Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 13 Augustus 2021
Terug na e-Afrikaner

Die ideale en strewes van Afrikaners vir die 1961 republiek. 
- 'n Afrikaner-Broederbond perspektief 


Vanjaar is dit 60 jaar sedert Suid-Afrika ’n republiek geword het.  Op 31 Mei het die FAK dié herdenking met ’n kunsuitstalling, Presidente en Premiers, by die Erfenisstigting gevier. Die herdenking bied die geleentheid om oor die betekenis van die historiese gebeurtenis na te dink. Die mislukkings en prestasies, sterk en swak leiers en goeie en slegte besluite het die jong Republiek gevorm en gebring tot waar hy vandag is. 

Die Erfenisstigting vier die historiese gebeurtenis met ’n uitstalling van skilderye en borsbeelde wat voor 1994 in die Uniegebou was, wat tot einde September deur die publiek besigtig kan word. In 'n lesingreeks tesame met die uitstalling waar verskeie sprekers deur die jaar sal praat oor hulle konteks, nalatenskap en betekenis vir die republiek vandag het Jan Bosman, Hoofsekretaris van die Afrikanerbond die tema op Donderdag 12 Augustus 2021 aangespreek  - Die ideale en strewes van Afrikaners vir die 1961-Republiek – ’n Afrikaner-Broederbond-perspektief. 

Na afloop van die lesing het Jan Bosman ook ’n geraamde 1960 referendum banier aan dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, oorhandig. Dit sal deel uitmaak van die uitstalling. 
 
Die ideale en strewes van Afrikaners vir die 1961-Republiek – ’n Afrikaner-Broederbond-perspektief. 
(ʼn Lesing by die Erfenisstigting op Donderdag 12 Augustus 2021 tydens die sestigste herdenking van die Republiek sedert 1961) 

Op 31 Mei 2021 het Prof Danie Goosen, voorsitter van die FAK die opening van die uitstalling van die Premiers en Presidente by die Erfenisstigting op die perseel van die Voortrekkermonument behartig en het Prof Goosen op ʼn besondere wyse hulde gebring met die tema van sy aanbieding Leierskap: Oor ou ooms en hul hoedeMet verwysing na die ou ooms en die premiers en Presidente kon ons ook gepraat het van die ou ooms hul hoede - en veral hulle swart skoene - want dit is bekend dat die meeste van die premiers en presidente voor 1994, ook lede van die Afrikaner-Broederbond was. 

Ek wil dus graag praat oor die ooms – die leiers met hulle hoede EN swart skoene en die pad wat hulle en andere in die Afrikaner-Broederbond gestap het, om ons republiek van 1961 moontlik te maak. 

Met Vrouedag, wat ons pas gevier het in gedagte, wil ek ook graag hulde bring aan daardie vrouens wat in eie reg bygedra het tot die bereiking van so baie ideale - ook ons republiek. 

Toe ek die uitnodiging kry tot die lesing was dit ook pas na afloop van die bekendstelling van Prof Ernst Stals se omvattende werk oor die Afrikaner-Broederbond. Vir baie maande het ek self ook gewerk aan die tegniese voorbereiding van die boek. Met die deurgaan van die boek was dit ook opvallend hoe ʼn besondere rol die Afrikaner-Broederbond in die totstandkoming van die 1961 republiek gespeel het. U moet egter die boek self lees om die verwikkeldhede, die dinamika en selfs die struwelinge van die Afrikaner politiek oor dekades te lees, maar daarmee saam die strewe na republiekwording. 

Ek sal dan graag die volgende temas wil aanspreek  
  • Die AB se ontstaan uit die Republikeinse ideaal 
  • Die Afrikaner-Broederbond en die republikeinse ideaal
  • Republiekwording en die AB en dan kortliks verwysing na die siening oor die AB na Republiekwording 
  • Wat is ons nuwe ideale in 2021? – Met enkele gedagtes 
Die AB se ontstaan uit die Republikeinse ideaal 

Waar kom die republikeinse ideaal vandaan? Op politiek-staatkundige terrein het die Afrikaner tydens sy verbintenis van bykans anderhalwe eeu met Nederland 'n sterk onderbou van die basiese waardes van die Nederlandse Republiek geërf. Die vernaamste van hierdie waardes sou vir baie jare die Afrikaners se hoogste politieke doel wees naamlik die republikeinse ideaal wat onder andere gevorm is deur die denke rondom: 
  • Dat die owerheid aan die woord en wette van God gebonde moes wees; 
  • Om dan ook daardeur gehoorsaamheid aan ʼn goddelose regering of tirannieke regering op te sê; 
  • Die grootste mate van vryheid 
  • Dat politieke mag by die volk berus en daardeur seggenskap in die staatsbestuur moes kry . Met ander woorde dat ʼn volk homself moet bestuur. 
  • ʼn Behoorlike uitvoerende gesag met ʼn president wat ook in tyd van krisis as ʼn soort volksvader kon optree 
  •  Later ook vryheid van spraak en geloof, wat ook deur die toevoeging van die Franse Protestantse immigrante verder versterk is. 
  • Invloede soos die denke wat met die Amerikaanse onafhanklikheidstryd en die Franse Rewolusie gepaard gegaan het, het die vryheidsgevoel – die republikeinse ideaal by Afrikaners gevoed. 
Met die stigting van die politieke party – die Afrikanerbond in die 1880’s aan die Kaap (Terloops Geen verbintenis met die Afrikaner-Broederbond van 1918 of die Afrikanerbond van 1991 nie) skryf Ds SJ du Toit waarom die republikeinse bestuursvorm voorkeur moet geniet: 
  • Dit is gewortel in die geskiedenis van ons volk; 
  • Dit kom die beste ooreen met ons volksaard; 
  • Dat dit die enigste denkbare staatsvorm is om ʼn verenigde Suid-Afrika weer te vestig. (Dit was die 1880’s) 
Na die Twee Vryheidsoorloë en Uniewording het die strewe na republiekwording direk gelei tot die ontstaan van die Afrikaner-Broederbond.  

Die Kaaplandse NP-leier dr. DF Malan het ’n vergadering op Saterdagaand 13 April 1918 in die Selborne-saal (’n sysaal van die Johannesburgse stadsaal) toegespreek. Malan het dié betrokke Saterdagaand in sy toespraak van meer as twee uur lank oor die ideaal van ’n republiek in Suid-Afrika uitgewei. 

Stals skryf breedvoerig hieroor en haal Malan dan aan waar hy sê: “Enige een wat nie 'n republikein is nie, is ook nie 'n ware Afrikaner nie.” DF Malan word weer aangehaal met sy oplossing "Dat die “Stigting van die Republiek van Suid-Afrika (dit in 1918) die enigste moontlike oplossing is vir die meeste van ons vraagstukke” - Klink dus heelwat in ooreenstemming met SJ du Toit. 

Groot spanning het egter gedurende die vergadering met DF Malan ontstaan met skares mense ondersteun deur soldate en polisie wat buite saamgedrom het. Die vergadering is met ’n vuisgeveg opgebreek en groot skade is aangerig. Ruite is met met klippe uitgegooi en meubels is in die straat aan die brand gesteek 
 
Die voorval en die inspirerende toespraak van DF Malan het die gedagte by ’n paar jong Afrikaners wat die vergadering bygewoon het, losgemaak dat die tyd ryp was om iets meer positiefs in belang van die Afrikaner te doen. Verskeie gesprekke het hierna gevolg en twee maande later het die Broederbond op 5 Junie 1918 in Malvern in Johannesburg tot stand gekom. 

Stals se boek gee die hoofmomente weer en word die gedagte oor die republikeinse ideaal nog verder geneem in verskeie besluite, komitees, bondsrade, besprekingsdokumente en vele meer in die AB in die dekades wat verder volg. Soms vervaag die gedagtes en soms lei dit tot erge spanning in die AB net soos ook in Afrikanergeledere. By ʼn geleentheid is ʼn mosie selfs tydens ʼn Bondsraad voorgestel dat die Afrikaner-Broederbond eerder heeltemal moes afsien van die republikeinse gedagtes juis om tweespalt te vermy. Die mosie is afgestem.  

Die Afrikaner-Broederbond en die republikeinse ideaal

Ek lees die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond in drie fases – 
  • Die opvoedkundige bemagtiging van Afrikaners (Skole, kolleges en moedertaal onderwys) 
  • die ekonomiese bemagtiging van Afrikaners met die Ekonomiese Volkskongres en die totstandkoming van die groot Afrikaner industrieë en; 
  • dan ook die staatkundige politieke bemagtiging van Afrikaners wat die Nasionale Party in 1948 aan bewind gestel het en republiekwording in 1961. Die Republiek sou die kroon span op Afrikaner nasionalisme wat gebore is in die ideale tot selfregering en die Nasionale Party bewindsoorname. 
In ʼn bundel met Bondsrade toesprake deur verskeie voorsitters van die Afrikaner-Broederbond oor die dekades heen kan ons vasstel wat die denke in Afrikaner geledere in verskillende tydvakke is en het ek gedink om dit vandag net bietjie verder toe te lig en daaruit te put vir die aanbieding.   (Die bundel met toesprake is by Die Eike) 

Op 2 Oktober 1939 net na die 1938 eeufeesvieringe sê Prof Joon van Rooy “Van die Eeufeesjaar het nog 'n ander stem uitgegaan - Gaan voort volk van Suid-Afrika op die pad wat lei tot algehele selfstandigheid - die pad wat lei na 'n republiek van Suid-Afrika'). (Die notas in die notule lui dan geweldige toejuiging, waarna die Transvaalse Volkslied spontaan aangehef is). "Daardie ideaal is hoog en heilig" het prof van Rooy gesê toe hy weer kon hervat, Maar het hy verder die beroep gedoen “om in hierdie strewe selfbeheersing in hoë mate te betoon. Ons geskiedenis is skoon en hierdie hoogste ideaal moet bereik word op die weg van Suid-Afrika.” 

Midde in die tweede Wêreld oorlog en met hoogspanning in Afrikaner geledere sê AB Voorsitter Dr Nico Diederichs op 5 Oktober 1941 – “Is daar nie miskien binne ons eie Afrikaans republikeinse geledere, binne ons eie Afrikanerboesem faktore en magte werksaam wat onder die huidige omstandighede potensiële en wellig verborge gevare inhou nie?” Maar sê hy later “Met dankbaarheid kon ons vasstel dat Broerskap en gesonde eensgesindheid in die toets aan die AB opgelê deur die stryd wat tussen die betrokke groepe ontstaan het, nie gefaal het nie."

Tydens die Bondsraad in 1941 is die volgende mosie aangeneem: “Hierdie Bondsraad verklaar hiermee as sy beleid: dat in die komende republiek geen vreemde staatstelsel mag oorgeneem word nie, maar dat 'n staatstelsel in werking gestel moet word wat gebore sal wees uit die verlede van die Afrikanervolk, uitgebou met die oog op moderne omstandighede; en dat nóg die Nasionaal-Sosialisme, nóg die Fascisme, nóg die Brits-Joodse liberale demokrasie, nóg die Kommunisme, geskik geag word vir die Republiek van Suid-Afrika, maar wel 'n Christelik-Nasionale Republikeinse staatstelsel” (Effe verkorte weergawe 

In 1953 het die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond besluit om groter momentum aan sy ondersteuning van die republikeinse gedagte te gee en dit die tema van die daaropvolgende jaar se Bondsraad in Bloemfontein te maak. Magtiging is verder verleen dat 'n bedrag van £5000 uit die AB se Reserwefonds ter bevordering van die republikeinse strewe aangewend kon word. Afdelings het ongeveer £3055 uit hulle eie fondse en £6145 aan plaaslike insamelings tot die UR-bydrae van £5000 toegevoeg. Dis ʼn totaal van £14 200. Dus nagenoeg R1,4 miljoen Rand in vandag se terme. 

Op 27 en 28 September 1954 is ʼn spesiale Bondsraad gehou in Bloemfontein met die tema Ons republikeinse strewe met temas soos ; die riglyne wat die geskiedenis t.o.v. die republikeinse strewe gebied het, die prinsipiële grondslag van die republikeinse strewe en die praktiese aspekte van die strewe. Sprekers soos Dr Piet Meyer en Adv JG Strijdom het die temas toegelig. 

Op 4 Oktober 1955 sê Prof HB Thom by die Bondsraad – “Die beskermende, saambindende en omvattende kultuurtaak van die AB het in hierdie jare egter ook 'n wesentlike verbreding ondergaan om doelbewus ook die Republikeinse selfstandigheidsaksie van ons volk in te sluit. " 

Met verwysing na ander volke sê Prof Thom: “Nà die Middeleeue het die Ierse volk in werklikheid baie verarm.....En tog het hierdie selfde Iere hul taal en hul godsdiens behou en het hulle so 'n sterk nasionale trots gehandhaaf en so 'n groot politieke daadkrag getoon dat hulle onder andere met die stigting van hul eie vrye Republiek – 'n voorbeeld en besieling vir ander vryheidsliewende volke geword het.”

Hy verwys ook na die Jode: “Tog sien ons egter hoe die Jode ten spyte van hulle ellende en armoede dwarsdeur hul geskiedenis geheg aan mekaar gebly het, hoe hulle 'n sterk familieliefde en familietrou gehandhaaf het, hoe hulle hul taal met lokale aanpassinge behou het en nie eenvoudig die tale van hul omgewing oorgeneem het nie, hoe hulle 'n sterk nasionale trots behou het, hoe hulle aan hul godsdiens geheg gebly het, en hoe hulle ook hul sedes en gewoontes bewaar het.” 

Prof Thom sê dan: “Ons sien dat dit ook veral die Afrikaner is wat die politieke leiers vir Suid-Afrika opgelewer het,  en in die staatkundige lewe van Suid-Afrika het hy (dit is die Afrikaner) vandag 'n belangriker, 'n beslissender aandeel as ooit tevore.”  

Na die Bondsraad en ter voorbereiding van die Republiek het die UR 'n beleidskommissie benoem om 'n ontwerp-grondwet van die Republiek uit te werk. Stals skryf dan verder oor die tydperk en ek neem dit saam - In die tyd het Dr Piet Meyer vir ’n jaar lank in opdrag van die UR aan ’n inligtingstuk onder die titel “Ons republikeinse strewe” gewerk. Dit het egter klaarblyklik tussen die Broederbond en die Nasionale Party met verskeie wysigings geswerf en eers in Augustus 1958, is die tyd ryp geag dat die studiestuk oor die republikeinse ideaal versprei kon word. Alle verwysings na die AB is egter daaruit verwyder; dit is ook nie as ’n amptelike AB-beleidstuk uitgestuur nie, maar as ’n leidraad vir gesprekke wat lede - binne sowel as buite die Bond mag gevoer het. 

Die studiestuk oor “Die republikeinse beleid en taak”, het sterk grondslae gehad soos dat: 
  • alle gesag van God afkomstig was, 
  • dat die “Afrikaanse volk” onder Sy leiding tot stand gekom het en aldus moes bly bestaan, 
  • dat die staat na die welsyn van al die inwoners moes omsien. 
  • Hoewel alle persone binne die grense van die republiek onderdane van die staat sou wees, moes slegs blanke onderdane van 18 jaar en ouer stemgeregtig wees.- 
  • Daar moes ’n verkose President wees.  
  • Afrikaans en Engels moes die land se amptelike tale wees. 
  • Die beoogde republiek is as “dinamies-Afrikaans” getipeer, wat beteken het dat die Britse bydrae by die basiese Afrikaanse grondslag ingelyf moes word. 
  • Ander etniese groepe sou tot selfstandigheid binne hulle eie grense begelei word. 
  • Die republiek sou hom spesifiek tot Afrika rig en meewerk tot die vasteland se ontwikkeling en beveiliging teen invloede soos die kommunisme en die binnedringing deur Asiate. 
  • Die praktiese totstandbrenging van die republiek moes deur verskeie stappe voorafgegaan word, waaronder die inlywing van die protektorate, die opbou van ’’n sterk militêre mag, die ontwikkeling van ʼn moderne Christelik-nasionale onderwysstelsel, die hervorming van die staatsbestuurstelsel, versterking van ekonomiese en strategiese bande met die buiteland en die ontwikkeling van nasionale tuistes vir die verskillende etniese groeperinge. 
  • Hoewel aanvaar is dat die republiek se voortgesette lidmaatskap van die Statebond van omstandighede sou afhang, is spoedige uittrede daaruit as ’n “wesentlike kenmerk van ons Republikeinse strewe” in die vooruitsig gestel.
Op 30 September en 1 Oktober 1958 tydens ʼn Bondsraad spreek dr HF Verwoerd self die Bondsraad toe (Afskrif van toespraak is by die kantoor beskikbaar) en doen die volgende beroep op die AB: “Ek soek by u hulp om ons krag en steun te gee; nie deur applous nie maar deur die helderheid van u denke, deur die diepte van u gevoel, deur die krag van u samewerking, deur u gereedheid om in te hou selfs wanneer u dink dat u reg is en en ons verkeerd. Dit eis soms groter krag om stil te bly – om jou in te toom as om jou los te laat.”  

By die Bondsraad van 30 September 1959 word dit herbeklemtoon deur Prof HB Thom en herbevestig hy dat die AB “hom beywer vir die gesonde staatkundige ontwikkeling van die Afrikaner en hy sien uit na die verwesenliking van 'n Republiek ooreenkomstig die aard en tradisies van die Afrikaner.” 

Hoe stewig die ideaal en werklikheid van die republiek nou al gevestig is word duidelik as hy sê: "Maar nou het die gedagte by sommige Broers opgekom dat daar deur die AB 'n Republikeinse Bond gestig moet word, en dat die AB, deur hierdie Bond, aktief vir die verkryging en die vormgewing van die republiek moet werk. Dit klink ook 'n mooi en loflike doel, maar sal die prosedure goed en gesond wees?” 

Hy sê dan “En hoe sterk republikeins ons ook al voel, en hoeseer ons, ons ook, as lede van ons party, vir die verkryging van 'n republiek beywer, ons kan nie in of deur die AB 'n Republikeinse Bond stig om aktief vir die verkryging van die republiek te werk nie, aangesien ons, ons hiermee op die terrein van die party sal begewe.” Hy onderstreep dus dat die uitvoering nou by die Nasionale Party lê.  

In ʼn transkripsie van ʼn onderhoud oom Naude Botha langsdienende hoofsekretaris van die ou Afrikaner-Broederbond verwys hy na die 1959 Bondsraad wat ʼn eenparige mosie oor republiekwording aanvaar het. Oom Naude sê: “Dr Piet Meyer het nog die brief geskryf waarin hierdie opdrag of hierdie versoek, hierdie besluit aan Dokter Verwoerd oorgedra word, sodat dit aan hom oorhandig kan word. Dit was my voorreg om daardie selfde aand na die Bondsraad nog na die Johannesburg stasie toe te ry en te gaan kyk waar die Eerste Minister se passasierswa staan en ek kon die brief daar op die trein aan hom oorhandig.”  
 
Nou volg die bekende geskiedenis - Dr HF Verwoerd het op 20 Januarie 1960 aangekondig dat die kiesers in ʼn referendum sou stem oor die vraag of Suid-Afrika ʼn republiek sou word. Die referendum het op 5 Oktober 1960 plaasgevind die referendumvraag:
Is u ten gunste van 'n Republiek vir die Unie? 
Are you in favour of a Republic for the Union? 

Vir die republiek het 850 458 (52,29%) positiewe stemme getrek en teen die republiek 775 878 (47,71%) en daar was 7 904 bedorwe stembriewe. Die Republiek van Suid-Afrika is dus met ʼn skrale meerderheid van 74 580 stemme tot stand gebring. 

In die gees van oorwinning en bruisende entoesiasme na die referendum van 5 Oktober 1960 is die Bondsraad van die Afrikaner-Broederbond op 24 en 25 November 1960 in Bloemfontein gehou en toegespreek deur die voorsitter en rektor van die Universiteit van Stellenbosch, Prof. HB Thom.   Die UR het die behoefte daaraan gevoel om die Eerste Minister van harte met die uitslag geluk te wens” en die reaksie van Dr HF Verwoerd wat gesê het dat hy “hom geroepe voel om terselfdertyd te waarsku dat ons nie tevrede moet wees om net 'n Republiek uit te roep nie, maar dat ons ook in staat moet wees om die Republiek te handhaaf.”   

Dan vra Prof Thom – “Hier is ons nou as AB-lede in die Bondsraad, die hoogste liggaam van die AB; bymekaar om gedagtes te wissel oor die taak en plek van die AB in daardie Republiek wanneer die Republiek werklikheid geword het. Wat gaan ons doen? Hoe gaan ons optree as die Republiek ingevoer is. Die AB sal veral die wagter op ons mure moet wees; hy sal moet waak oor ons beginsels en hy sal ons mense se geeskrag moet voed. Dit het baie nodig geword, veral nou in hierdie tyd wanneer ons die geestelike grondslae lê waarop die Republiek gebou sal word. Dit sal die taak van die AB wees om te help om die Afrikaner toe te rus vir die groot uitdaging wat voorlê. Die AB sal sy bydrae moet lewer sodat, deur die uitdaging, die beste in die Afrikaner uitgebring word.” 

Hierdie republiek het op 31 Mei 1961 tot stand gekom en in die woorde van oom Naude Botha “Op 31 Mei 1961 in Pretoria is 'n groot fees op Kerkplein gehou waar die inhuldiging van C.R. Swart as President plaasgevind het. Die 1960 referendum en die 1961 republiekwording het by die Afrikaner 'n besondere invloed op sy nasionale trots gehad en nasionale verwagtinge vorentoe. Ek weet daar was baie mense wat gewonder het of ons ooit die mas sou kon opkom en of ons ooit buite die statebond sou kan bestaan?”  

Afgesien van al die aktiwiteite om republiekdag te vier regoor die land sê Stals sê in sy boek “Origens het die AB se direkte betrokkenheid by republiekwording uiting gevind in die voorsiening van ’n spesiale pen waarmee die Staatspresident die ampseed onderteken het, asook die oorhandiging van ’n spesiale horlosiehangertjie aan die Eerste Minister by geleentheid van sy verjaardagviering op 8 September 1961.”   

Die AB na republiekwording 

Die volgende verwysing oor die uitdagings vir ons Republiek vind ons in AB Voorsitter Dr Piet Meyer se toespraak op 21 Mei 1963 by Die Bondsraad in Bapsfontein waar hy sê “Die stryd tans om die behoud en uitbouing van die toekoms van die blanke en nie-blanke in Suidelike Afrika is dus in wese 'n stryd om die verinniging en behoud van ons Protestants-Christelike geloof; 'n stryd om die behoud en versterking van die Afrikanervolk as die roepingsbewuste draer van die toekoms van Suidelike Afrika as blywende tuiste vir sy aparte blanke en nie-blanke volksgemeenskappe; 'n stryd om ons Engelssprekende medeburgers van die Republiek positief by ons Afrikaanse toekomstaak in te skakel' 'n stryd om ons nie-blanke volksgroepe te beskerm teen die uitbuitende, intimiderende, roekelose opstokers wat met die hulp van liberaliste en humaniste die oogmerke van die kommunisme, en daarmee die vernietiging van die toekoms van blankes en nie-blankes as selfrespekterende aparte gemeenskappe, bevorder.” 

Ons is welbekend met die geskiedenis wat hierna gevolg het – bedoeld en onbedoeld. Ek sluit af - Vandag kan ons dan met ʼn 2021 perspektief handel oor die republiek van 1961. Die AB het in die tyd waarin die beleid van afsonderlike ontwikkeling beslag gekry het (die AB het die woord apartheid vermy vanweë die negatiewe betekenis van skeiding ter wille van skeiding wat dit gehad het) 'n eerlike en opregte bedoeling met sy bydrae tot die ontwikkeling van die beleid gehad. Uit alles blyk dat dit dat die ideaal was dat die beleid tot die optimale ontwikkeling van alle bevolkingsgroepe moes bydra. Prinsipieel het hy hom op die standpunt beroep dat volke die reg en die vryheid het om hulle eie kultuur en waardes te bevorder. Die Afrikaner moes aan ander gun wat hy vir homself opgeëis het. Die visie wat gekoester is, was dat Suid-Afrika dieselfde historiese patroon as Europa sou volg. Volke moes hulle selfbeskikking binne 'n eie staatsverband verwerf.

In 'n gees van eerlike en aktiewe betrokkenheid het die AB dikwels erken dat die beleid van afsonderlike ontwikkeling mettertyd 'n aantal ontstellende gevolge opgelewer het. Daar het, in plaas van gelyke menswaardigheid, 'n ras-aristokratiese samelewing, gegiet in 'n onbuigsame institusionele raamwerk, ontstaan.

Die AB het by ook later bevestig dat sy standpunte en houdings van die verlede, gesien vanuit die huidige perspektief, soms van ongevoeligheid en gebrekkige visie gespreek het. Wat in die verlede deur die AB gesê en gedoen is, was nie altyd versoenbaar met sy eie grondslag nie. Daarom het die AB in die 1970’s en meer beslis in die 1980’s geworstel met die konsepte van selfbeskikking, soewereiniteit, menswaardigheid, gelyke behandeling en akkommodasie van aspirasies, versoening, skikking en kompromie en dan in die 1980’s die soeke na ʼn staatkundige model wat die politieke aspirasies van alle Suid-Afrikaanse burgers op 'n moreel regverdigbare wyse sou akkommodeer. 

Wat is ons nuwe ideale in 2021? 

Of die republiek van 2021 wel die morele hoë grond beklee ten opsigte van menswaardigheid, gelyke behandeling, en akkommodasie van aspirasies, versoening, skikking en kompromie kan ons gesprek voer. 

Ek bring vandag graag hulde aan die leiers van die Afrikaner-Broederbond en sy lede wat sedert die stigting van 1918 hulle beywer het vir die stigtingsideale. Die Afrikaner-Broederbond is in 1918 gebore uit die wekroep van Dr DF Malan in 1918 “Enige een wat nie 'n republikein was nie, was ook nie 'n ware Afrikaner nie.” Daardie Afrikaner ideaal is in 1961 verwesenlik as die hoogste vorm van Afrikaner-Nasionalisme. Ons het dit egter ten koste van andere gedoen. 

Maar hoe nou vorentoe? Dit klink dalk na ʼn leeftyd en onwerkbaar vir ‘n volk om ʼn ideaal te verwesenlik 
  • In 1918 het DF Malan sy republikeinse ideaal met ons gedeel. Twee maande later is die Afrikaner-Broederbond gestig en in 1961 is die republiek gebore. Dit klink onwerklik lank en onmoontlik - maar dit was slegs 43 jaar uitmekaar - nie eers twee generasies nie.  
  • Wat is ons droom en ideaal vandag in 2021? 
Die werklikheid is dat ons ondergeskik staan aan ʼn Grondwet. Op die boekie op my lessenaar staan Die Grondwet groot gedruk en opmerklik kleiner gedruk op die buiteblad en binneblad van die Republiek van Suid-Afrika 1996. 

Daarom kan ons stellig verklaar en wil ek graag vier stellings en aansprake maak vir Afrikaners in 2021:   

Dat ons strewe na vryheid binne ʼn regverdige bestel - Met ander woorde gun ons die vryheid om Afrikaners te wees - net soos wat elke Suid-Afrikaner sy of haar identiteit en kultuur kan uitleef. Daarom kan ons ook vandag en met morele gesag van die regering en van andere vereis - Leef dan die waardes van gelykheid, die bevordering van menseregte en vryhede en nie-rassigheid tot sy volle konsekwensies uit – eers dan kan ons praat van ʼn regverdige bestel. 

Suid-Afrika behoort aan almal - ook aan Afrikaners
  • • Suid-Afrika behoort ook aan Afrikaners en daarom het Afrikaners ʼn onvervreembare reg om as eiesoortige kultuurgemeenskap, net soos ander minderhede erken te word; 
  • • Daar moet ʼn geskikte ruimte geskep word binne die huidige soewereine bestel vir kultuur-handhawing vir Afrikaners en ander minderhede, 
  • • Dit nodig bly dat Afrikaners se kultuur-eie erken word en met spesifieke verwysing na: 
    • Die bevordering van Afrikaanse onderwys op alle vlakke 
    • Die beskerming en bevordering van Afrikaans as amptelike taal
    • Die beskerming en bevordering van breë Afrikanerbelange. 
    • Die bewaring van ons erfenisse – Soos by die Afrikaner Erfenissentrum.  
Tyd vir ʼn beweging vanuit Afrikanergeledere: 
  • Om die fokus te plaas op die gemeenskaplikhede van en tussen Afrikaners en daardeur die verskille te oorbrug.  
  • Om Afrikanerbelange doelgerig en met eenstemmigheid te bevorder; 
  • Om weer ʼn Afrikaner ideaal te herontdek; 
  • Om Afrikaners weer trots en positief te maak op hul herkoms en geskiedenis; 
  • Om Afrikaners te bemagtig om met selfvertroue en onafhanklik op te tree; 
  • Aan Afrikaners leiding te gee ten opsigte van politieke keuses gebaseer op ʼn gedeelde ideaal in lyn met sy natuurlike waardeoordeel en sodoende weer deel te word van die toonaangewende politieke hoofstroom.   
  • Afrikaners sal volledig kan deelneem aan ʼn staatkundige waardestelsel wat versoenbaar is met Christelik demokratiese beginsels. 
Werk en strewe na Groeiende Selfbestuur
Ons kan nie net na die nasionale belang kyk nie maar moet ons veral ook na die eie belang kyk en daarom is daar nie ‘n ander keuse as om in Flip Buys se woorde groeiende Selfbestuur op alle gebiede vinniger op te bou nie. Hierdie oplossings sluit in: 
  • ʼn Selfregerende gebied soos Orania, 
  • Dalk ʼn onafhanklike Wes-Kaap;   
  • Selfhelp instellings soos wat Solidariteit so suksesvol doen. 

Net soos Prof HB Thom op die vooraand van die Republiek gesê het bevestig ons opnuut dat die Afrikanerbond waarby ek en soveel ander vandag en voor ons in die Afrikaner-Broederbond dit reeds gedoen het ons sal beywer om te help om die Afrikaner toe te rus vir die groot uitdagings wat voorlê. Deur ons bydrae sal ons die uitdagings wat voorlê,  kan oorkom om sodoende die beste in die Afrikaner uit te bring.

_____________________________

Lees meer oor die volledige geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 
Die publikasie van “Die Broederbond – Die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918-1994.” 
 Deur Prof ELP Stals 
Voorwoord deur Prof Hermann Giliomee

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: