Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Maart 2023

Rapport Onderwysfonds (20 Jaar)

 

1.       ROF is vanjaar twintig jaar oud

Die Rapport Onderwysfonds is op 16 November 2003 geloods. In die voorafgaande tydperk het die Uitvoerende Raad van die Afrikanerbond oor 18 maande die daarstelling van 'n Fonds ondersoek wat die Afrikaanssprekende gemeenskap kon bemagtig om hul kinders tot die hoogste moontlike opvoedkundige en kundigheidsvlak te laat oplei.

 

In die ondersoek na die verwesenliking van hierdie ideaal, het die Afrikanerbond in gesprek getree met Rapport en Solidariteit, en dit het onmiddellik duidelik geword dat hierdie twee vennote presies dieselfde doelwit nastreef. Die uitkoms na verskeie gesprekke is dat die drie instansies besluit het om, in belang van die sukses en die omvang van die Fonds, kragte saam te snoer. Die resultaat is die Rapport Onderwysfonds.

 

Hierdie Fonds het ten doel gehad om beurse en/of beurslenings en/of skenkings aan Afrikaanssprekende studente, veral onderwysstudente maar ook studente in ander studierigtings wat die bevordering van Afrikaans as wetenskapstaal ten doel het, teen gunstige voorwaardes beskikbaar te stel. Die Fonds het by die Ontvanger van Inkomste Artikel 18A-vrystelling of te wel belastingvrystelling verkry, wat beteken dat skenkers op aanvraag 'n belastingvrystellingsertifikaat kan ontvang. Volgens wet moet die studiehulp gekanaliseer word via instellings wat soortgelyke vrystelling het en is ons tans besig om met alle tersaaklike universiteite, technikons, kolleges, opleidingsinstansies en skole hieroor te onderhandel. Die dag tot dag administrasie van die Fonds is aanvanklik deur die Afrikanerbond hanteer.

 

Die drie stigtersvennote het elkeen 'n aanvangsbedrag geskenk. Die Afrikanerbond as vennoot saam met Rapport, en Solidariteit het op een of ander wyse ʼn direkte bydrae gemaak. In die Afrikanerbond se geval is R123 000 bewillig terwyl vier direkteure van die AB gesamentlik in hul persoonlike hoedanigheid 'n verdere R76 700 geskenk het. Sedert die stigting van die Fonds het verskeie individue, waaronder heelwat AB lede, enkelsombydraes tot die Rapport Onderwysfonds gemaak terwyl sommige individue debietorders by hulle banke in die guns van die Rapport Onderwysfonds geregistreer het. Die Rapport Onderwysfonds (ROF) wat in 2003 amptelik geloods is, het nie net 'n mooi droom gebly nie maar het reeds in praktyk in die jaar 'n eerste 9 studente begin bystaan.

 

Waar ons vanjaar twintig jaar vier het ons ʼn stewige fonds opgebou wat reeds honderde studente gehelp het.  Rondom die twintig jaar viering is ʼn proses begin om die webwerf van ROF op te gradeer. ’n Logo is ook ontwerp met die oog op ROF se 20ste bestaansjaar in 2023. Alle ROF-materiaal (briefhoof, bemarkings-dokumente, epos-handtekeninge), webblad en Facebook sal gedurende 2023 die logo inkorporeer.  Daar sal seker gemaak word dat rooi in die logo dieselfde dié van Rapport se rooi is.

 

AB lede in provinsies en afdelings kan gerus weer spesiale projekte oorweeg om fondse in te samel vir die vlagskip projek.

 

2.        Omvang en behoeftes in 2023

 

ROF het teen 10 November 2022 ’n totaal van 1069 aansoeke vir 2023 ontvang, waarvan 680 hul aansoeke tot datum volledig ingedien het. Die beskikbaarheid van akademiese uitslae asook ander dokumente wat nie ingedien is nie, dra daartoe by dat talle van die aansoeke nog nie voltooi is nie.

 

Die Beurskomitee het 457 van die studente aanbeveel wat vir toekenning van lenings kwalifiseer. Studente wat vir NSFAS kwalifiseer is dienooreenkomstig ingelig en van die kontakbesonderhede voorsien. 

 

Die verspreiding van studente wat aansoek gedoen het by die verskillende akademiese inrigtings, word in die onderstaande grafiek getoon. 

 

ROF begroot om in 2023 ’n bedrag van R9 miljoen beskikbaar te stel om minstens 300 studente te ondersteun. Dié ondersteuning word gedeeltelik moontlik gemaak deur die bydraes van korporatiewe donateurs. 

 

Die aansoekers wat nie nou gehelp kan word nie, word op die reserwelys geplaas. Hulle word gekontak sodra ’n lening nie aanvaar word nie óf indien ’n student in die eerste vyf maande ’n NSFAS-toekenning kry en die ROF-lening kanselleer.

 

Jan Bosman, Hoofsekretaris van die Afrikanerbond dien as verteenwoordiger van die Afrikanerbond as ʼn trustee van ROF en dien ook op die dagbestuur van die Rapport Onderwysfonds. Dr Louis du Plessis se termyn het onlangs verstryk en hoewel hy weer beskikbaar kon wees vir ʼn volgende termyn het hy besluit om dit nie te doen nie. Nico Stofberg van die Wes-Kaap is deur die Nasionale Raad aangewys as trustee. 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: