Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          September 2023

DIE VRYHEIDSMANIFES VAN 1955 EN DIE VEELPARTYHANDVES VAN 2023

– Tyd vir vernuwing en verandering – Moontlik het dit tyd geword vir ʼn nuwe Vryheidsmanifes vir alle Suid-Afrikaners!


Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond

 

So onlangs as Sondag 20 Augustus 2023 en aan die vooraand van die BRICS beraad herbevestig president Ramaphosa dat onder andere die land se buitelandse beleid gebaseer word op die Freedom Charter (Vryheidsmanifes) toe hy sê “Since the advent of democracy, South Africa's foreign policy has been based on what our forebears inscribed in the Freedom Charter in 1955...”

 

Meer as ʼn jaar terug het President Ramaphosa tydens Vryheidsdag vieringe gesê dat Suid-Afrika groot vordering gemaak het sedert 1994, maar nog steeds tekortskiet aan die verwagtinge en vereistes van die Freedom Charter.

 

 Op 26 Junie 1955, amper agt-en-sestig jaar gelede, aanvaar die ANC die bekende Freedom Charter (Vryheidsmanifes) te Kliptown. In 2023 bevestig die ANC op sy webwerf nog steeds dat Die Freedom Charter, “die basiese beleidsdokument van die ANC bly” https://www.anc1912.org.za/our-history/

 

Die laaste aantal jare neig die ANC al hoe meer om die Freedom Charter bo die Grondwet te verhef en daardeur word die hoër wetlike orde negeer. Gevolglik word die Freedom Charter, deur die klem wat daarop geplaas word in amptelike regeringsbeleid, die fundamentele basisdokument van die land. Hierdeur skep dit beslis konflik met die grondwet wat aanvaar is in 1996. Die grondwet is gebaseer op 'n aantal kernbeginsels en uitgangspunte wat onderhandel is en wat veronderstel is om die demokratiese waardes en regte van die Suid-Afrikaanse bevolking, te beskerm en te bevorder.

 

Die Vryheidsmanifes word gereeld voorgehou in die vele ANC beleidsdokumente wat telkens nuwe konflik, spanning en polarisasie bring. Reeds tydens ‘n gesprek op 9 Junie 2015 met Afrikaner organisasies en die ANC maak Gwede Mantashe, toe Sekretaris-Generaal en deesdae ANC voorsitter en lid van die kabinet, groot gewag van die feit dat 8 van 10 doelstellings van die Vryheidsmanifes bereik is. Die uitstaande 2 op daardie stadium was:   

  • Die Mense Sal Deel hê aan die Land se Rykdom!
  • Die Grond Sal Gedeel word tussen Diegene wat dit bewerk!

Niks is toe gesê oor die grondwetlike raamwerk waarbinne dit uitgevoer sou word nie. Die Freedom Charter het die basis geword waarop beleidsraamwerke soos Swart Ekonomiese Bemagtiging en Regstellende Aksie onder die vaandel van transformasie toegepas word. Dit het ook die ruimte geskep vir die onsekere beleidsraamwerke oor grondbesit en grondhervorming. 

 

In die haas angstige poging om wit teen swart teen mekaar af te speel word kwistig gebruik gemaak van die grondwetlike waardes nie-rassigheid, nie- seksisme en ʼn verenigde en demokratiese Suid-Afrika. Die waardes en grondwetlike begrippe word egter deur die ANC geïnterpreteer vanuit die uitgediende ideologiese hoeksteen van die Freedom Charter. Sodoende het die ANC se Vryheidsmanifes net nog groter verdeeldheid en polarisasie tot gevolg gehad en vryhede van sommige Suid-Afrikaners ingeperk. Tereg gee President Ramaphosa onlangs by die United Democratic Front se 40-jaar vieringe in Johannesburg toe, dat Wit, Bruin en Indiërs geïgnoreer en uitgesluit voel sedert 1994.  

 

Deur die interpretasie van die ANC se Freedom Charter en die Nasionale Demokratiese Revolusie word die volgende grondliggende waardes geregverdig:  transformasie; historiese regstelling; sosiale geregtigheid; ekonomiese herverdeling; staatsintervensie; swartbemagtiging. Die teendeel word egter bereik naamlik groter armoede, werksverliese, sosiale afhanklikheid, landelike en grond verval, outokratiese en eensydige manipulasie, immoraliteit en vertrapping van kulture en minderhede.  Die ander onvoorsiene uitkomstes is natuurlik staatskaping en ongebreidelde korrupsie.

 

Die ANC se aanhang en onderskrywing van die Freedom Charter het nie die gewenste vryheid vir Suid-Afrikaners gebring nie.  Vir hoe lank nog kan Suid-Afrika die ANC en sy interpretasie van die 1955 Vryheidsmanifes duld of bekostig? Suid-Afrika het nou dringend en daadwerklik ekonomiese en politieke vryheid nodig.

 

Dit het dalk in 2023 tyd geword vir ʼn nuwe Vryheidsmanifes vir alle Suid-Afrikaners! Is die Veelpartyhandves wat op 17 Augustus 2023 deur ʼn aantal partye gesluit en onderteken is, nie dalk die begin van die basis van so ʼn nuwe vryheidsmanifes nie? (Lees die Veelparty Handves hier.) 

Engels - Oorspronklike getekende weergawe: https://online.fliphtml5.com/hwiua/fjiy/

Afrikaans – https://online.fliphtml5.com/hwiua/pemn/ Soos vertaal deur die Afrikanerbond 

 

In die Veelpartyhandves of manifes wat in Augustus 2023 deur ʼn aantal politieke party geteken is, is daar 'n verbintenis tot:

  • Die Suid-Afrikaanse Grondwet, die oppergesag van die reg, en gelykheid voor die reg;
  • Desentralisering van mag na die laagste effektiewe regeringsvlak;
  • Verantwoordbare, deursigtige regering met geen verdraagsaamheid vir korrupsie;
  • Bekwame regering wat publieke geld doeltreffend bestee om kwaliteit dienste aan almal te lewer;
  • ʼn Regering wat omgee en mense eerste stel en die armes prioritiseer;
  • 'n Oop markekonomie;
  • Die uitvoering van beleide wat gelei word deur bewese positiewe resultate te lewer vir die samelewing; en
  • Die onregte van die verlede reg te stel deur nie-rassigheid en eenheid deur diversiteit te bevorder

 

Die ANC se Freedom Charter van 1955 kan nie in 2023 meer binne die grondwetlike demokrasie ʼn grondslag wees vir die toekoms nie. Die Freedom Charter spreek die uitdagings en verouderde ideale en beginsels van 1955 aan. Dit is egter sedertdien skeefgetrek en het ideologies verdag geraak. Dit is vandag hoogstens bloot ʼn interessante historiese dokument, met geen amptelike status nie. Die ANC kan nie een oomblik vir een gehoor die Grondwet en die regstaat koester as dit hulle politieke doelwitte bevorder, maar teruggryp na die Freedom Charter en die grondwet vertrap wanneer dit die heersende ideologie of sekere faksies pas nie.

 

Ons is onderweg na die 30ste jaar van veronderstelde demokrasie in Suid-Afrika in dieselfde jaar wat ons ook ʼn nasionale verkiesing gaan hou. Ons demokrasie moes reeds sterk gevestig gewees het maar daar is nog steeds tekens dat die demokrasie ondermyn word. Daar is ʼn aantal spesifieke voorwaardes wat geldend moet wees vir enige demokrasie om as gekonsolideerd of gevestig  beskou te word, naamlik:

  1. ʼn Vrye en sterk burgerlike samelewing.
  2. ʼn Outonome “politieke samelewing” met genoegsame “samelewings beheer” oor die strukture van die staat.
  3. Alle politieke akteurs is onderworpe aan die oppergesag van die reg wat burgerlike vryhede beskerm.
  4. ʼn Deursigtige, verantwoordelike en funksionerende staatsadministrasie.
  5. ʼn Gevestigde en geïnstitusionaliseerde ekonomie waarin ʼn mark-ekonomie en die privaatbesit van produksie-faktore prominent figureer.

 

Die groot ironie is dat dit die algemene versugting in 1994 was dat ons hierdie vyf voorwaardes sou nakom. Hiervoor was die meeste Suid-Afrikaners, die burgerlike gemeenskap en ekonomiese instellings en instansies gereed. As die voorwaardes vandag geëvalueer word in ʼn Suid-Afrikaanse toepassingskonteks, mag dit in sommige opsigte positief wees, maar is daar ook besliste rooi ligte wat flikker. 

 

In 2023 kan ons met redelike sekerheid aanvaar dat die grondwetlike bedeling, volgens die ANC, in vele opsigte ondergeskik staan aan die Freedom Charter en gevolglik ʼn stelsel van algemene  ondergeskiktheid daarstel. Dit is ʼn stelsel waarin ander maatstawwe geld. Dit is daarom nie verbasend dat die Uniegebou en Parlement soms ondergeskik staan aan Luthuli-Huis nie en dat die politieke en ekonomiese vereistes vir ontwikkeling, ondergeskik staan aan die nukke en grille van ʼn president en die regerende elite se eiebelang nie.

 

Die ANC se struggle ideale, soos verwoord in Freedom Charter staan te gereeld in konflik met die grondwet en is die strewes na nie-rassigheid en ʼn verenigde en demokratiese Suid-Afrika deesdae leë retoriek.  Dit herinner sterk aan die Britse politikus, Benjamin Disraeli wat in 1845 na die Tory regering verwys het as “organised hypocricy.”  Dit is net so op die ANC se verbintenis tot nie-rassigheid van toepassing. Die aanhang van die Freedom Charter en die voortdurende verwysing na die nie-rassigheid word al hoe meer tersyde gestel met ‘n groter rasgedrewe fokus. 

 

In die geval is dit dus heel gepas om na die ANC te verwys as georganiseerde geveinsheid. Hoe meer die ANC sy teoretiese kleed van nie-rassisme aan die groot klok hang, hoe meer vind rassisme neerslag in die praktiese toepassing. Die toepassing van beleid en gepaardgaande uitsprake begin al hoe meer die kleur van ekonomiese apartheid kry in die beleidsraamwerke van transformasie, regstellende aksie en Swart ekonomiese bemagtiging en ook die voorgestelde diensbillikeidswetgewing.

 

Dit alles druis lynreg in teen die nie-rassige Suid-Afrika wat in 1994 voorsien en aanvaar is en waarop die ANC die internasionale morele hoë grond gehad het. As die ANC  egter vandag beoordeel moet word aan sy Freedom Charter se ideaal “dat Suid-Afrika behoort aan al die mense wat daarin woon, swart en wit” en die ideaal in die 1996 grondwet se aanhef dat “Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid” dan het die ANC beide die Freedom Charter en die grondwet en die mense van Suid-Afrika gefaal.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: