Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Mei 2023

Verban politici uit staatsbeheerde ondernemings

Deur Prof. William Gumede

 

Die onderstaande artikel deur Prof. William Gumede het op Sondag 23 April in die Sunday Times verskyn. Die artikel, wat deur die Afrikanerbond vertaal is, word geplaas met die vergunning van Prof Gumede en met erkenning aan die Sunday Times.

 

Daar moet 'n duidelike skeiding tussen partypolitiek en die staat wees, en dit sluit staatsbeheerde ondernemings (SBO's) in. Die aanstelling van politici aan die hoof van SBO's takel daardie skeiding af deur die SBO’s aan die party eerder as aan die publiek verantwoordbaar te maak. Sulke aanstellings, veral as voorsitters en HUB's, is een van die redes waarom ons SBO's deurgaans versuim om hul mandate na te kom en deur onbevoegdheid en korrupsie geteister word.

 

Die aanstelling van huidige en voormalige politici het SBO's in entiteite verander wat selfverryking en korrupte doelwitte bo die lewering van gehaltedienste en winsgewendheid stel. Daardie politici ondermyn goeie korporatiewe bestuur, verantwoordbaarheid en produktiwiteit. Hulle tap werknemers se moraal, stook giftige organisasiekulture en verdryf talent.

 

In verreweg die meerderheid van gevalle beskik politici wat in direksies aangestel is oor geen gespesialiseerde vaardighede buiten politieke vernuf of verbintenisse met ANC-leiers nie. Talle word aangestel op grond van patronaatskap alleen – om hulle te beloon vir hul lojaliteit teenoor die party en hul ondersteuning van leiers of faksies.

 

Politici verpolitiseer dikwels raadsale, sodat verreikende besluite op die party of faksie se behoeftes of eiebelang geskoei word. Hulle verander raadsale in spasies waar faksiepolitiek afspeel. Hulle fasiliteer giftige organisasiekulture en druk dikwels direksie- en uitvoerende aanstellings deur, kanaliseer kontrakte na polities-verbonde maatskappye en stoomroller projekte wat onvolhoubaar is of nie aan die besigheid se mandaat voldoen nie.

 

Politiek aangesteldes word dikwels toegelaat om ongehinderd hul gang te gaan, selfs al is hul optrede vernietigend vir die besigheid en al ondermyn hulle prestasie en laat korrupsie floreer, want hulle word deur die ANC-leierskap se mag beskerm. Om hulle teen te gaan, lei dikwels tot afdanking of smoor enige kans om werk by ander SBO's te kry, so om uit te praat, kan loopbaan-selfmoord wees.

 

Dit beteken ook dat politiek aangesteldes nie deur die res van die direksie of bestuur aanspreeklik gehou kan word nie. Hulle is slegs aan die ANC-leierskap verantwoordbaar, wat lojaliteit aan die party bo alles anders stel.

 

Sulke aangesteldes bring ook politieke bagasie met hulle saam – hul voorsangers, politieke vyande en korrupsiesake. Dit beteken die SBO's onder hul bestuur ervaar dikwels herhalings van die politieke gevegte, korrupsie en onbevoegdheid wat hulle agtervolg.

 

Daar moet 'n skeidsmuur tussen partypolitiek en die staat of SBO's wees. Die aanstelling van politici in die staat of SBO’s wis daardie skeiding uit en maak hulle sodoende aan die party eerder as die publiek verantwoordbaar.

 

Daar is verskeie lande waarin voormalige politici in die direksies van openbaresektor-entiteite aangestel word, soos Frankryk en Suid-Korea — gewoonlik op grond daarvan dat hulle volledig uit partypolitiek getree het en oor spesialisvaardighede in nie-politieke loopbane in velde soos rekeningkunde, geneeskunde of die regte beskik. In Suid-Afrika is talle ANC-lede egter beroepspolitici. Hulle het nog nooit met iets anders as partypolitiek te doen gehad nie. Die meerderheid het nie spesialis-, tegniese of besigheidsvaardighede nie — basiese vereistes vir die bestuur van Suid-Afrika se komplekse SBO's.

 

In munisipaliteite wat deur koalisies bestuur word, eis kleiner opposisiepartye toenemend dat hul lede in die direksies en bestuur van munisipale SBO's aangestel moet word as 'n voorwaarde om by 'n koalisie aan te sluit. Soos met die ANC, kort hierdie politici ook dikwels die vereiste vaardighede en veroorsaak sodoende dat strukture afgebreek eerder as funksioneel gemaak word.

 

Die sleutel tot die ontsluiting van funksionele SBO's is om politici uit hul direksies en bestuurstrukture te verban. Dit is die enigste manier om die verpolitisering van hierdie entiteite te voorkom, wat aan die kern van hul korporatiewebestuur-mislukkings, patetiese dienslewering en hoë vlakke van korrupsie sit. SBO’s se direksies en bestuurstrukture moet uit beroepslui bestaan en deursigtig wees, terwyl aanstellings op meriete, bevoegdheid en toepaslike praktiese ervaring gebaseer moet word.

 

Indien nie, sal hierdie kritieke sentrums van openbare dienste aanhou misluk in die uitvoering hul mandate en 'n teëlaarde vir knoeiery en die vermorsing van openbare finansies bly.

 

·        William Gumede is medeprofessor aan die bestuurskool van die Universiteit van die Witwatersrand en die skrywer van ‘Restless Nation: Making Sense of Troubled Times’ (Tafelberg)

Lees die oorspronklike artikel aanlyn: https://www.timeslive.co.za/sunday-times/opinion-and-analysis/opinion/2023-04-23-functional-soes-require-politicians-being-banned-from-their-boards/

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: