Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Augustus 2023

Woord deur die voorsitter

Deur Dries Wiese

Voorsitter van die Nasionale Raad


Ons het verlede week ʼn besondere inspirerende ontmoeting van Afrikaner leiers en organisasies by die Voortrekkermonument gehad. Tydens die gesprek is verskeie kwessies hanteer en het ons ook terugvoer ontvang van Afrikaners wat leidende rolle in die gemeenskap speel. Dit was bemoedigend om te hoor hoe Afrikaners ʼn verskil maak ten opsigte van diensleweringkwessies en die diensingesteldheid het van Self- Maar-Saam. Dit is in ooreenstemming met die Afrikanerbond se ingesteldheid van balans in eie en nasionale belang. Dit is veral rondom kragvoorsiening in munisipale gebiede midde in Eskom beurtkrag waar ons verneem het van Afrikaner ingenieurs wat oplossingsgerig bydra en inspring om ʼn verskil te maak. Een van die groter Afrikaner instansies se leiers het pertinent na die werkswyse van die Afrikaner-Broederbond verwys toe hy gesê het “ons neem 'n instansie met potensiaal, stel die beste Afrikaner leierskap aan en hou aan om hom te ondersteun."

 

ʼn Onlangse uitlating van Reuel Khoza, voorsitter van Discovery Bank wat by die Black Management Forum gepraat het verdien verdere aandag. Hy het verwys na apartheidswetgewing wat wit miljarders geskep het. Khoza het toe gevra hoekom Swart Ekonomiese Bemagtiging so min swart miljardêrs geskep het en by implikasie gevra dat wetgewing verskerp moet word om ekonomiese resultate vir swart sakemanne te verkry.  Die Engelse rubriekskrywer Andrew Kenny het vanuit sy perspektief ʼn antwoord hierop voorsien in sy rubriek in Daily Friend van die Insituut vir Rasseverhoudinge. (Sien die skakel onder) Hy tref die volgende vergelyking in ooreenkomste: “Daar is diepgaande verskille tussen Afrikaner opheffing (met werkreservering) en Afrika-regstellende aksie (met SEB, kaderontplooiing, diensbillikheid, transformasie en al die ander rasse bevoordeling). Die Afrikanerregering wou alle Afrikaners bevorder, insluitend die werkersklas en die armes – hulle het inderdaad spesiale aandag daaraan gegee om hulle te bevorder. Die ANC wil net 'n hoërklas swart elite bevorder; dit gee nie ʼn duit om vir die lot van die swart werkersklas massa nie. Die Afrikaners, wie se groot vyand die Britse Ryk was, wou die Afrikaanse taal en Afrikaanse kultuur bevorder. Hulle het Afrikaanse skole en universiteite op die been gebring. Afrikanerleiers het hul eie kinders na dieselfde Afrikaanse skole as die Afrikaanse werkersklas gestuur. Die ANC- Afrikane lyk baie gelukkig met Britse kolonialisme, al maak hulle woedende maar flou gebare daarteen. Die belangrikste is dat hulle die koloniale taal Engels bo hul eie tale verkies. Hulle het nie Afrikatale of Afrika-kultuur bevorder nie (afgesien van 'n paar naamsveranderinge). Hulle het geen nuwe skole of universiteite op die been gebring wat in Afrikatale onderrig gee nie. Swart leiers stuur hul kinders na deftige Engelse skole met hoofsaaklik wit onderwysers, terwyl hulle werkersklaskinders na verskriklike staatskole met hoofsaaklik swart onderwysers stuur. Die Afrikanerregering het nie van kapitalisme gehou nie en het van staatsbeheer gehou, maar het nie polities met staatsondernemings soos Eskom, Transnet, spoorvervoer en plaaslike regering ingemeng nie. Die ANC-regering haat kapitalisme en meng wel met alle staatsondernemings in, daarom is hulle verwoes.”

https://dailyfriend.co.za/2023/07/30/should-africans-copy-afrikaner-affirmative-action/

 

Dit is belangrik dat ons die ANC moet antwoord op hulle aandrang op Swart Ekonomiese Bemagtiging. Argumente soos wat bo uitgelig is, verstewig ons siening dat daar wel van Afrikaners se bydraes in die verlede geleer kan word. Dit pas Afrikaner sakemanne elke dag toe in hulle werksomgewings.

 

Ons hoop om eersdaags meer te kan skryf oor samewerking op verskillende vlakke wat ook by die onlangse gesprek tussen Afrikaner leiers en organisasies uitgelig is. Goeie vordering is gemaak met ʼn formele ooreenkoms wat verskeie kwessies aanraak onder andere die ruimtes wat ons mekaar gun, maar ook in dit wat ons gesamentlik na die regering kan neem.

 

In die aanloop tot die 2024 verkiesing  is daar bemoedigende tekens dat die opposisiepartye ernstig begin besin oor koalisies. Dit is reeds in ons 2022 Bondsraad as ʼn oplossing vir ons knellende politieke omgewing voorgehou en ons sal alle pogings tot koalisies   bevorder en ondersteun. Daarom sal ons ook die veelpartykonvensie tussen politieke leiers wat 16 en 17 Augustus 2023 in Kempton Park gaan plaasvind dophou en monitor. Ons wens die leiers wysheid en insig toe.

 

In skerpe teenstelling hiermee is Julius Malema leier van die EFF, wat voortgaan met sy openbare aanhitsing van terreur in die sing van die “skiet die boer” lied. Dit is met verwysing na die EFF se 10de verjaarsdagviering by die FNB Stadion op Saterdag 29 Julie 2023 en die “Kill the Boer” slagspreuke wat telkens herhaal is. Ons het reeds sedert Maart 2010 die saak met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie opgeneem aangesien Malema toe lid van die ANC se jeugliga was. Die Menseregtekommissie het Malema egter tot dusver met fluweelhandskoene hanteer. Daar is reeds verskeie klagtes oor die nuutste uitlatings deur organisasies en politieke partye. Malema word egter al vir 13 jaar toegelaat om weg te kom met aanhitsense uitsprake. Midde in plaasmoorde en aanvalle kan die uitlatings nie meer geduld word nie Daar is internasionale definisies en omskrywings van terrorisme The Convention for the Prevention and Punishment of Terrorism (Geneva, 1937) defines "acts of terrorism" as "criminal acts directed against a State or intended to create a state of terror in the minds of particular persons, or a group of persons or the general public". In die VN se Staatsveiligheidsraad se resolusie 1566 van 2004 word terrorisme as volg omskryf: “Any act or threat of violence, whatever its motives or purposes, that occurs in the advancement of an individual or collective criminal agenda and seeking to sow panic among people, causing fear by harming them, or placing their lives, liberty or security in danger..” Ons sal graag hieroor regsadvies wil inwin want ons glo dat Malema nie veel langer net ʼn populis is nie. Nóg die Menseregtekommissie, nóg Parlement, nóg die Suid-Afrikaanse regering in al sy strukture het Malema tot orde geroep. Moontlik sal klagtes onder relevante terreurwetgewing die gewenste uitwerking hê.


 Ek aanvaar dat u as lede nou ook genoeg gehad het van hierdie dreigemente tot etniese uitwissing deur die EFF. Die AB het nou ‘n besluit geneem dat hierdie nie net eenmalige oortredinge is nie, maar dat Malema inderdaad nou ‘n gewoonte misdadiger geraak het. Dit verg nou beslis die AB se afkeur en is sterker optrede nodig.


Laastens net weer ʼn administratiewe aangeleentheid. Ons kategorie van lede wat die meeste groei is nie meer by Afdelings of gebiede ingeskakel nie maar in buitelede wat by Die Eike inskakel. Meeste van die lede doen aanlyn aansoek, per e-pos of per navraag na die kantoor. Ons stuur die besonderhede gereeld na provinsiale strukture.  Afdelings staan vry om te besluit of hulle die lede wil nooi om in te skakel by die afdeling.

 

Die uniekheid van die Afrikanerbond se naam is besonders, dink aan Afrika, Afrikaners en dan Afrikanerbond. Ek voorsien nog ‘n mooi en produktiewe tyd vir die Afrikanerbond want dit sê presies wie en wat ons is. Kom ons glo weer opnuut aan ons saak, taak en opdrag in Suid-Afrika.

Wees Sterk!

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: