Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 18 Januarie 2022
Terug na e-Afrikaner

Die brand by die Parlement is simbolies van die groter staatsverval 


(Die onderstaande is op 3 Januarie 2022 uitgereik as mediaverklaring:)  

Deur Dries Wiese 
Voorsitter van die Afrikanerbond  

Op die tweede dag van 2022 is Suid-Afrika geskud deur die verwoestende brand by die parlementêre kompleks in Kaapstad. Die omvang van die skade is nog nie bekend nie maar voorlopige berigte dui op wesenlike skade aan die demokratiese instelling. 

Die brand by die parlement as demokratiese instelling en deel van die wetgewende gesag is egter simptomaties van die staatsverval wat in feitelik elke sfeer van die demokrasie voorkom. Ongelukkig het die parlement egter self versuim om die uitvoerende gesag en senior amptenare in die staatsadministrasie behoorlik tot verantwoording te roep. Nou het die parlement self ‘n slagoffer geword van ‘n regering se totale onvermoë om verantwoordelik om te gaan met historiese skatte. 

Na die vorige brand in die parlement is die billike verwagting dat die nodige maatreëls in plek sou wees om voorsorg te tref. Hoeveel brande en verwoesting van infrastruktuur moet nog plaasvind voordat daar aksie is. Ons word herinner aan ryk kultuurerfenisse soos stadsale, wat in puin gelê is, spoorwegstasies wat ‘n leë dop huisves en munisipale, provinsiale en nasionale eiendomme waar geen instandhouding gedoen is nie. Hoe meer die regering sy eie verantwoordelikheid versaak hoe meer moet die burgery self die tekortkominge aanvul. Midde in dit alles word Afrikaners se kultuurerfenisse ook geteiken, maar vind ons deurlopend oplossings deur doelgerigte en voorkomende aksies. Dit is egter ‘n baie klein druppel in ‘n oseaan van verval, onbevoegdheid en nalatigheid. 

Die groter hartseer is die simboliek van die parlement as demokratiese instelling wat verlede jaar die plek was waar die grondwet onder beleg gekom het, maar suksesvol afgeweer is. Nou is die einste demokratiese instelling gedeeltelik verwoes. Omdat die regering nie meer vertrou kan word met nasionale en kulturele bates nie doen ons ‘n ernstige beroep op opposisiepartye wat erns het met die grondwet, om binne-parlementêr alle moontlike prosesse te volg om die uitvoerende gesag volledig aanspreeklik te hou vir die staatsverval waarvan die parlement nou die openbare gesig geword het.  

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: