Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Junie 2023

Swak leesvaardighede is 'n simptoom van 'n onderwysministerie sonder begrip


Deur dr. Jaco Deacon

Uitvoerende hoof: FEDSAS


 In dieselfde week wat dit aan die lig gekom het dat 81% van graad 4’s in 2021 nie met begrip kon lees nie, het dit duidelik geword dat die Nasionale Departement van Basiese Onderwys ook nie begrip het van die omvang van die uitdagings wat onderwys in Suid-Afrika in die gesig staar nie.

 

Die Minister van Basiese Onderwys se begrotingstoespraak is ’n rooi lig vir die onderwyssektor. Daar is geen toekomsvisie nie, en dit terwyl die gesaghebbende PIRLS-studie aandui dat ons ’n dekade van vooruitgang verloor het. Die vyfjaarlikse peiling oor die vordering in internasionale leesvaardighede (PIRLS) wys dat leesvaardighede teruggeval het na die 2011-vlak.

 

Wat presies is PIRLS?

PIRLS (vordering in internasionale leesvaardighede) is 'n onafhanklik geadministreerde, nasionaal verteenwoordigende assessering van leesbegrip onder 'n steekproef van Graad 4-leerders in Suid-Afrika. Suid-Afrika het vier keer aan PIRLS deelgeneem (2006, 2011, 2016 en 2021). Die toetse word deur die Internasionale Vereniging vir die Evaluering van Opvoedkundige Prestasie (IEA) opgestel en in Suid-Afrika geïmplementeer deur die Sentrum vir Evaluering en Assessering (CEA) by die Universiteit van Pretoria. Die toetse is vergelykbaar oor tyd en tussen lande, met alle toetse wat vertaal word na die amptelike tale van elke land. Daar het 57 lande aan die toets deelgeneem. In Suid-Afrika word al 11 tale getoets met 12 426 leerders uit 321 primêre skole wat deelgeneem het. Kinders word in Graad 4 getoets in die taal van onderrig van Graad 1-3 in die skool (ʼn Sesotho leerder in die Vrystaat sou dus die toets in Sesotho aflê). Die toetse is 2021 tussen Augustus en November geskryf.

           

Wat sê die verslag vir ons?

Dr. Nic Spaull, navorser aan die Universiteit van Stellenbosch en Sekretariaat van die 2030 Leespaneel, het kort na die bekendstelling van die verslag ʼn bondige (Engelse) opsomming van die Suid-Afrikaanse posisie gegee en ek deel 5 van die belangrikste punte wat uitgelig is:

 

  • “Ons het 'n dekade se vordering verloor. Tussen 2006 en 2016 het die persentasie kinders wat nie kon lees nie, afgeneem van 87% (2006) na 82% (2011) na 78% (2016), maar dit het nou weer gestyg na 81% (2021), waarmee 'n dekade se stadige vordering uitgewis is en ons teruggebring word na die prestasievlakke van 2011.

 

  • Noordelike landelike provinsies het die grootste agteruitgang in leesonderrig beleef, terwyl kusprovinsies die kleinste agteruitgang ervaar het. Vier provinsies het tussen 2016 en 2021 'n agteruitgang van meer as 'n vol jaar se leerervaring gehad. Aangesien 40 punte gelykstaan aan een jaar se leerervaring, was dit soos volg: Noordwes (-2,4 jaar), Vrystaat (-1,6 jaar), Mpumalanga (-1,2 jaar) en Limpopo (-1 jaar). Die drie kusprovinsies (Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Oos-Kaap) het die kleinste agteruitgang ervaar, waarby die Wes-Kaap die kleinste agteruitgang getoon het (-0,4 jaar).


  • Engelse en Afrikaanse skole het nie 'n agteruitgang tussen 2016 en 2021 ervaar nie. Daarenteen het die meeste Afrikataal skole wel 'n agteruitgang beleef, wat beklemtoon dat die pandemie ongelykheid tussen skole sonder fooie en skole met fooie verhoog het.

 

  • Suid-Afrika het die grootste geslagskloof (in die voordeel van meisies) van al die 57 deelnemende lande/streke gehad. Die gemiddelde Graad 4 meisie in Suid-Afrika het 57 punte hoër as die gemiddelde Graad 4 seun behaal, wat beteken dat hulle sowat 1,5 jaar leer voor hul manlike eweknieë is. Terwyl meisies in alle lande seuns oortref, is die Suid-Afrikaanse kloof meer as twee keer so groot as die internasionale gemiddelde kloof tussen seuns en meisies.

 

  • Suid-Afrika het die grootste agteruitgang in leesprestasie (-31 punte) van al die 33 lande/streke met data in 2016 en 2021 beleef. Ten spyte hiervan het Suid-Afrika geen werklike plan of begroting om verlore leerervaring in te haal nie. Dit moet opgemerk word dat PIRLS 2021 die eerste nasionaal-representatiewe aanduiding van leeragterstande tot dusver is. Om 'n onlangse navorsingsverslag oor die DBE se ingrypings met betrekking tot COVID-19 aan te haal: "Daar is geen poging aangewend om tyd in te haal ten einde leeragterstande te remediëer nie, behalwe vir baie onlangse pogings in een provinsie. Die aandrang op 'n grootliks soos gewoonlik benadering tot kurrikulumimplementering misken die ernstige opvoedkundige impak van die pandemie, veral op leerders in die armste gemeenskappe" (Hoadley, 2023: bl. 1). Slegs een provinsie (Wes-Kaap) het tot dusver 'n begrote plan vir die inhaal van leeragterstande aangekondig (WCED se R1,2 miljard "Back on Track" -program).”

 

Leesvaardighede gaan slegs effektief aangespreek word indien daar in die grondslagfase saam met opvangprogramme dringend gefokus word op die aanstel van spesialisopvoeders én terapeutiese dienste. Skole het meer maatskaplike werkers, arbeids-, spraak- en fisioterapeute nodig en minder onbevoegde opvoeders wat wegkruip agter onnodig voorskriftelike werkboeke. Verder kan die getal leerders per klaskamer, veral in die grondslagfase, nie meer as 25 wees nie, maar hiervoor is meer skole nodig.

 

Die begroting...

Dit alles kos geld. En ten spyte daarvan word daar in die minister se begroting voorsiening gemaak vir R121.5 miljoen aan die National Education Collaboration Trust. Dié trust is geskep as platform vir samewerking met rolspelers en vir die privaatsektor om onderwys by te staan. Nou het dit egter verander in ’n parallelle struktuur wat ’n groot hap van die begroting ontvang. Geld vloei eenvoudig in die verkeerde rigting.

 

Die Presidensiële Jeugindiensnemingsprojek, wat deel vorm van die presidensiële indiensnemings-stimulusprogram, is veronderstel om uit die Presidensie befonds te word. Dit is moeilik te begryp hoe R6.9 miljard van die onderwysbegroting nou hiervoor aangewend word. Onderwys sou byvoorbeeld die geld kon aanwend vir die aanbou van ’n hele paar skole of om kleiner klasse vir die grondslagfase te skep. Natuurlik ondersteun ons die sosiaal-maatskaplike projek en veral die feit dat jongmense ʼn diens moet lewer vir vergoeding in plaas van ʼn toelaag sonder teenprestasie, maar hierdie is nie ʼn onderwysprojek nie. Dit is ʼn belofte van ʼn politieke hoof wat onder druk is om werkloosheid onder die jeug aan te spreek – hoekom moet onderwys vir die belofte betaal?

 

FEDSAS verwelkom wel die fondse wat beskikbaar gestel is vir hulpbronne vir vroeëkinderontwikkeling, maar sal egter wil sien dat vaardigheidsontwikkeling ook behoorlik befonds word, veral met verwysings na die minister se opmerking dat minder as die helfte van die kinders tans in VKO-sentrums hul ontwikkelingsmylpale op vyfjarige ouderdom sal behaal. VKO praktisyns moet formele opleiding kry om seker te maak dat die kinders op die regte vlak ontwikkel.

 

FEDSAS is ook bekommerd oor die stadige pas waarteen die driestroommodel geïmplementeer word en die begroting wat hiervoor beskikbaar is. Die doel hiermee is om drie afsonderlike onderrigstrome te skep, naamlik akademies, vaardigheid en beroepsgerig. FEDSAS steun hierdie model omdat dit die land se vaardigheidstekort sal aanspreek en terselfdertyd verligting bring vir die hoë werkloosheidsyfer onder jongmense. Dit gebeur egter te stadig. Daar moet nou gebou word aan die tegniese skole en die vaardigheidskole moet geïdentifiseer word. Leerplanne moet geskryf en opvoeders/fasiliteerders moet opgelei word, maar daar moet veral ʼn goeie inligtingsveldtog in gemeenskappe wees om die voordele van beroepsgerigte opleiding te beklemtoon.

 

Leierskap en BELAB

Dit wil voorkom asof Minister Angie Motshekga spoed verloor. Sy is reeds die langsdienende Minister van Onderwys in die bestaan van Suid-Afrika en alles dui daarop dat sy in elke geval gaan uittree na die termyn van die huidige administrasie. Wanfunksionele provinsiale onderwysdepartemente, onbevoegde amptenare en swak onderwysers is die drie groot slaggate wat dreig om die wiele van gehalte-onderrig te laat afkom. Dit lyk egter nie asof daar genoeg politieke wil is om dit reg te stel nie. Die Minister dans op eiers rondom die ANC vure en loop katvoet vir SADTU, die meerderheidsvakbond (waarvan sy een van die stigterslede was).

 

Nog ‘n aanduiding dat die ministerie nie op alle silinders vuur nie, is die feit dat die minister nog nie reageer het op beheerliggaamorganisasies se memorandum aan haar oor die swak funksionering van die National Consultative Forum nie. Hierdie forum vergader al vir meer as 20 jaar kwartaalliks en is die enigste struktuur wat beheerliggaamorganisasies in staat stel om met die Nasionale Departement in gesprek te tree. Die Direkteur-Generaal (DG) van die Departement het egter die verantwoordelikheid hiervoor afgeskuif na junior amptenare met geen besluitnemingskapasiteit nie. Dit is ‘n tandlose struktuur en die minister en DG skitter in hulle afwesigheid.

 

Die Wysigingswet op Onderwyswette (BELAB) is ook in die pyplyn en FEDSAS en ander organisasies maak gereed vir ʼn hofstryd indien die konsepwet in sy huidige formaat goedgekeur sou word.  Die Portefeuljekomitee vir Basiese Onderwys het enkele openbare verhore oor voordat hulle provinsiale prosesse afgehandel is en kan dan hulle volle aandag skenk aan die oorblywende 9 000 skriftelike vertoë wat blykbaar nog verwerk moet word.

 

Na afloop van die werk van die Portefeuljekomitee moet die wetsontwerp en verslag aan die Nasionale Vergadering (NV) voorgelê word vir debat en 'n stemming, en indien dit aanvaar word, moet dit na die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP) verwys word vir oorweging omdat dit provinsies raak. Die NRVP moet óf die wetsontwerp aanvaar, óf 'n gewysigde wetsontwerp aanvaar, óf die wetsontwerp verwerp. As dit sonder wysigings aanvaar word, moet dit aan die President voorgelê word vir goedkeuring en ondertekening. As die NRVP die wetsontwerp verwerp of as die NV weier om die NRVP gewysigde weergawe van die wetsontwerp aan te neem, moet die saak na die bemiddelingskomitee verwys word. As bemiddeling faal, sal die wetsontwerp binne 30 dae na die NV verwys word en dit kan deur die NV met 'n tweederdemeerderheid aanvaar word. Die wetsontwerp word dan na die President verwys om dit te onderteken. As die President besware het oor die grondwetlikheid daarvan, kan hy dit terugverwys na die NV en NRVP vir heroorweging. As 'n heroorweegde wetsontwerp voldoen aan die President se besware, moet die President dit goedkeur en onderteken. As dit egter nie aan die President se besware voldoen nie, kan die President dit na die Konstitusionele Hof verwys vir 'n besluit oor die grondwetlikheid daarvan.

 

 Kortom, dit is veilig om te sê dat daar steeds 'n lang pad is vir die BELA-wetsontwerp voordat dit 'n wet sal wees.

 

FEDSAS wil ons dank teenoor elke burger en organisasie uitspreek wat hulle stem in die BELAB sage laat hoor het. Saam is ons eenvoudig sterker en is ons stem duideliker.


Lees gerus die Afrikanerbond se kommentaar soos wat dit ingedien is:
Volg die skakel   

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: