Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Mei 2023

Oor die ou vlag en haatspraak

Deur Jeremy Gordin

 

Die joernalis Jeremy Gordin is in sy huis in Parkview vermoor op 31 Maart 2023. Op 21 April 2023 het die Appelhof die vertoon van Oranje-Blanje-Blou as haatspraak verklaar.

Op 26 Augustus 2019 het Jeremy Gordin in Politicsweb geskryf oor die dieper betekenis van die Nelson Mandela-stigting (NMF) se triomf in die Hooggeregshof oor die ou vlag.  Die artikel wat verskyn het is na Afrikaans vertaal deur die Afrikanerbond en is in September 2019 geplaas met die vergunning van die outeur en met erkenning aan Politcsweb. Gegewe die appèlhof se onlangse uitspraak plaas ons graag weer die artikel.

 

Laat ek begin deur te verklaar dat ek nie ʼn duit omgee vir vlae nie – nie vir enige vlag nie, die Suid-Afrikaanse ene (oud of nuut), die Union Jack, die Franse driekleur, die Sterre en Strepe, ens. Nog minder gee ek om vir nasionale volksliedere, hoewel ek dit geniet om na enkeles by die aanvang van internasionale rugbywedstryde te luister. Kortom, ek gee niks om vir die tooisels van enige land se nasionalisme nie. Dis maar saai.

 

Wat ek eintlik wil sê is toe ek (op TV) gesien het hoe Phineas Mojapelo, Adjunk-regter-president van die Suid-Gautengse Hoë Hof beslis dat “die vertoon van die ou nasionale vlag ... in gebruik sedert 31 Mei 1928 en dwarsdeur apartheid, tot die afskaffing daarvan op 27 April 1994 (die ‘Ou Vlag’)” verklaar word as “haatspraak, onregverdige diskriminasie en teistering,” en toe ek na die uitspraak vir Ernst Roets van AfriForum, in die perskonferensie buite die hof saam met Sello Hatang, hoof uitvoerende beampte van die Nelson Mandela-stigting sien, toe dink ek by myself:  “Ag nee, Roetsie, hoekom verwerdig jy jouself om by hierdie tipe ding betrokke te raak? Die beslissing was ʼn gedane saak nog voordat dit gelewer is ...”

 

Maar ek was nie mooi ingelig nie. Om maar een ding te noem, AfriForum se regspan het op 4 September 2018 aan die NMF (Nelson Mandela Foundation) geskryf om ʼn gesprek te versoek sodat “ʼn rustige uitkoms in teenstelling met ʼn onenige een” bereik kon word oor die vertoon van die Ou Vlag.

 

Nog belangriker, dit het gelyk asof AfriForum, en waarskynlik almal wat hulself aan daardie kant skaar, “erken dat die ou ... vlag die vermoë het om minagting en emosionele angs te veroorsaak. As ʼn organisasie hang ons nie in besonder die vlag aan of wat dit verteenwoordig nie. In die uiters rare geval dat enigiemand ʼn ou vlag na een van ons gebeurlikhede bring, vra ons hulle om dit nie te vertoon nie”.

 

Waarom dan was AfriForum die “Eerste Respondent” in die hofsaak? Wel, aan die einde van Oktober 2017 het ʼn groepie mense onder die benaming “Swart Maandag” betoog oor plaasmoorde, nadat die Wes-Kaapse boer, Joubert Conradie, in Klapmuts vermoor is. AfriForum het oënskynlik ʼn leidende rol in hierdie betoog gespeel, en volgens Regter Mojapelo, “is daar wyd verslag gedoen dat die Ou Vlag by enkele van die ‘Swart Maandag’-betogings vertoon is.”

 

Maar is die Ou Vlag wyd vertoon? Volgens Regter Mojapelo: “Is voorbeelde van sodanige beriggewing tot die uitspraak aangeheg. Baie gebruikers van sosiale media het ook ooggetuieverslae en foto’s van die vertoon van die Ou Vlag deur ‘Swart Maandag’-betogers gepubliseer.

 

Die probleem is dat die Nelson Mandela-stigting nie in staat was om enigiemand te kry wat die vlag daardie dag laat wapper het, en hulle as ʼn respondent kon aangee nie. Nog belangriker is dat dit gemene saak is dat beïnvloeders op sosiale media, insluited Tumi Sole en eNCA-joernalis Nickolaus Bauer, die aanvanklike luidkeelse protes aangehits het, deur ongevraagd beelde op Twitter te stuur wat na bewering met die opmars verband hou – van die ou vlag wat langs die nuwe een hang, en verbrand word – wat geblyk het waarskynlik vals te wees, aangesien hulle jare gelede geneem is, of oorsee, of albei.

 

Toe dít uitgewys word, moes nuuskantore vinnig spook om al hierdie valse beelde van hul aanlynverslae te verwyder. Al wat hierna oorgebly het – soos in “SH3(Bewyse in die hof” gedokumenteer – is een vrou met ʼn klein vlaggie op haar baadjie, en ʼn ander foto van ver af geneem, van 'n vlag wat van 'n brug iewers afhang.

 

Kortom, die gerug dat daar wye vertonings van die Ou Vlag by die Swart Maandag-betoog was, was ʼn poets wat deur sosiale media aangedryf is. En fopfoto’s van fopvlaghysings – gepubliseer om die protes te beswadder en oneer aan te doen – word toe, die casus belli vir die hofsaak? 

 

Die NMF was duidelik van voornemens om moeilikheid oor hierdie saak te maak en nadat hulle eers die hof genader het om “die vertoon” van die Ou Vlag as “haatspraak” te verklaar, het hulle in effek vir AfriForum gedwing om hof toe te gaan, selfs al het AfriForum, soos ons hierbo sien, probeer om ʼn hofsaak te vermy.

 

Met ander woorde, dit lyk asof die NMF hierdie hele saak in kwade trou nagejaag het. Hulle was op soek na ʼn geveg – ene wat hulle kon wen. Dit is belangrik dat die hele saak ʼn “omgekeerde herrie” is. As dit gaan oor die ongevraagde vertoon van die ou vlag – op swart Maandag – was die vernaamste boosdoeners, die beïnvloeders van sosiale media wat die voorval gebruik het om gewone mense se kwellinge oor plaasmoorde onder verdenking te bring.

 

Kom ons stel dit ondubbelsinnig. Daar is na bewering baie mense in Suid-Afrika wat die Ou Vlag as kwetsend beskou – vir ooglopende redes: dit herinner hulle aan die vorige regime en wat daardie regime aan hulle gedoen het. Ek skryf duidelik “na bewering” want ek vermoed dat meeste van hulle ander, belangriker sake op die hart het. Is enigiemand al ooit diep getraumatiseer, of het in die hospitaal beland omdat hulle die Ou Vlag iewers gesien het? Regtig? Die skynbare teenstrydigheid is dat dié mense wat skynbaar die meeste gebelg voel oor die vertoon van die Ou Vlag, byna altyd die is wat die meeste plesier kry uit die stuur van beelde daarvan na hul duisende aanlyn volgelinge.

 

Laat ons terugkeer na my openingsparagraaf. Ek gee nie juis om vir enige vlae nie. Maar baie mense gee wel om, veral daardie mense van wie lede van hul familie in die Tweede Wêreldoorlog geveg en gedood of byna aan die dood ontkom het om die Nazi-opmars in Noord-Afrika te stuit.

 

Sonder om buitengewoon dramaties daaroor te raak, my vrou se oupa, Luitenant-kolonel EJR Blake, is met ʼn DSO vereer in Noord-Afrika omdat hy “uitmuntende leierskapseienskappe en dapperheid ... ʼn koel kop en uitstaande diens van die hoogste standaard,” aan die dag gelê het, en bykans vier jaar in Duitse krygsgevangene kampe deurgebring het. Raeburn Blake was van Ierse afkoms, gebore in SA; hy het nie veel vir “die Engelse” omgegee nie. Wat wel vir hom saakgemaak het – en ander, baie met Afrikaanse vanne – was die “Suid-Afrikaanse magte” en om die vyandige moondhede te verslaan.

 

Vir baie Wit Suid-Afrikaners, wat self nooit sou droom om die ou vlag te vertoon nie, is daar iets wat hulle dwars in die krop steek oor die vlag waaronder hul vaders en grootvaders in daardie oorlog gedien het, en wat nou nonchalant afgemaak word as ʼn euwel.

 

Het jy gehoor van die gelaaide vraag waaroor joernaliste van poniekoerante grynslag? “Mnr Gordin, het jy opgehou om jou vrou te slaan?” As jy ja antwoord, is jy in ʼn hoek, en as jy nee antwoord, is jy ook uitgevang! In albei gevalle het jy erken dat jy ʼn vrou het en dat jy op een of ander tyd jou vuiste teen haar gelig het.

 

Die verbanning van die Ou Vlag is iets soortgelyks. “Mnr Gordin, dink jy die regter was reg om die ou SA vlag te verban?” As jy ja antwoord stem jy saam met die siening van swart nasionaliste oor ons geskiedenis (dat al die land se vorige en huidige probleme aan die aankoms en teenwoordigheid van witmense toegeskryf kan word). As jy nee antwoord, het jy jouself aan die kant van die fasciste en voorstanders van apartheid geskaar. Niemand tree as wenner uit hierdie situasie nie. Dis die ou Kafka-sindroom. Wat ookal jy antwoord, jy het jou skuld aanvaar of bewys. Hoe dit ook al sy, jy het jouself sopas as een of ander morele Untermensch bewys.

 

Geluk dus aan Sello Hatang: NMF 1, AfriForum 0? Maar dit gaan hier oor iets meer ernstig as ʼn skouerophaal en ʼn grinnik. Laat ons nou maar erken, op die oomblik voel dit nie baie gemaklik om 'n wit persoon in Suid-Afrika te wees nie. Ek hoef nie die stellings van die EFF of die BLF (Black First Land First) aan te haal of uit te wys hoe die ANC nie meer sodanige stellings afmaak nie, maar eerder toelaat dat dit in die lug bly hang, soos muwwe reuke. Ek kan nog meer voorbeelde opnoem, maar die hoofsaak is dat, op ʼn makrovlak, die sing van kumbaya in hierdie land opgehou het. (“Makrovlak”, want gewone mense van alle kleure is, dankie tog, grotendeels onaangeraak deur die giftigheid van hul sogenaamde leiers.)

 

Die basiese boodskap is: witmense het niks anders gedoen buiten om skade aan hierdie land aan te rig nie. Hulle moet weg. En die “proses” wat tot die verbanning van die Ou Vlag gelei is, is deel van die substansie van daardie boodskap.

 

Dit vind juis plaas wanneer die ANC en sakeleiers verklaar dat die land veral regstreekse buitelandse investering, asook plaaslike investering benodig; en hierdie tipe simboliese oorlogvoering, gekombineer met ander (ernstiger) onsin soos onteiening sonder vergoeding en die voorgestelde nasionale gesondheidsversekering, is dodelik. Dit vernietig vertroue. Nie dat Westerse beleggers of diplomate enigiets sal sê nie; hulle is tweegesigte, hulle sal sê: “Ja, julle moet ontslae raak van hierdie laaste spore van apartheid, neem julle land terug, sorg vir ʼn gesondheidsdiens vir almal” ens., maar hulle sal self geen belegging van waarde in so ʼn samelewing maak nie.

 

En daar lê die knoop. Vertroue kos niks nie. Dit gaan oor sentiment en houding en dis gratis. So waarom word tyd, energie en geld daarop spandeer om die vertroue van ʼn gedeelte van die mense wat in hierdie land woon, te vernietig?

 

Soos reeds gesê, ek gee nie veel om vir vlae en sulke dinge nie. Maar een persoon wat die belangrikheid en sensitiwiteit rondom nasionale simbole verstaan het, was Nelson Mandela. Sy ondersteuning vir die teenwoordigheid van Die Stem in 'n gekombineerde nasionale volkslied, asook die behoud van die Springbok-embleem vir rugby, was belangrike simboliese boodskappe van nasionale insluiting. Wat ʼn jammerte dat ʼn Stigting wat gestig is om sy nalatenskap te eer en in stand hou, doenig is met ʼn saak wat daarop ingestel is om dit uitmekaar te trek en te ontrafel. 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: