Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Mei 2023

Oranje-Blanje-Blou - 'n persoonlike perspektief

Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond

 

Hoeveel keer het die Oranje-Blanje-Blou nie gewapper by amptelike byeenkomste van vorige regerings, militêre geleenthede en in elke skool en staatsgebou in die ou Suid-Afrika nie? Van hierdie vlag wat die eerste keer in 1928 bekendgestel is, is afskeid geneem met die aanvaarding van die nuwe vlag in 1994. Dit was met groot heimwee en nostalgie want hoeveel het die vlag nie vir ons beteken nie, dit was ʼn simbool van ʼn tyd van orde en stabiliteit, van die beskerming van ons grense, en hoeveel trane is nie gestort op die vlag as geliefdes op die grens gesneuwel het vir die behoud van die simboliek van die vlag nie. Dit is vervang deur die huidige vlag van Suid-Afrika met die aanvang van die republiek se oorgangsgrondwet en die einde van apartheid.

 

Hoeveel keer is die Vlaglied nie gesing as die Oranje-Blanje-Blou in die verlede gehys is nie?

 Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra:

Wat beteken jou vlag dan Suid-Afrika?

Ons weet hy's die seël van ons vryheid en reg

vir naaste en vreemde, vir oorman en kneg;

die pand van ons erf'nis, geslag op geslag,

om te hou vir ons kinders se kinders wat wag;

ons nasie se grondbrief van eiendomsland,

uitgegee op gesag van die Hoogste se hand.

Oor ons hoof sal ons hys, in ons hart sal ons dra,

die vlag van ons eie Suid-Afrika.

              Woorde: C.J. LANGENHOVEN

Musiek: F.J. JOUBERT

 

Die Oranje-Blanje-Blou het na die nuwe vlag se aanvaarding kontroversieël gebly.  Sommige mense beskou dit as 'n simbool van geskiedenis en Afrikaner-erfenis, terwyl ander dit as 'n simbool van apartheid en van wit oppergesag beskou. Andere weer het die vlag ook nie heeltemal aanvaar nie, as gevolg van die Union Jack se teenwoordigheid. Vele betekenisse dus vir vele mense. Daarom is die artikel uit ʼn persoonlike perspektief geskryf.

 

As jong Voortrekker het die vlag vir my ʼn sterk verbintenis met my land gevorm. Trots het die landsvlag gewapper by my onderskeie skole en as dienspligtige in Bloemfontein was my pantsereenheid se kleure in die oranje, wit en blou gevestig. Ek en die sanger Steve Hofmeyr was in dieselfde tyd in dieselfde eenheid. Dalk dink ons wel anders oor die gebruik van die simbole vandag.

 

Saam met Die Stem het die oranje-wit en-blou dieselfde sterk patriotisme vir my gevestig. In die tyd kon ek met oortuiging sê: “Ons sal antwoord op jou roepstem, Ons sal offer wat jy vra: Ons sal lewe, ons sal sterwe – Ons vir jou, Suid-Afrika. In my studeerkamer hang die nuwe 1994 Suid-Afrikaanse vlag. Ek het ook die klein weergawe op ʼn houtpaaltjie op ʼn kas van die ou Suid-Afrikaanse vlag. Maak dit van my ʼn misdadiger en verkondig ek haatspraak. Nee – maar ingevolge die uitspraak van die appèlhof op 21 April 2023 in Bloemfontein moet ons anders dink en optree. Volgens Netwerk24 het die appèlhof eenparig beslis dat die vertoon van die ou Suid-Afrikaanse vlag (Oranje-blanje-blou) in die openbaar ingevolge die Gelykheidswet neerkom op haatspraak, rassediskriminasie en teistering. Volgens Netwerk24 maak die appèlhof wel die volgende bevel wat belangrik is en verskil van die hooggeregshof se bevel “wat enige vertoning van die ou vlag verbied” Dit is tersyde gestel en dit word wel vervang met “ ’n verbod op ongevraagde openbare vertonings van die ou landsvlag”. 

 

Volgens die uitspraak kan die openbare vertoon van die oranje-wit en-blou landsvlag dus haatspraak wees. In die grondvloer in die gange tussen die Nasionale Vergadering en die Raad van Provinsies was daar tot en met die brand by die Parlement  ʼn groot weergawe van die vlag agter glas uitgestal. Dit sou vandag onwettig wees om die vlag so uit te stal omdat dit waarskynlik geïnterpreteer sou word as ʼn openbare ruimte. Net so sou dit dan onwettig wees om ʼn foto van die uitstalling op sosiale media te plaas. Daar word  dus nou beperkinge op vryheid van spraak geplaas.

 

Net soos die verwydering van ou standbeelde, die hernoeming van strate en dorpe se name is nog ʼn stukkie van ons erfenis vandag daarmee heen. Die vlag waarmee soveel ander ʼn noue verbintenis gehad het se openbare vertoon is nou haatspraak.  

 

Ons vergeet altyd gerieflikheidshalwe dat 1994 en dit wat daarop gevolg het ʼn groot historiese kompromie was. Ons grondwet, nasionale vlag en volkslied is van die min gedeelde erfenisse en het hulle beslag gekry uit ʼn geskiedkundige proses van kompromie en onderhandelinge wat gevolg het na ʼn tyd van groot historiese verdeeldheid en vyandigheid. Geen party het alles behaal wat hulle wou hê nie.  Dit was ʼn kwessie van neem en gee. Ons kan in 2023 anders kyk en met die wetenskap van terugblik kan ander gevolgtrekkings gemaak word, maar dinge is gedoen en onderhandel in die gees van daardie tyd. Tye het verander en is die indruk dat die gees van daardie tyd nie teenwoordig is in die heksejag aksies van onder andere die Nelson Mandela Stigting teen die ou landsvlag nie.

 

Maar dalk moet ons deels die skuld dra. Die oorsprong van die aksies teen die ou landsvlag kan teruggeneem word na die dag van protes teen misdaad op Maandag 30 Oktober 2017. Op die dag het ʼn klomp Suid-Afrikaners verenig om standpunt ingeneem teen misdaad, ook plaasmoorde. Ten spyte van versoeke van die organiseerders om nie ou simbole te vertoon nie, het sommige heethoofde nog steeds die ou vlae vertoon en rondgeswaai. Die effek daarvan was soos ʼn rooi vlag vir ʼn bul. Dit het ʼn politieke boodskap gestuur en die res is geskiedenis.

 

Ek weet wat die oranje-blanje-blou vir my beteken het. Daaraan heg ek vandag nog besondere waarde. Ek het die nuwe landsvlag volkome aanvaar en swaai die vlag ook met trots as ons nasionale spanne goed presteer. Vandag vra ook van ons ʼn gesindheid van ruimte en begrip, van respek en verantwoordelikheid. Dalk nog meer so as in die vorige jare. Dit is ons bydrae in die trots op die Suid-Afrikaanse diversiteit, al is ons almal deesdae skaamkwaad Suid-Afrikaners. Ons ou simbole behoort aan ʼn vorige era, ʼn era wat vir altyd verby is. Dit bly egter deel van my geskiedenis, deel van my erfenis en sal ek ingevolge die uitspraak my stukkie geskiedenis in my eie ruimtes bewaar. 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: