Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Oktober 2023

William Nicol Rylaan – Naamsverandering

                     -     Assosieer eerder Struggle leiers met die verval in infrastruktuur

Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond

 

Die artikel is uitgebrei na die aanvanklike kommentaar aan die media met die naamsverandering op 26 September 2023.  Sien die afdruk van die skildery van Dr William Nico onderaan die bladsy.

 

Op 24 September het Suid-Afrika weer Erfenisdag gevier as ‘n dag wat veral herinner aan die diverse verlede waaruit ons almal kom. Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur het onlangs aangekondig dat die regering se 2023 tema vir Erfenismaand “Celebrating our Cultural Diversity in a Democratic South Africa” sal wees. Dit is die slegs Engelse weergawe op die slegs Engelse regeringswebwerf wat ons kon opspoor. “Viering van ons kulturele diversiteit in ’n Demokratiese Suid-Afrika” is ons vertaling na Afrikaans.

 

Die haas waarmee die ANC in Erfenismaand geskarrel het om die William Nicol Rylaan se naam te verander na Winnie Mandela Rylaan sou vroeër dalk wenkbroue gelig het of self ernstige beswaar. Die regerende party het egter al telkens deur sy optrede laat blyk dat die diversiteit van Suid-Afrika slegs deur lippediens bevorder word, maar deur aksies benadeel word.

 

Ons neem nou slegs kennis dat die naam amptelik op 26 September 2023 verander het na Winnie Mandela – Rylaan. So is DF Malan-Rylaan en Hans Strijdom-Rylane in Johannesburg ook reeds verander. Op foto’s van die amptelike geleentheid om die Winnie Mandela-rylaan bekend te stel is die naam in swart op straatsypaadjies met ʼn wit agtergrond geverf en smeer die swart nat verf al druppend nog af. 

 

Ongelukkig het die ANC verval in die narratief wat die struggle as die enigste en saakmakende geskiedenis van Suid-Afrika uitbeeld. Suid-Afrika se geskiedenis is veel meer kompleks as dit, omvat baie meer as die struggle en sluit baie meer in as die ANC en hulle beperkte deelname in die geskiedenis.

 

Die wyse waarop naamsveranderinge deurgeforseer word bring onwillekeurig die vergelyking met die ou Sowjet era na vore. Die verandering van name was toe ook ‘n gunsteling tydverdryf na die kommunistiese oorname. Aanvanklik was dit daarop gerig om die verwysing na die Tsariste periode te verwyder. Mettertyd het dit ook ‘n wyse geword waarop leidende figure in die revolusie vereer is, insluitende leiers in die bestel van daardie tyd. Die simboliek in dié ideologie was om diegene wat verloor het in die politieke stryd te verguis en mettertyd uit die hoofstukke van die Sowjet geskiedenis te skryf. Dit is in 2023 in Suid-Afrika eweneens die geval.  

 

Eens trotse strate spog in 2023 met nuwe name van struggle leiers maar is ook ʼn toonbeeld van veel meer - stukkende verkeersligte, sypaadjies wat vervalle is en slaggate wat die norm eerder as die uitsondering geword het. Dit strek dr William Nicol en ander leiers uit die verlede nie tot eer om hulle name te verbind aan hedendaagse verval, vandalisering en vernietiging nie. In ʼn tyd van brandende geboue, strate wat inplof en vele diensleweringprobleme verstom die ANC se prioritisering van naamsveranderinge mens telkens.

 

Tydens die seremonie om die naam te verander het die EFF en die ANC elkeen gepoog om al dansende en skreeuende die eer op te eis vir die naamsverandering. Terwyl geboue afbrand in die middestad, strate letterlik inplof en infrastruktuur oor die algemeen verkrummel is dit duidelik dat die ANC se prioriteit nou gerig is op die 2024 verkiesing. Nie so nie sê minister in die Presidensie Khumbuszo Ntshaveni –  Die naamsverandering “... help om te bou aan ʼn verenigde Suid-Afrika.” Sy sê dan verder “Dit is net in hierdie land waar ons ná apartheid Voortrekker-gedenktekens in stand gehou het. “Ons het simbole van apartheidsonderdrukkers gehandhaaf omdat ons gesê het ons kan nie geskiedenis uitvee nie.” So al asof ons ʼn guns gedoen word.


Hoe huiwerig mens ook al is om gediskrediteerde leiers aan te haal moet mens tog kennis neem van voormalige President Zuma se staatsrede op 3 Junie 2009 toe hy sê “Ons moet ’n gedeelde nasionale benadering tot die verandering van geografiese en plekname verseker. Dit moet ’n geleentheid wees om alle Suid-Afrikaners te betrek in die vorming van ’n nasionale identiteit, en ons bewustheid oor ons geskiedenis en erfenis verdiep.” Dit het slegs by die lippetaal gebly en kan mens die ANC vandag herinner aan hulle eie ondernemings in die verband. Net nog ʼn belofte wat die ANC nie nagekom is nie. 


Prof Danie Goosen, voorsitter van die FAK skryf oor erfenisse in Julie 2020 en sê dan: “Die ANC gee graag na buite te kenne­ dat hy die veelheid van gemeenskappe en hul erfenisse erken. Inderwaarheid strewe hy ’n simplistiese eenheid na. Volgens dié eenheid is daar geen wesenlike erkenning vir ’n gemeenskap soos die Afrikaners nie.”

 

Die algemene realiteit is dus dat naamsveranderinge eensydig geskied, dikwels ter wille van politieke gedienstigheid en word Afrikaanse plekname wat ʼn geskiedkundige oorsprong het en kosbare kultuurerfenisse is, uitgewis. Plekname is ʼn baie belangrike maar ook emosionele kwessie. Dit is nodig om ʼn wedersyds aanvaarbare oplossing te vind vir die nodigheid, maar ook vir die ordelike proses van naamsveranderings.

 

Met dit alles in ag genome kon mens dalk gedink het dat ons denke hieroor subjektief is. Die Nasionale Beplanningskommissie wat die regering se ontwikkeling en beplanningsdoelwitte moes evalueer en hersien së in ʼn verslag die week wat die regering probeer onderdruk het “Social cohesion has fallen off the government priority list and is articulated superficially.”   Volg die skakel om die verslag te lees  Hieruit moet ons aflei dat versoening in Suid-Afrika gekom en gegaan het. Waar doodgewone Suid-Afrikaners daagliks probeer oorleef op ekonomiese, maatskaplike en sosiale gebiede het die regerende party en sy kaders voortgegaan en ʼn wig al dieper ingedryf tussen, Suid-Afrikaners van alle agtergronde en rasse. Die 1994 sogenaamde Mandela droom van versoening, nasiebou en aartsbiskop Desmond Tutu se reënboognasie is dertig jaar later ongedaan gemaak deur voortdurende openbare uitsprake, beleidsuitvoering, gebrekkige leierskap en politieke opportunisme en gedienstigheid. 

 

·       Ons sal voortgaan om dr William Nicol se nagedagtenis te eer.  ʼn Vervalle straat is hom nie waardig nie.  Dr. William Nicol (23 Maart 1887 – 22 Junie 1967) was NG predikant, teoloog, kultuurmens, opvoedkundige en Administrateur van Transvaal en het 'n groot rol in die ontwikkeling van Afrikaners en Afrikaanse skole in die Witwatersrand gespeel. Hy was ook die tweede voorsitter van die Afrikaner-Broederbond vir die termyn Junie 1924 – 13 Maart 1925. Hy is op 22 Junie 1967 op 80-jarige ouderdom oorlede. 

 

(Die onderstaande FOTO van ʼn skildery van Dr William Nicol - Met erkenning aan die Traansvaal Provinsiale Administrasie versameling in die Transvaalkamer by die Voortrekkermonument)

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: