Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Junie 2021

Drakoniese wetgewings en patrone van weerstand en verset


Deur Prof. André Duvenhage

NWU

 

ʼn Kombinasie van politieke, ekonomiese en maatskaplike faktore het bygedra dat Suid Afrika ʼn kantelpunt bereik het en dat ernstige vrae gevra word oor die substantiewe aard van die grondwetlike bedeling, die oppergesag van die reg en selfs ten opsigte van die staat as instelling. Laasgenoemde verwys veral na die vermoë van die staat om wet en orde, asook veiligheid en sekuriteit vir sy burgers te kan verseker. Dit beteken dat die staat en strukture ʼn omgewing daarstel waarin burgers veilig voel en waarin basiese dienste gelewer word en staatsverpligtinge en verantwoordelikhede nagekom word soos veronderstel word binne die raamwerk van ʼn konstitusionele demokrasie of dan ʼn Rechtstaat.

 

Tans staan Suid Afrika vêr verwyderd van hierdie norm en word die makro politieke omgewing oorheers deur patrone van politieke, staatkundige en institusionele verval en die uitspeel hiervan op bykans elke terrein van die groter samelewing – polities, ekonomies en maatskaplik. Getuienis hiervoor word gevind in die stand van plaaslike regering en dienslewering; die toestand van openbare skole en universiteite; die verval van semi-staatsinstellings soos ESKOM, DENEL, SABC, TRANSNET en die Landbank; swak grensbeheer; korrupsie tot op die vlak van staatskaping; ʼn bevrydingsbeweging in regering wat die status van ʼn misdaadorganisasie verwerf het; eskalerende armoede, die vlug van kapitaal na die buiteland; en ʼn krimpende belastingbasis. Hierdie faktore het Suid Afrika reeds by die spreekwoordelike kantelpunt gebring en talle burgers (waaronder veral Afrikaansprekendes) vra hulself af oor die pad vorentoe en wat hul onder die omstandighede te doen staan?

 

Wat Afrikaners (en soms ander minderheidsgroepe oor rasgrense heen) betref, word die huidige bedeling toenemend as rasgedrewe en diskriminerend beleef. Wetgewing wat transformatief gerig is (verteenwoordigendheid geld as norm) lei daartoe, dat groepe soos die Afrikaner, gemarginaliseer en tot tweede klas burgers gereduseer word.

 

Met die verslegtende situasie op die onderskeie vlakke van staat, owerheid en ook regering betree ons tans ʼn fase waar uiters kontroversiële wetgewings beplan word en/of deurgevoer word in die stelsel. Die wetsontwerpe met as onderskeie foci grondonteiening sonder vergoeding (ʼn wysiging aan artikel 25 van die grondwet); die omstrede wetgewing op die beheer van vuurwapens; asook die PEPUDA-wetgewing (Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Act (4 van 2000) beklemtoon die  aard van hierdie omstrede wetgewings. Dit is wette wat myns skerp indruis teen die gees van die 1993-akkoord en die etos van konstitusionalisme soos dit in die grondwet en Handves van Menseregte vervat en  veronderstel word. Dit is meestal (hoewel nie uitsluitlik nie) die wit minderheid wat slagoffers is van hierdie wetgewing, wanneer dit by veral die toepassing hiervan kom. Die marginalisering van Afrikaans as onderrigtaal; Kubaanse ingenieurs en dokters ten koste van plaaslike aanbod en talent; en SEB-wetgewings wat blatant diskrimineer, is bloot enkele voorbeelde in hierdie verband.

 

Laasgenoemde moet ook gelees word, in samehang met eskalerende patrone van die mislukte staat; korrupsie tot die vlak van staatskaping met syfers van R500 biljoen tot R1,5 triljoen wat ter sprake is; eskalerende misdaad en geweld; ʼn disfunksionele strafregstelsel met sukseskoerse van dikwels minder as 10%; en stelsels en infrastruktuur binne die staat, samelewing en ekonomie wat gewoon besig is om in duie te stort. Dit is binne hierdie omgewing waar patrone van weerstand en verset toenemend inslag vind, waaronder diensleweringsproteste, arbeidsonrus, vigilantisme, misdaad, geweld en sluipmoorde.

 

Na die soveelste uiters gewelddadige plaasmoord tydens 2020 het boeregroeperings hulself polities en militêr begin gemobiliseer – ʼn tendens wat myns insiens ʼn belangrike baken verteenwoordig in die herontdekking van identiteit, selfbehoud en handhawing en ook ʼn bereidwilligheid tot daadwerklike optrede van die kant van die wit minderheid in die algemeen en die boere in besonder.

 

Daar is by my min twyfel dat die risiko’s ten opsigte van militêre mobilisasie, ʼn verswakkende polisiemag versus groterwordende private sekuriteit (reeds meer as 500 000 sterk) en ʼn onvermoë om bestaande wetgewing te administreer, bydraend was tot die besluit om strenger wapenbeheer te oorweeg – ʼn denklyn wat glad nie nuut is binne die ANC –denkpatroon nie. 

 

Binne letterlik ure sedert die wapenwetgewing bekend geword het, was die reaksie hierop ongekend en binne dae was daar reeds meer as 17 duisend skriftelike vertoë aan die Polisiemag in hierdie verband. Die reaksie was ongekend en die potensiaal vir weerstand groot. Met voorstelle soos die ontneming van jou reg op selfverdediging; beperkinge ten opsigte van jagters en skiet-dissiplines; die verbod op herlaai van ammunisie; en die opskorting van alle private vuurwapenversamelings moes reaksie verwag word. Beoordeel bogenoemde, boonop in samehang met die voorbereiding van wetgewing wat onteiening van eiendom (lees ingesluit wapens) ʼn grondwetlike reg maak.

 

Die vraag wat nou na vore kom, is hoe moet daar vorentoe beweeg word? Dit is baie duidelik dat die regering hul nie juis steur aan skriftelike vertoë nie en dat vuurwapenwetgewing op wetlike (nie grondwetlike) vlak hanteer word wat beteken dat ʼn gewone parlementêre meerderheid (waaroor die ANC beskik) voldoende is om die finale besluit te neem. (Daar moet weliswaar bepaalde parlementere prosesse en prosedures in hierdie verband gevolg word!)

 

Dit is verder duidelik dat talle groepe toenemend weerstandig word in hierdie verband en dat vorme van verset en verset-politiek nie uitgesluit kan word nie. Misdaadsyfers en data dui toenemend daarop dat SA meer ʼn onveilige bestemming is (vergelykbaar met Libanon en Afghanistan) en dat die staat nie die vermoë of die wil het om sy burgers te beskerm nie – juis dit wat hul primêre taak as staat is.

 

In ʼn omgewing waar staatkundige strukture verswak, die regering soms self hul eie grondwet minag; korrupsie eskaleer; en die Zondo-kommissie die eer en respek van die oppergesag van die reg en die grondwet moet probeer verseker, brand die rooi ligte helder en duidelik. Die gepoogde wysiging van die vuurwapenwet kon nie op ʼn slegter tyd gekom het nie. Dit vra vir daadwerklike optrede en handeling. Met staatstrukture wat nie by magte is om die veiligheid van sy burgers te verseker nie, is ontwapening allermins die antwoord. Hierteen moet die Afrikanerbond soos ook ander instellings sterk standpunt inneem. Optrede in hierdie verband moet insluit die nodige regsoptrede, waar en soos van toepassing; die mobilisasie van steun op alle vlakke van die samelewing; en nie-gewelddadige verset en optrede ooreenkomstig die ontwikkeling van die situasie; asook belastingboikotte. Nie net word menslike veiligheid hier bedreig nie, maar ook die basiese regte en vryhede van die burgery. Dit is ook duidelik dat hierdie wetgewing saam gelees moet word met poginge tot onteiening sonder vergoeding.

 

Daar is talle voorbeelde in die wêreldgeskiedenis waar ontwapening van burgers die begin was van staatsgeweld teen onderdane en selfs massa-uitwissing. Hiervan getuig onder meer die Söviet Unie onder Stalin en China onder Mao Zedong – beide state gedryf deur rewolusionêre ideologieë met ʼn Marxistiese vertrekpunt. Hierdie ideologie  verskil nie wesenlik van die ANC se se Nasionaal-Demokratiese-rewolusie-idee nie.  Hiervan moet Suid Afrika en al sy burgers gevrywaar word en daarom kan geen risiko’s geneem word nie. Niemand kan sy plig en verantwoordelikheid hier versaak nie.

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: