Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Kersfees Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Desember 2023

Ons gebroke samelewing kan weer geheel word.

- 'n Ontmoeting tussen politieke leiers in die Veelpartyhandves vir SA en organisasies in die burgerlike samelewing

 

ʼn Gesprek tussen politieke leiers van die Veelpartyhandves vir Suid-Afrika en organisasies het op 28 November 2023 in Boksburg plaasgevind. Die Veelpartyhandves bestaan uit die volgende partye (Die Demokratiese Alliansie, Die Inkatha Vryheidsparty, Vryheidsfront Plus, Action ACDP, ACDP, ISANCO, UIM en SNP)

 

Die Afrikanerbond is by die geleentheid verteenwoordig deur Brs Dries Wiese, Voorsitter, Karel Tredoux, (NR Lid vir Gauteng-Noord) en Danie de Kock (NR lid vir Noordwes) en Jan Bosman (Hoofsekretaris) 

 

Dit was belewenis en voorreg om die Veelpartyhandves se gespreksgeleentheid met organisasies by te woon. Die interaksie en netwerk met politieke leiers en organisasies was waardevol. Die program is afgeskop met kort insette van partyleiers. Daarna kon organisasies in twee sessies voor en na middagete bydraes lewer. Daar was ‘n verskeidenheid van organisasies in die burgerlike samelewing en enkele insette is ook aanlyn uit die buiteland gedoen. Solidariteit, AfriForum, OUTA, FW de Klerk Stigting, Instituut vir Rasseverhoudinge, Brenthurst Foundation, Kaapse Forum, Action Society, Defend our Democracym die NG Kerk en vele ander.

 

Kommer oor misdaad, ekonomie, onderwys, beurtkrag, korrupsie en ander sake is uitgespreek en daar was ook insette oor prioriteite vir ‘n nuwe regering. Die politieke leiers het aan die einde weer saamgevat en ook hulle was waarderend oor insette deur die dag.

 

Die hoofsekretaris, Jan Bosman, het namens die Afrikanerbond insette gelewer. Hier volg uittreksels uit sy toespraak: 

Ons het die Zimbabwe film gesien met rampspoed en ellende

-     Ons as kiesers moet die Suid-Afrikaanse draaiboek dringend en ingrypend verander.

 

Ons is vandag teenwoordig omdat ons bekommerde Afrikaners is maar ook eweneens diep bekommerde Suid-Afrikaners is.

 

Alhoewel die Afrikanerbond volgens sy grondwet "nie party-polities verbonde is nie” het die politieke omgewing elke dag 'n invloed op Afrikaners en ander minderhede en gemeenskappe in Suid-Afrika en kan ons nie wegstaan as die politiek ons belange bedreig nie.

 

Ons ontmoet vandag nie ver van die Wêreldhandelsentrum waar die belangrike Kodesa onderhandelinge plaasgevind het wat die nuwe demokratiese bedeling tot gevolg gehad het. Dit moet gesien word teen die agtergrond van verskeie kante en teenstrydige ideologieë wat vanuit 'n posisie van konflik begin het en uiteindelik mekaar rondom 'n onderhandelingstafel gevind het. Uit hierdie onderhandelings is 'n nasionale akkoord bereik wat uiteindelik geformaliseer is in 'n oorgangsgrondwet en die finale grondwet van 1996.

 

Die meerderheid wit bruin, en swart Suid-Afrikaners het met entoesiasme en ywer die nuwe demokrasie in 1994 verwelkom. Vanuit die burgerlike samelewing was daar die verwagting die hoop, die ideaal dat ons uit die verlede sou beweeg na ‘n voorspoedige toekoms waarin wit en swart, Afrikaner en Zoeloe, mekaar kon vind in die ideale van Nelson Mandela se nasiebou en Desmond Tutu se reënboognasie.

 

In 2024 is ons op pad na die 30ste jaar van veronderstelde demokrasie in Suid-Afrika, in dieselfde jaar waarin ons ook 'n nasionale verkiesing gaan hê. Ons demokrasie behoort teen hierdie tyd reeds stewig gevestig te wees, maar daar is steeds tekens dat demokrasie ondermyn word. Daar is 'n aantal spesifieke voorwaardes wat voldoen moet word voordat enige demokrasie as gekonsolideerd of gevestig beskou kan word, naamlik:

  • ʼn Vrye en sterk burgerlike samelewing.
  • ʼn Outonome “politieke samelewing” met genoegsame “samelewings beheer” oor die strukture van die staat.
  • Alle politieke akteurs is onderworpe aan die oppergesag van die reg wat burgerlike vryhede beskerm.
  • ʼn Deursigtige, verantwoordelike en funksionerende staatsadministrasie.
  • ʼn Gevestigde en geïnstitusionaliseerde ekonomie waarin ʼn mark-ekonomie en die privaatbesit van produksie-faktore prominent figureer.

 

Die demokratiese bedeling wat onderhandel is, het hoop gegee aan miljoene Suid-Afrikaners en moes ʼn bedeling skep gevestig op vaste waardes. Die onderhandelinge is gebaseer op 34 grondwetlike beginsels en die beginsels is in die 1996 grondwet vervat. Die belangrike beginsels van die nasionale akkoord se gees en bedoeling het egter vervaag geraak in die regerende party se ideologiese kultuur wat ons grondwet aktief ondermyn het.

 

Ons en baie ander instansies het sedert 1994 vele gesprekke gehad met die ANC as party en met senior lede van regering. Oplossings is voorgestel, gesamentlike werkskomitees is as oplossing voorgehou. Die regering wou egter nie luister nie. Dalk was die politieke wil van die begin af afwesig OF was hulle van meet af aan oneerlik in bedoeling.  Vandag sit ons met krisisse wat deur ideologie gedryf word in onderwys, misdaad, landbou en grondbesit, staatsondersteunende entiteite wat misluk, plaaslike regering waar dienslewering faal, en dorpe en gemeenskappe vir dae sonder elektrisiteit en water sit.

 

Die ANC het ten spyte van goeie bedoelings vanuit die burgerlike samelewing en gemeenskaplike ooreenkomste gewys dat hy nie vertrou kan word nie - inteendeel daar is diep wantroue in die regering en die regerende party, mens sou selfs kon verwys na ʼn vertrouensbreuk.  

 

Dit is in die internasionale samelewing telkens bewys dat wanneer mense afgestomp en ontnugter raak met hulle politieke stelsel, hulle afvallig raak met die bestaande orde. As dit vir te lank toegelaat word om te sweer, kan wydverspreide en intense wantroue uiteindelik oorgaan in ʼn teenreaksie teen die politieke bestel. Tot dusver was die ANC se reaksie hierop om meer en meer ongrondwetlik op te tree. Dan word vertroue tussen ʼn regering en sy burgery bitter moeilik herstel.

 

Die ANC het deur sy rewolusionêre oogmerke, sy verknogtheid aan die Freedom Charter, die belang van die politieke elite in die ANC en ou internasionale struggle” lojaliteite se belang gestel bo die grondwet en die van Suid-Afrika en ons as Suid-Afrikaners. Vandag betaal ons ʼn duur prys vir misplaaste lojaliteite.

 

Ons is vandag onafwendbaar op 'n selfvernietigende Zimbabwe pad mits daar nou politieke ingryping kom. Deur korrupsie, selfverryking kader ontplooiing, min na geen dienslewering het die ANC die morele hoë grond verloor. Ons het die Zimbabwe film gesien. Dit is ʼn verhaal van verval, rampsoed en ellende.  Dit is in opposisieleiers in die Veelpartyhandves vir SA en ons as kiesers se belang om die draaiboek vir Suid-Afrika radikaal te verander.

 

Suid-Afrika smag nou na leierskap en staatsmanskap sowel as 'n nuwe gemeenskaplike patriotisme.  Dit wat die leiers en partye begin het in die Veelpartyhandves moet altyd die stewe wees. Om in landsbelang op te tree en nie in partybelang nie. Dit moet egter geldig wees voor en na die verkiesing. Los die kleinlike interne gevegte. Die party se belang kan nooit hoër geag word as Suid-Afrika se belang nie. Dit alleen kan in ʼn nuwe waardestelsel en ʼn nuwe patriotisme gevind word. Die Veelpartyhandves vir Suid-Afrika het dit reeds begin verwoord in sy visie – “‘ 'n Nuwe regering wat 'n regverdige, inklusiewe en vooruitstrewende Suid-Afrika sal baseer op geleenthede, vryheid en veiligheid vir al sy burgers.”

 

Ons het op 14 Augustus 2023,  net voor die politieke leiers in die Veelpartyhandves bymekaar gekom het, ʼn skrywe gerig aan u as leiers. Ons het gevra dat u dringend die volgende sake in oorweging moet neem:   

  • ʼn Herbesinning oor rasgedrewe transformasie as ideologiese denkrigting.
  • Die suksesvolle implementering van die NOP of ʼn sterk fokus op ekonomiese uitkomstes soos armoedeverligting, werkskepping, sosiale sekerheid, landelike ontwikkeling, privaat grondbesit en eiendomsreg.
  • Demokratiese konsolidasie wat sy basis vind in ʼn regering van nasionale eenheid;
  • Moreel etiese grondslae en waardesisteme,
  • Die regte van minderheidsgroepe, kulture en tale. 
  • Die inkoop en deelname van verskeie rolspelers (nie net partye nie) is hier nodig.
  • Die grondwet, maar veral die 34 grondwetlike beginsels as belangrike historiese grondslag,
  • ʼn Nuwe patriotisme met versoening en eenheid as fundamentele rigtingwyser en;
  • Strategiese leierskap op staatkundige en ander vlakke van die samelewing

 

Ons sou hierby ook wou voeg dat daar met opregtheid gekyk moet word na die grondkwessie en grondeienaarskap. ʼn Oplossing van eienaarskap van grond kan op ʼn kreatiewe wyse gevind word.  Hieroor en al die ander kwessies sal ons graag in die toekoms en aan ʼn nuwe regering, voorstelle wil maak.

 

Politieke vergrype, magsmisbruik, toenemende korrupsie, ongekende misdaad, beurtkrag en gebrekkige dienslewering het elke Suid-Afrikaner nadelig geraak. Die gevaar is vandag dat kiesers hulle vertroue in die politieke bestel verloor. Daar is egter nog goeie wil tussen Suid-Afrikaners vanuit verskillende gemeenskappe. Dit is hierdie redelike en gematigde Suid-Afrikaners wat veronderstel is om hande te vat en saam te bou. Dit is vir dié redelike Suid-Afrikaners waarvoor die Veelpartyhandves van Suid-Afrika hoop moet gee. 

 

Ons is vandag ʼn gebroke samelewing. Dit kan weer geheel word. In die proses van heling kan daar egter nie meer plek vir die ANC in sy huidige vorm of leierskap wees nie. Dit moet nou Suid-Afrika en sy mense eerste wees. Mag hierdie inisiatief en proses in die aanloop en afloop van die 2024 verkiesing suksesvol wees. Bou in elk geval voort ongeag wat die 2024 verkiesing se uitslae is. Ons het vanuit die konflikte van die verdeelde verlede ʼn oplossing gevind. Dit is nou dertig jaar later. Mag hierdie inisiatief daaruit inspirasie vind en ʼn praktiese realiteit bou vir die toekoms. 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: