Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          September 2023

Oordenking: Die Woord gee lewe.

Deur dr. Wim Slabbert

Pretoria

 

Die afgelope maand is daar in die Afrikaanse Kerke met dankbaarheid terug gedink aan die ingebruikneming van die 1933 vertaling van die Afrikaanse Bybel.

 

Vir die Afrikaner-Broederbond in daardie tyd, het dit ook groot betekenis gehad. Een van die stigtingsdoelwitte het so gelui: Die inboeseming van liefde vir sy taal en godsdiens. Almal het seker die foto gesien van die eksemplaar van die Bybel wat in Augustus 1933 aan die UR oorhandig is vir gebruik by sy vergaderings.  (Sien skakel)

 

Sedert daardie tyd het die Afrikaner-Broederbond en later die Afrikanerbond die kosbare plek van die Bybel in hierdie organisasie in sy Grondslag so verwoord: “Die Afrikanerbond is gegrondves in die geloof dat die Bybel die Woord van die Drie-enige God is en dat dit van rigtinggewende betekenis vir die hele lewe is.”

In 1918 was een van die stigtingsdoelwitte: Die handhawing van die beginsels van Jesus Christus. As leuse het ons voorsate ook ‘n Bybelwoord gekies: Wees Sterk.

Dit was enkele van die maniere hoe mense in die tyd se Bybels-gefundeerde geloof rigting gegee aan hulle denke en oortuigings.

 

Hierdie geloofsoortuiging oor die plek en waarde van die Bybel kom natuurlik uit baie geslagte gelowiges wat baie intiem met die Bybel geleef het en die God van die Bybel leer ken en vertrou het.

 

Een van die skrifgedeeltes waar ʼn mens aangegryp word deur hoe kinderlik dankbaar ‘n gelowige van 3000 jaar gelede oor die Woord van God gepraat het, lees ons in Psalm 19. Ek haal enkele verse aan:

Die Woord van die Here is volmaak: dit gee lewe

Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan die wat nog onervare is.

Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap

Die gebod van die Here is helder: dit gee insig.

Die eise van die Here vir sy diens is goed: dit staan altyd vas.

Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud,

Soeter as heuning, as druppels uit ‘n heuningkoek.

U dienaar laat hom daardeur leer.

Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.

Die psalm sluit af:

Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees,

Here, my Rots en my Verlosser.

 

Wat hoor ons hier? ‘n Mens wat in die skepping God se almag raaksien. Hy sê: Die hemel getuig van die mag van God. Daardie God kom met sy Woord na hom as mens toe. Daardie woorde vul hom met lewenskrag, met insig en met vreugde en met die begeerte om God te dien. Hy bely sy sonde in die wete dat God vergewe. Dit maak hom vry om te lewe soos vir God aanneemlik is.

 

Hoor mens nie dieselfde gedagtes by Paulus aan Timoteus nie:

Die Heilige Skrif kan vir jou kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Jesus Christus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek sodat die man wat in diens van God staan volkome toegerus sal wees vir elke goeie werk.

 

Die grootste evangelisasie taak wat die Kerk ooit aangepak het was om die Bybelgenootskap daar te stel en te bemagtig om hierdie lewende Woord in baie tale dwarsoor die wêreld te laat grondvat vanaf ‘n Bybel in die hand tot al die digitale maniere wat oor die radio en met internet bereik kan word.

 

Jesus het belowe: Ek is met julle tot aan die einde van die wêreld. En Hy het belowe: Wanneer die Gees van waarheid kom, sal Hy julle in die hele waarheid lei.

 

Daardie Gees het mense in staat gestel om ‘n Nuwe Testament by die Ou Testament te voeg in daardie eerste 70 jaar na Christus se hemelvaart.  Tot by 100 nC was die apostels die belangrikste draers van die boodskap gewees.

 

Vanaf die 15de eeu met die uitvinding van die boekdrukkuns het die Gees mense begeester en tegnologie geskenk om die uithoeke van die aarde bereikbaar te maak en mense se lewens te verryk met die lewegewende kennis oor God.

 

Paulus noem hierdie uitreik  God se triomftog waardeur die kennis van Christus soos ‘n aangename geur versprei word. En ons sal maniere moet vind om êrens meer as net toeskouer van God se pelgrimstog deur die moderne wêreld te wees.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: