

 

Die gewoonte waarna ek verwys – en ek sien dit nou nog in my geestesoog in die strate van die ou Johannesburg en Pretoria – was die ou ooms se gebruik om, wanneer hulle by bekendes verbystap, daardie hoed so effens te lig en dan weer op sy plek terug te sit. Selfs wanneer hulle kinders gegroet het, het hulle afgebuig, met die een hand gegroet terwyl die ander hand terselfdertyd die hoed gelig het.

 

Nou, nie almal is vandag noodwendig vol bewondering en selfs liries oor die destydse gewoonte van die ou ooms nie. Inteendeel, vandag word ‘n donker skaduwee oor die verlede en in die besonder oor die ou ooms van weleer gegooi.

 

Alvorens ons egter die kritiek hanteer, wil ek na twee begrippe verwys wat in die agtergrond van die ou ooms se hoed-lig-gewoonte gelê het. Dit is die begrippe ‘gesag’ en ‘respek’.

 

Eerstens die begrip ‘gesag’. Ons kan sê dat die hoede van die ou ooms ‘n simbool was van die feit dat hulle die draers van ‘n bepaalde gesag was. Waaraan het die ou ooms hul gesag ontleen? Hulle het hul gesag nie net aan die blote feit van hul hoër ouderdom ontleen nie, alhoewel hul gesag gewis ook ‘n funksie daarvan was. Hulle gesag was in die besonder iets wat toegeskryf kan word aan die feit dat hulle ‘n lewe van deelname en in die besonder van diens gelei het – deelname en diens aan dinge soos hul familie, skool, kerk, plaaslike gemeenskap, universiteit, teater, kuns, musiek, ekonomie en besigheid, wet en orde, goeie regering, die militêre verdediging van die vaderland, ens.

 

Kortom, hul gesag was ‘n funksie van ‘n lewe gedefinieer deur hul deelname en diens aan dinge wat groter as hul eie individuele belange was. Die hoede wat hulle gedra het, was ‘n uiterlike simbool van die gesag wat hulle innerlik gekenmerk het.

 

Ons lewe in ‘n era van gelykheid. In so ‘n era is daar ‘n geneigdheid om gesag van welke aard ook al met agterdog te bejeën. Gesag is per definisie verdrukkend, patriargaal, koloniaal, ensovoorts, word gesê. In die aangesig van die ooms met hul hoede verkrummel hierdie agterdog egter. Ondanks die klem op gelykheid weet ons dat die gesag van figure soos die ou ooms onontbeerlik vir ‘n goeie lewe is (dit wil sê ‘n geordende, wetsgehoorsame en deugdelike lewe). Ons eer die gesag wat ons ou ooms uitgestraal het. Daarsonder sou ons lewe veel armer gewees het.

 

Ironies gemoeg is hierdie waarheid ook op diegene van toepassing wat so teen gesag te velde trek. Ondanks hul sogenaamde afkeur in gesag van welke aard ook al eien hulle vir hulself dikwels tirannieke, totalitêre en moorddadige gesag toe. Elke linkse totalitêre bewind van die afgelope eeu is in naam van gelykheid tot stand gebring. Gelykheid is die slagspreuk van diegene wat ongelykheid met ongeduld op almal afdwing.

 

Dit bring ons by die tweede begrip, naamlik ‘respek’. Met die lig van die hoed vir andere het die ou ooms getoon dat hul verhouding met hulle – die andere – deur respek gekenmerk was. In die lig van die hoed is diegene wat in die ontvangkant daarvan was in ag geneem en in sy of haar uniekheid erken. Diegene wat so gegroet is, is nie onverskillig verbygegaan nie. In die woord ‘respek’ lê die betekenis opgesluit van om nie net te kyk nie (afgelei van spectare), maar om letterlik weer te kyk (re-spectare) – om die andersheid van die persoon met die weer-kyk regtig raak te sien en te respekteer.

 

Die twee begrippe – gesag en respek – staan nie by die ou ooms los van mekaar nie. Inteendeel, hulle vooronderstel mekaar. Die gesag waaroor hulle beskik het, was nie ‘n arbitrêre gesag wat hulle na willekeur oor andere uitgeoefen het nie. Hulle het nie andere met hul gesag geboelie of gepoog om ‘n brute mag oor hulle uit te oefen nie. Inteendeel, hulle gesag oor andere is deur die respek begrens wat hulle vir andere gehad het. Hulle gesag was ‘n respekvolle gesag.

 

Bogenoemde opmerkings bring my by die skilderye en beelde van Afrikaner-leiers uit die verlede wat hier ten toon gestel word. Ons gaan van die standpunt uit dat dié leiers na analogie van die ou ooms met hul hoede verstaan kan word. Trouens, ons leiers was ook ons ou ooms. Talle van hulle – indien nie die meeste nie – het ook hoede gedra. (Ek weet eintlik nie van een van hulle wat nie hoed gedra het nie).

 

En soos die ou ooms was die leierskap van ons leiers ook deur die samespel tussen gesag en respek gekenmerk. Ook hul gesag is deur respek begrens. Kom ons staan ‘n bietjie nader hierby stil.

 

Vandag woed daar ‘n hewige ideologiese stryd in die agtergrond van my opmerkings oor die ou ooms en ons leiers. Roger Scruton, konserwatiewe denker, het reeds jare gelede ‘n boek gepubliseer met die titel “Die Weste en die Res”. Daarin skets Scruton die grondtrekke van die ideologiese stryd wat vandag ook in ons eie wêreld woed. Ingevolge die spanningslyn tussen die Weste en die Res val die ganse werklikheid uiteen in die stryd tussen die sogenaamde bose, kolonialistiese en rassistiese Weste en daarenteen die goeie, onskuldige en vreedsame Res. Laasgenoemde word sonder meer as die slagoffer van die bose en gewelddadige Weste voorgestel.

 

Ingevolge die ‘goed versus kwaad’-skema word ons leiers ingedeel by die magte van die bose. Ons leiers was boos. Diegene wat hulle teengestaan het (soos enkele Afrikaners wat kommuniste was) was daarenteen goed. Dit ondanks die enorme geweld, verdrukking en smart waartoe die kommunisme aanleiding gegee het.

 

Die geskiedenis rig altyd uitdagings aan ons. Ongelukkig stem die woord ‘uitdaging’ sommige tot moedeloosheid. Dit is egter die verkeerde reaksie. Uitdagings bied enorme geleenthede aan ons om met verbeeldingryke denke en dade vorendag te kom. En op die uitdagings te antwoord. ‘n Antwoord op die uitdagings gaan dikwels gepaard met ‘n verlewendiging van die eie. Sonder uitdagings loop ons die risiko om in die middelmatige te versink.

 

Ons leiers uit die verlede is ‘n goeie voorbeeld. Tydens die 20ste eeu het Afrikaners voor talle ernstige ekonomiese, sosiale en politieke uitdagings te staan gekom. Die antwoord wat Afrikaners onder die leierskap van die ou ooms gegee het, het met bykans onvergelykbare prestasies op elke terrein van die lewe gepaard gegaan. Gryp die uitdagings aan, lui die positiewe boodskap van ons leiers.

 

Te midde van die talle uitdagings waarvoor ons vandag te staan gekom het, is die stryd om idees een van ons grootste uitdagings. Om dit tot ‘n enkele vraag in te kort: Hoe antwoord Afrikaners op die ideologiese ‘goed versus kwaad’-skema wat op ons leiers en ons geskiedenis oorgedra word? ‘n Geloofwaardige antwoord (wat histories, rasioneel en eties goed begrond is) is vir ons as selfrespekterende kultuur-gemeenskap lewensnoodsaaklik.

 

Nou, daar is natuurlik verskillende teoretiese en praktiese wyses waarop ons deur die ‘goed versus kwaad’-skema kan breek. In plaas daarvan om daarna te verwys, wil ek eerder in aansluiting by die verhaal hierbo weer terugkeer na ons ou ooms. Uit ons gewone ervaring weet ons dat hulle nie in genoemde skema pas nie. Inteendeel, uit ons ervaring weet ons dat daar ‘n diep onreg aan hulle gedoen word wanneer hulle aan dié skema onderwerp word.

 

Ter motivering verwys ek weer na die samespel tussen gesag en respek waarby ons vroeër stilgestaan het. Soos ons ou ooms in die algemeen was ook ons leiers – en dit weet ons uit ons gewone ervaring – deur hierdie samespel gekenmerk.

 

Volgens die ideologiese ‘goed versus kwaad’-vertolking was die gesag en respek wat ons leiers gekenmerk het boosaardig. Die gesag waaroor hulle beskik het, was ‘n despotiese, tirannieke en gewelddadige gesag; tegelyk het hulle geen respek vir andere gehad het nie. Andere is eerder na willekeur (klaarblyklik in ooreenstemming met ons leiers se brute magsbelange) gehiet en gebied.

 

Maar is dit so? Wat sê ons gewone ervaring? My bedoeling met die opmerkings is glad nie om enigeen van ons leiers te verskoon nie. As mense het hulle in ooreenstemming met die insigte van hul eie tyd gehandel, en ook in die proses – agterna geoordeel – foute gemaak. Daarvoor kan en moet hulle tereg gekritiseer word. Trouens, daar is – te midde van die uitstekende werk van ‘n historikus soos prof. Hermann Giliomee – steeds ‘n groot behoefte aan ‘n gebalanseerde kritiese beoordeling wat nie deur die ‘goed versus kwaad’-skema gekenmerk word nie.

 

Maar goed, was hulle boos? Die ervaring van ons eie mense verskil op ‘n wesenlike wyse daarmee. En behoort ons eie ervaring nie ‘n rol te speel in die beoordeling van ons leiers nie? Dit sou tog absurd wees om dit nie in die beoordeling van ons leiers in ag te neem nie.

 

Ter wille van ‘n voorbeeld kan na bykans elkeen van ons leiers verwys word. Omdat Dr Hendrik Verwoerd in die oë van kritici sowel wat gesag as respek betref die samevatting van alles wat boos was, verwys ek net kortliks na hom. Dr. Verwoerd is miskien die mees omstrede voorbeeld van al ons leiers. Volgens die kritiese oordeel het dr. Verwoerd nie net ‘n tirannieke gesag uitgeoefen nie, maar sy verhoudinge met andere is ook deur disrespek jeens hulle gekenmerk.

 

Kom ons kyk eerstens na die kwessie van gesag. Dr. Verwoerd was bekend vir die persoonlike gesag wat hy uitgestraal het. Vanuit eie geledere is hy soms daaroor gekritiseer. Dr. Verwoerd was intellektueel almal se meerdere, met die gevolg dat daar nie veel ruimte vir verskille met hom was nie, lui ‘n bekende beswaar. Prof Giliomee gee onder meer in sy gebalanseerde kritiek aandag hieraan. Maar wat ook al die geldigheid van dié kritiek is, is die vraag steeds of sy gesag ‘n tirannieke, despotiese en gewelddadige gesag was. Die antwoord is ‘n duidelike ‘nee’ – veral as die eerstehandse ervaring van mense graadpleeg word wat jare saam met hom gewerk en hom baie goed geken het.

 

Mnr. Fanie Botha, jonger kollega van Verwoerd en self ‘n latere kabinetslid, laat hom soos volg oor sy gesag uit:

 

Mense wat nie weet waarvan hulle praat nie, beweer soms dat Dr. Verwoerd ‘n soort diktator was wat sy wil op andere afgedwing het. Daar is ‘n aansienlike verskil tussen ‘n diktator en ‘n man soos dr. Verwoerd. Hy was ‘n sterk leier en hy het ‘n oorredingsvermoë gehad wat ek nog nooit by enigiemand anders gesien het nie. ‘n Man moes goed gewees het as jy met hom wou redeneer... Maar hy was altyd bereid om na ander te luister en het sy eie standpunt altyd vriendelik gestel. Daar was ‘n merkwaardige verhouding tussen hom en sy mense. Dr. Verwoerd het nooit in die kabinet opgestaan om te praat nie, of daardie koukus het soos een man opgestaan en hom toegejuig.

 

Tot sover die kwessie van gesag. Maar wat van die respek vir andere? Uit die aanhaling kan reeds afleidings daaroor gemaak word. Maar spesifiek met betrekking tot die swart gemeenskappe in die noorde van die land skryf mnr. Botha in dieselfde herinnering oor die verering wat hulle vir dr. Verwoerd gehad het:

 

Ook onder die swart mense was daar ‘n verering vir dr. Verwoerd. Onder die volke van Noord-Transvaal: die Sotho’s, Sjangaans, Venda en Tsonga het hy reusagtige gehore toegespreek. Hulle kon nie “Verwoerd” sê nie. Die nuus het versprei: “Velvoet kom!” Dan het hulle van heinde en verre opgeruk om na hom te luister. Hy het eenvoudige taal gebruik, in hul eie idioom, wat maklik getolk kon word.

 

Talle soortgelyke voorbeelde kan nog aangehaal word van swart gemeenskappe in ander dele van die land. Ons mag vandag die respek wat Dr. Verwoerd vir die swart gemeenskappe getoon het as ouwêrelds beskryf. Dit neem egter nie die feit weg dat dit respek in die ware sin van die woord was nie. Daarom ook die verering waarmee hy vanuit swart geledere oorval is.

 

Nou, ek aanvaar dat die ervaring van selfs by verre die meerderheid van swartmense vandag nie hiermee ooreenstem nie. En ek het begrip daarvoor. Die kritiese vraag is egter of die ervaring van die meerderheid die enigste norm in die beoordeling van ons leiers is. Wat van ons eie ervaring? Moet dit nie ook gehoor word nie? As daar werklik sprake van geregtigheid in hierdie land is, behoort die wyduiteenlopende ervarings van sowel die meerderheid as ‘n minderheid soos die Afrikaners gerespekteer te word. Om slegs na een groep se ervaring te luister en dit selfs as die norm vir almal uit te roep, beteken om die wese van geregtigheid aan te tas. Veral as met ‘geregtigheid’ bedoel word dat elkeen tot sy of haar reg moet kom. Presies soos wat geregtigheid vanaf die Klassieke tydperk verstaan is.

 

Met hierdie enkele opmerkings oor ons leiers het ons aan die einde gekom. Teen die agtergrond van wat ons eie ervaring oor hulle vertel, het ons vandag rede om diep dankbaar oor ons leiers te wees. Die wyse waarop hulle in en deur hul lewe inhoud aan die begrippe gesag en respek gegee het, is vandag steeds vir ons ‘n voorbeeld. Soos hierbo gesê, dit is ‘n gesag wat deur ‘n diep respek gekenmerk is vir diegene aan die ontvangkant daarvan. Met hierdie tentoonstelling huldig ons hulle daarvoor.  

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: