AB Bekendstellingsmanifes (2026)
Die Afrikanerbond se bekendstellingsmanifes is in Maart 2026 bekendgestel.
Die beeldbou en bemarkingsvideo is 'n geleentheid om op audiovisuele wyse die Afrikanerbond bekend te stel aan ʼn groter gehoor.
Die ongeveer 10 minute AB Bekendstellingsmanifes se boodskap is dat die Afrikanerbond 'n moderne en oop organisasie is wat homself posisioneer as 'n netwerk en brugbouer vir Afrikaners in Suid-Afrika. In kort vertel die AB bekendstellingsmanifes die storie met die Afrikaner-Broederbond se geskiedenis in die bemagtiging van die Afrikaner sedert 1918. Dit handel oor die hoogtepunte uit daardie geskiedenis en ook die oorgang na die nuwe demokrasie. Die verhaal van ons embleem word vertel aangesien daar baie mites en agterdog hieroor is en dan word die aandag gevestig op die huidige identiteit, doelstellings, begronding en beginsels. Deurgaans is die goue formule van die eie belang saam, met die nasionale belang as deel van Afrika en onlosmaaklik deel van Suid-Afrika se verlede, hede en toekoms.
Die kernboodskap is deurentyd die visie "As Afrikaners bou ons saam aan die toekoms van Suid-Afrika" met die fokus op eietydse en relevante doelstellings. Die unieke boodskap van die Afrikanerbond verleen historiese diepte en moderne inklusiwiteit en altyd gefokus op die positiewe bydrae tot die hele land, sonder om in die verlede se kontroversie te verval.



