Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 13 Augustus 2021
Terug na e-Afrikaner

Die ANC se kaderontplooiing en verwysings na die Broederbond 


Deur Jan Bosma
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond  

Gedurende die staatskaping verhoor het kommentators soms bewerings gemaak dat die ANC se kaderontplooiingskomitee net soos die Afrikaner-Broederbond in die verlede gewerk het. Tydens die president se vorige verskyning by die Zondo kommissie het ʼn kommentator gesê: “Die president verduidelik in breë teoretiese terme wat die ANC -ontplooiingskomitee doen. Die probleem met die aanstellingsproses van die "Broederbond -styl" van die ANC is dat dit gedryf word deur politiek en faksionalisme." Op dieselfde wyse word die Afrikaner-Broederbond gereeld daarvan beskuldig dat hy baantjies vir boeties geskep het en poste in die staatsdiens en semi-staatsorganisasies vir lede, vriende of familie gereserveer het.

Dit kan onomwonde gestel word dat daar géén meganismes of prosedures in die Afrikaner-Broederbond was om lede te identifiseer en aan te beveel vir aanstelling in die staatsdiens nie. Nooit het die Afrikaner-Broederbond dit as beleid gestel om AB lede in senior of invloedryke posisies aan te stel nie, en nooit is daar vanuit die Afrikaner-Broederbond se hoogste strukture of hoofkantoor besluit oor aanstellings in die staatsdiens nie. Die Staatsdienskommissie was verantwoordelik vir die aanstelling van amptenare. Hierdie kommissie sou dit doodeenvoudig nie duld om voorgeskryf te word oor wie hy mag aanstel en wie nie. 

Dat die Afrikaner-Broederbond nie so magtig was om mense in top poste aangestel te kry nie, getuig die aantal direkteurs-generaal wat nie lede van die AB was nie. Daar was van hulle wat die AB selfs antagonisties gesind was, en tog is van hulle in sleutelposte aangestel. Net so was verskeie redakteurs van Afrikaanse koerante, ook nie lid van die Afrikaner-Broederbond nie.  

Dit het deurgaans een van die groot punte van kritiek teen die Afrikaner-Broederbond se vertroulike werkswyse geword dat aanstellings van skoolhoofde tot stadsklerke en amptenare gemanipuleer is en dat baantjies vir boeties in die proses geskep is. Dit is egter so dat ‘n beduidende aantal lede van die Afrikaner-Broederbond in die topstrukture van die staatsdiens en as leiers elders in die samelewing aangetref kon word. Dit kan egter nie aan “kaderontplooing” toegeskryf word nie. Daar was in die verlede beslis ’n baie noue ineenstrengeling van die Afrikaner-Broederbond in die totale lewensruimte van die wit Afrikaanse bevolking. Die lewensruimte was in die politiek, die kerk en die ekonomie en daar was oorvleueling van betrokkenheid en ook lidmaatskap. Dit was in die lewensruimtes dat die Afrikaner-Broederbond se uitgangspunt was dat ons van leiers in hierdie lewensruimtes, lede gemaak het en nie andersom nie. Deur hulle aktiewe betrokkenheid in die gemeenskap en leierskap is hulle wel genooi vir lidmaatskap. 

Die Afrikaner-Broederbond se benadering met ledewerwing was juis om jonger mense te identifiseer wat bereid was om onbaatsugtige diens aan die gemeenskap te lewer. Vir dié ledewerwing was leierspotensiaal hoog op die lys van eienskappe waarna gekyk is. Dit is dus net natuurlik dat lede met leierspotensiaal sou kon vorder tot die hoogste vlakke. In die Afrikaner-Broederbond is altyd gesê: “Ons maak van leiers lede en nie van lede leiers nie.”  

Die verdere noue verwantskap tussen partyleiers en die Afrikaner-Broederbond word geïllustreer deur die Voorsitter van die Afrikaner-Broederbond, Prof HB Thom tydens sy toespraak by ʼn Bondsraad op 4 Oktober 1955 toe hy praat oor die werkswyse van ledewerwing: “Vir die eerste keer word leidende politici van die Nasionale Party dan ook in die AB opgeneem en begin hulle ook om 'n aktiewe rol in die AB te speel.”  

Natuurlik is dit moontlik dat lidmaatskap gebruik kon word om die eiebelang te bevorder, maar dit sou wesenlik in stryd wees met die instellingsformulier wat elke lid afgelê het en gereeld as erekode by elke vergadering voorgehou is: 
“Om individueel en gesamentlik, in geesverwantskap ons Godgegewe talente diensbaar te maak aan die saak waarin ons glo.
Om te dien - nie om gedien te word nie.
Om te gee - nie om te ontvang nie.” 

Om die Afrikaner-Broederbond en baantjies vir boeties los en vas te gebruik en selfs te koppel ter verdediging of ter versagting van die staatskaping van die ANC kan nie goedsmoeds aanvaar word nie. Onbevoegde kaders is op groot skaal aangestel wat tot die verval van staatsentiteite en staatsfunksies gelei het. Dit is hartseer en ironies dat dit dieselfde entiteite is wat in ʼn vorige bedeling tot stand gekom en opgerig is met knap kundigheid en ervaring en aangewend is tot voordeel van almal. 

Vanuit die publikasie “Draer van ʼn Ideaal 1918-1997: Die Afrikanerbond” wat in Desember 1997 saamgestel is vir indiening by die Waarheid en Versoeningskommissie die volgende:  
“Vertroulikheid het die nadeel gehad dat dit die AB (Afrikaner-Broederbond) maklik kon brandmerk as 'n geknoeiery - as ʼn sameswering of as duistere aktiwiteite wat nie geopenbaar kan word nie. Dit het veral vir kerke, predikante, politieke partye en politici probleme geskep. Beskuldigings wat die mees algemeen ingebring is, is dat lede mekaar bevoordeel in die verkiesing tot ampte en in aanstellings in openbare poste, dat daar teen nie-lede gediskrimineer word, en dat daar manipulering van besluite en mag plaasvind. Juis daarom het sommige joernaliste daarvan 'n gewilde bedryf gemaak om die AB te "ontmasker". In die proses is baie sensasionele berigte met onvolledige of verdraaide waarhede die wêreld ingestuur. Dit het meegehelp om 'n negatiewe persepsie van die AB by mense te laat ontstaan. Die AB het selde probeer om hierdie verdraaiings en wanpersepsies teen te werk- enersyds omdat dit moeilik vir 'n vertroulike organisasie sou wees, en andersyds het hy so sterk geglo in die ideale en beginsels waarvoor hy gestaan het, sowel as in die integriteit van sy lede, dat hy enige openbare regstellings of teenreaksie vermy het.” 

Waar foute gemaak is, het die AB dit erken, maar daar was ook tye toe die Afrikaner-Broederbond en ook die Afrikanerbond onverskrokke standpunt ingeneem het teen sowel die Nasionale Party-regering net soos wat die AB tans teen die ANC-regering standpunt inneem. Sentralisasie van politieke mag, en beheer en aanstellings uit die binnekamers van ʼn politieke hoofkantoor is verkeerd en daarom moet kaderontplooiing veroordeel word want dit skep ʼn ongelyke samelewing met ongelyke geleenthede en bevestig party lojaliteit bo die waarde van meriete en individuele prestasie.

 ‘n Belangrike aspek wat in gedagte gehou moet word, is dat die Afrikaner-Broederbond as vrywillige ledeorganisasie op geen manier opdragte kon gee aan sy lede nie. Die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond het nie oor daardie soort magte beskik nie. Dit verskil heeltemal van hoe die ANC aan sy lede opdragte gee en ontplooi. Die werkswyse van die Afrikaner-Broederbond en die Afrikanerbond van vandag word prakties gedemonstreer in die 1997 Draer van ʼn Ideaal dokument. 
“Die AB (Afrikaner-Broederbond) is primêr ʼn meningsvormende denke inisiërende instelling wat die geleentheid aan sy lede bied om aktueel en dinamies standpunte te stel en te verneem, tot nuwe insigte te kom, en om dan die insigte en perspektiewe in sy besondere invloedsfeer, volgens eie oordeel en inisiatiewe te stel en verder uit te dra. Lede oefen dus vanuit die omgewing en kultuur van die AB individueel invloed uit op politieke kerklike en ekonomiese terreine. Waarvan die AB egter nie beskuldig kan word nie is sinisme, kwaadwilligheid en konkelary.” 

“Die Broederbond – Die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918-1994.” Deur Prof ELP Stals is onlangs in Johannesburg bekend gestel. 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: