Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Februarie 2023

Die volgende skof van die Afrikaner-Marathon


Deur Prof. Koos Malan

 

Die stigting van die AB

Marathonstraat 32, Malvern, Johannesburg. Dit is die plek, herinner professor Ernst Stals in sy omvattende Geskiedenis van die Afrikaner Broederbond ons, waar die Afrikaner Broederbond (AB) op 5 Junie 1918 vir die eerste maal beslag gekry het.

 

Die straatnaam, van die plek waar die eerste lede vergader het, het ʼn ryke simboliek nie net vir die AB nie, maar vir die Afrikanervolk as geheel. Dit is nie Naelloopstaat of iets in dier voege nie, maar Marathonstraat. Die Afrikanergeskiedenis is inderdaad juis ʼn marathon, meer bepaald opeenvolgende marathons. Dit is ʼn lang en moeilike pad.

 

Die voorstad en stad - Malvern, Johannesburg - is net so sprekend. Dit was destyds heeltemal denkbaar en dit presies waarom dit gebeur het – om ʼn Afrikaner-beweging in Johannesburg van stapel te stuur, want groot getalle veral arm Afrikaners moes hulle juis noodgedwonge in Johannesburg en die Witwatersrand vestig. Dit is hier waar Afrikaners aan hulle grootste uitdagings van verengelsing, verarming en veragtering blootgestel is. En dit was gelukkig ook hier waar daar versiendheid en leierskap aan die dag gelê  is om uiteindelik beslissend op die uitdagings te antwoord.

 

Malvern, Johannesburg is vandag natuurlik allermins meer geskik om ʼn groot Afrikaner-inisiatief te begin, want ons situasie het ʼn omwenteling ondergaan. Die volgende skof van die marathon moet nou van elders en op nuwe wyses voorgesit word. En daar moet op ʼn tersaaklike nuwe wyse op die uitdagings van die Afrikanervolk geantwoord word.

 

Die ontluikende Afrikaners van die negentiende eeu

Die ontluikende Afrikaners (oftewel proto-Afrikaners) van die negentiende eeu – “ontluikend” en “proto” want die Afrikanerdom was toe maar in ʼn kritieke en onsekere ontstaansfase.

 

Die uitdaging van hierdie onsekere ontstaan was tweeledig. Eerstens was dit om as ʼn eiesoortige kultuur met sy eie taal self-gedefinieer te word. Tweedens, was dit om selfregering te vestig in plaas daarvan om aan die beskikking van ʼn ander moondheid – die Brits-Kaapse regering - uitgelewer te wees.

 

Dit was ʼn uiters moeilike uitdaging. J du P Scholtz vertel boeiend in sy Die Afrikaner en sy taal die mistroostige verhaal van die verengelsing in die Weskaap. Selfs Nederlandstalige skole se leerplan is hoofsaaklik in Engels voltrek, eredienste in Afrikaanse kerke was dikwels in Engels en selfs in informele sosiale verkeer was dit mode om Engels te praat. Die probleem was dat daar nie werklik Afrikaanse instellings was waardeur die Afrikaanse kulturele toestand beskerm kon word nie. Aan hierdie uitdaging is daar eers beantwoord na die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875 en die Afrikanerbond in dieselfde tydvak.

 

Die Groot Trek het op die tweede uitdaging geantwoord. Die uiteinde daarvan was die stigting van etlike republieke waarvan die hoogtepunt die Republiek van die Oranje Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) was. Daarmee het ʼn kragtige sin vir politieke vryheid en onafhanklikheid – vir selfregering - tot uitdrukking gekom, wat sonder die voorafgaande Groot Trek natuurlik onmoontlik was.

 

Langs hierdie twee weë het die Afrikaners van die negentiende eeu skeppend suksesvol op die uitdagings van hul tyd geantwoord. Die antwoord was egter nie blywend nie. Die ontdekking van diamante en goud het Britse-imperiale hebsug in Transvaal aangewakker en tot die Tweede Anglo-Boereoorlog gelei. Uiteindelik was die oormag net te groot en is die republieke vernietig. So het die era van die Afrikaner van die negentiende eeu ten einde gekom.

 

Die groot eenheidstaat en die Afrikaner van die twintigste eeu

Met die totstandkoming van die Unie in 1910 het die volle omvang van die Afrikaner se uitdaging in die twintigste eeu duidelik geword. Hoe moes ʼn verarmde en opvoedkundig swak toegeruste Afrikanerdom homself in die Engels gedomineerde eenheidstaat en in die aangesig van ʼn groot meerderheid swartmense handhaaf?

 

Die antwoord was deur enorme kulturele, opvoedkundige, maatskaplike, ekonomiese en politieke energie. Dit was ’n boeiende en verwikkelde verhaal waarin talle Afrikaner-instellings oor ʼn breë terrein onder energieke en toegewyde leierskap ʼn rol gespeel het.

 

Afrikaners het hulself opvoedkundig deur eentalige Afrikaanse skole, tegniese kolleges en universiteite opgehef; het met groot moeite uit armoede opgestaan, het kultureel tot die wêreldklas-gehalte gegroei en het toenemend in die landbou, handel, nywerheid, professies en die ambagte presteer.

 

Polities het eers die Nasionale Party van generaal Hertzog en daarna die Nasionale Party van Dr Malan toenemend die leiding geneem. Die Afrikaner het onteenseglik dominant geword. Onder die Nasionale Party het die Suid-Afrikaanse staat magtig geword. Afrikaners het hulself as gedugte bouers van infrastruktuur bewys wat die grondslag vir ʼn uitstekende ekonomie en ʼn goed-funksionerende staat gelê het. Dit was ʼn sonderlinge prestasie wat met die beste in die wêreld vergelyk. In Suid-Afrika kon dit voor daardie tyd en meer bepaald ook daarna, nie naastenby geëwenaar word nie.

 

Dit wat mettertyd as die rassekwessie bekend geword het, het Afrikaners in beduidende mate in samewerking met die blanke Engelstalige deel van die bevolking langs die weg van territoriale segregasie probeer hanteer. Die twee grootste voorstanders daarvan Hertzog en Hendrik Verwoerd.

 

ʼn Mens sou kon bespiegel, hoe geslaagd die beleid dalk kon gewees het, as beduidend groter gebiede reeds in die vyftiger en vroeë sestig vir swart gemeenskappe opsy gesit en tot selfregering en onafhanklikheid gelei is. Dit kon bes moontlik Afrikaner politieke beheer tot diep in die 21ste eeu bestendig het.

 

Feit is egter dat dit nie gebeur het nie en dat plaaslike en buitelandse ekonomiese en dergelike druk teen die blanke minderheidsregering in der mate verskerp het dat die Nasionale Party sy beleid tydens die middel 1980’s laat vaar het. Hermann Giliomee beskryf in sy Laaste Afrikaner Leiers boeiend hoe hierdie proses in die termyn van oudpresident PW Botha afgespeel het en Ernst Stals lig die AB se sienswyse in sy boek oor die organisasie insiggewend toe. In 1994 met die aanvang van die grondwetlike oorgang is die twintigste-eeuse Afrikaner-antwoord van afsonderlike ontwikkeling finaal aan die verlede toevertrou.

 

Die nuwe uitdaging na 1994

Nou het Afrikaners weer soos meer as ʼn eeu en ʼn half tevore en ook aan die begin van die twintigste eeu met wesenlike dieselfde vraag te kampe gehad: Hoe moet Afrikaners hulself kultureel en andersins beveilig nou dat hulle nie meer aan bewind is nie en politieke mag aan die swart meerderheid oorgedra is?

 

Hierdie vraag is gedurende die eerste 10 tot 15 jaar na die grondwetlike oorgang slegs deur enkele Afrikaners gevra, want die meeste was daarvan oortuig dat grondwetlike individuele regte wat as gewaarborg en verskans aangebied is en deur ʼn vermeende onpartydige regbank bereg sou word, die volledige pakket vir beskerming van Afrikaners bied.

 

 Hierdie oortuiging is oor die afgelope dekade en ʼn half algaande as volkome verkeerd bewys. Afrikanerbelange in die onderwys, op arbeidsgebied, in die ekonomiese verkeer, met betrekking tot taal-aangeleenthede en dergelike ander belange is inderdaad nie na behore deur die Grondwet beskerm nie en die Hof het homself as nie-bereidwillig gedemonstreer om daardie belange te beskerm.

 

Bowendien het Suid-Afrika ʼn toenemend onveilige misdaad-geteisterde land geword en het die verval van infrastruktuur so diepgaande en wydlopend geword dat Suid-Afrika in beduidende mate ʼn mislukte staat geword het. Die meganismes van die Grondwet, hoe oppermagtig dit ook al voorgestel word, is eenvoudig nie daarteen opgewasse nie.

 

Soos die eerste en tweede Afrikaner (om die terme van die akademiese hoof van Akademia te gebruik) in die vorige twee eeue op hulself aangewese was om uitdagings die hoof te bied, is die derde Afrikaner nou weer op homself aangewese. Afrikaners behoort weer oor hulself regeer. Dit kan natuurlik nie soos tevore gebeur nie. Om te strewe om oor die hele Suid-Afrika te regeer soos gedurende die twintigste eeu of oor etlike territoriale republieke soos gedurende die negentiende eeu, is nie meer doenbare opsies nie.

 

Dit beteken egter nie dat selfregering van die baan is nie. Inteendeel, om fundamentele belange van jou volk aan iemand of iets anders oor te laat is naïef en onverantwoordelik. Meer bepaald kan dit soos die ervaring die afgelope jare en dekades geleer het, ook nie aan ʼn vermeende oppermagtige dokument toevertrou word nie.

 

Die uitdaging aan Afrikaners in die 21ste eeu

Die antwoord op ons huidige uitdaging is dat Afrikaners opnuut selfregering moet verwerf, weliswaar op ʼn ander wyse as gedurende die twee vorige eeue.

 

Om ʼn konkrete antwoord te kry oor wat ons met betrekking tot selfregering te doen staan, moet ons veral twee vrae beantwoord.

 

Die eerste is die vraag waar Afrikaners hulle bevind en waar hulle getalle kan groei? Sodra ons hierdie vraag beantwoord het, volg die tweede vraag naamlik wat ons daar waar ons is en kan vermeerder kan doen om gepaste selfregerende instellings te ontwikkel?

 

Waar is ons en waar kan ons getalle versterk word?

Die antwoord is dat Afrikaners wesenlik op drie plekke versamel is, naamlik in Pretoria; in ʼn handvol kleiner Afrikaner-gemeenskapsentra; en Orania.

 

Pretoria

Afrikaners het oor die afgelope dekade toenemend in Pretoria versamel. Trouens, daar is aanduidings dat die sogenaamde semigrasie, meer bepaald die Afrikaner-semigrasie sterker na Pretoria as die Weskaap vloei. Dit blyk onder andere uit die feit dat ʼn hele aantal van Pretoria se Afrikaanse hoërskole sterk groei en trouens selfs uit hulle nate bars.

 

Pretoria meld homself dus aan as die sentrum – die stad – wat by uitnemendheid kan dien as die kragbron en enjinkamer vir bykans enige behoefte van Afrikaners as kultuurgemeenskap. Dit is hier waar Afrikaners op die inisiatief van die Solidariteit Beweging reeds oor ʼn goed-funksionerende tegniese kollege (Soltech) beskik en Akademia as Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit reeds sy lewensvatbaarheid bewys. Pretoria bied ook die moontlikheid vir die ontwikkeling van eie Afrikaanse veiligheidstrukture, professionele en ambagsgeleenthede en die verskaffing van dienste van watter aard ook al in Afrikaans aan Afrikaners oor die lengte en breedte van die land.

 

Die groot getal Afrikaners wat in Pretoria versamel is, voldoen derhalwe aan die vereiste van grootskaligheid, waar instellings gebou kan word – en trouens reeds ten dele gevestig is – om aan Afrikanerbehoeftes en belange te kan voldoen, waar Afrikaners ook al mag wees. Jong Afrikaners kan hulself hier in Afrikaans in Pretoria kom bekwaam en natuurlik in Pretoria aanbly, maar hulle kan hulle beroepe in hul omgewings van herkoms of waar ook al beoefen.


Ofskoon Pretoria dus nie die moontlikheid van volledige selfregering vir Afrikaners bied nie, is dit uiters geskik vir om ʼn reeks van instellings te vestig wat Afrikaners oral tot diens kan wees en dus vir die Afrikanervolk van onskatbare waarde kan wees. Dit is daarom gepas om na Pretoria as ʼn ontluikende Afrikanerkanton te verwys.

 

Bes moontlik kan (ʼn) ander versamelpunt/e in die toekoms ook bykomend die rol van kultuurkanton vervul. Tans is dit egter slegs Pretoria wat oor die getalle Afrikaners en die kulturele en dergelike energie beskik om hierdie rol te vervul.

 

Ander beduidende Afrikaner-gemeenskapsentra

Daar bestaan natuurlik ook ʼn aantal ander sentra van Afrikaners waar dit voorsienbaar is dat Afrikaners op die lang duur sal woon en werk en waar daar beduidende energie, geleenthede en fasiliteite met betrekking tot onderwys, veiligheid, mediese en maatskaplike sorg, ekonomiese geleenthede en dergelike fasiliteite dienste en geleenthede sal bestaan.

 

Presies hoeveel plekke dit is, is nog onduidelik, maar ons kan hier na sentra verwys soos die Oosrand, Wesrand, Kaapstad-Boland, George-Mosselbaai, Bloemfontein, Nelspruit, Middelburg, Potchefstroom-Klerksdorp en ander. In hierdie sentra bestaan daar natuurlik ook reeds nuttige instellings, wat trouens ook uitgebou kan word. Hierdie sentra bied egter nie oor die volle pakket van daadwerklike en potensiële instellings as Pretoria om die rol van kultuurkanton te vervul nie. Daar is byvoorbeeld eenvoudig nie genoeg energie en kapitaal om ʼn Afrikaanse tegniese kollege en universiteit en dergelike instellings te onderhou soos in Pretoria nie.

 

Afrikaners in hierdie sentra behels egter steeds belangrike sentra vir kollektiewe Afrikaner-organisering in besonder tot die voordeel van die Afrikaners wat daar woon en werk.

 

Orania

Moontlik mag dit vreemd opval om Orania pertinent hier as een van die drie elemente van ontluikende selfregering te noem. Orania is per slot van sake ʼn gemeenskap waarvan voorsien word dat dit teen die einde van 2023 maar nog (slegs) op ʼn inwonertal van 3000 te staan sal kom. Tog is Orania van besondere belang in die verskaffing van ʼn antwoord op die uitdagings van ons tydsgewrig.

 

Orania groei vinnig in getalle, ekonomiese en kulturele aktiwiteite en instellings soos onderwys. Orania is ʼn volkome Afrikanergemeenskap, wat vir alle praktiese doeleindes oor selfregering oor ʼn beduidende reeks van funksies beskik, wat bowendien uitbrei. Orania doen uiters belangrike ervaring en vaardigheid van doeltreffende politieke selfbestuur op. Orania het reeds die toonaangewende streeksdorp in sy omgewing geword. Orania onderhou gesonde betrekkinge met tersaaklike regeringsinstellings en dergelike staatsorgane. En bowendien geniet Orania groeiende steun onder Afrikaners namate dit as ʼn sukses bewys word.

 

Die kern van die saak is dat Orania die een sentrum is, wat danksy al die pas genoemde faktore tot ʼn (bykans) volkome polities en andersins selfregerende Afrikaner-sentrum kan groei.

 

Aaneengeskakel / federerend

Die drie stelle sentra – Pretoria, ander beduidende Afrikanersentra en Orania - is natuurlik nie van mekaar geïsoleer nie. Soos reeds uit die bespreking van die Pretoriakanton geblyk het, behoort hierdie drie soorte Afrikanersentra mekaar by te staan in die beste belang van die Afrikanerdom in die geheel, waar Afrikaners hulle ook al mag bevind. Hulle is ineengeskakel en hulle federeer dus en staan dus getrou teenoor mekaar. Die begrip trou of getrouheid neem ons juis weer terug na die oorspronklike Latynse basis van die woorde federasie en federeer.

 

Daarmee staan ons natuurlik nie ongeërg teenoor Afrikaners buite enige van hierdie sentra nie. Inteendeel, die drie gemelde soorte sentra is juis ook tot hulle diens en staan oop as opsies vir Afrikaners buite hierdie sentra.

 

As Afrikaners staan ons natuurlik nie verwyderd van ander nie-Afrikanergemeenskappe nie. Inteendeel, ons reik graag uit en werk graag saam tot ons gemeenskaplike voordeel, soos Afrikaners trouens van oudsher gedoen het.

 

In die derde dekade van die 21ste eeu raak dit opnuut glashelder dat ʼn Afrikaner-toekoms sonder selfregering nie moontlik is nie. Langs die weg van die Pretoria-kultuurkanton, die ander beduidende Afrikaner-gemeenskapsentra en ʼn ontluikende selfregerende Orania word dit ook duidelik watter weg ons nou moet inslaan. Dit is die volgende skof van ons Afrikaner-marathon.

 

  • Koos Malan is ʼn konstitusionele juris. Hy is tans ʼn genoot van die Sentrum vir Konstitusionele Dinamika van Sakeliga in Pretoria.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: