Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          April 2023

Woord deur die voorsitter: Niks is verniet nie

Deur Dries Wiese 

Voorsitter van die Nasionale Raad

 

Op 27 Maart 2023 skryf President Ramaphosa in sy weeklikse nuusbrief soos volg: “In 1999 het net meer as 2,5 miljoen mense maatskaplike toelaes ontvang. Vandag het daardie getal tot meer as 18 miljoen mense toegeneem. Daarbenewens ontvang meer as twee miljoen behoeftige huishoudings ook gratis basiese water, basiese elektrisiteit en vaste afvalverwyderingsdienste as deel van hierdie regering se verbintenis tot gratis basiese dienste vir die armes.” As die president wou spog met die statistiek is dit jammerlike syfers om mee te spog. Inteendeel dit vertel die verhaal van ʼn land wat al meer agteruitgaan. Ry net ook ‘n slag in die swart woonbuurte in en kyk na die hope vullis wat nie verwyder word nie. Wat sê dit van volhoubare werkskepping wat nie realiseer nie, ekonomiese groei wat nie plaasvind nie en ʼn al hoe groter afhanklikheid van staatstoelaes? Is Suid-Afrika besig om reeds ʼn tweede generasie te skep van staatsafhanklikheid teenoor Brittanje wat al ʼn derde generasie staatsafhanklikheid skep?

 

In sy Bondsraad besprekingsdokument skryf Prof. Jannie Rossouw “Niks is verniet nie: Wat vir een groep verniet is, word deur ‘n ander groep betaal.” Hoe waar is dit nie. Die las op die Kleinerwordende poel van belastingbetalers word al groter ten einde die regering se mislukkings te moet betaal.

 

Die ekonoom Ulrich Joubert skryf in 2019, net nadat mnr Ramaphosa President geword het in ʼn artikel in die AB Nuusbrief oor moontlike oplossings : 

  • Die onderwys en opleidingstelsel moet dringend transformeer sodat kwaliteit onderwys en opleiding gelewer word.
  • Die arbeidsbedeling moet baie meer plooibaar en aanpasbaar gemaak word sodat mense eerder as masjiene en robotte in diens geneem kan word.
  • Die groei in staatsuitgawes moet beperk word. Korrupsie, wanbesteding en verkwisting moet stopgesit word.
  • Die arbeidsmag in die openbare sektor — van sentrale tot plaaslike regering asook staatsondernemings — moet drasties verklein word.
  • Onsekerheid oor eiendomsonteiening sonder vergoeding of die Nasionale Gesondheidsversekeringstelsel, moet uit die weg geruim word. 
  • Owerheidsbeleid moet die privaatsektor stimuleer sodat meer besigheid winsgewend gedoen kan word en mense in diens geneem kan word.
  • Die rol van die staat in die ekonomie moet aansienlik verklein word. Staatsondernemings word dus geprivatiseer.
  • Die inmenging van die staat in die werking van die ekonomie moet beperk word.
  • Baie meer klem moet op toerisme geplaas word om ons natuurlike hulpbronne te benut as skepper van welvaart.
  • Die ekonomie vra nie of jy oud of jonk is, man of vrou is of aan watter rassegroep jy behoort nie. Die enigste vraag wat gevra word, is kan jy die werk doen? 
  • Die keuse is of jy die land verarm deur die beleid wat jy volg, of ontsluit jy die potensiaal wat opgesluit lê in die land en sy mense? Oor die afgelope vyf-en-twintig jaar, het beleid die land verarm.

 

Die bogenoemde is logiese en verstaanbare opsies wat konkrete voorstelle is. Die vraag is of die ANC regering enigsins meer die behoefte of aptyt het om die land ekonomies te hervorm. Ter wille van sy eie oorlewing het die ANC die volgende piramide geskep om sy magsbasis te behou.

Die elite vorm die top van die piramide en dit is diegene wat verryk word deur tenders en Swart Ekonomiese Bemagtiging. Die tweede vlak is die beleid van kaderontplooiing wat reeds as ongrondwetlik bestempel is en waardeur die ANC sy lede vanuit Luthuli-Huis onplooi na elke staatsinstelling, rade en Staatondersteunde entiteite. Die derde vlak is die breë basis van 18 miljoen maatskaplike toelae begunstigdes.

 

 Die ANC is die geheel begunstigde van die staat se vermoë om rykdom te verdeel en ongelukkig word die bronne vir die inkomstepoel kleiner. Enige ingryping of transformasie van die vlakke in die piramide hou direkte bedreiging in vir die ANC se oorlewing en daarom is enige hervorminge en groei in die ekonomie nie tot voordeel van die ANC nie. 

 

Dit is hoekom die kommentator Barney Mthombothi se uitstekende insig so belangrik is as hy in die vertaalde artikel in die AB Nuusbrief skryf: “Op ʼn manier het die stelsel ʼn nuwe vorm van apartheid geskep: diegene wat fabelagtig goed vaar, en diegene wat aan die kortste ent trek.” Diegene wat aan die kortste ent trek is hulle wat tans nie in die piramide ingesluit is nie. Die onderste basis van die ANC se toelaes word ook afgedreig met hulle stem in die verkiesing want die boodskap is eenvoudig. Stem vir die ANC om jou toelaes te behou.

 

Dit is duidelik dat die aanloop tot die verkiesing – enige dag oor 12-maande ‘n belangrike tydvak aandui. Ons moet alles moontlik doen om politieke koalisies gebaseer op ʼn aanvaarbare en volhoubare ooreenkoms binne ʼn waardestelsel te bevorder. Ons land en ons toekoms hang af van die 2024 verkiesing. Staatskaping het ongelukkig nie geëindig met Zuma nie. Ons enigste voorbehoud met die ekonoom Ulrich Joubert se 2019 voorstelle vir oplossings is dat dit nie meer met die ANC aan bewind kan gebeur nie.

 

Die meer positiewe nuus is dat al meer mense die boodskap insien en dat ons nou gewig moet ingooi by ʼn staatkundige bedeling wat die voortbestaan van Afrikaners en ook ons mede Suid-Afrikaners kan verbeter. Ons sal aktief moet meewerk aan oplossings en ons weet uit ons onderlinge interaksie in die burgerlike gemeenskap dat die media, die howe, organisasies en soveel ander instellings nog skouer aan die wiel sit en ten spyte van die ANC-regering nog funksioneer.

 

Laastens sal ek nie eerlik wees as ek nie verwys na die groot materiële ongelykheid wat in Suid-Afrika heers nie. Hierdie ongelykheid is wesenlik en waarskynlik die groot drywer vir politiek op die kort en selfs medium termyn. Hierdie olifant in die kamer het nie ‘n kits of dan eenvoudige oplossing nie. Dit is ‘n werklikheid waarvoor daar nie vriendelike oplossings is of gaan wees nie. Ons as AB behoort met kommer hiervan kennis te neem en selfs deel te neem op elke vlak waar dit bespreek word.

 

Ons vind ons balans deurentyd ook in die goue formule van die Afrikanerbond naamlik die eie en nasionale belang. Daarom sal die Nasionale Raad voortdurend bly soek na ‘n beter bedeling vir ons as Afrikaners en ook vir ons as Suid Afrikaners.

 

Die onderlinge soeke na gemeenskaplikhede lui ʼn nuwe tydvak in. In my eie gemoed bly ek oortuig daarvan dat Suid-Afrika ten goede gaan en moet verander. Kom ons praat daaroor, voer dialoog en glo in ʼn positiewe uitkoms. Dit kan elke lid doen in sy eie ruimte in Suid-Afrika en in die netwerke waarin elkeen van ons betrokke is.

 

Laat my ook toe om aan die vooraand van die Paasnaweek die pleidooi te lewer dat ons in hierdie Paastyd weer ons geloof sal aangryp en is dit my wens dat ons die genade van Jesus Christus intens beleef omdat ons gered is. Mag dit vir u en u familie ʼn besondere geseënde Paasfees wees.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: