Die embleem van die Afrikanerbond 


DIE BETEKENIS VAN DIE EMBLEEM VAN DIE AFRIKANERBOND


Gebaseer op die eenvoud van die oorspronklike Afrikaner-Broederbond logo, tog meer modern en verteenwoordigend van die huidige eeu.

 

Die sirkel, driehoek en band is steeds die hoofsimbole.

Die driehoek simboliseer die afhanklikheid van God en onderlinge sterkte. 

Die driehoek is op 'n sirkel geplaas, wat eenheid of gemeenskap aandui. 

Die sye van die driehoek word gebind met 'n band (wat die seshoekige vorm binne die driehoek is) as teken van die noue verbintenis van broerskap – samehorigheid. Die ovaal is bygevoeg by die oorspronklike logo en verteenwoordig deursigtigheid, perspektief en dimensie.

 

Die Afrikanerbond se leuse  Wees Sterk 

 

Die Afrikanerbond is gegrondves in die geloof dat die Bybel die Woord van die Drie-enige God is en dat dit van rigtinggewende betekenis vir die hele lewe is.

 

Ook die Afrikanerbond se leuse – “Wees Sterk” kan na die Bybel teruggevoer word. Volgens die omvattende “Geskiedenis van die Afrikaner Broederbond * 1918-1994” deur prof ELP Stals verwys die leuse na verskeie Bybeltekste. Ons verwys graag na die Bybeltekste soos wat dit in die 1933 sowel as die 1983 vertalings geskryf is:

 1933 -  Deuteronomium 31:6 – “Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie.”

1983 - Deuteronomium 31:6 – “Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.”

 

1933 - Josua 1:6 - “Wees sterk en vol moed; want jy sal hierdie volk die land laat erwe wat Ek hulle vaders met ’n eed beloof het om aan hulle te gee.

1983 - Josua 1:6 - “Wees sterk, wees vasberade, want jy moet hierdie volk die land in besit laat neem wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het.”

 

1933 -  Psalm 27:14 – “Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!”

1983 - Psalm 27:14 - “Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!”

 

1933 - Jesaja 35:4 - “Sê aan die wat vervaard is van hart: Wees sterk, wees nie bevrees nie! Kyk, julle God kom met wraak, met goddelike vergelding; Hy self sal kom en julle verlos.”

1983 - Jesaja 35:4 - “Sê vir dié wat moed verloor het: “Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier, Hy kom om wraak te neem, om julle vyande te straf; God kom julle red!”

 

1933 -  Daniël 10:19 - Wees nie bevrees nie, geliefde man, wees nie besorg nie, wees sterk, ja sterk! En terwyl hy met my spreek, het ek moed gevat en gesê: My heer kan maar spreek, want u het my versterk.”

1983 - Daniël 10:19 “Hy het vir my gesê: “Moenie bang wees nie, jy vir wie God liefhet! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk!” Terwyl hy met my praat, het ek weer sterk gevoel en gesê: “U kan maar praat, want u het vir my krag gegee.”