Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Februarie 2023

Woord deur die Voorsitter: Om te kan hoop


Deur Dries Wiese

Voorsitter van die Nasionale Raad

 

Vanjaar sal dit reeds 33 jaar gelede wees dat Suid-Afrika op 2 Februarie 1990 omherroeplik verander het. Die staatkundige hervorminge wat toe aangekondig is, het Suid-Afrika in ʼn totaal ander rigting gestuur. Die laaste maande het die Ja en Nee stemmers mekaar weer die hare ingevlieg en word verwyte in kommentaar kolomme voorgehou. Maar kan ons ook terugvoer gee dat daar ‘n groot Vredesvergadering op 17 Oktober 2022 by die Voortrekkermonument gehou is waar leidende Ja en Nee stemmers mekaar na 40 jaar, seker die grootste skeuring ooit in Afrikaner geledere, mekaar gevind en ooreengekom het dat politiek nooit ooit weer die Afriakaner se hart mag uitruk nie. Onder die voorsitterskap van ds. Cassie Aucamp het leidende figure uit die betrokke tydperk deelgeneem aan die gesprek waaronder dr Koos van der Merwe, Barend du Plessis, dr Pieter Mulder en dr Stoffel van der Merwe. (Ons het hieroor berig in die November 2022) Dan het  Afrikaners se staatkundige probleem nie egter eers  in 1990 begin nie. Die probleem moet teruggevoer word na die 1960s en 1970s en die skepping van die sogenaamde onafhanklike state. Sou dinge nie dalk anders gewees het as die stelsel van tuislande en verdeling van grond anders toegepas is nie? Prof Koos Malan vra ook die vraag in sy artikel in dié nuusbrief. 

 

Die kort en die lank daarvan is dat Suid-Afrika in die 1980s in ʼn wurggreep van sanksies, isolasie, terreur en onrus was. Die status quo kon nie gehandhaaf word nie. Daarom het die AB reeds verreikende oplossings begin ontwikkel in die middel van die 1980s. Dit was opnuut ʼn soeke na staatkundige oplossings vir Afrikaners. Afrikaners begin nou weer midde in ʼn land wat inplof besef dat Suid-Afrika onherroeplik verander het. In die vae idee wat ons het van hoe die volgende 25 jaar gaan uitspeel is ons weer soekend na oplossings. Party wil dit binne die huidige staatsbestel en die huidige grondwet doen, party wil dit buite die grondwet doen en andere begin kreatief werk binne die huidige bestel om alternatiewe oplossings te ontgin en te ontwikkel.

 

Dit is waarin ons hoop moet soek vir Suid-Afrika en sy mense. Prof Koos Malan maak ʼn goeie saak uit vir die Afrikaners wat in groeigebiede is. Dit moet ondersteun en bevorder word. Ons moet egter ook verantwoordelik kyk na daardie Afrikaners wat buite die groeisentra val. Waarin is die oplossings vir hulle geleë? Is dit in koalisies, is dit in kleiner selfregerende gebiede, is dit in hande neem met andere en saam kyk na die gemeenskaplike belang?

 

Wanneer ek antwoorde soek, kyk ek telkens terug na die AB se ontstaansgeskiedenis en lees ek weer die Credo. Ek bevind myself telkens dat niks verander het nie en dat ek as AB lid nog steeds ʼn kind van Afrika is, en meer spesifiek, ʼn kind van Suid-Afrika is. Ons Credo vereis van my dat my “lojaliteit toegespits is op Suid-Afrika as land en Afrika as kontinent omdat Suid-Afrika in my  verlede, ons hede en ons toekoms is.” Ek is nog steeds “oortuig dat ons eie belange en dié van ons mede-Afrikaners onlosmaaklik verbind is aan dié van elke ander Suid-Afrikaner en elke ander volksgroep in Suid-Afrika, en dat die belang van elke ander Suid-Afrikaner daarom ook óns belang is.” Dit leef ons trouens elke dag uit in ons goue formule van eie en nasionale belang.  

 

As ons Credo dan na aanleiding van die bostaande sê dat ons “ons energie en vermoëns onvoorwaardelik aan ons vaderland diensbaar stel ten einde die kwaliteit van lewe van alle mense in Suid-Afrika te verbeter en hul menswaardigheid te bevorder” is dit ook ons Bybelse opdrag. Daarmee saam bevestig ons ook dat ons die land se probleme “alleenlik sal kan oorkom en sy hoë potensiaal ten volle sal kan ontwikkel as die energie, kundigheid en entoesiasme van al sy mense in dinamiese harmonie aangewend word.”

 

Meet ons dit teen Suid-Afrika se nie-prestasie van die laaste paar jaar en die gebeure van die laaste paar maande dan is dit duidelik dat Suid-Afrika faal. Nie omdat Afrikaners hulself onttrek het nie maar Afrikaners doelbewus weggehou is en selfs verwyder is van die plekke waar hulle ʼn verskil kon maak.

 

ʼn Boer maak ʼn plan. – Vra enige persoon in die swart gemeenskap of hulle die spreekwoord al teëgekom het. Afrikaners is planmakers en sien ons elke dag die prestasies. In antwoord op die energie probleem begin AfriForum en Afrikaners wat hulle merk in die buiteland gemaak het om die moontlikheid van korrelbedreaktors as oplossing voor te hou.

 

Ons het vir te lank vasgehou aan die idee dat ons oplossings saam met die ANC-regering moet ontwikkel. Die ANC-regering het hom egter vir te lank as die onwillige vennoot voorgehou en strompel blindelings van een krisis na die ander. Wat die laaste ruk uitgewys het is dat die ANC nie deel van die oplossing kan wees nie. Die oplossing moet veel eerder gesoek word in ooreenkomste en samewerking tussen alle Afrikaner organisasies en ook in die burgerlike gemeenskap, tussen Suid-Afrikaners, tussen opposisiepartye.

 

Die oplossings is ook nie net op een terrein nie. Elektrisiteitsopwekking verg kundiges op ʼn spesifieke terrein, maar net so is daar veiligheidsskenners wat kan help met misdaadbestryding en voorkoming, munisipale kundiges wat kan help met dienslewering en onderwysspesialiste wat kundigheid het om vanuit die eilande van uitnemendheid in wit onderwys die terrein voor te berei om swart onderwys te help.

 

Pas het die EFF weer verklaar dat 20 Maart ʼn dag is waarop hulle die land tot stilstand wil dwing. Dit is die allerlaaste ding wat enige politieke party nou moet doen. Die laaste paar jaar reeds knars die land se groei momentum na een van totale verval en afhanklikheid. ʼn Dag van stilstand mag dalk nooit weer die land aan die gang kry nie. 

 

Dan lees ek weer die Credo van die Afrikanerbond en die erkenning dat met die “groot genade wat ons as Suid-Afrikaners oor die dekades en die eeue ontvang het uit die hand van die Almagtige Vader, die Beskikker oor die lotgevalle van volke en nasies gaan ons die toekoms tegemoet.” Dit is met die wete en die besef dat ons toekoms “in hierdie mooi en geliefde land met geloof, vasberadenheid, blymoedigheid en optimisme” bereik kan word.

 

Dan het ek ook sommer weer moed en krag vir 2023!

 

Wees Sterk

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: