Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

             Junie 2021

Voorgestelde vuurwapenwysingswet onder skoot


Deur George Nell

Prokureur

 

Die internasionale tendens om vuurwapens vanaf die siviele gemeenskap te ontneem het nou ook deurgesyfer na Suid-Afrika. Die voorgestelde wysigings  van die Wet Op Beheer van Vuurwapens het die vuurwapen omgewing op alle vlakke deurmekaar gemaak en laat gemoedere hoog loop. Aan die een kant het ons die wapenvrye Suid-Afrika organisasie en aan die ander kant het ons 'n oorgeërfde behoefte aan en reg op vrye vuurwapenbesit. Die saak, aan albei kante van die munt, word aangepor deur hoogs emosionele argumente.

 

Vuurwapens word gebruik tydens plaasaanvalle, huisbetredings, motorkapings en onder andere moord op vroue en kinders. Met 'n disfunksionele polisiemag wat effektiewelik deur al meer privaat sekuriteitsmaatskappye vervang is, het die siviele bevolking ‘n groot behoefte om hulself te verdedig  en wil hulle vuurwapens besit om dit wel te kan doen. In verskeie lande soos Botswana, Engeland en Australië is daar ‘n verbod op besit van handwapens vir selfverdediging. Hierdie lande het egter nie die kriminele bedrywighede en disfunksionele Polisiemag soos wat Suid-Afrika tans het nie.

 

In Suid-Afrika word die algemene besit van vuurwapens beheer deur die Wet op Beheer van Vuurwapens. Die wet dek 'n breë spektrum van vuurwapens vanaf handwapens vir selfverdediging, tot hoogs gesofistikeerde vuurwapens vir sportskiet en jag. Dan word daar ook voorsiening gemaak vir versamelaars van privaatversamelings, vuurwapens vir sekuriteitsmaatskappye, vuurwapenhandelaars en die herlaai en vervaardiging van ammunisie.

 

Die voorgestelde wysigingswet verander egter verskeie gevestigde regte van vuurwapeneienaars en beperk sekere regte en kriteria om ‘n vuurwapen te besit. Verskeie van hierdie regte wat aangetas word, word in die grondwet beskerm. Die wysigings behels onder andere:

  • dat selfverdediging nie meer as rede aangevoer kan word waarom ‘n vuurwapenlisensie aan ‘n persoon toegeken behoort te word nie,
  • minder vuurwapens vir toegewyde jagters,
  • geen privaat versameling van vuurwapens word toegelaat nie, en;
  • geen herlaai van ammunisie word toegelaat nie.

 

Die grondwetlike regte wat onder  andere aangetas word, is die reg op lewe, eiendomsreg, kulturele regte of 'n kombinasie daarvan. In dié verband haal ek graag artikel 36 van die Suid-Afrikaanse Grondwet (1996) aan wat uiteindelik as maatstaf deur die grondwetlike hof gebruik kan word om hierdie regte teen mekaar op te weeg:

 

Artikel 36. Beperking van regte:

(1) Die regte in die Handves van Regte kan slegs kragtens ʼn algemeen geldende regsvoorskrif beperk word in die mate waarin die beperking redelik en regverdigbaar is in ʼn oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid, met inagneming van alle tersaaklike faktore, met inbegrip van–

(a) die aard van die reg;

(b) die belangrikheid van die doel van die beperking;

(c) die aard en omvang van die beperking;

(d) die verband tussen die beperking en die doel daarvan; en

(e) ʼn minder beperkende wyse om die doel te bereik.

 

(2) Behalwe soos in subartikel (1) of in enige ander bepaling van die Grondwet bepaal,

mag geen regsvoorskrif enige reg wat in die Handves van Regte verskans is, beperk nie.

 

Soos gesien kan word uit voormelde artikel en gebaseer op die feit dat ons 'n regstaat is, behoort daar in alle sake waar grondwetlike regte aangetas word, voorbereiding gedoen word vir 'n konstitusionele hofsaak.

 

Dit kan nou reeds met ‘n groot mate van sekerheid gesê word dat die parlementêre proses, alhoewel belangrik vir die daaropvolgende moontlike hofsaak, 'n oefening in  futiliteit is, indien die meerderheid van parlementslede vasskop op hierdie wysigingswet en dit wetgewing maak.

 

Die benadering wat voorgestel word, is om deel te neem aan die debat en openbare prosesse om die wetgewing te verhoed. Daar moet egter aan die ander kant ook  gereed gemaak word vir 'n toekomstige konstitusionele hofsaak.

 

ʼn Verdere voorstel, net soos wat in die verlede gemaak is, is dat daar proaktief wetgewing opgestel word wat deur buitepartye (kundiges in die privaat sektor) voorberei word. Hierdie alternatiewe wetgewing, kan dan soos wat ons ons wetgewende proses tans voorsiening maak  deur ʼn privaatlid-wetsontwerp, ingedien word deur 'n dienende parlementslid vir oorweging. Dit mag dalk die bestaande voorgestelde wetgewing sinvol ondervang.  

 

Vuurwapeneienaars sal hierdie voorgestelde wetsontwerp baie ernstig moet opneem aangesien hierdie wetgewing 'n ingrypende uitwerking het op die besit van ‘n vuurwapen vir selfverdediging en die besit van vuurwapens in die algemeen. Eienaars van vuurwapens, ingesluit privaatversamelaars, gaan deur die voorgestelde wetgewing drakonies onteien word.

 ________________________________________________

 

In die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsreg word die Vuurwapenbeheer Konsepwetgewing gesien as vuurwapen onteiening van Suid-Afrikaanse burgers en skep dit uiteraard groot onrustigheid. Wanneer enige eiendomsreg bedreig word hetsy dit grond of vuurwapens is, moet dit op dringende basis hanteer word. Gevolglik is die noodsaak besef vir ʼn uitgebreide byeenkoms van die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsreg en soveel moontlik rolspelers in die vuurwapenbedryf sowel as opposisie partye is genooi. Die gesprek vind op Woensdag 23 Junie 2021 in Pretoria plaas.  Lewer gerus u kommentaar en insette op ons webwerf of by kommentaar@abond.co.za 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: