Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Mei 2023

Woord deur die voorsitter  - Afrikaners word ook benadeel in die regering se stiksienige benadering

 

Deur Dries Wiese 

Voorsitter van die Nasionale Raad


  1 April word gewoonlik gesien as Gekkedag. Dit wil in die terugskoue oor die afgelope maand voorkom asof die ANC-regering ʼn volle Gekkemaand gevier het. Heelwat is nou al geskryf oor die terugkrabbeling oor elektrisiteit, die Thabo Bester sage, die ontrekking van die Internasionale Strafhof, die terugtrek van nasionale ordes en veral dan Freek Robinson se toekenning . Die groter kwessie is egter die regering se onhoudbare posisie oor die BRICS beraad later die jaar in Suid-Afrika wat na verwagting deur die Russiese president, Wladimir Poetin bygewoon sal word in weerwil van ʼn lasbrief deur die Internasionale Strafhof.     

 

Die internasionale goeie posisie wat Suid-Afrika tot nou ingeneem het, het verval. Pres. Ramaphosa het nie ʼn uitnodiging ontvang vir die G7-Beraad in Japan nie. Dat dit ʼn onverwagse stap was spruit uit die berigte dat Suid-Afrikaanse media al genooi was om die president te vergesel na Japan. Tydens die AB in dialoog webinaar sê die ekonoom Dawie Roodt hieroor dat Suid-Afrika en trouens die hele Afrika irrelevant geraak het in die internasionale gesprekke. 

 

Die oud politieke leier en diplomaat, mnr Tony Leon, skryf op 29 April in sy gereelde rubriek in die Sunday Times hieroor soos volg (Uit Engels vertaal) “Met die aanvang van sy presidentskap in 2018 is Ramaphosa deur Gideon Rachman, die hoofkommentator vir buitelandse sake vir die wêreldwye invloedryke Financial Times, as “ ’n informele woordvoerder van ’n kontinent ... ’n vaandeldraer vir Afrika” bestempel. Verlede week is Suid-Afrika – ná vyf jaar van Ramaphosa – nie uitgenooi na die globale konklaaf van die mees gevorderde ekonomieë ter wêreld, die G7-byeenkoms in Japan, nie. ’n Buitelandse diplomaat het onlangs die kwessie onderstreep dat Suid-Afrika se uitsonderlikheid van 29 jaar gelede, wat onlangs met Vryheidsdag herdenk is, nie meer geld nie. "Julle is nou, met julle wisselvallige [lees pro-Russiese] belynings net nog 'n middelmatige en kwynende [lees ineenstortende infrastruktuur en minimale groei] land in 'n wêreld waar wat jy doen en waar jy jouself bevind, jou plek baie meer bepaal as wat jy eens gedoen het." Lees die oorspronklike artikel aanlyn.  

 

Leon verwys ook opnuut na Ramaphosa se oënskynlike wanvoorstellings van die verlede, met sy waarskuwing in 2013 dat as mense nie ANC stem nie, “the Boers will come back to power”.”.  Leon waarsku dan dit waarskynlik vir 2024 en met die oog op die verkiesing weer hergebruik word.

 

Tydens sy Vryheidsdag toespraak op 27 April 2023 sê President Ramaphosa “Ons land is deur 'n wêreldwye finansiële krisis getref; politieke, sosiale en ekonomiese skokke; verergerende natuurrampe; en die ernstigste wêreldwye pandemie in meer as 'n eeu. Hierdie terugslae het die verwoestende apartheidsnalatenskap van ongelykheid erger gemaak.” Dit is opvallend dat die president al meer verwys na die verlede en al meer die skuld van die verlede verplaas. Ons onthou maar te goed hoe die president op 16 Desember 2019 in Bergville tydens ʼn Versoeningsdagtoespraak die onderskeid gemaak het na Zoeloekrygers as vryheidsvegters en “indringers” met verwysing na Voortrekkers. Die President het die eienaardige vermoë om terselfdertyd verdelend en versoenend op te tree. In sy laaste Vryheidsdag toespraak word almal aan die verlede herinner op ʼn verdelende wyse maar dan weer versoenend deur te sê “Ons Grondwet is 'n skuiling vir almal. Dit is 'n skuiling vir swart en wit; mans en vrouens; vir verskillende tale, kulture en oortuigings.”

 

Dit is goed as dit gesê word maar die regering se optredes en uitsprake rym nie hiermee nie. Dit wil voorkom asof die President in sy toesprake en standpunte al meer konflikterende en opponerende standpunte huldig. So dra hy by tot die Babelse verwarring oor die ANC en versoening.  Ons kan onsself maar net herinner aan ʼn gesprek tussen Afrikaner organisasies en die ANC op 8 Mei 20212 toe mnr Matthews Phosa in die gesprek en in teenwoordigheid van senior ANC leiers gesê het “dat die ANC die bal laat val het met versoening”. Hierdie erkenning is nooit gerepudieer of reggestel nie.  Die indruk is dat die versoeningsbal nou meer laat val word as ooit in die verlede en dat dit voor die verkiesing nog meer sal gebeur. 


Die Afrikanerbond was sedert 1994 in verskeie gesprekke met die ANC as regerende party, met elke president sedert 1994 en was ons ook deel van gesprekke tussen die ANC en verskeie Afrikaner organisasies in die tydperk. In elke gesprek is daar gesê dat ons wil meewerk aan die suksesvolle opbou van die land. Ons weet talle organisasies het lywige dokumente in bilaterale gesprekke aan die regering voorsien met moontlike oplossings waarin samewerking aangebied is. Dit strek vanaf landbou, grondhervorming tot onderwys. Net so is sinvolle moontlike oplossings ook aangebied oor die straat- en dorpsnaam kwessie, bewaring van erfenisse, veiligheid en meer belangrik ook die kwessie oor taal en universiteite. Telkens is opvolggesprekke beloof, aksiestappie is onderneem en mooi beloftes is gemaak. Die realiteit is egter dat na elke gesprek met grondwetlike waardes as vertrekpunt, het die ANC slegs die Vryheidsmanifes en die Nasionale Demokratiese Revolusie verder bevorder en geïmplementeer. Die ideologie wat transformasie; historiese regstelling; sosiale geregtigheid; ekonomiese herverdeling; staatsintervensie; swartbemagtiging en kader-ontplooiing verskans het Suid-Afrika verskuif na ʼn agterlike en ondergemiddelde Suid-Afrikaanse samelewing. Die uitkoms van die ANC se toepassing van sy ideologie het die teendeel tot gevolg gehad groter armoede, werksverliese, sosiale afhanklikheid, landelike en grond verval, outokratiese en eensydige manipulasie, immoraliteit en vertrapping van kulture en minderhede. Talle kere is waarskuwings hieroor as alarmisties en bedekte rassisme afgemaak. Vandag word Suid-Afrika internasionaal geïsoleer en as irrelevant uitgemaak juis oor die toepassing van die uitgediende ideologie.

 

Beeld se redakteur, Mnr Barnard Beukman skryf in sy rubriek op 22 Maart 2017: “Baie wit Suid-Afrikaners het frustrasies omdat hul bydrae tot die opbou van die land misken word. En boonop is hul kundigheid in die politieke kaping van regstellende aksie eenkant toe geskuif met ’n regstreekse uitwerking op die ineenstorting van dienslewering, om net een gevolg te noem. Besware daaroor word gereeld onder ’n kleed van ’n verstikkende politieke korrektheid as rassisme afgemaak. Die ontevredenheid daaroor is legitiem.” 

 

In ʼn 2011 besprekingsdokument vir die Afrikanerbond oor “Die status van minderheidsgemeenskappe in die Suid-Afrikaanse samelewing” skryf Prof. Deon Geldenhuys ter evaluering aan die einde van die dokument (wat tans hersien word) “Wanneer daar besin word oor maniere om die toekoms van die Afrikanergemeenskap binne die Suid-Afrikaanse samelewing te probeer verseker, is dit belangrik om sowel takties as strategies te werk te gaan. Strategie verwys na ʼn langer-termyn plan van optrede om bepaalde doelwitte te bereik. Toegepas op die minderheidstema, behels dit vrae soos: ‘Watter status en rol wil Afrikaners oor, sê, twintig of dertig jaar in Suid-Afrika hê’? Taktiek gaan om meer onmiddellike optrede om die plan uit te voer. Op hierdie stadium lyk dit asof daar in Afrikanerkringe meer tyd en energie aan taktiek as aan strategie bestee word. Daar is ʼn groot verskeidenheid inisiatiewe aan die gang om onmiddellike probleme soos die voertaal van ʼn bepaalde skool, die miskenning van Afrikaans deur ʼn owerheidsinstansie, eensydige verandering van plekname, of onbillike diskriminasie in die werkplek aan te pak. Heelparty van hierdie uitdagings word met welslae hanteer. Lofwaardig en noodsaaklik soos die aksies is, word dit oёnskynlik nie op ʼn gekoördineerde en sistematiese wyse ter uitvoering van langer-termyn doelwitte onderneem nie. Dis een ding om kleiner ‘gevegte’ met goeie taktiek te wen, maar sukses in die spreekwoordelike oorlog vereis ʼn uitvoerbare strategie. Daarsonder stel Afrikaners hulle bloot aan ʼn gevaar waarteen Yogi Berra* waarsku: ‘If you don’t know where you’re going, chances are you will end up somewhere else’.

 

Daar is tans verskillende Afrikaner groeperinge in die land. Daar is al in die verlede ʼn onderskeid gemaak in die groeperinge se siening van die land, die regering en deelname in die stelsel. Daar word al meer weggestap van die benadering. Oplossings word tans gesoek deur sommige Afrikaners in ooreenkomste van die verlede, voor 1994, in gemeenskapsbenaderings, in afskeidingbenaderings terwyl andere weer soek na gemeenskaplike oplossings vir Suid-Afrikaners, waarin Afrikaners ook tuis kan wees. Moontlik is die antwoorde te vinde in een of meer van die benaderings en daarom wil en kan die Afrikanerbond homself nie vervreem van enige van die Afrikaner groeperinge nie. Ons heil lê daarin om aansluitende samewerking te soek met Afrikaners oor gemeenskaplike belange. Ons heil lê nie by die regering nie maar in politieke partye en ʼn bedeling wat ons gemeenskaplike belange kan en wil bevorder. Dit behoort die langertermyn strategie te wees.  

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: