Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 18 Januarie 2022
Terug na e-Afrikaner

Die grondwet van die RSA is 'n lastigheid vir die
Gucci RET revolusionêres  


Deur Jan Bosman 
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 

By die skryf van die kommentaar is baie al gesê en geskryf oor die nuutste debakel rondom die Minister van Toerisme, Lindiwe Sisulu en haar aanval op die grondwet en die regbank. Daar was tot dusver ook nog nie enige sigbare optrede vanuit regeringsgeledere of die ANC op haar striemende en kwetsende opmerkings op swart regters nie. Ons moet ook nie asem ophou oor enige aksie nie.

Meet elke aksie van enige minister egter teen die ampseed (Soos as Bylaag 2 in die grondwet vervat) wat elke Minister en Adjunkminister voor die Hoofregter of 'n ander regter deur die Hoofregter aangewys, aflê. Ook Lindiwe Sisulu het plegtig trou verklaar “aan die Republiek van Suid-Afrika en om die Grondwet en die ander reg van die Republiek te gehoorsaam eerbiedig, onderhou en handhaaf;...” en wat daarop volg. ʼn Striemende aanval op die regters en die grondwet sou seer sekerlik ook beteken dat dit strydig en in konflik is met die ampseed wat sy afgelê het. Indien sy so sterk op haar standpunte staan sou dit dus bindend op haar gewete wees om dan eerder te bedank uit die besonder voordelige posisie as ʼn senior minister. Dit sou dan beteken dat sy haar salaris en byvoordele opgee wat insluit die luukse motors, huise en kantore in Pretoria en Kaapstad, BBP beskerming in bloulig kavalkades en ondersteuningspersoneel. Mens moet egter nie verwag dat sy en ander Gucci revolusionêres die luukshede sal opgee in die slegs in naam bevordering van die “struggle” of die ewige retoriek en onderskrywing van die (RET) die radikale ekonomiese trasformasie en revolusie nie.    

Die Gucci-revolusionêres van 2022 se woorde spreek tot armes maar hulle sjampanje smaak getuig van die beste modes uit Europese wêreldstede, die duurste whisky’s en motors en die uitspattigste juwele en horlosies denkbaar. Dink maar aan Malema en sy Breitling horlosie. Hierdie revolusionêres se retoriek praat van oproer, gewelddadige rampokkery, revolusie en stryd maar sonder enige verantwoordelikheid of aanspreeklikheid en dit voorspel niks goeds vir ons land en sy mense nie.

Swart bewussyn (black consciousness) is ʼn baie sterk gewaarwording van die Gucci revolusionêres en ons moet noulettend wees op die wesenlike gevaar wat dit vir die land inhou. Die aanval op die swart regbank en die verwysing na “mentally colonised Africans” is deel van die populistiese en polariserende swart bewussyn soos verwoord deur die revolusionêres , veral uit die RET faksie. Hiervolgens word andersdenkendes ook in die koloniale groepering geplaas en dit is waar die wortel van alle kwaad lê volgens die RET faksie. Alles wat verbind of gekoppel kan word aan kolonialisering word verdag gemaak en dit is waar witmense, grond en eiendomsreg en baie van die ideologiese uitkomste soos regstellende aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging hulle oorsprong het. Dit is ook waarheen die Departement van Openbare Werke se Wet oor onteiening neig en sal later vanjaar weer ʼn fokus word. Interessant dat hoe feller die debat en die openbare aandag word oor grootskaalse mislukkings en korrupsie van die ANC en regering, hoe feller word die kolonialisme weerlig-afleier. 

Die wit en swart verdelingslyne van die verlede is besig om op ander en meer sinistere wyses na vore te kom. Dat hier ander agendas aan die werk is, is duidelik en dit moet elke Suid-Afrikaner tot diepe kommer stem. Die grondwet – hoe dit ook al geïnterpreteer word met gebreke en al en die regstelsel bly die basis van ons grondwetlike demokrasie. Dit plaas egter lastige verpligtinge op die Gucci-revolusionêre RET faksie en daarom sal hulle dit eerder wil ondermyn.

Laastens waarborg die Grondwet aan alle Suid-Afrikaners - menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte en vryhede. Alle Suid-Afrikaners behoort hierdie vryhede op te neem en alle onverantwoordelike en eintlik belaglike uitsprake daarteen te meet. 
(Die Artikel is geskryf vir kommentaar vir Pretoria FM se Klankkoerant en is op Maandag 17 Januarie 2022 uitgesaai.) 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: