Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Februarie 2023

Politieke warm lug as vorm van hernubare energie


Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond

 

Tans word verskillende vorme van elektrisiteitsopwekkingsmetodes gebruik in Suid-Afrika. Windkrag word in die Wes- en Oos-Kaap opgewek, sonkrag word in die Noord-Kaap opgewek en hidro-elektrisiteit by verskeie damme in Suid-Afrika. Dit is nou afgesien van fossielbrandstowwe wat termo-elektrisiteit opwek en veral in die noorde van die land aan ons energiebehoeftes voorsien. ʼn Ander natuurlike vorm van energie is warm lug wat ook termo-elektrisiteit voorsien.

 

Warm lug, word ook soms beskou as leë praatjies om andere te beïndruk. Hiervan het ons in Suid-Afrika ‘n oormaat en word dit op groot skaal aangetref in die parlement, die Uniegebou, regeringskantore en veral by Luthuli-Huis (Die ANC se hoofkantoor). ʼn Besondere bron van warm lug generering sou in Desember 2022 tydens die ANC se konferensie by Nasrec gewees het. As ons politieke warm lug as ʼn bron van energie kon omskakel na elektrisiteit sou dit onmiddellik ʼn einde gebring het aan Suid-Afrika se elektrisiteitskrisis. Dink maar aan al die praatjies en beloftes oor misdaad en korrupsiebestryding, die skrapping van die E-tol stelsel, ekonomiese opheffing en werkskepping, dienslewering en vele meer. ʼn Joernalis by ʼn Afrikaanse dagblad het ʼn ander vorm van politieke beloftes onlangs baie treffend beskryf as ‘polpoef’ (politieke twakpraatjies).

 

Waar ons nou reeds weer in Januarie 2023 wisselende fases van beurtkrag in die huidige kragkrisis is (Beurtkrag is ʼn eufemisme vir die krisis) word ʼn groot klomp warm lug weer gegenereer. Almal is desperaat vir oplossings vir ʼn probleem wat reeds oor 25 jaar aan die opbou is en waaraan niks gedoen is nie. 

 

Reeds in 1998 het die Witskrif op Energie 'n elektrisiteitstekort teen 2007 voorspel. Eskom se eie ingenieurs het bereken dat die netwerk teen 1,2 GW per jaar (die ekwivalent van een nuwe Koeberg-kernkragsentrale elke 18 maande, of een nuwe Kriel-grootte steenkoolkragsentrale elke 3 jaar) uitgebrei sal moet word. Oor 25 jaar beteken dit dat 8 – 12 nuwe kragsentrales gebou moes word. Die paar wat egter gebou is was kontantkoeie vir ʼn klompie korrupte kaders en funksioneer of glad nie, of nie na behore nie. 

 

Die regering sou opnuut drasties ingryp. President Ramaphosa het op 25 Julie 2022 ʼn Nasionale Energie Krisis Komitee saamgestel wat vanuit die presidensie al die departemente en entiteite saamvoeg wat elektrisiteit moet voorsien. Die komitee sou dan tap uit al die beste beskikbare kundigheid vanuit die sakesektor, arbeid, professionele ingenieurs entiteite en gemeenskapsorganisasies. Die betrokke ministers sou gereeld aan President Ramaphosa rapporteer oor die implementering van stappe. Die komitee was waarskynlik net nog ʼn genereerder van warm politieke lug, want ses maande later het ons nog steeds nie enige antwoorde nie en is ons beslis nie nader aan oplossings nie. 

 

Reeds vyftien jaar gelede in Januarie 2008 en tydens ʼn vorige kragkrisis in Suid-Afrika het voormalige President Thabo Mbeki ook ʼn nood-taakspan saamgestel. Ons sien vandag die resultate van nog warm lug wat toe al gegeneer is met geen uitkomste nie.

 

Wat na al die jare duidelik blyk is  dat die regering geensins die vaardighede en kundigheid in eie geledere het om hierdie energiekrisis aan te spreek nie. Nood-taakspanne en krisis komitees is eenvoudig nie meer te vertrou nie.   

 

Wat elke dag al meer duidelik word is dat daar twee sentrums van energieopwekking bestaan. Die een gewaande sentrum is die regering met sy kaders wat lugkastele bou en warm lug genereer teen astronomiese salarisse en midde die krisis rampokkers toelaat om Eskom leeg te steel en elke dag te saboteer. Suid-Afrika se ekonomie funksioneer nie as gevolg van die ANC-regering nie, maar ten spyte van die regering.

 

Die ander sentrum is die kundigheid en ervaring buite die regering en wat gereed staan om die krisis te help aanspreek. In die privaat kundigheidspoel wat vir Suid-Afrika beskikbaar is, is daar afgetrede Eskom ingenieurs, voormalige senior bestuurders by Eskom, afgetrede elektrisiteitsopwekking en kragnetwerk verspreiding kundiges, kernkrag spesialiste en uiters knap en kundige spesialiste in verwante bedrywe wat opgeroep kan word. Hierdie mense het ‘n kollektiewe poel van talent, kundigheid en ervaring wat wag om gemobiliseer te word tot voordeel van Suid-Afrika. Die privaatsektor moet egter toegelaat word om onafhanklik en sonder enige voorskrifte, veral rondom ‘transformasie’ en Swart Ekonomiese Bemagtiging te kan funksioneer.

 

Mag die huidige krisis in 2023 die geleentheid begin skep waarin die regering en sy kaders hulle korrupte greep verloor op Suid-Afrika se werklike energie opwekking. Dit sal Suid-Afrika en al sy mense tot voordeel strek en oneindige potensiaal ontsluit Die regering en die ontplooide kaders se hande moet vir altyd uit die koekieblik gehaal word. Die omvang van die krisis is nou te omvangryk om slegs aan die generering van politieke warm lug oorgelaat te word.

 

https://www.pretoriafm.co.za/politieke-warm-lug-as-vorm-van-hernubare-energie-sou-n-einde-kon-maak-aan-suid-afrika-se-elektrisiteitskrisis/

Die artikel is oorspronklik op 16 Januarie 2023 as nuuskommentaar gebruik vir Pretoria FM.   

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: