Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          September 2023

VivA die taalhulpblad

Die virtuele instituut vir Afrikaans

 

 Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (www.viva-afrikaans.org) het in 2015 ontstaan as ’n enkele navorsingsprojek wat net vyf jaar sou duur. Die vier stigtersmaatskappye – die ATKV, Noordwes-Universiteit, Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Trust vir Afrikaanse Onderwys – het destyds ingestem om fondse te bewillig om ’n droom te verwesenlik wat sal verseker dat Afrikaans oor twintig, vyftig en selfs ’n honderd jaar van nou af steeds in sy hoë funksies sal kan fungeer.


VivA word daagliks deur talle taalgebruikers geraadpleeg. Ons is hier by VivA weekliks verstom oor die kreatiewe manier waarop ons gebruikers die inhoud aanwend wat VivA navors - in die praktyk, met hul studies, in klaskamers of bloot om hul eie kennis oor die taal te verbreed. 

 

Ons stel bekend: VivA 2.0

Op Vrydag 28 Julie 2023 is VivA 2.0 bekendgestel. Twee dinge bly egter onwrikbaar: Ons bly ’n navorsingsinstituut én ’n digitale maatskappy. VivA 2.0 gaan ’n wye verskeidenheid addisionele inkomstestrome begin implementeer, en ons is reeds daarmee besig.
Alle gebruikers sal voortaan moet registreer en aanteken om toegang te verkry tot VivA 2.0 se platform. Registrasie is steeds gratis. Een van die redes waarom ons gebruikers vra om te registreer en aan te teken, is sodat ons kan weet watter tipe VivA 2.0-gebruiker elkeen is, en dat elke individu dadelik by die regte inhoud en sagteware kan uitkom.


Wat verander?

VivA 2.0 gaan in ses afdelings, naas VivA-Uitgewers, verdeel word. Hierdie afdelings is saamgestel met ons gebruikers se unieke behoeftes voor oë. VivA se webblad bied tans meer as 120 produkte en dienste aan die Afrikaanse taalgemeenskap. Dit is dus maklik om taalhulpmiddels mis te kyk of om tussen die verskillende portale te verdwaal. Dit is vir ons ’n prioriteit om VivA se webblad, produkte en dienste op 'n toeganklike, gebruikersvriendelike wyse aan te bied. Daarom het ons ses afdelings saamgestel waardeur gebruikers vinniger en makliker toegang kan kry tot die produkte en dienste wat aan elkeen se behoeftes voldoen. Elkeen van hierdie nuwe subafdelings sal oor die volgende weke bekend gestel word op VivA se sosialemediaplatforms. 


Gebruikers sal twee ander prominente veranderinge opmerk. Eerstens sal VivA 2.0 vereis dat elke gebruiker weer hul bestaande registrasiebesonderhede (soos die gebruikersnaam en wagwoord verbonde aan die VivA-rekening) bevestig. ’n Paar addisionele vrae sal ook aan gebruikers gestel word. Hierdie inligting sal gebruik word om te verseker dat gebruikers pasgemaakte produkte en dienste makliker op die webblad vind. 


Tweedens sal gebruikers wat vantevore van bepaalde VivA-produkte en -dienste gebruik gemaak het sonder om op die webblad te registreer, gevra word om te registreer sodat hulle toegang kan kry tot hierdie produkte en dienste. Hierdie verandering se doel is om ons gebruikers te beskerm wanneer hulle op VivA se webblad navigeer en taalhulpmiddels gebruik. Daarom is registrasie steeds gratis. 


Natuurlik is ons bewus daarvan dat niemand hou van verandering nie en ons verstaan dat sommige gebruikers ontevrede gaan wees, maar hierdie nuwe indeling van VivA se produkte en dienste het juis ten doel om beter aan die behoeftes van die Afrikaanse gemeenskap wat VivA oor die afgelope 8 jaar ondersteun het, te voldoen.


Die produkaanbod en dienste wat op VivA 2.0 se webblad beskikbaar gaan wees, is dieselfde produkte en dienste wat VivA-gebruikers reeds ken, gebruik en vertrou. Ons voeg egter ’n paar nuwe funksionaliteite en taalhulpbronne by om die oorgang te vergemaklik. Ons waardeer die ondersteuning en die vertroue wat ons gebruikers in ons stel, en ons is vasbeslote om ons belofte "om Afrikaans uit te bou en te bevorder in die digitale era" na te kom. 


Bou saam aan ons droom

VivA 2.0 se droom is om ’n tegnologiese taalwêreld vir Afrikaans te ontwikkel. Ons wil aan ons gebruikers die geleentheid bied om die tegnologiese toekoms van Afrikaans vandag al te kan ervaar. Die tegnologiese taalwêreld wat VivA 2.0 besig is om te ontwikkel, is nie net vir óns ’n besonderse prestasie nie, maar ook ’n mylpaal vir Afrikaans. Dit is ’n voorreg om elke dag aan iets te kan werk wat sal bly voortbestaan – lank nadat ons nie meer hier is nie. Ons weet dat ons gebruikers ons sentiment oor Afrikaans deel en ons kan help om Afrikaans tegnologies uit te bou, sodat die taal – alle vorme en variëteite van Afrikaans – vir toekomstige generasies behoue kan bly.


Ons werk elke dag vir Afrikaans en vir ons gebruikers, en ons poog om elke jaar op nuwe, innoverende wyses die tegnologiese taalgrense van Afrikaans plaaslik en internasionaal te verskuif. Die diens wat VivA 2.0 bied en die sagteware wat geskep word, is van onskatbare waarde vir elke Afrikaans-taalgebruiker. Ons bied (via ’n selfoon of rekenaar) ’n produk wat ons gebruikers nodig het, óf in hul daaglikse lewe kan gebruik.


Dit is vir ons ’n voorreg om jou by VivA 2.0 se tegnologietaalfamilie te verwelkom waar ons met ywer en entoesiasme tot die voortbestaan van Afrikaans bydra.

 

Ons by Die Eike gebruik al vir geruime ruk die VivA-toepassing op selfone en is die taalwenke maar veral die woordeboek funksie met die AWS Afkortingslys, Geografiese name, Woordelys, Tesourus en spesialiswoordeboeke soos die wynindustrie-, Entrepreneurskap-, Fisika-, Sterrekunde en Kuberwoordeboeke, Paramediese Vakwoordeboek en vele ander so toeganklik.   

 www.viva-afrikaans.org

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: