Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Augustus 2023

Ramaphosa - Vrede of Rewolusie?

Deur Dries Wiese

Voorsitter van die Nasionale Raad


In President Ramaphosa se Mandela-dag standpunt op 18 Julie het hy die volgende standpunt gehuldig: “As South Africa we hold fast to the ideal that a better world can be achieved through engendering peace. This derives from negotiation and compromise over violence, the use of force and resorting to war.”

 

Dit is die tipe oproep van ʼn president wat dialoog en kompromie voorstaan en in normale omstandighede sou dit verwelkom word. Dit verskil egter wesenlik van die ANC leier, Cyril Ramaphosa se toespraak van 2 Julie 2023 by die ANC Jeugliga se 26ste Nasionale Konferensie. Toe het hy die jeug opgesweep om militante rewolusionêre te word. Ramaphosa het inderdaad by die geleentheid ook bevestig dat die ANC jeugliga die rewolusie is.

 

Die president se uitsprake by die ANC jeugliga is roekeloos en populisties. Hiermee word hy net nog ʼn politieke leier wat geen beheer het oor sy volgelinge of “rewolusionêre vegters” en hoe die uitsprake beleef of geïnterpreteer word nie.

 

Die president skaad die waardigheid van die amp ongeag of die optrede by ʼn politieke party geleentheid was. Politici en politieke partye moet opnuut gewaarsku word dat hulle populistiese en ideologiese uitsprake en los en vas verwysings na rewolusie ʼn gevaarlike spel is. In ʼn Suid-Afrika wat daagliks gekonfronteer word met onluste, geweld, boewery en vandalisme en misdaad waaronder moord, plaasmoorde en politieke sluipmoorde is die uitsprake onverskoonbaar. Dit is ook met direkte verwysing na die uitsprake van Julius Malema by die EFF se onlangse saamtrek. 

 

Politieke leiers, waaronder die president met hulle eise en retoriek kom te maklik weg met aanstigting tot geweld en dit word sienderoë toegelaat as deel van die Suid-Afrikaanse woordeskat. Dieselfde politieke leiers trek die skouers ongeërg op oor waarskuwings dat hulle retoriek moontlik ʼn direkte ander en noodlottige gevolg kan hê. Politieke moorde, veral in Kwazulu Natal is ondersoek deur ʼn Kommissie van Ondersoek (Die sg Moerane Kommissie) wat ʼn omvattende verslag met aanbevelings bekend gemaak het. Interessant is een van die bevindinge “There was evidence that language used by politicians is sometimes provocative and incites violence, contributing to the murder of politicians.” Die vraag is of die “opswepende en aanhitsende taal” wat politici gebruik, net beperk kan word tot die moorde op politici? Lees die verslag aanlyn.  http://www.kznonline.gov.za/images/Downloads/Publications/MOERANE%20COMMISSION%20OF%20INQUIRY%20REPORT.pdf)

 

Die president is veronderstel om die voorbeeld te stel. Ons waarsku al lankal dat opruiende taal deel van die dilemma van Suid-Afrika is. Onder watter voorwendsel predik die president vrede, maar hits terselfdertyd sy party se jeuglede aan om militant en rewolusionêr op te tree? Sal die ware Cyril Ramaphosa na vore kom. Staatsman of aanstoker. Hy kan nie beide wees nie. Die land roep vir leierskap en sy optrede spreek nie daarvan nie. Dit is die groot teleurstelling van die bewind van Cyril Ramaphosa.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: