Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 15 Augustus 2023
Terug na e-Afrikaner

Witheid in die nuwe Suid-Afrika


Deur Willem Liebenberg
Paarl 

Die artikel is op 8 Augustus 2023 by Maroela Media gepubliseer. Met die instemming van Willem Liebenberg, lid van die US Raad, plaas ons graag die artikel en gee ook graag erkenning aan Maroela Media. 

Daar is geen twyfel dat regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) se rakleeftyd verby is as instrument waardeur ras-ekwiteit probeer bereik is nie. 

Nie net het die gevolge van hierdie omgekeerde rasgebaseerde diskriminasie deur wetgewing in Suid-Afrika ons ekonomie baie duur te staan gekom nie. Dit het ook nie naastenby bereik wat dit ontwerp was om te bereik nie – nie in Suid-Afrika of selfs in die VSA waar dieselfde tipe beleid toegepas is nie. 

Eskom is seker die beste voorbeeld daarvan. Ekonomiese, operasionele en strukturele verval het op groot skaal ingetree en het slegs ʼn handjie vol swart elite geskep en verryk. Die gemiddelde man op straat, wat homself uit armoede wou ophef, is uiters nadelig getref. 

Wit bevoorregting
Tydens ʼn onlangse gesprek met bruin professore oor transformasie en regstellende aksie duik die kwessie van wit bevoorregting op. Dit het my opnuut laat nadink. Die stelling is gemaak dat ek as blanke Afrikaner man en my familie ons vandag bevind waar ons is vanweë wit bevoorregting. 

Ek het gevolglik die volledige artikel van Kevin Leathem van Jeppe High School oor wit bevoorregting gaan lees. Hy het blanke leerlinge gesensiteer rakende die kwessie van wit bevoorregting. Blykbaar het wit bevoorregting hoofsaaklik welvaart vir wittes geskep en is grootliks bevorder deur hulle bewustheid van witheid. Witheid ontsluit blykbaar bepaalde regte, voorregte en waarborg (in baie gevalle immuniteit) wat slegs vir witmense beskore is. 

As witmense hard werk en suksesvol is, is dit hoofsaaklik as gevolg van hulle witheid. Derhalwe is regstellende aksie uiters noodsaaklik om die poel van mededinging te vergroot en die impak van witheid te neutraliseer. 

Apartheid word as vertrekpunt gebruik om hierdie argument te versterk omdat slegs witmense met witmense meegeding het in die historiese verlede en swart en bruin uitgesluit was. Swart en bruin se pogings het geen kans gestaan om sukses te bereik nie. Witmense het alleen die opsie gehad om te spaar en welvaart te skep. 

Witheid dikteer dat witmense voorkeur moet kry in die lewe. Witmense kan nie hulle witheid onderskei nie omdat hulle voortdurend in ʼn posisie van bevoorregting is. Die vergelyking wat getref word, is dat ʼn vis nie kan onderskei dat hy in die water is nie. Die vertrekpunt is dat wanneer witmense meeding om ʼn bepaalde posisie word dit aanvaar dat wittes die posisie gaan kry.

Witmense het ook die voorreg om opsies uit te oefen. Swart en bruin word onmiddellik met agterdog bejeën as hulle sou aansoek doen vir ʼn pos of sou meeding in sport. In kort witmense kry altyd die voordeel van die twyfel bloot omdat hulle wit is.

Wat gemaak met dié witheid? 
My vraag was wat moet wittes dan nou doen met hulle witheid. Moet hulle sleg voel, moet hulle verdwyn, wat moet hulle nou doen met hulle witheid? Die antwoord wat tydens my gesprek met die professore gegee is, is witheid moenie ontken word nie. Wees dankbaar en erken dit, want witheid verskaf ʼn onbewustelike en onregverdige voordeel aan witmense. Wees dus bewus van jou witheid en staan terug. 

In reaksie hierop het ek ʼn paar indringende vrae gevra. Kan jy kies watter ras jy gebore word? Nee, want dit is ʼn genetiese oorerflikheidsfaktor. As jy wit gebore word, is jy onmiddellik skuldig aan witheid sonder dat jy ʼn vinger verroer het of enige iets verkeerd gedoen het. 

Mag harde werk beloon word? Ja, mits jy bewus is van jou witheid en dit nie verhef word bo swartheid of bruinheid nie. Dit laat die vraag ontstaan, wie is dan nou werklik rassisties in die situasie? Jy wat bloot deur harde werk en ʼn eties korrekte lewenswyse ʼn goeie bestaan probeer voer en ongelukkig wit is of eerder diegene wat voortdurend ras voorhou as struikelblok om uit te styg bo hulle omstandighede? 

Skuldbewussyn gekweek 
Dit is niks anders as ʼn doelbewuste poging om ʼn permanente wit skuldbewussyn te vestig by alle witmense nie. Dit is ʼn absolute drogredenasie, want dit misken individuele regsaanspreeklikheid. Die klassifisering van rasse word nou as kriteria gebruik om bepaalde geleenthede en poste te reserveer suiwer op grond van ras. Tydens apartheid is dit as ʼn gruwel beskou. Tog word dieselfde toepassing nou as die nuwe wonderkuur beskou om ʼn nie-rassige samelewing te bou. 

Wat is die logika agter hierdie drogredenasie? Soos die Engelse spreekwoord lui: “Two wrongs don’t make a right”

Ras, kultuur en karakter
Beskik ek oor die reg om my kultuur as nalatenskap aan my kinders na te laat waarin goeie waardes, hoë werksetiek, taal, geloof en tradisies sentraal staan in hierdie nalatenskap? Of moet my kultuur nou vanweë witskuld gemarginaliseer word tot ʼn ongewenste nalatenskap? 

Die tradisionele Westerse kultuur van “baie wittes” word verder gemarginaliseer tot ʼn vorm van bevoorregting wat wortel en tak uitgeroei moet word. Kultuur word immers oor baie eeue heen gevorm deur herkoms, werksetiek, waardes, karakter, geloof gebruike, ens. Word dit nou verdoem vanweë witheid? 

Karakter bepaal hoe enige persoon reageer in moeilike tye en die uitdagings van die tye hanteer waarin ons leef en nie ras nie. Tog word ras as bevoorregting voorgehou wanneer wit mense onder dieselfde omstandighede uitstyg na 30 jaar van demokrasie ongeag hulle karakter. 

Derhalwe word gesuggereer dat ʼn persoon óf altyd ʼn slagoffer sal wees óf altyd die party sal wees wat slagofferskap veroorsaak suiwer op grond van ras. Die kwessie van witheid en wit bevoorregting word nou aangewend as meganisme om ewige swart en bruin slagofferskap te regverdig en in stand te hou ten einde valse morele hoë grond te skep en te behou. 

Dit dien as basis waarop regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) gebaseer is. Die afdwing van raskwotas is die direkte uitvloeisel van die eietydse gruwel in die Suid-Afrikaanse samelewing. Hoe kan dit nog moreel geregverdig word? 

Absurditeit van witheid 
Die mees onlangse voorval tydens die o/16 Grant Khomo week waar die WP-span nie in die eindstryd kon speel nie omdat spelers van kleur beseer was en die afrigter gedwing was om wit spelers te gebruik. 

Dit illustreer hierdie nuwe gruwel by uitstek. Wat was hierdie 15-jarige wit spelers se bydrae tot die historiese verlede voor 1994? Sekerlik is die antwoord op hierdie vraag, niks nie! Hoekom moet daar regstelling teen hierdie jong wit spelers toegepas word? Hoekom word vrygebore wit studente benadeel suiwer op grond van ras deur die ontneming van regte, geleenthede, toegang tot beurse en kursusse en vryheid van spraak sonder om outomaties as rassiste geëtiketteer te word? Dit illustreer bloot die absurditeit van witheid.

Normaliteit in die vooruitsig?
Wanneer gaan die vensterperiode vir regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging sluit sodat ons bloot as gewone burgers van Suid-Afrika almal suiwer op meriete kan meeding om geleenthede en poste, sonder om ras as kriteria af te dwing? Witheid word egter as skuiwergat gebruik ten einde wit skuldmanipulasie in te span om witmense moreel en psigies te verlam en te weerhou van die aktiewe deelname aan die groter samelewing.

Flip Buys en Dirk Hermann van die Solidariteit Beweging het al dikwels die standpunt ingeneem dat die grootste uitdaging tans is om gelyke geleenthede te skep. Uitkomste sal nooit gelyk wees nie vanweë die uniekheid van elke mens. Om gelyke uitkomste af te dwing, is niks anders nie as die toepassing van kommunistiese drogbeleid waar gelykheid ten alle koste op elke terrein afgedwing moet word. Harde werk en kreatiwiteit word geïnhibeer deur die afdwing van gelyke uitkomste. 

Word wit uitnemendheid en kreatiwiteit geïnhibeer deur geïnduseerde witskuld na 30 jaar van demokrasie? Die antwoord is ʼn onomwonde, Ja! Dit is ʼn erkende feit dat al meer wit mense emigreer na Westerse lande omdat hulle daar hoofsaaklik op meriete beoordeel word. Regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging word daar nie so streng toegepas nie en die idee van witheid speel ʼn baie kleiner rol in die buiteland.

Vir my as Christen maak witskuld natuurlik ook ʼn totale bespotting van Christus Jesus se kruisdood wat alle mense van sonde kom bevry het. Christus Jesus het dus slegs vir swart en bruin gesterf, want wit mense staan vir ewig skuldig oor hulle blote witheid. Dit maak vryspraak deur Christus Jesus se kruisdood vir witmense totaal ongedaan. 

Die ironie is dat erkenning van diversiteit juis die menslike potensiaal kan ontsluit ongeag ras. Witheid staan egter lynreg teenoor diversiteit en plaas wit mense onder permanente valse morele en sielkundige huisarres. 

Transformasie met ras as basiese vertrekpunt is bloot die basis van gedwonge witskuld. Transformasie inspireer nie, dit inhibeer! Dit ontsluit nie potensiaal ongeag ras nie, maar beperk groei en kreatiwiteit onder swart en bruin mense omdat feitlik alle mislukkings op witskuld geprojekteer word. Dit is tyd om nugter en eerlik na die kwessie te kyk en ʼn meriete gedrewe vrye demokrasie te vestig. Ras moet in die asblik gegooi word waar dit hoort. 

• Willem Liebenberg is lid van die Universiteitsraad van Stellenbosch. 
Lees die plasing op 8 Augustus in Maroela Media 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: