Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          April 2023

Regering van Nasionale Eenheid - Lesse uit die verlede vir koalisies na 2024


Met ʼn jaar voor die volgende algemene verkiesing is koalisies ʼn gewilde tema in verskillende besprekinge. Koalisies en samewerking kamverskillende vorme aanneem en in Suid-Afrika was die Regering van Nasionale Eenheid in 1994 ʼn simboliese vorm van samewerking wat in die oorgangsgrondwet opgeneem is as vorm van samewerking.   

 

Op 14 Maart 2023 was daar in “Pretoria ‘n mini-dinkskrum deur akademici, rolspelers in belangstellende organisasies en eertydse rolspelers naby aan die 1994-onderhandelinge en die destydse Regering van Nasionale Eenheid. Die doel was om ‘n gesprek te begin oor moontlike modelle vir ‘n nasionale koalisieregering.” So skryf die Redakteur van Beeld, Barnard Beukman, oor die gesprek wat by Future Africa by die Universiteit van Pretoria plaasgevind het. (Lees die artikel)

https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/barnard-beukman-koalisiepyne-straks-n-nodige-sa-oorgang-20230318

 

Die hoofsekretaris van die Afrikanerbond, Jan Bosman, het die gesprek bygewoon en beskryf dit “as ʼn bydrae tot die groter gesprek oor die verstaan van koalisies en lesse wat ons in die verlede geleer het en moet bydra tot die soeke na oplossings vir die post-2024 periode.”

 

Die volgende is ʼn uittreksel uit ʼn verslag wat na die gesprek opgestel is:  

 

Koalisies in die toekoms en lesse geleer uit die Regering van Nasionale Eenheid (1994-1996)

Suid-Afrika het in die oorgang na ʼn nuwe demokrasie ʼn Regering van Nasionale Eenheid gehad en is lede van die ANC, die NP en die IVP in die regering opgeneem.

 

ʼn Regering van Nasionale Eenheid het verskillende doelwitte en dit behels samewerking op ʼn mindere of meerdere mate van een of ander aard op uitvoerende vlak:

  • mindere samewerking op wetgewende vlak,
  • samewerking rondom nasionale krisisse, byvoorbeeld krag-en waterkrisisse
  • effektiewe regering ten  einde dienslewering moontlik te maak,
  • misdaad en korrupsie aan te spreek,
  • ʼn gesamentlike ekonomiese benadering om werk te skep.

 

Waarom het die Regering van Nasionale eenheid 1994-1996 nie gewerk nie? Volgens rolspelers van daardie tyd kan ons vandag leer uit die duur lesse van daardie tyd. Die NP het vir ʼn verskeidenheid van redes uit die Regering van Nasionale Eenheid onttrek:

  • Die ANC wou in onderhandelinge vir die finale 1996 grondwet nie ʼn variasie van die konsep van Regering van Nasionale eenheid oorweeg nie.
  • Die persoonlike statuur en gevestigde leierskap van leiers in die RNE was te groot. De Klerk en Mandela was Nobelpryswenners en Buthelezi het sy eie ondersteuning gehad.
  • Die leiers van 1990 was op ʼn afstand betrokke by onderhandelinge. Hulle was nie eerstehands betrokke nie.
  • Mandela en De Klerk se verwagtige van mekaar was onversoenbaar. De Klerk was in ʼn ondergeskikte rol en was nie altyd hiervoor te vinde nie.
  • De Klerk was as NP leier ook die amptelike opposisie. Die amper teenstrydige rolle kon nie versoen word nie en het gelei tot irritasies met individue. De Klerk was lid van die kabinet, maar daar is terselfdertyd verwag dat hy die konsensussoekende rol ook buite die kabinet moes speel. Dit kon hy nie as opposisieleier doen nie. Daar was gewerk op konsensus in die Kabinet maar buite die kabinet was daar konflik as daar enige kritiek was.   
  • Die Regering van Nasionale Eenheid se portefeuljeverdeling was nie gebalanseerd nie. Die NP het grootliks ‘minderwaardige’ portefeuljes ontvang en moes ten minste ook ʼn adjunk in die sekuriteitsportefeulje kry.
  • In die parlement het die ANC die voorsitterskap van al die portefeulje komitees gekry.  Dit was moontlik ‘n fout want die wetgewende gesag is gevolglik uitgesluit van die konsensus benadering wat die RNE vereis het. 

 

Perspektiewe oor die RNE en die rol van onderhandelinge:

  • Niemand in die kabinet, behalwe die onderhandelaars, het enige ervaring gehad in die konsensussoekende model wat die RNE geverg het nie.
  • Onderhandelinge is gevoer in ʼn klein en bekende groep en dit het noodwendig intieme blootstelling aan mekaar tot gevolg gehad. Die onderhandelaars aan beide kante kom uit jare se ontwikkeling van vaardighede en het mekaar goed leer ken. Ander lede van die kabinet na 1994 was vreemd en onbekend aan mekaar. 
  • Die NP onderhandelaars het die ANC geken. Die lede van die Parlement in die NP koukus was nie bekend of vertroud met die ANC en hulle leiers nie. 
  • Gevolglik was parlementêre portefeuljekomitees problematies. Gewone ANC en NP parlementariërs is skielik teen mekaar opgestel. Om konsensus te vind was meestal nie moontlik nie en het ernstige konflik tot gevolg gehad.

 

Uit bogenoemde kan lesse geleer word. Vandag se lede van die Parlement is moontlik beter geposisioneer en toegerus met meer vaardighede en ervaring om in die opponerende situasies te kan funksioneer. Vandag is die verwagtinge ook by kiesers dat partye moet saamwerk. Dit is baie anders as in 1994.  

 

 ʼn NP ervaring na 1994

Vir die NP was die 1994 verkiesing traumaties. By NP parlementslede was daar ʼn oordrewe depressie oor die magsverlies.  ʼn Meer as 20% uitslag in ʼn nasionale verkiesing is vandag ʼn besondere goeie uitslag. In 1994 was dit egter vernederend.

 

Hierteenoor het die ANC parlementslede parlement toe gekom met ʼn oordrewe sin van oorwinning. Nou is dit die ANC se beurt. Vir die NP was dit ʼn groot verlies. 

 

In verskillende sektore in die samelewing het die voorheen bevoordeeldes die magsverlies ook skielik eerstehands begin ervaar. Die land het ingrypende veranderinge beleef. Die aanvanklike siening was dat die onderhandelinge se effek slegs beperk sou word tot die parlement en die Uniegebou. Die veranderinge was egter omvattend en die effek het deurgekring na ander sektore, soos die ekonomie. Dit het kiesers verwar want niemand het die omvang besef nie. Hiervoor is die NP verkwalik.

 

Die positiewe elemente verbonde aan ʼn Regering van Nasionale Eenheid? 

  • Die teenwoordigheid van minderheidspartye het ʼn heilsame en versoberende uitwerking op besluite. Dit is nie net die ANC se besluite en benadering wat oorweeg word nie. 
  • Minderheidspartye veg bo hulle gewigsgrens en verkry ʼn groot persentasie sukses, meer as hulle verteenwoordiging. Dit word egter nie altyd so gesien of waardeer in koukusse nie.
  • ʼn Regering van Nasionale Eenheid het dikwels meer te make met die simboliese en versoenende waarde van een land een nasie. Dit verg samewerking om eenheid te bring. In die versoeningsperiode moet die rol van mnr Nelson Mandela wel uitgelig word. Hy kon momente van versoening simbolies demonstreer  Sy leiding in ʼn enkele regering wat bestaan uit verskillende partye en individue wat vroeër in konflik met mekaar was, was merkwaardig. Dit alles is die simboliek van die Regering van Nasionale Eenheid.

 

Hoe moet so ʼn Regering van Nasionale Eenheid vandag verpak word? (Praktiese voorstelle uit die 1994-1996 ervaring)

  • In die uitvoerende gesag behoort daar proporsionele deelname te wees met ʼn behoorlike verdeling van portefeuljes.
  • Die President word aangewys uit die grootste party en die adjunk uit die tweede grootste party. 
  • Daar behoort ook die grootste mate van samewerking in die wetgewende gesag (Parlement) plaas te vind. Soos byvoorbeeld die nasionale begroting. Die Partye wat deelneem moet vooraf ooreenkom oor die ondersteuning van die begroting. 
  • Wat die wetgewende en oorsig funksie aanbetref is daar geen formele samewerking nie en elke party het die reg om sy eie beleid te formuleer en te bevorder.
  • Samewerking is ʼn gee en neem proses. Voorsitterskappe van Parlementêre portefeuljekomitees moet ook proporsioneel verdeel word. Wat oorsig in die parlement aanbetref verskyn ministers voor partye wat uit die opposisie gelei word. Dit impliseer oorsig.
  • Die samewerkingsrol moet deurvloei ook na die samestelling van belangrike rade (bv SABC) en die aanstelling van senior amptenare soos Direkteurs-Generaal.

 

Wat kan positief wees van ʼn hedendaagse Regering van Nasionale Eenheid?

  • Dit kan die inploffing van die ANC versnel.
  • ‘n Partyleier kan visie, charisma en leierskap hê maar slegs een faktor tel:  - - Die leier se vermoë om poste beskikbaar te maak en uit te deel. Die skielike voordeel was onder andere ook instrumenteel tot die NP se ondergang. Die ANC gaan dieselfde pad loop.
  • In ʼn behoorlike oorsig in ʼn post-2024 politieke omgewing kan dit lei tot ʼn sterker en meer betekenisvolle parlement. Ministers word nie meer deur hulle eie party beskerm nie.
  • Dit kan lei tot nuwe alliansies en sterker samewerking op pad na 2029. 
  • Dit kan lei tot ʼn afname in korrupsie en beter dienslewering.
  • Dit kan ook lei tot ʼn afname in vakbonde se mag en invloed. Vakbonde lê die regering tans lam en is deel van die regerende party se kongresse en verkiesing van leierskap. Dit is dus instrumenteel deel van die probleem.

 

Uit die voorafgaande kan afgelei word dat daar ʼn besliste verdieping van gesprek oor koalisies is, nie net in die politieke omgewing soos koukusse nie, maar ook in debat in die openbare samelewing. Dit moet aangemoedig en ondersteun word.

 

Koalisies – ʼn nuwe konsep vir Suid-Afrika

Dr Frederik Van Zyl-Slabbert se waarneming in 1990 oor die vereistes vir ʼn nuwe bedeling was dat dit Legitimiteit, stabiliteit, ekonomiese groei en ekonomiese ontwikkeling verg. Dit is net so geldig in 2023. Die huidige ANC-regering is besig om die vereistes ongedaan te maak en kan die soeke na ʼn koalisie die vereistes weer relevant maak op die weg na ʼn nuwe bedeling.

 

Die Afrikanerbond is nou al vir meer as ʼn jaar ook gemoeid om koalisies te bevorder. Ons voorvereiste is dat ons ʼn koalisie vir 2024 wil bevorder binne ʼn aanvaarbare waardebasis wat die ruimte skep vir ʼn breë ooreenkoms, inbinding  en samewerking.

 

ʼn Koalisie behoort na ons mening nie teen iets te wees nie, maar moet vir iets staan. Dit is die breë waardebasis. Onlangse verwikkelinge en lesse geleer uit die koalisies op plaaslike regeringsvlak dui daarop dat partye mekaar begin vind rondom gemeenskaplike waardes. Die ideaal bly dat formele samewerking vir die 2024 verkiesing op die basis van ʼn gedeelde handves gebaseer kan word. Hierbinne kan elke party sy onafhanklikheid en eie identiteit behou.

 

Kyk na die gesprek oor koalisies in die AB in dialoog webinaar met Prof Dirk Kotzé wat op 22 Maart 2023 plaasgevind het. 

https://www.afrikanerbond.co.za/prof-dirk-kotze-webinaar---22-maart-2023


Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: